Genadedood is ’n demokratiese reg

  • 12

Chris Jones, Heinz Mödler, Anton van Niekerk en Tim du Plessis

Dit is elke mens se demokratiese reg om sy of haar lewe te beëindig. Selfdood was ook nog nooit ’n kriminele oortreding in Suid-Afrika nie, maar dit kan wel teologiese en etiese implikasies inhou.

Dit was die algemene strekking van verskeie gesprekke tydens die afgelope Woordfees oor die vrywillige beëindiging van ’n mens se lewe.

Dit was veral genadedood, die etiese aspekte daarvan en die reg om self daaroor te besluit wat tydens die diskoerse op die fees aan die bod gekom het. Die tema van selfdood, genadedood en die verskillende variasies daarvan wanneer iemand sy of haar eie lewe wil beëindig, is op verskeie verhoë tydens vanjaar se Woordfees aan die orde gestel.

Verskeie pleidooie om bystanddood in Suid-Afrika te wettig is vanuit teologiese, mediese, filosofiese en doodgewoon menslike oogpunte bepleit.

Tydens elke gesprek wat hieroor gehandel het, is daar sonder uitsondering ’n dringende behoefte uitgespreek dat wetgewing wat genadedood verbied hersien moet word.

Willem Landman van Dignity SA het aan die oud-uitgewer Frederik de Jager vertel van sy laaste gesprekke en besoeke aan die skrywer Karel Schoeman wat sy eie lewe verlede jaar met bystandhulp beëindig het. Landman is ’n sterk voorstaander van bystanddood of genadedood onder sekere omstandighede.

Al die sprekers in die onderskeie gesprekke het saamgestem Karel Schoeman se geval was uitsonderlik omdat hy nie terminaal siek was of aan ’n ongeneeslike siekte gely het nie. Hy was 77 jaar oud toe hy dood is. Landman sê in sy gesprekke met Schoeman het hy egter tot die oortuiging gekom die skrywer het ’n weldeurdagte besluit geneem om nie langer te leef nie. Na verskeie gesprekke het Landman hom gehelp om ’n middel te bekom wat sy lewe op ’n waardige manier beëindig het.

Die etiese aspekte rakende genadedood is verder bespreek tydens een van die Frederik van Zyl Slabbert-gespreksreeks se diskoerse.

Die filosoof Anton van Niekerk het gesê die Bybel fel geen morele oordeel oor selfdood nie. Van Niekerk sê hoewel selfdood nie altyd die regte ding is om te doen nie, is dit elke mense se demokratiese reg.

Daar is ’n verskil tussen die etiese optrede van ’n 40-jarige man met ’n vrou en kinders wat sy eie lewe neem omdat hy geld gesteel en uitgevang is en nie verantwoordelikheid vir sy dade wil aanvaar nie, en iemand wat terminaal siek is.

Van Niekerk sê daar is situasies waar terminaal siek mense die vermoë verloor het om hul eie lewe te neem of om op ’n waardige manier te sterf. Dit is waar genadedood of bystanddood in die prentjie kom. “Daar is sekere situasies waar dit ons morele plig is om sulke mense te help.”

Heinz Mödler, ’n narkotiseur van beroep het statistiek voorgehou wat bewys genadedood ruk geensins handuit in lande waar dit wettig is nie. Hy het verduidelik dat daar nie gevra word vir ’n blanko tjek waar genadedood sommer net lukraak toegepas kan word nie. Hy praat van mense wat terminaal siek is en vir wie daar geen hoop meer is om ’n sinvolle lewe te lei nie.

Chris Jones het vanuit ’n teologiese hoek oor genadedood gepraat. Hy sê wanneer daar oor genadedood gepraat word, help dit nie om vas te val in individuele teksverse uit die Bybel nie. Jones sê daar moet ’n onderskeid getref word tussen mense se individuele geloofsoortuigings en die demokratiese reg wat elke landsburger in ’n demokrasie behoort te hê. Hy sê godsdiens kan nie in ’n demokrasie primêr bepaal wat mag toegelaat word en wat nie.

Hy stem saam met die res van die paneel dat genadedood slegs onder streng voorwaardes toegedien mag word, byvoorbeeld aan terminaal siek pasiënte wat ondraaglike pyn verduur of geen kans meer het om ’n sinvolle lewe te leef nie.

  • 12

Kommentaar

  • Ek stem saam daarmee dit is elke mens se demokratiese reg is om sy of haar lewe te beëindig. Ek het geen dokter, dominee, filosoof, sielkundige of maatskaplike werker nodig om my te begelei nie, sou ek besluit dat ek lang genoeg gelewe het. Dis vandag ook nie moeilik om die regte doepa hiervoor te verkry nie.
    Ek voel ook dat mense wat ly en wat wil sterf en nie in staat is om dit self te organiseer nie, gehelp moet word. Hier behoort die etiese moraliseerders en dominees wat baie van ons glad nie nodig het nie, pad te gee en dokters of ander kundiges moet help om sy of haar wens te vervul.

  • I agree that a terminally ill person should have that right. Its peaceful ... 1 Cor 3:21(b) Apostle Paul said: "even life and death" will be your Servant. New living translation.

  • Stem saam. Nie een weet wat jy elke dag moet deurgaan nie. As ek dit vandag kan doen, dan doen ek dit. Dis my lewe, my liggaam wat deur die siekte vernietig word.

  • Dit is my laaste WENS ... in my oë is dit reg ... ek wil nie vir iemand anders ’n las wees nie, as ek nie myself meer kan help nie wil ek graag genadedood hê.

  • Nico M Ferreira

    Ek wonder oor 'n instansie soos Dignity SA se etiese kode en die begrip "reg op privaatheid" as Willem Landman so ewe vertel van Karel Schoeman se poging tot genadedood.

  • 'n Mens het geen seggenskap in hoe jou lewe begin nie. Moet 'n mens nie jou ouers as hul nog lewe. raadpleeg voordat jy so 'n ingrypende stap oorweeg?
    Dit is goed en wel om te redeneer dat dit jou lewe is om oor te beskik, maar dit is jou geliefdes, as daar is, wat daarna daarmee moet saamleef. Dit is nie altyd 'n mooi gesig om iemand te sien sterf nie.

  • Hoe lekker lag ek nou! Selfdood was nogals nog nooit 'n kriminele oortreding in Suid-Afrika nie. Nou wonder ek: as dit 'n kriminele oortreding sou wees,en jy word gevang, stuur hulle jou dan tronk toe? En vir hoe lank? Dalk word die doodstraf weer ingestel en dan hang hulle jou!

  • Willem Landman

    Ek sien hierdie kommentaar nou eers. Ek reageer omdat dit ’n belangrike punt opper wat reggestel moet word.

    Schoeman het die wens uitgespreek dat sy besluit, en hoe hy daarby uitgekom het, in die openbaar gebruik sou word om die debat oor bystanddood te bevorder. (Sien my hoofstuk in Tobie Wiese se boek, Wreed én mooi is die dood – verhale oor verlies, hunkering en heling, waarin ek Schoeman hieroor aanhaal.)

  • Willem Landman

    Hello Elaine. Die eerste vraag is waarom oorweeg jy dit? Daar is aanvaarbare en onaanvaarbare redes. Dan is daar die wetlike verbod in Suid-Afrika en wat dit beteken. 'n Verdere oorweging is watter mediese- en familie-ondersteuning jy het, gegee dat jy byvoorbeeld 'n terminale siekte het. Ook belangrik is watter instruksies jy gee, soos in 'n lewende testament en mediese volmag. Maar die beginpunt is: waarom oorweeg jy dit?

  • Louise Van der Linde

    Bystanddood of genadedood moet elke individu se persoonlike keuse wees. Moreel of eties moet nie ter sprake wees nie. Wat ek graag wil weet, is waar begin mens met sulke reëlings, wie kontak jy en teen watter koste?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top