Emily Hobhouse: Onthou ons steeds net die “Madonna”?

  • 5

’n Bekende portretstudie van Emily Hobhouse in haar vroeë veertigs. Foto: Anglo-Boereoorlog Museum

Die dag toe ek, soos ’n snuffelhond, die spoor van Emily Hobhouse geneem het, was die ellende van die Anglo-Boereoorlog (ABO) juis nié my fokus nie. Nóg minder “onse tannie Emily” of die Christelik-Nasionalistiese engelkroon wat op haar kop gesit is.

Die Suid-Afrikaanse nasionalistiese regering en sy aanhangers se verstommende en herhaaldelike onbegrip vir wie sy regtig was, was so skreiend onregverdig vir haar historiese beeld – dit het aan die absurde geraak. Soos om ’n pasifis te “vereer” deur ’n duikboot na haar te vernoem. Haar profetiese, diepliggende toespraak van 1913, by die opening van die Vrouemonument in Bloemfontein, was óf bo die begrip van die mense, óf hulle het verkies om dit te ignoreer. Of beide.

Dit was juis in 1913 en 1914 dat sy haarself toenemend vervreemd gesien het van Suid-Afrika, en sy leierskap, met wie sy toe reeds lank vriendelik was. (Buiten Jan Smuts en Tibbie Steyn, met wie sy bly korrespondeer het, asook ander privaat individue.) Met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog is die laaste stempel op Emily gedruk om haar na nog meer radikale denke te stem, selfs sosialisme.

Daar is oor haar gesê: “She had the face of a Madonna, but she fights like a devil.” Maar in die begrip van baie wroegende, en sukkelende, Afrikaners wat dekades se haat saamgedra het weens die ABO, het net die “Madonna”-beeld oorleef. ’n Romantiese blik van ’n “tannie” wat selfs soms met ’n verpleegster, of Kwaker (wat sy nie was nie) verwar word.

Dit is die slegste ding wat met Emily kon gebeur het. Plaaslik is sy soms gereduseer tot ’n oujongnooi-redder, later getooi in regse politieke skakerings omdat sy kastig “ons kant gekies het”. Maar in wese was sy ’n radikale pasifis en liberalis. Sy was gekant teen oorlog – alle oorlog en sy vergrype. Die politieke kwessies van beide kante was nie wat haar gedryf het nie, maar dit wat oorlog aan die kwesbares wat nie ’n stem in die oorlog gehad het nie, gedoen het: die vroue en kinders. Haar deurdagte en berekende redenerings, in briewe en in haar eie onvoltooide outobiografie en dagboeke, spreek van ’n intelligente, belese vrou wat haar in pragtige eietydse Engels uitdruk.

Die brief wat die keramiektablet vergesel het wat deur die stad Leipzig aan Emily gegee is om haar te eer vir haar werk ná die Eerste Wêreldoorlog onder kinders van dié stad. Ongelukkig is dié werk wat Emily gedoen het, grootliks vergete. Die brief is in een van Emily se plakboeke. Foto: Elsabé Brits, Emily Hobhouse-versameling

 

Die feminis, pasifis, fluitjieblaser, vegter vir menseregte en vroueregte, elegante skrywer, en veral haar briljante verstand, het tot ’n groot mate in die geskiedenis vergete geraak.

En internasionaal is haar werk en nalatenskap vinnig op die agtergrond gestoot omdat sy durf waag het om humanitêre en pasifistiese werk te doen, en met die “The Empire” te bots. Sy was in beide in die ABO en Eerste Wêreldoorlog teen oorlog, maar nie teen haar eie land nie. En dít is een van die kritieke punte waar Emily verkeerd verstaan is. In haar tyd was sy wel bekend, en haar naam kan in honderde koerantberigte opgespoor word, maar ná haar dood het sy meestal buite ’n bepaalde gemeenskap in Suid-Afrika verdwyn.

Wat agterweë gebly het, was Emily se betrokkenheid by die linkse drukgroep Union of Democratic Control (UDC), vir wie sy ook artikels geskryf het, ook in die feministiese maandblad Jus Suffragii (The Law of Suffrage) en in Women's Dreadnought, om maar twee te noem, asook ’n groot bydrae om stemreg vir vroue én arm mans te verseker.

Sy het ’n groot rol gespeel tydens die eerste International Women’s Congress for Peace and Freedom (dié organisasie het in 2015 sy eeufees gevier). Emily was die medestigtiger van die Swiss Relief Fund for Starving Children wat later deel geword het van die Save the Children Fund – wat vandag nog bestaan. Tog is haar naam nêrens te vinde in dié organisasie se geskiedenis nie.

In my navorsing en in die skryf van die boek wou ek by die vrou, die mens, uitkom. Die vraag was: Wie was Emily? Veral die dele wat vergete is, buite die ABO-raamwerk, wat maar net die begin was van haar werkslewe wat op 40 jaar begin bloei het.

Ek staan nie koud jeens die vergrype van die ABO en sy hongersnood-nagevolge nie, want ál my agter-oumagrootjies en hulle kinders, onder meer my oumgrootjies, was in Transvaalse konsentrasiekampe. En die mans was oorlogsgevangenis buite die landsgrense. Die rimpelings van die ABO het ook deur mý voorsate getrek, met tragiese nagevolge.

Tog wou ek terugstaan daarvan en Emily na vore laat tree, eerder as die mense wat sy gehelp het. En haar héle lewe sover moontlik beklemtoon. Veral omdat ek primêre bronne soos die dagboeke en plakboeke uit die Eerste Wêreldoorlog gevind het, asook die intriges rondom haar oorlogsreise in Duitsland en België in dié tyd.

Hierdie aspek van haar persoonlikheid en haar informele onderhandelings met die Duitsers, die “spioenasiebriewe”, die Britse owerhede wat warm op haar spoor was om haar paspoort in te trek, spreek soveel van haar karakter. Die nagevolge en die debatte in die parlement was vir my byna soos ’n speurverhaal. Emily se deursettingsvermoë om haar saak te stel aan ministers en daarna aan die aartsbiskop van Kantelberg is so eie aan dié vrou.

’n Kopie wat Emily gemaak het van ’n deel van ’n brief deur haar aan sir Edward Grey, die Britse minister van buitelandse sake, rakende haar gesprek met die Duitsers in 1916. Foto: Elsabé Brits

 

Toe sy daarna sien dié sending misluk, het sy haarself dadelik – en vir oulaas – in ’n volgende projek ingewerp: ’n reuse Duitse voedingskema. Dit het ’n meer volledige prentjie van Emily vir my geskep. Hierdie vrou het eenvoudig nie tou opgegooi nie, vergeleke met die meeste ander mense, wat lankal sou gaan lê het. Dit het my nader aan die ware Emily gebring.

’n Telegram waarin Emily vir Jane Addams, haar ou kennis in die International Women's League for Peace and Freedom, om hulp vra vir haar Duitse voedingskema. Foto: Elsabé Brits, Swarthmore College Peace Collection

 

Ek was redelik verbaas dié aspekte van Emily se lewe het nie meer gesprek uitgelok nie, selfs onder resensente. Sy was tog uiteindelik soveel meer as die Emily van die ABO, die ploegplan en die spin-en-weef-skole, kantskool en selfs die toespraak van 1913. Want nadat sy Suid-Afrika die vyfde en laaste keer in 1914 verlaat het, het sy nog baie vermag. Baie mense het in hulle omgang laat blyk hulle was onbewus van Emily se doen en late ná haar Suid-Afrika-periode.

Die neiging om herhaaldelik terug te keer na die ABO, selfs met nuwer en minder emosionele lense, word nie gekritiseer nie. Ek voel latere generasies is gemakliker met die oorlog. Die niefiksiewerke die afgelope jare oor die oorlog belig gebeure uit ’n ander hoek. Die ABO sal altyd relevant bly – daar is vele skatte om nog ontdek en geskryf te word, en alle bronne is nog nie ontgin nie, nog minder is alle verhale vertel – veral dié van vroue.

Terwyl ek verdiep was in die navorsing, het ek nie tyd gehad om ander boeke te lees nie. Dus het ek vanjaar eers Richard Steyn se Jan Smuts – Unfraid of Greatness gelees.

Steyn skryf in die voorwoord:

In reviewing a recent book by Doris Kearns Goodwin, author of “Lincoln”, the American critic Nicolas Lemann wrote that Goodwin’s kind of history was different from that produced by most academic scholars. He described it as popular history – “a sort of journalism about the past” in which the story and the characters are the key elements and the arguments are secondary. That is precisely the kind of book I have tried to write.

En dit was presies wat ek met Emily Hobhouse – Geliefde verraaier wou doen: Emily se storie vertel, wat toeganklik is vir lesers wat hulself dalk nie sou beskryf as akademiese navorsers nie. Ek wou Emily se storie  toeganklik maak selfs vir mense wat normaalweg nie eens geskiedenis sal lees nie.

Dit is bo alles die storie van Emily, die vrou.

’n Foto wat vir die eerste keer gepubliseer is in Emily Hobhouse – Geliefde verraaier. Elsabé Brits, Emily Hobhouse-versameling

Naskrif: Hoewel Suid-Afrikaanse argiewe, museums en spesiale versamelings toeganklik is, is die Nasionale Biblioteek in Kaapstad nie naweke oop nie. Dit is byna onmoontlik om ’n kwaliteit-niefiksieboek te skryf sonder toegang tot ’n akademiese biblioteek aan ’n universiteit. Een van my grootste uitdagings was juis dít. Inligting is nie net duur nie, maar hoogs ontoeganklik. Uiteindelik het die Universiteit van Kaapstad se Departement Kommunikasie en Bemarking my ’n jaar lank volle toegang tot die universiteit se biblioteek gegee. Dit was net danksy my goeie verhouding as joernalis met die universiteit. Die aansoek het maande geduur, maar was suksesvol.

Suid-Afrikaanse Universiteite behoort dit te oorweeg om aansoeke (selfs teen betaling) te aanvaar om niefiksieskrywers wat ’n motivering kan indien, in hulle biblioteke toe te laat vir navorsing.

In Brittanje het ek gratis toegang tot universiteits- en staatsbiblioteke ontvang, net met ’n aansoek en keuring. En ek is nie eens ’n belastingbetaler daar nie. Dit behoort nie so moeilik in Suid-Afrika te wees om navorsing te doen, indien jy nie in ’n akademiese pos of ’n ingeskrewe student is nie. Voordat die Universiteit van Kaapstad my tot hulp gekom het, moes ek ’n boek in die hande kry wat Ruth Fry in 1929 oor Emily geskryf het (die boek is nou onbekombaar, en sou ’n mens dit opspoor, onbekostigbaar). Dit was ’n broodnodige verwysingsdokument. ’n Oorsese universiteit het my gehelp om dit bladsy vir bladsy wettig te kopieer.

Dit behoort nie so te wees nie. Plaaslike universiteite behoort ook ernstige individuele niefiksieskrywers en navorsers toegang tot hulle bronne te gee.

  • Elsabé Brits en Herman Binge gesels Maandag 6 Maart om 10:30 by die Drostdy-teater op die Woordfees oor: Emily Hobhouse – Geliefde verraaier.
  • 5

Kommentaar

  • Ek verstaan presies wat Elsabe Brits sê in hierdie artikel. Sy het vir ons van Emily, die vrou vertel. Die stories wat ons nog altyd wou hoor. Welgedaan!

  • Dr Stan Theron

    1. Dankie Elsabe vir deursettende geduld en noodsaaklike resultate.
    2. Ek het self in baie studiejare by verskillende universiteite in biblioteke geboer, maar was vanaf my tweede tesis op die kale vlakte gelaat - graduandi behoort selfs teen jaargeld toegang te kan kry, veral ook in die digitale wêreld.

  • Flip Nothling

    Dankie vir 'n boeiende essay, Elsabé.
    Emily Hobhouse is nog groter en edeler as wat sy vir my was.
    Ek moet sê, ek het dit amper nie gelees nie. Die titel en die eerse paragraaf het by my die indruk geskep dat dit 'n negatiewe artikel is. Ek het amper iets gemis wat vir my baie belangrik is.

  • What a wonderful, respected, gifted and unafraid of politicians woman she must have been. Thank you for sharing this historical information with plebs like me ... I love history!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top