Honderde gene, die manier waarop die liggaam vet stoor en hoe die brein eetlus beheer, asook verskeie omgewingsfaktore, bepaal saam ‘n mens se gewig en liggaamsgrootte. Toe vetsug meer algemeen begin raak het, het kwaksalwery met sy leë beloftes bygekom om die waters van ‘n mediese stryd te vertroebel.
Vir die grootste deel van die mens se bestaanstyd was ’n chroniese tekort aan voedsel en wanvoeding die mensdom se lot. Om oorgewig te wees, is gesien as ’n teken van mag, rykdom en vrugbaarheid.
Die term obesity het eers in die 17de eeu sy verskyning in Engels gemaak, en ook net as ’n beskrywende literêre woord vir iemand wat baie vet is.
Die impak wat vetsug op die kwaliteit van lewe het, is reeds in die 18de eeu aangeteken, maar dit was eers in die middel van die 19de eeu dat daar begryp is dat dit die oorsaak van ongesondheid is. Dit het veel langer geneem om te verstaan dat dit vele ander komplikasies veroorsaak, asook verhoogde mortaliteit. Die afgelope 60 jaar het die voorkoms daarvan so die hoogte ingeskiet dat die Wêreldgesondheidsorganisasie dit ’n globale epidemie verklaar het. Tot ’n miljard mense ly daaraan.
Oorgewig en vetsug is ook ’n kwessie in Suid-Afrika, met vier uit elke 10 vroue in die land wat aan vetsug ly en een uit elke vier wat oorgewig is. Vir mans is die syfer een uit elke tien vir vetsug en een uit elke vyf vir oorgewig.
Onlangs is ’n studie in die vaktydskruf Cell Genomics gepubliseer wat lig werp op nuwe biologiese bane wat onderliggend aan vetsug is, en dit belig hoe geslag en ouderdom tot gesondheid en siekte bydra.
Om die rol van geslag vir die risiko om vetsug te ontwikkel te bestudeer, het die navorsers die eksoom (die proteïenkoderende deel van die genoom) van meer as 410 000 volwasse mense bestudeer. Hulle het na variante binne in gene gekyk wat verband hou met liggaamsmassa-indeks (LMI) in mans en vroue. (Gebaseer op lengte, gewig en ouderdom is dié indeks ’n geraamde meting van vetsug.)
Vyf gene wat verband hou met LMI in vroue en twee in mans is gevind. Foutiewe variante van drie gene (DIDO1, PTPRG, en SLC12A5) word verbind met ’n hoër LMI in vroue, met tot 8 kg/m² meer. Maar dié gene het geen effek op mans nie.
Meer as 80% van vroue met die DIDO1- en SLC12A5-variante het vetsug. En vroue met die DIDO1-variante kan hoër testosteroonvlakke hê met ’n groter middel-tot-heup-verhouding, wat beide gevaar inhou om diabetes en hartsiektes te ontwikkel. Om die SLC12A4-variante te hê stel ook ’n hoër risiko daar om diabetes te ontwikkel, vergeleke met mense wat dit nie het nie. Die geen OBSCN hou verband met vetsug by kinders, en MADD met ’n kleiner liggaamsgrootte.
.....
Vetsug is ’n mediese toestand wat nóú verband hou met die brein, terwyl biologiese en omgewingsfaktore ’n invloed op eetlus het.
.....
Vetsug is ’n mediese toestand wat nóú verband hou met die brein, terwyl biologiese en omgewingsfaktore ’n invloed op eetlus het. Histories is dit gesien as ’n gebrek aan “selfbeheer en wilskrag” en die geneeskunde het min vir mense gebied. Bariatriese snykunde het algemeen geraak, maar dit is gevaarlik en is nie suksesvol vir almal nie.
Die middel Ozempic (semaglutide) is in Suid-Afrika net vir die beheer van tipe 2-diabetes goedgekeur. Dit help die pankreas om ekstra insulien vry te stel en verhoed dat die lewer glukose maak. Deur te vertraag hoe die maag leeggemaak word, voel ’n mens ook langer vol. Dit help ook met die beheer van eetlus, net soos die ander middel, Victoza (liraglutide). Die middel het verlede jaar wêreldwyd ’n gier geword vir maer word. Binne maande was die voorraad op en kon mense met diabetes nie toegang daartoe kry nie. Daar is steeds voorraadtekorte.
Baie mense – ook bekendes – wat hulle Ozempic-verhale op sosiale media deel, ly nie aan vetsug nie en het nie die middel nodig nie. Daar is selfs diegene wat die aktiewe bestanddeel aanlyn koop en hulself inspuit.
Deur die stimulasie van die vrystelling van insulien om die bloedglukose se konsentrasie te normaliseer, en die maag wat stadig leeggemaak word, kry die brein vir baie langer die sein dat jy nog vol voel. Die konstante boodskappe wat jy in jou brein ervaar dat jy die hele tyd lus is vir kos, of om te peusel, wat baie mense magteloos laat voel, verdwyn.
Maar hier is die probleem as dit misbruik word: Jy kan die hele tyd maagpyn en naarheid ervaar omdat daar ’n konneksie tussen die brein en spysverteringstelsel is. Van die mees ekstreme newe-effekte is pankreatitis en gastroparese waar die gedeeltelike verlamming van die maag te veel is en mense nou ernstig siek geword het.
Dié inspuiting teen sowat R4 000 per maand vir diabetes sal vir die meeste mense onbekostigbaar bly, hoewel mediese skemas daarvoor betaal. Om gewig te verloor is die dosis aansienlik hoër. Maar dit blyk dat indien die behandeling van vetsug gestaak word, mense weer gewig optel. Dit sal dus ’n lewenslange behandeling moet wees.
.....
Daar is ’n middel in Suid-Afrika goedgekeur spesifiek vir die behandeling van vetsug, genaamd Saxenda (liraglutide). Dit is dieselfde as Victoza vir tipe 2-diabetes, maar die dosis is hoër. Die beste resultate word verkry indien mense voor die behandeling eers 5% van hulle liggaamsgewig met ’n behoorlike dieet verloor het
.....
Daar is ’n middel in Suid-Afrika goedgekeur spesifiek vir die behandeling van vetsug, genaamd Saxenda (liraglutide). Dit is dieselfde as Victoza vir tipe 2-diabetes, maar die dosis is hoër. Die beste resultate word verkry indien mense voor die behandeling eers 5% van hulle liggaamsgewig met ’n behoorlike dieet verloor het; daarna verloor hulle sowat 6 kg oor 56 weke.
Die “wonderwerke” wat belowe word deur ander produkte – letterlik honderde van hulle – dat jy kilogramme binne enkele weke kan verloor, is bloot foefies. Jy kan nie gewig verloor vinniger as wat jy dit aansit nie. Dit is ’n stadige proses.
Dit sluit al die klinies ongetoetste middels in wat nié goedgekeur is as mediese produkte nie – die sogenaamde metabolism boosters, fat burners en carb blockers.
Verspreiders van produkte wat belowe dat jy kan eet wat jy wil en steeds gewig verloor; of erger, dat jy baie vinnig gewig kan verloor, jok. Dit kan ook jou gesondheid skade aandoen. Dit kan verskuilde bestanddele bevat wat uiters skadelik is, soos efedrien, ander stimulante soos kaffeïen, hidroksiesitraat, geelmelkhout, saamgestelde olynoliesuur, piruvaat en vele ander middels.
Die feit bly staan dat daar geen wondermiddel is om ontslae te raak van te veel energie wat jy inneem en wat gestoor word nie. En die opsies vir getoetste mediese ingrepe is min en die resultate wat die gee, verskil aansienlik van die beloftes van diegene wat slangolie aan jou wil verkoop.