Bystanddood in die regswêreld

  • 1

Jaco Beyers se navorsingsartikel “’n Veelkantige besinning oor eutanasie”, wat in Desember 2021 in LitNet Akademies se Godsdienswetenskappe-afdeling verskyn het, raak ’n besonder aktuele saak aan wat by tye plaaslik en ook internasionaal groot opslae maak. Pieter GR de Villiers, LitNet Akademies se Godsdienswetenskappe-redakteur, het vir Willem Landman, buitengewone professor in die Universiteit Stellenbosch se Departement Filosofie, en een van die mees gerekende kenners op die gebied, genooi om meer omvattend en uitgebreid oor die saak te skryf. Landman bespreek belangrike aspekte van bystandsdood in twee aflewerings op LitNet, waarvan hierdie die tweede is.

Willem A Landman (Foto verskaf)

In hierdie aflewering besin Landman oor die openbare beleid en wetgewing aangaande bystanddood. Die vorige aflewering, “Bystanddood – ’n omstrede saak”, belig die hoofargumente vir en teen bystanddood.

Lesers word genooi om hul sienings oor bystanddood met LitNet te deel deur kommentaar onderaan die artikels te lewer.

In die kassies by hierdie artikel verskyn inligting oor rolprente met bystanddood as tema.

 

1. Konteks

In die eerste artikel van hierdie reeks, “Bystanddood – ’n omstrede saak”, het die omstrede kwessie van die etiek van bystanddood – voorheen eutanasie of genadedood genoem – aan die orde gekom.

Ek herhaal die slotsom van die eerste artikel: Bystanddood – as beide bystandselfdood en genadedood – staan op stewige etiese grond. Nie net is die argumente vir bystanddood baie sterk nie, maar die argumente teen bystanddood is fataal.

In hierdie artikel argumenteer ek dat bystanddood nie net ’n teoreties-etiese kwessie is nie, maar ook een wat uiteindelik in die praktyk – polities – beredder moet word. Die regsdebat is ’n verskuiwing en voortsetting van die teoreties-etiese debat na ’n ander – steeds etiese – konteks met sy eie interne logika en grense.

Die vraag is wat ons openbare beleid – ons wetgewing – aangaande bystanddood behels, wat dit toelaat en verbied. En hoe goed of sleg vaar ons?

Ek wil argumenteer dat wat behoort te gebeur, ’n opheffing van ’n wetlike verbod op bystanddood moet wees, met ander woorde die dekriminalisering van bystanddood.

 

2. Die etiek van die wettiging van bystanddood

Wat op die spel is met bystanddood, is nie net die etiek dáárvan nie, maar ook die etiek van die wettiging daarvan. Ons regsposisie oor bystanddood moet die Grondwet se Handves van Menseregte reflekteer. Daardie Handves is ’n etiese dokument wat die etiese waardes en gepaardgaande regte uitspel waarop ons ooreengekom het om ’n goeie en regverdige samelewing te bou.

In die mate waarin ons dekriminalisering of wettiging van bystanddood systap, in daardie mate versuim ons, spesifiek dan die parlement, ons etiese plig. Die Grondwet van 1996 het dit moontlik – gebiedend – gemaak om die regstatus van verskillende praktyke radikaal te herevalueer. Terminasie van swangerskap is byvoorbeeld wettig; die doodstraf en lyfstraf is onwettig; huwelike tussen persone van dieselfde geslag is wettig; en sekere arbeidspraktyke is onwettig.

Maar bystanddood bly die stiefkind, nou reeds ’n kwarteeu nadat die Suid-Afrikaanse Regshersieningskommissie (South African Law Reform Commission) in twee verslae (1997, 1999) onder meer aanbeveel het dat die parlement die regsposisie van bystanddood heroorweeg. Bystanddood gaan oor “the last right” wat op regserkenning wag, maar die gesloer daarmee en onduidelikheid daaroor maak dat hierdie “laaste reg” vir sommiges onmenslik is, gevul met pyn en angs.

Ons samelewing tob eindeloos oor korrupsie, kaderontplooiing, staatskaping, administratiewe onbevoegdheid, en ineenstorting van infrastruktuur. En dit is reg so, want dit alles bepaal die kwaliteit van ons samelewing wat uiteindelik, onder meer, ook gemeet kan word aan voorkombare lewensverlies. Gesteelde staatsfondse kan byvoorbeeld nie na hospitale en ander instellings gekanaliseer word nie, met gevolglike onnodige sterftes waarvan die getalle waarskynlik sal skok. Om dit sterk te stel: Die dood is ingebed in die wyse waarin ons ons samelewing inrig.

Daarteenoor word die debat oor bystanddood net sporadies gevoer, veral wanneer iets sensasioneels gebeur, al is ons keuses aan die einde van die lewe óók bepalend vir die kwaliteit van lewe in hierdie land. Ons sluit ons oë vir wat op die sterfbed agter geslote deure gebeur. In die laaste instansie is dit ’n irrasionele ontkenning van die werklikheid dat ons almal sterflik is en dat ons dalk in erge nood mag sterf.

Die tragiek en onreg is dat daar wydverspreide onsekerheid onder mediese praktisyns heers oor die regsposisie aangaande bystanddood en aanverwante instrumente en praktyke rondom die einde van die lewe – soos lewende testamente; surrogaatbesluitneming; pynbeheer wat die dood verhaas; en weerhouding en onttrekking van lewensondersteuning in al sy vorme. Hierdie onsekerheid gee aanleiding tot “insigte” onder mediese praktisyns en tot mediese praktyke wat nie net onkunde en vrees vir vervolging behels nie, maar onnodige lyding aan die einde van die lewe tot gevolg het.

Daar is wel dokters wat pasiënte in sekere omstandighede sal bystaan met selfdood en selfs genadedood sal toepas. Maar hieroor word nie gepraat nie, om verstaanbare redes – dit is erg riskant is en die gevolge kan katastrofies wees.

In skerp kontras hiermee is daar ook dokters wat téén ’n pasiënt se wil alles sal doen om lewe te verleng, al is die pasiënt sterwend en in erge lyding, omdat hulle meen dit is wat die wet van hulle vereis, of omdat hulle vervolging op grond van nalatigheid vrees. Daar is natuurlik ook dokters wat uit morele of religieuse oortuiging alles sal doen in weerwil van die pasiënt of familie (as surrogaat- of plaasvervangerbesluitnemers) se versoeke en selfs sterk protes. Boonop skuil mediese behandeling van terminale pasiënte alte dikwels in ’n duistere, onbetaamlike onderwêreld van finansiële gewin wat oorwegend net bekend is aan mediese fondse, private hospitale en mediese praktisyns, en waarvan familie eers werklik bewus word wanneer hulle vir die eerste keer eerstehands met sterwensnood te doen kry.

Foto: Pixabay

3. Die regsposisie aangaande bystanddood in Suid-Afrika

Wat presies is ons regsposisie oor bystanddood?

Voor 1994 was daar die welbekende 1975-saak van dr Albie Hartmann wat aan moord skuldig bevind is omdat hy genadedood op sy sterwende vader toegepas het (S v Hartmann 1975 (3) SA 532 (C)). Hy is een jaar gevangenisstraf opgelê, maar volledig opgeskort vanaf die oomblik nadat die hof verdaag word. Hierdie straf dui daarop dat die hof – reeds 47 jaar gelede – gemeen het dat enige straf onvanpas sou wees, wel wetend dat die mediese professie hom ook waarskynlik sou straf, soos inderdaad gebeur het.

Dit moes reeds op die nodigheid van regshersiening gedui het. Maar toe die geleentheid hom hiervoor voordoen, het die betrokke ministers en die parlement – in werklikheid die ANC-regering – die Suid-Afrikaanse Regshersieningskommissie se verslae van 1997 en 1999 oor besluite rondom die einde van die lewe – opgestel in opdrag van pres Nelson Mandela – geïgnoreer. Die finale verslag het nie alleen konsepwetgewing oor bystanddood bevat nie, maar ook oor pynbeheer wat die dood verhaas, vooraf direktiewe (’n lewende testament en mediese volmag), en weerhouding en onttrekking van lewensondersteuning. Oor al hierdie praktyke is daar onnodige onduidelikhede wat beduidend op mense se lewens en beroepe impakteer.

Waarom dit gebeur het, is ’n ope vraag. In ’n televisiedebat het die voormalige minister van gesondheid, Aaron Motsoaledi, beweer dat bystanddood “teen ons kultuur” is. Maar kulturele opvattings van gedeeltes van die bevolking kan tog sekerlik nie die maatstaf wees vir die erkenning, al dan nie, van grondwetlike regte nie. Sou dit die geval wees, sou terminasie van swangerskap nie gewettig gewees het nie, ook nie huwelike tussen persone van dieselfde geslag nie, en sou die doodstraf nie afgeskaf gewees het nie.

Maar dit was een van Motsoaledi se voorgangers as minister van gesondheid, Manto Tshabalala-Msimang, wat die Suid-Afrikaanse Regshersieningskommissie se verslae oor besluite rondom die dood vir tien jaar weggebêre het. Daar was aanduidings dat sy bystanddood as “medisyne vir die rykes” beskou het, so asof lewensondersteuning en ’n gevolglike uitgerekte sterwensproses kosteloos is, en pasiënte nie in staatshospitale sterf nie.

In 2015 het regter Hans Fabricius in die Noord-Gautengse afdeling van die Hooggeregshof adv Robin Stransham-Ford se reg om wettig met selfdood bygestaan te word, erken (Stransham-Ford v Minister of Justice and Correctional Services and Others [2015] ZAGPPHC 230; 2015 (4) SA 50 (GP)).

Maar in 2016 het die Appèlhof die Minister van Justisie en Korrektiewe Dienste, die Minister van Gesondheid, die Nasionale Vervolgingsgesag en die Raad op Gesondheidsberoepe se appèl teen regter Fabricius se beslissing gehandhaaf (Minister of Justice and Correctional Services v Estate Stransham-Ford 9531/2015 2016 ZASCA 197,  6 Desember 2016). ’n Dokter sou dus nie vir Stransham-Ford wettig kon bystaan om selfdood te pleeg nie, maar hy was toe alreeds oorlede.

In 2019 is Sean Davison aan moord skuldig bevind en tot huisarres gevonnis omdat hy drie persone gehelp het om te sterf. Moord, in die vorm van beide bystandselfdood en genadedood, was op die spel.

Daar dien tans ’n aansoek van Dieter Harck en dr Sue Walter voor die Noord-Gautengse Hooggeregshof. Die applikante versoek die hof om hulle toe te laat om hulle lewens met die bystand van ’n gewillige dokter te beëindig. Hulle argumenteer dat bystanddood nie gekriminaliseer of as professionele wangedrag behandel moet word nie. Voorts nader hulle die hof in die openbare belang om te verseker dat ander ook toegelaat sal word om bystanddood te bekom, sou hulle dit verkies. Die aansoek word deur die Covid-pandemie vertraag. Hoewel getuienis in 2021 aanlyn aangehoor is, moet die partye nog betoog lewer.

Foto: Pixabay

4. Die Appèlhof oor besluite teen die einde van die lewe

Die regsposisie in Suid-Afrika aangaande bystanddood het in 2016 in die Stransham-Ford-appèl, wat voor ’n volbank van vyf appèlregters gedien het, ter sprake gekom, vollediger as in enige vorige hofsaak.

Die Appèlhof sit riglyne uiteen oor ons bestaande regte en die wetlike grense van mediese besluitneming en behandeling aan die einde van die lewe, vir beide pasiënt en dokter (verwysings is na paragrawe in hierdie uitspraak):

  • Nóg selfdood nóg poging tot selfdood is ’n misdaad (30).
  • ’n Persoon mag behandeling weier wat andersins die lewe sou verleng. Dit is ’n aspek van persoonlike outonomie wat konstitusioneel beskerm is en wat nie gewoonlik as selfdood beskou sou word nie (31).
  • Enige mediese behandeling sonder ’n persoon se ingeligte toestemming word as aanranding beskou, sodat ’n pasiënt altyd geregtig is daarop om mediese behandeling te weier (31). Vergelyk hiermee die Nasionale Gesondheidswet 61 van 2003 se bepaling dat ingeligte toestemming ’n voorwaarde vir enige mediese behandeling is. Dus, deur behandeling te weier, laat die pasiënt toe dat natuurlike prosesse hulle gang gaan sodat die onderliggende siekte die uiteindelike oorsaak van die dood is (31).
  • Sodanige weiering van mediese behandeling sluit kunsmatige voeding in, sodat ’n persoon wat daardeur lewend gehou word, mag weier om kos of water te ontvang (31).
  • Al hierdie beginsels in ons gemenereg word ook in die Grondwet erken (31), spesifiek in die reg op menswaardigheid soos gegee in artikel 10 en die reg op liggaamlike integriteit in artikel 12(2).
  • Die enigste voorwaarde vir die weiering van behandeling is dat ’n pasiënt die nodige verstandelike kapasiteit (kompetensie) en dus regsbevoegdheid besit (32). Probleme hiermee sal ontstaan wanneer ’n pasiënt katastrofies beseer word en geen vooraf voorkeure vir weiering van behandeling – soos in ’n lewende testament – uitgespreek het nie (32). Die hof onderstreep die belangrikheid en nut van ’n lewende testament vir besluitneming deur ander partye (mediese praktisyns, surrogaatbesluitnemers) wanneer die pasiënt nie meer daartoe in staat is nie.
  • Gegee die uitdruklike erkenning wat die Nasionale Gesondheidswet 61 van 2003 aan ’n surrogaatbesluitnemer vir ’n inkompetente pasiënt gee, wil ek argumenteer dat mens hieruit sou kon aflei dat ’n surrogaat se besluit namens ’n pasiënt gerespekteer moet word asof dit die besluit van die pasiënt self is. Die surrogaat neem volledig die besluitnemingsbevoegdheid van die pasiënt oor. Dit is van groot belang in die lig daarvan dat dokters daagliks nie net lewende testamente nie, maar ook wettige surrogate se legitieme besluite en pleidooie om behandeling te staak, ignoreer, soms met verstommende gebrek aan kommunikasie, en selfs hovaardigheid.
  • ’n Dokter wat behandeling of enige vorm van mediese intervensie van ’n inkompetente pasiënt staak gegee dat dit geen terapeutiese of palliatiewe doel dien nie, pleeg geen misdaad nie (33).
  • ’n Mediese praktisyn wat ’n middel vir palliatiewe behandeling van pyn voorskryf en sodoende die pasiënt se dood as sekondêre gevolg verhaas (die sogenaamde leerstelling van dubbele gevolg), pleeg geen misdryf nie, want dit is goed en reg om pyn en lyding te verlig (34).

Ten spyte van hierdie wetlike riglyne, heers daar ongelukkig beduidende onkunde en verwarring onder dokters, pasiënte en hulle families aangaande besluite aan die einde van die lewe. Veral die reg om enige behandeling te weier, en die reg om genoegsame pynbeheer te ontvang, word nie behoorlik verstaan en toegepas nie.

 

5. Die Appèlhof oor bystanddood

Die Appèlhof spreek vervolgens bystanddood spesifiek aan:

  • Genadedood (die hof noem dit ook “mercy killing”) is moord. Ingeligte toestemming is geen regverdigingsgrond vir ’n persoon wat die dood van ’n ander veroorsaak nie (38). Sodanige toestemming regverdig ook nie skuldigbevinding op ’n mindere klag van strafbare manslag nie (38).
  • ’n Mediese praktisyn wat ’n middel aan ’n pasiënt op daardie persoon se versoek toedien (dus genadedood pleeg), pleeg moord. Omstandighede sal die vonnis bepaal, maar die skuldigbevinding staan. (Sien die Hartmann-saak hier bo.)
  • Die regsvraag ten opsigte van bystandselfdood handel uitsluitlik oor die kriminele aanspreeklikheid van die mediese praktisyn wat ’n middel voorskryf waarmee die pasiënt selfdood pleeg. Ter sprake is die kousaliteit (oorsaaklikheid) van ’n misdaad: Speel ’n helper of aanmoediger ’n oorsaaklike rol in die dood van die pasiënt, gegee dat die pasiënt die finale stap doen wat tot die dood aanleiding gee?
  • Die hof kom egter tot die volgende insiggewende slotsom aangaande kriminele aanspreeklikheid vir bystandselfdood: Daar word nie ’n kriminele daad gepleeg elke keer wanneer ’n persoon ’n ander aanmoedig, help of in staat stel om selfdood te pleeg of om te poog om dit te doen nie. Of daar van ’n misdaad sprake is, sal afhang van die spesifieke feite van die saak, intensie (mens rea), onregmatigheid en kousaliteit. Dus moet al die elemente van ’n misdaad teenwoordig wees. Kortom, daar kan nie beweer word dat bystandselfdood volgens die huidige stand van ons reg in alle omstandighede onwettig is nie (54). Die nodige oorsaaklikheid of kousaliteit, gegee die spesifieke omstandighede van die saak, mag byvoorbeeld afwesig wees ten spyte daarvan dat die helper die middel aan die pasiënt verskaf het wat die pasiënt dan self aangewend het om selfdood te pleeg.
  • ’n Hof wat oor bystandselfdood moet beslis, sal dus onder meer moet vasstel, in die lig van die besondere en tersaaklike feite, hoe die kousale ketting daar uitsien wat tot die dood van die pasiënt gelei het. (Die hof verwys in hierdie verband uitvoerig na Ex parte Die Minister van Justisie: In re S v Grotjohn 1970 (2) SA 355 (A).) Vir die helper om onskuldig te wees, moet die pasiënt se selfdoodhandeling (die vrye en willekeurige inname van die middel) volkome onafhanklik of ’n aparte handeling wees van die handeling van die helper (die verskaffing van ’n middel) (58).

Die regsposisie aangaande bystanddood is dus tans soos volg: Volgens ons gemenereg is beide bystandselfdood (meestal) en genadedood (altyd) misdade, naamlik moord.

Daarteenoor kan geargumenteer word dat ons Grondwet ’n ander perspektief hierop oopgemaak het, naamlik dat ons konstitusionele regte waarskynlik ’n reg op bystanddood ingebed het.

Kortom, ten opsigte van bystanddood is daar ’n onhoudbare spanning of botsing tussen ons gemenereg en grondwetlike regte wat ontlont behoort te word deur die gemenereg in die lig van die Grondwet te ontwikkel.

 

6. Die Appèlhof oor die taak van die howe en die parlement

Afgesien van die Harck-Walter-aansoek – ’n individuele inisiatief – is daar tans geen ander poging om oor die regsposisie aangaande bystanddood in die lig van die Grondwet te herbesin nie. Dit is uiters betreurenswaardig dat persone wat in sterwensnood verkeer, die rug toegekeer word.

Grondwetlike regte relevant tot bystanddood is onder meer die volgende:

  • die reg op menswaardigheid (artikel 10)
  • die reg op vryheid en sekerheid van die persoon (artikel 12(1)), waarby inbegrepe is die reg om nie op ’n wrede, onmenslike of vernederende wyse behandel of gestraf te word nie (artikel 12(1)(e)
  • die reg op liggaamlike en sielkundige integriteit (artikel 12(2)), waarby inbegrepe is die reg op sekerheid van en beheer oor eie liggaam (artikel 12(2)(b)).

Voorts, ten opsigte van bystanddood, sal die reg op lewe (artikel 11) met die reg op menswaardigheid (artikel 10) versoen moet word, iets waaroor regter Kate O’Regan haar soos volg in die Konstitusionele Hof uitgelaat het: Die reg op lewe inkorporeer die reg op menswaardigheid; hulle is verweef – die reg op lewe is meer as blote bestaan, want dit is die reg om as ’n mens met menswaardigheid behandel te word; sonder menswaardigheid is menslike lewe substansieel verminder; sonder lewe kan daar nie van menswaardigheid sprake wees nie (S v Makwanyane 1995 2 SACR 1 (CC)). Kortom, die lewe wat in besluite rondom sterwe, insluitende bystanddood, betrokke is, is nie voortgesette biologiese lewe as sodanig nie, maar biologiese lewe van ’n sekere gehalte, soos beide objektief en subjektief bepaal.

Wat is die pad vorentoe? Hoe gemaak met die miskenning van konstitusionele ondersteuning vir bystanddood?

Daar is twee opsies, naamlik die howe en die parlement, maar uiteindelik blyk die parlement die enigste uitweg te wees.

Wat die rol van die howe betref, het die Appèlhof in Stransham-Ford dit duidelik gemaak dat die saak wat voor die hof gedien het – die hersiening van ’n dringende aansoek – onvanpas was, omdat die feite en regsargumente onvoldoende was om oor konstitusionele kwessies te beslis (95). Daar is ’n gepaste benadering om konstitusionele litigasie in ons howe aan te pak (95). En ’n party soos ’n terminaal siek pasiënt of ’n organisasie soos DignitySA sou in die openbare belang ’n saak na die hof kon bring (76).

Of die Harck-Walter-aansoek suksesvol sal wees, is ’n ope vraag. Wat ons wel weet, is dat ’n gepaste saak al vir bykans ’n kwarteeu sedert die aanvaarding van die Grondwet van 1996 afgewag word. Maar insiggewend – en hoopvol – in hierdie verhaal van tragiese verwaarlosing is die volgende stelling van die Appèlhof: Wanneer ’n gepaste saak na die hof gebring word, “the common law will no doubt evolve in the light of the considerations outlined there and the developments in other countries” (101).

Enige hof wat ’n saak oor die dekriminalisering van bystanddood aanhoor, sal besondere aandag moet skenk aan artikel 39(2) van die Grondwet, waarvolgens die ontwikkeling van die gemenereg (gewoontereg) die gees, strekking en oogmerke van die Handves van Menseregte moet bevorder (55).

Die Appèlhof beroep hom op die bekende Carter-saak wat tot die dekriminalisering van bystanddood in Kanada aanleiding gegee het (Carter v Canada (Attorney General) 2012 BCSC 886 (CanLII)). Die Appèlhof suggereer, in die vorm van ’n vraag, dat ’n gepaste roete vir ons howe sou wees om die gemeenregtelike misdade van moord en strafbare manslag in die konteks van bystanddood te ontwikkel deur, soos die Kanadese Hooggeregshof, te verklaar dat ons gemene reg en Grondwet onversoenbaar is, saamgevoeg met ’n opskorting van ’n hofbevel ten einde die parlement in staat te stel om die defek in die openbare belang reg te stel (73).

Die gemeenregtelike misdade van moord en strafbare manslag sou met betrekking tot bystanddood ontwikkel kon word deur ’n ander siening van kousaliteit of intensie (mens rea) of onregmatigheid te ontwikkel (56). In ander jurisdiksies waar bystanddood gedekriminaliseer is, is presies dit gedoen. Die moontlikheid van ’n spesiale regverdigingsgrond vir mediese praktisyns of versorgers sou ondersoek kon word (56).

Maar ons howe kan net reageer op ’n gepaste saak wat voor hulle dien. En sou dit gebeur, sal die betrokke hof waarskynlik die saak na die parlement vir aandag, en hopelik wetgewing, verwys. Sodoende word die skeiding van magte van die verskillende konstitusionele arms van die staat erken. Die parlement, nie die howe nie, maak wette. Al wat die hof kan doen, is om probleme in die reg uit te wys en die parlement sodoende van sy wetgewende taak ten opsigte van bystanddood bewus te maak.

Ons is dus aangewese op daardie disfunksionele – verbrande, in beide betekenisse! – instelling, ons parlement. As bystanddood nie op die agenda van ons verkose verteenwoordigers is nie, dan het ons stellig geen effektiewe alternatief nie. Die beste uitweg is ’n gepaste saak wat voor die howe dien, want die howe sal met groter gesag as die burgery die onreg onder die parlement se aandag kan bring.

Daar kan met reg gewonder word of ons howe se benadering nie meer aktivisties ten opsigte van die interpretasie van ons konstitusionele regte behoort te wees nie – spesifiek dan ’n reg om met bystand en menswaardigheid te sterf.

’n Klip in die pad van dekriminalisering van bystanddood is dat terminaal siek applikante gedurende voortslepende en opeenvolgende hofprosesse mag sterf. Dit was inderdaad die geval met Stransham-Ford, wat twee uur voor die hof van eerste instansie se beslissing oorlede is. Voeg hierby Covid-regulasies wat tans die Harck-Walter-aansoek tot die uiterste beproef.

Voorts kan mens tereg wonder waarom gewone burgers substansiële fondse moet bekom om ’n konstitusionele reg erken te kry, anders as wat byvoorbeeld met terminasie van swangerskap die geval was. ’n Sinikus sal daarop wys dat meer as die helfte van stemgeregtigdes vroue is, terwyl sterwendes, daarteenoor, nie ’n bruikbare blok in verkiesings vorm nie.

Bystanddood is ’n onderwerp waarvoor ons meestal eers werklik begrip het wanneer ons of ’n familielid dit as ’n uitweg wil kies te midde van terminale lyding en verlies aan menswaardigheid. Dan is dit egter te laat. Tog is daar toenemende anekdotiese aanduidings dat bystanddood oor die afgelope twee dekades toenemend populêre ondersteuning in Suid-Afrika geniet.

Foto: Pixabay

7. Slotsom

Bystanddood – bystandselfdood en genadedood – staan op stewige etiese grond. Maar die debat oor die etiek van bystanddood moet aanbeweeg na ’n debat oor die etiek van die wettiging van bystanddood. Wat uiteindelik tel, is ’n praktyk van wettige bystand met sterwe.

Volgens ons gemenereg is bystanddood ’n misdaad, meer bepaald moord. Daarteenoor ondersteun die Handves van Menseregte in ons Grondwet – ’n etiese dokument – waarskynlik ’n konstitusionele reg op bystanddood.

Hierdie spanning tussen gemenereg en Grondwet kan opgehef word slegs indien ’n saak voor ons howe dien wat daarop uitloop dat die betrokke hof die parlement versoek om die gemeenregtelike misdade van moord en strafbare manslag sodanig te ontwikkel dat bystanddood gedekriminaliseer word.

Daar is dus ’n duidelike konstitusionele imperatief om die regsposisie aangaande bystanddood te hersien sodat dié wat wil, dit onbevange, maar korrek, kan kies. Hulle doen ander wat daarteen gekant is en dit wil verbied, immers geen leed aan nie.

Tot dan rus die sterwenslyding van persone wat vir bystanddood sou kwalifiseer en dit vryelik sou wou kies, op die gewete van ons samelewing, maar by uitstek van die parlement.

 

Lees ook:

Willem Landman se eerste aflewering in hierdie reeks: “Bystanddood – ’n omstrede saak

Jaco Beyers se artikel in LitNet Akademies: “’n Veelkantige besinning oor eutanasie

Jean Oosthuisen se verslag oor ’n gesprek by die US Woordfees in 2018: “Genadedood is ’n demokratiese reg

Gustaf Pienaar se rubriek: “Regsalmanak: Oor eutanasie (‘genadedood’)

George Bekker se brief op SêNet: “Genadedood: Die reg om te verskil

Chris Jones se essay: “Die reg op ’n waardige selfdood

Handré Brand se essays: “Enkele perspektiewe op waardigheidsdoding (eutanasie)”, “Opponerende standpunte oor waardigheidsdoding (eutanasie)” en “Waardigheidsdoding (Eutanasie)

Bettina Wyngaard se rubriek: “Hulpdoding: sonde, of die ultimate toonbeeld van compassion?

 

  • Die fokusprent by hierdie artikel is ’n verwerking van ’n afbeelding deur Tumiso op Pixabay. Die afbeeldings in hierdie artikel is ook va Pixabay geneem. Besigtig Pixabay se lisensieooreenkoms hier.
  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top