Akademiepryse 2017: Erepenning vir 'n dokumentêre TV-program in Afrikaans aan die regisseur Richard Finn Gregory – commendatio

  • 0

Wessel Pienaar, Richard Finn Gregory en Petrus du Preez
Foto: Naomi Bruwer

Die Erepenning vir ’n dokumentêre televisieprogram in Afrikaans is toegeken aan Richard Finn Gregory vir Boere op die aardsdrempel.

Huldigingswoord: Marisa Keuris (gelewer deur Petrus du Preez)

Boere op die aardsdrempel handel oor die afstammelinge van ’n groep Afrikaanssprekende boere wat na die Anglo-Boere-oorlog in 1902  hulle gevestig het in Patagonië, Argentinië. Die dokumentêr fokus hoofsaaklik op twee families waarvan veral die ouer lede steeds Afrikaans magtig is en kan praat. Op eerstevlak is hierdie unieke linguistiese gegewe reeds vir die kyker interessant en verrig die dokumentêr ’n belangrike funksie deur sy dokumentering van hierdie ouer Afrikaans wat op ’n verre kontinent behoue gebly het. Veral vir Afrikaanse taalhistorici is hierdie opnames dus van onskatbare waarde. Boere fassineer egter ook op vele ander vlakke: die besondere leefwyse van hierdie groepie mense word simpatiek uitgebeeld en hoewel die eenvoudige (selfs armoedige omstandighede) van hierdie mense die toeskouer opval, is dit eerder die pretensielose eerlikheid van hierdie groepie persone wat die kyker aangryp en roer.

Mens kom onder die indruk van die groot logistieke reëlings wat hierdie dokumentêr onderlê (die verfilming op twee kontinente met ’n groot groep mense), maar die uiteindelike indruk wat die dokumentêr op mens maak, is die gewoon menslike element daarvan. Die toeskouer word ingetrek in hierdie verhaal en leer karakters ken wat ons aanvanklik jammer kry as gevolg van hulle armoedige omstandighede. Soos wat die ‟verhaalˮ ontvou, raak ons egter bewus van hulle besondere menslikheid en lewensvreugde: ons lag saam vir die grappies, is ontroer wanneer hulle groot droom om Suid-Afrika te besoek bewaarheid word en geniet saam met hulle ’n vreugdevolle weersiens met hulle familie  in Argentinië aan die einde.

Boere op die aardsdrempel is in vele opsigte dus ’n dokumentêr wat verdien om die Erepenning vir Afrikaanse TV-dokumentêre vir 2016 te ontvang: dit vang die hart en siel vas van ’n besondere groep mense –  die Afrikaners in Argentinië!

Meneer die voorsitter, ek versoek u om die Erepenning vir 'n dokumentêre TV-program aan Richard Finn Gregory te oorhandig.

Stellenbosch
21 Junie 2017

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top