LitNet Akademies Weerdink: Bystanddood

  • 2

Die jongste in die nuus oor bystanddood: Carol de Swardt het op 63 met bystand by Pegasos-kliniek in die Switserse dorp Liestal gesterf na ’n lang stryd met velkanker.

Bystanddood is onwettig in Suid-Afrika.

Volgens Jaco Beyers se 2021-LitNet Akademies-artikel is vrywillige aktiewe eutanasie wettig in Albanië, België, Switserland, Kanada, Colombië, Luxemburg en Nederland, asook in vyf state van die VSA (Oregon, Vermont, Washington, Nieu-Mexiko en Montana).

Menán van Heerden gesels met Willem Landman oor hierdie kwessie. 

Willem, in jou 2022-artikel “Bystanddood – ’n omstrede saak” benadruk jy dat pyn ook subjektief is: “Persoonlike ervaring van en reaksie op pyn en angs verskil tussen individue.”

Indien die subjektiewe lyding ter sprake nie as “erg genoeg” beskou word nie, wat staan ’n pasiënt te doen? En wie neem die besluit in lande waar dit wettig is?

Ook, soos jy die vraag stel, moet lyding fisiek wees, of mag dit sekere vorme van depressie of ander geestesongesteldhede insluit?

Hierdie vrae gaan oor die kriteria in terme waarvan individue sal kwalifiseer vir wettige bystanddood in beide vorme (wanneer dit gewettig sou word), naamlik dokter-geassisteerde (mediese) selfdood én dokter-geadministreerde (mediese) genadedood.

Bystanddood is altyd pasiënt-geïnisieer en pasiënt-gedrewe. Dit mag nooit aan ’n pasiënt gesuggereer word nie, maar moet altyd uit eie, vrye wil versoek word. Maar ’n mediese determinasie moet uitsluitsel gee of ’n pasiënt vir bystanddood kwalifiseer in die lig van ’n betrokke land se kriteria.

In Suid-Afrika is bystanddood steeds moord in die lig van ons gemene reg, en skuldigbevinding sal afhang van die teenwoordigheid van al die elemente van die misdaad. Dus kan ons tans slegs spekuleer oor watter kwalifiseringskriteria hopelik binne ’n paar jaar sal geld.

Die paradigmageval of sentrale voorbeeld van bystanddood is pasiënte wat hulpverlening met sterwe versoek omdat hulle terminaal-siek is én in ondraaglike, allesoorheersende en onomkeerbare lyding verkeer.

Inderdaad verskil subjektiewe ervaring van en kognitiewe respons op lyding van persoon tot persoon omdat ons individuele werklikhede fisiologies en psigologies verskil wat tot gevolg het dat ons toleransie en hanteringsvermoëns verskil.

Desnieteenstaande sodanige subjektiewe verskille tussen mense kan ons steeds bepaal of iemand terminaal-siek is, in die terminale fase van ’n terminale siekte verkeer en lyding ondraaglik vind. Die beginsel dat ekstreme lyding ’n noodsaaklike voorwaarde vir regverdigbare bystanddood is, vereis dat feitelike determinasies oor ’n spesifieke individu se lyding gemaak moet word, beide objektief in terme van ’n terminale siekte en die uitwerking van pynstillende middels en subjektief in terme van hoe die persoon dit ervaar. ’n Persoon word dus gewoon gemoniteer om lyding en verdraagsaamheid van lyding te bepaal. Ons maak immers ’n verskeidenheid determinasies van andere se bewussynstoestande op roetinebasis dwarsdeur ons lewens al is andere se bewussyn nie direk vir ons toeganklik nie.

Wanneer ons verder as paradigmagevalle kyk (terminale siekte met gepaardgaande ondraaglike en onomkeerbare lyding), is daar etlike verdere besluite wat die wetgewer in ’n demokratiese proses oor toelatingskriteria vir bystanddood sal moet maak.

Die eerste basiese besluit is of ons slegs mediese selfdood (soos in die VSA) of óók mediese genadedood (soos in Kanada) wil wettig.

Ander keuses oor toelatingskriteria wat in ons wetgewing aangespreek sal moet word, is byvoorbeeld die volgende:

  • Watter soort lyding regverdig bystanddood? Is fisiese lyding ’n noodsaaklike voorwaarde? Waarom nie ook onuithoudbare, allesoorheersende en onomkeerbare geestelike of psigologiese lyding nie? Dus: Moet geestessiektes ook vir bystanddood in aanmerking kom? Alle siektes – fisies en geestelik – het ’n fisiologiese basis. Die verskil is bloot dat met geestessiektes is die brein die orgaan waarin die siektetoestand gesetel is, eerder as byvoorbeeld die longe, hart of pankreas. Belangrik: Dit is ’n mite dat ’n geestessiekte sonder meer rasionele besluitneming kortwiek of onmoontlik maak. Die feite moet in individuele gevalle vir hulself spreek, nie voorafopgestelde aannames nie.
  • Indien ons net mediese selfdood wettig, wat van mense wat nie kan selfdood pleeg nie omdat hulle verlam is of nie kan sluk nie? Hier kom onregverdige diskriminasie en gelykheidsregte ter sprake.
  • Wat van minderjariges? Sekere minderjariges wat byvoorbeeld jare in onkologiese sale deurgebring het, verstaan kennelik meer van lyding en die sin van die lewe as sommige volwassenes wat nog nooit die binnekant van ’n hospitaal gesien het nie.
  • Wat van pasgebore babas met fatale genetiese defekte (sien ook vraag hieronder)? Nie-willekeurige bystanddood vanuit die perspektief van die inkompetente pasiënt self is hier ter sprake – wil ons dit toelaat, of moet bystanddood tot willekeurige bystanddood beperk word, uitgedruk in ingeligte toestemming deur die pasiënt self? Aangesien ’n baba as pasiënt nie oor die vermoë beskik om self besluite oor lewe en dood te neem nie, kom die ouers as surrogaat-besluitnemers in die prentjie. Dan is die vraag of die ouers wetlik bemagtig behoort te word om namens die baba-pasiënt ’n vrywillige en ingeligte besluit vir bystanddood in die vorm van genadedood te mag neem. Gegee omstandighede, mag genadedood sterker morele ondersteuning geniet as blote onttrekking van lewensondersteuning.
  • Wat van mense wat “moeg is vir die lewe” (soos die 103-jarige Australiër) of ’n “voltooide lewe” het (soos Karel Schoeman), sonder terminale of selfs ernstige siektes? Sodanige gevalle sal egter uiters moeilik, indien nie onmoontlik nie, wees om te reguleer.
  • Behoort ’n lewende testament voorsiening te kan maak, nie net vir onttrekking of weerhouding van lewensondersteunende behandeling nie (soos tans algemeen aanvaar word), maar óók vir bystanddood? Byvoorbeeld: In die geval van Alzheimer-siekte, mag mens ’n punt bereik waar ingeligte toestemming nie meer moontlik is nie weens verlies van kompetensie vir rasionele besluitneming, ’n toestand wat jy vir jouself voorsien wanneer jy nog kompetent is en bystanddood in voorsiene omstandighede sou wou kies?
  • Behoort ’n mediese volmag voorsiening daarvoor te kan maak dat jou gevolmagtigde ’n besluit vir bystanddood kan neem bo en behalwe roetine-mediese besluite?
  • Watter veiligheidsmaatreëls en protokol moet ’n praktyk van bystanddood reguleer sodat daar bevredigend uitsluitsel oor onder meer die volgende sal wees: Is die pasiënt kompetent om bystanddood te kies, kies die pasiënt bystanddood outonoom en sonder dwang, kry die pasiënt geleentheid om ’n besluit te herroep, hoeveel dokters moet betrokke wees en watter determinasies moet hulle maak en dies meer? Kortom, is daar ingeligte toestemming? Protokol en veiligheidsmaatreëls is op verantwoordelike wyse en uitvoerig in ander jurisdiksies waar bystanddood gedekriminaliseer en wettig is aangespreek. Ons kan by hulle leer. Hierdie is praktiese, feitelike kwessies en moenie met ’n prinsipiële besluit om bystanddood te wettig al dan nie verwar word nie. Sodra ons besluit het dat ons Grondwet ons die reg op bystanddood verleen, dan is uitvoering ’n sekondêre kwessie, soos dit met enige praktyk die geval is (vergelyk terminasie van swangerskap).

Verskillende lande beantwoord hierdie vrae op verskillende wyses op ’n spektrum van minder tot meer inklusief of permissief.

Wat vir ons aanvaarbaar is, moet bepaal word in ’n demokratiese proses met uitnodigings aan die publiek om voorleggings te maak en deel te neem aan openbare gesprekke wat die Parlement se wetskrywing sal informeer. Ons moet vertrou dat die beste argumente uiteindelik sal seëvier, dat dit ’n rasionele proses sal wees en bowenal uitdrukking sal gee aan regte in die Grondwet verskans en hulle onderliggende waardes. Mense moet hulle stories kan vertel sodat parlementslede kan verstaan wat op die spel is. Daaruit sal ons wetgewing moet voortspruit.

Hoe disfunksioneel die Parlement ook al is, ons sal in so ’n openbare proses parlementslede moet opvoed en hulle aan hul konstitusionele verpligtinge moet herinner. Die hof kan nie wetgewing en regulasies skryf nie, maar kan net bystanddood dekriminaliseer sodat dit nie voortaan vervolg sal word nie. Daar is geen ander uitweg as ’n wettigingsproses deur die Parlement nie. Wettiging is die Parlement se wetlike taak en morele verpligting, meer nog so sodra die hof (hopelik) die Parlement beveel het om wetgewing te skryf.

Na aanleiding van jou vraagwaarom kan bystanddood nie ’n genadige uitweg vir inkompetente individue wees nie, soos pasgebore babas met fatale defekte:

Wat staan ouers te doen met betrekking tot ’n ongebore of ’n pasgebore baba met fatale defekte?

Ek is onbewus van enige oortuigende rede waarom terminaal-siek, pasgebore babas moet aanhou leef en ly. Die beginsel van die sinloosheid van onuithoudbare en onomkeerbare terminale lyding is duidelik; die toepassing daarvan moet in protokol en veiligheidsmaatreëls omskryf word.

Neem die geval van trisomy-13, ’n seldsame, ernstige genetiese afwyking, veroorsaak deur ’n addisionele chromosoom 13 in sommige of alle liggaamselle. Die helfte van trisomy-13-babas oorleef langer as twee weke en 10% oorleef hulle eerste lewensjaar. Hulle lewenskwaliteit is power en kennelik is hulle lyding sinloos. Hulle het ernstige voedings- en asemhalingsprobleme. Waarom dan sou ’n trisomy-13-baba aan die lewe gehou word?

Geen baba is kompetent om oor voortgesette lewe of die dood te besluit nie. Maar ’n baba het surrogaat-besluitnemers, naamlik hulle ouers. Ouers is by magte om alle besluite oor ’n pasgebore baba se mediese behandeling te neem, mits dit in die baba se beste belange is. Gegee dat hulle in die omstandighede óók mag besluit om enige behandeling, insluitende kunsmatige voeding en hidrasie, te staak, met die dood as onafwendbare gevolg, sou dit nie veel genadiger wees om eerder genadedood toe te pas nie, hoe tragies en ontstellend ook al?

Maar dit is nie vir my om te besluit nie. Ek kan net die lyding en kontradiksies uitwys en ook die irrelevansie van persoonlike, kulturele en godsdienstige oortuigings as sodanig vir konstitusionele interpretasie. Net die Parlement kan die wetlike situasie beredder in ’n verantwoordelike, demokratiese proses waar ons verteenwoordigers hulle laat lei deur die waardes en regte in die Grondwet vervat en nie deur ander oorwegings nie.

Kortom, ouers as surrogaat-besluitnemers mag lewensondersteunende behandeling – in ekstreme gevalle van fatale defekte en swak of geen lewenskwaliteit – weier, maar genadedood is onwettig. Beide lei tot die dood as verlossing van lyding. Dit maak nie sin nie.

Na aanleiding van jou vraag, waarom is terminale siekte ’n voorwaarde vir bystanddood:

Is bogenoemde die enigste voorwaarde vir bystanddood? Waarom is, soos jy dit stel, “inkompetente individue” soos pasgebore babas met fatale defekte, sterwende bejaardes en beseerde individue nie deel van hierdie kriteria nie?

Hierdie vrae is reeds grotendeels in die voorafgaande beantwoord.

Terminale siekte word in paradigma- of sentrale gevalle as ’n noodsaaklike voorwaarde vir bystanddood beskou.

Of dit in die praktyk so moet wees, is ’n kwessie vir ons Parlement om te besluit wanneer wetgewing en gepaardgaande regulasies oor bystanddood geskryf word.

Die vraag sal wees of lyding as sodanig – sonder terminale siekte – so erg kan wees dat dit voldoende is om bystanddood te regverdig.

Byvoorbeeld: Daar mag geestessiektes wees wat onuithoudbare en onomkeerbare lyding tot gevolg het. Daar kan egter ook fisiese siektetoestande wees wat nie terminaal is nie, maar wat met onuithoudbare, allesoorheersende en onomkeerbare lyding gepaard gaan.

Waarom mag mense wat hulle in sulke situasies bevind, nie outonoom besluit om hul lewens met bystand te beëindig nie? Waarom wend ons altyd alle pogings aan om lyding dwarsdeur ons lewens te verlig of beëindig, maar wanneer die dood die enigste verlossing van lyding is, keer ons mense as’t ware die rug toe?

Die dood is onafwendbaar. Waarom nie hierdie feit erken en verantwoordelik aanspreek wanneer dit gepas is om dit te doen nie? Daar kom ’n tyd in ons almal se lewens wanneer mediese dokters nie meer kan heel of pyn verlos nie. Dit vra vir ’n benadering wat hierdie waarhede verreken eerder as omseil.

Dieselfde oorweging het betrekking op al die gevalle waarna die vrae wat hierbo aan my gestel word, verwys – inkompetente individue (individue wat nie hulle eie besluite kan neem nie), terminaal-siek individue, fataal-beseerde individue.

Voorheen kompetente individue behoort in ’n lewende testament en mediese volmag (die twee vorms van vooraf-direktiewe) vir selfdood voorsiening te kan maak. Babas wat nooit kompetent was of sal wees nie, het surrogaat-besluitnemers en hulle moet die beste besluite in die belang van ’n baba kan neem.

 Is daar deesdae groter begrip vir bystanddood in Suid-Afrika?

Ja, beslis. Kyk maar net na sosiale media en kommentare op elektroniese nuusberigte. Dit is weliswaar anekdotiese getuienis, maar ek het goeie rede om te glo dat die tendens onteenseglik is, naamlik groter bewussyn van en ondersteuning vir bystanddood.

My eerste deelname aan ’n televisiebespreking van bystanddood was in 1994. My jongste was vanjaar, 30 jaar later. Uit openbare reaksies weet ek dat die verskuiwing van populêre denke beduidend is, weliswaar in ’n sekere sosiaal-ekonomiese stratum. In net drie internetartikels oor Carol de Swardt se selfdood by Pegasos in Switserland op 31 Januarie 2024 was daar nagenoeg 400 reaksies. Net enkeles was negatief. Die begrip vir en ondersteuning van haar keuse was nie net oorweldigend nie, maar dit was beide rasioneel en treffend meelewend.

Waarom die oënskynlike verskuiwing? Ons kan spekuleer oor verskeie redes. Mediese wetenskap het weliswaar die dood verder teruggeskuif, maar in die proses het dit sterwe moeiliker gemaak. Mense ervaar dit met sterwende familielede te midde van veel langer lewensverwagting. Ons het deur die internet meer bewus geword van die moeilike sterwensproses vir ’n relatief klein, ongelukkige maar beduidende groep mense van wat dit beteken om met kille miskenning van menswaardigheid en vryheid van keuse oor eie liggaam te sterf. Dalk het die Grondwet se regte-diskoers gehelp om ’n regte-denke en selfs -kultuur te skep. En nuwe perspektiewe op en interpretasies van fundamentele godsdienstige oortuigings bring bevryding van gevange denke.

Wat is die opsies as ’n familielid navraag doen oor bystanddood / dit baie sterk oorweeg?

Indien mens ’n vertrouensverhouding met jou algemene praktisyn opgebou het, kan jy dalk gelukkig wees en hulp kry. ’n Morfiendrup se dosis kan gewoon opgestoot word. Maar gegee die risiko’s vir dokters bly dit onder die radar.

Om vir dokter-geassisteerde selfdood na Dignitas of Pegasos in Switserland te gaan, kan, alles in ag genome, ’n halfmiljoen rand kos. (Carol de Swardt kon dit slegs bekostig omdat die staat haar R4,5 miljoen skadevergoeding betaal het.)

Uiteraard moet pasiënte die beste palliatiewe sorg moontlik kry. Sommiges sterf vreedsaam en relatief pynloos met behulp van palliatiewe sorg. Daarenteen bereik ander ’n punt waar palliatiewe sorg ontoereikend is en nie langer verlang word nie. Daar is dus mense wat verkies om nie in ’n beswyming tussen bewus-wees en bewusteloosheid, met ongemak en lyding, te sterf nie, maar wat in beheer wil wees en die dood omarm, gegee die omstandighede waarin hulle verkeer.

Verskaffing van middels vir selfdood is riskant vir die verskaffer, want hulpverlening vir selfdood (en natuurlik ook genadedood-hulpverlening) is onwettig.

Onder presies watter omstandighede hulpverlening onwettig is, is egter onduidelik en moet op ’n gevallebasis bewys word. Ten opsigte van dokter-geadministreerde genadedood: Was daar die nodige intensie om lewe te beëindig, of was dit om lyding te verlig met ’n verhaaste dood as sekondêre, maar onafwendbare gevolg? Ten opsigte van dokter-geassisteerde selfdood: Was die dokter of ander hulpverlener se handeling (verskaffing van ’n middel waarmee selfdood gepleeg is) kousaal verantwoordelik vir die gevolglike afsterwe, of is die kousale ketting deur ’n outonome selfdood-handeling verbreek?

Daar is ook die praktiese probleem dat die dosis wat benodig word vir ’n middel om die dood te veroorsaak, van pasiënt tot pasiënt mag verskil. ’n Fout kan ’n pasiënt laat oorleef en slegter daaraan toelaat. Daarom is suggesties dat alle selfdood maklik behoort te wees en sonder hulpverlening gepleeg kan word volslae oningelig.

Dit alles dui op die behoefte aan wetlike duidelikheid. En dit is waarna DignitySA met ons hofaansoek streef. Die Appèlhof het immers in 2016 DignitySA by name genoem as ’n instansie wat in die openbare belang die hof sou kon nader om die gemene reg met die Grondwet te belyn. En dit is wat ons nou doen. Die regering sal ons in die hof opponeer – van die Hooggeregshof, deur die Appèlhof tot by die Konstitusionele Hof – en het onbeperkte belastinggegenereerde fondse daarvoor.

DignitySA se hofaansoek kan nie sonder die nodige befondsing slaag nie. Die omvang van die hofaansoek is sodanig dat ons advokate en prokureur véél meer as pro bono-werk moet doen. Dat die hofaansoek gaan oor konstitusionele regte – menseregte – wat potensieel elkeen van ons mag raak, afhangend van hoe ons sal sterf, behoort genoegsame aansporing te wees om die hofaansoek finansieel te ondersteun, al is dit op ’n baie beskeie manier.

Verpas ons hierdie geleentheid, sal nog 20 jaar verlore gaan, net soos die 25 jaar wat reeds verloop het sedert die Parlement nagelaat het om voorgestelde konsep-wetgewing deur die Regshervormingskommissie oor keuses aan die einde van die lewe te oorweeg. Dit was ’n ramp, want wetgewing sou duidelikheid gegee het, nie net oor bystanddood nie, maar ook oor pynbeheer wat die dood verhaas, onttrekking en weerhouding van lewensondersteuning en vooraf-direktiewe (’n lewende testament en mediese volmag).

Lees ook:

’n Veelkantige besinning oor eutanasie

Bystanddood – ’n omstrede saak

Genadedood is ’n demokratiese reg

Regsalmanak: Oor eutanasie ("genadedood")

Enkele perspektiewe op waardigheidsdoding (eutanasie)

Opponerende standpunte oor waardigheidsdoding (eutanasie)

Waardigheidsdoding (Eutanasie)

  • 2

Kommentaar

  • Baie, baie baie GROOT woorde en WYSE gedagtes deur geleerdes en wat nog. Wat van die individu wat by sy volle verstand is, maar DIKWELS soveel pyn ervaar dat sy spraak, sy denke, sy beweging, sy hele lewe daarom draai en daardeur oorheers word en hy nie kan wag on in vrede te gaan nie? Wat soms om 01h00 wakker word en letterlik krul van die pyn, en die pyn eenvoudig vir die pille en sterk verdowingsmedikasie uitlag tot verskeie ure later wat jy eenvoudig van uitputting aan die slaap raak. Waar die dokters en neuroloë hulle skouers optrek en die breinbesering se effekte as onhanteerbaar beskou en self nie verder weet wat om te doen nie? Wat van hierdie persoon se regte en ervaring? Dis reg, as die sg "wettige paadjie" geloop word, kan slegs rykes dit bekostig. Ek het dit al deeglik nagevors. Wel, ek kan dit nie bekostig nie en my dag gaan kom waar die geleentheid hom gaan voordoen en ek dit gaan gebruik. Wanneer ek net nie meer kan nie. My vrou weet dit. Ons praat dikwels en openlik daaroor. Wat meer is, sy neem waar en verstaan dit, al hou sy nie van die gedagte nie. Sy kry ook swaar, want sy sien dit alles. Tans byt ek nog vas, maar ek weet nie vir hoe lank nie. Dan tel en beteken al hierdie GROOT GEDAGTES en wat godsgeleerdes ook al daarvan mag dink absoluut niks nie. Dis tussen my en my Skepper en ek glo in sy genade sal hy verstaan. Ek weet my predikant, uit die aard van sy beroep sal my probeer ompraat met baie mooi gedagtes en woorde. Maar dis nie hy wat daarmee moet lewe nie - van dag tot dag, uur tot uur, minuut tot minuut, sekonde vir sekonde. Jammer al die slim mense, maar ek weet iets wat julle nie weet nie. Ek ervaar iets wat julle nie ervaar nie. Moet asseblief nie oordeel as jy nie verstaan nie. Bespreek dit maar. Dis goed so. Maar besef asseblief dat u praat oor iets wat u nie regtig kan verstaan nie. Ek dink die fliek "Soylent Green" het in een opsig 'n punt beet gehad. Ek sê maar net. Hoe vinniger aan relevante wetgewing aandag gegee word, hoe beter.

  • Donnie Malherbe

    Dis darem uiters arrogant van gelowiges om die res te forseer om hul reëls te volg. Niemand dwing hulle om die genadedood toe te pas nie. Hulle het altyd 'n keuse. Gun ons dieselfde keuse.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top