Die Groot Sagmoedige Reus (GSR) is onder sensuur

  • 0

http://www.nb.co.za/en/view-book/?id=9780624077657

Wie het nie grootgeword met die wonderlike, en soms gruwelike, rympies en verbeeldingryke stories van Roald Dahl nie? Hier lê die kanonieke vraag en debat wat in die laaste paar weke losgebars het rondom Puffin se koppe na hul aankondiging van geredigeerde heruitgawes van dié reus in die kinderliteratuurkanon se boeke.

Die skrywer

Roald Dahl het voorwaar ’n interessante lewe gelei. Hy is op 13 September 1916 in Cardiff in die Verenigde Koninkryk gebore, waarna hy ná skool by ’n ekspedisie na Newfoundland aangesluit het. Hy het tussen 1937 en 1939 in Dar es Salaam gewerk en het gedurende die Tweede Wêreldoorlog aangesluit by die Royal Air Force (RAF) as ’n vegvlieënier. Hy is beseer in ’n vliegongeluk in Libië, het vir ’n tyd lank in Griekeland diens gedoen en is toe later as attaché in Washington, DC (1942–1943) aangestel. In hierdie tyd het hy ook as spioen vir die Britse regering opgetree. Sy eerste publikasies was nie besonder suksesvol nie, al het die skrywer CS Forrester hom aangemoedig om oor sy avonture te skryf. Dit was eers toe hy hom begin toespits het op kinderboeke dat hy ongekende sukses behaal het. Titels soos James and the Giant Peach (1961, Charlie and the Chocolate Factory (1964), Charlie and the Great Glass Elevator (1972), The Twits (1980), Georges Marvellous Medicine (1981), The BFG (1982), The Witches (1983), Mathilda (1988) en Fantastic Mr Fox (1989) is baie bekend. Baie van hierdie boeke is ook verfilm, aangepas vir televisie en verwerk vir die verhoog. Daar is tans ’n nuwe verwerking van Mathilda as ’n musiekblyspel.    

Dit is duidelik dat sy boeke gewild is, om nie eers rekenskap te gee van hoeveel tale sy karakters wêreldwyd in praat nie – ten spyte daarvan dat die meeste van die tekste tussen 1960 en 1990 gepubliseer is. Dit is iets wat mens in gedagte moet hou.

Puffin se veranderinge

Puffin Books, die Britse uitgewers van Dahl se werk in die Verenigde Koninkryk, het aangekondig dat daar van “sensitiwiteitslesers” gebruik gemaak gaan word vir die aanpassings in die nuwe heruitgawes van sy boeke.

Die veranderinge word gemaak met die doel om nie aanstoot te gee aan verskeie groepe nie, of hulle in ’n slegte lig te stel nie. Daar word byvoorbeeld spesifieke woorde weggelaat. Hier is ’n paar voorbeelde:

In Charlie and the Chocolate Factory (1964), word Augustus Gloop oorspronklik beskryf as “enormously fat”, maar sal nou net as “enormous” beskryf word. In die nuwe weergawe van The Witches (1983), gee die heks voor sy is ’n doodgewone, alledaagse vrou. Hier is ook kwessies van “body shaming” geopper, veral na die nuutste filmweergawe in 2020 verskyn het met die bekende Anne Hathaway in een van die hoofrolle. In Dahl se verhaal word vroue se beroepe nou beskryf as, “a top scientist or running a business” in plaas van die oorspronklike “cashier in a supermarket or typing letters for a businessman”. Toegegee, dit weerspieël die moderne samelewing se beskouing oor watter beroepe ’n vrou kan beklee, beter.

Nog ’n voorbeeld: In The Fantastic Mr Fox(1989) is die woord “black” verwyder uit die beskrywing van die “terrible tractors”. Hierdie werktuie word nou bloot as “murderous, brutal-looking monsters” beskryf (The Guardian, 2023). Interessante keuse watter woorde om te verwyder en watter om te behou.

Buiten deur te kyk wat verander word, is dit belangrik om te verstaan hoekom die uitgewer dit sou wou doen en die impak wat dit op die leser sal hê. Dit laat dit blyk dat hierdie benadering deur Puffin spesifiek lesergerig is, absoluut net besorg oor die resepsie – wat die leser moontlik kan dink of sal wegneem van die teks. Maar waar laat dit die teks? Kom ons kyk wat die skrywer self hieroor te sê het.

Stem uit die hiernamaals

In ’n gesprek met Francis Bacon wat met sy toestemming opgeneem is, het Dahl baie sterk sy mening daaroor uitgespreek: dat daar onder geen omstandighede, ooit, aan sy werk verander moet word nie: “I’ve warned my publishers that if they later on so much as change a single comma in one of my books, they will never see another word from me. Never!” (Alberge 2023).

Dahl het selfs sy uitgewers met een van sy karakters te dreig – die Enorme Krokodil sou hulle kom opvreet. Verdere dreigemente het die volgende ingesluit: “When I am gone, if that happens, then I’ll wish mighty Thor knocks very hard on their heads with his Mjolnir. Or I will send along the ’enormous crocodile’ to gobble them up” (Alberge 2023).

Mens kan seker nie vir Dahl blameer nie. Sy dreigemente was kreatief en pas by sy boeke.

Bekendes se opinies

’n Paar ander prominente figure se opinie omtrent die saak was ook in die media te sien.

Salman Rushdie, die skrywer van Midnight’s children (1981) en The Satanic verses (1988), asook ’n Booker-pryswenner en eienaar van ’n Hans Christian Andersen-literatuurtoekenning, het die volgende kommentaar gehad: “Absurde sensuur” (Pople 2023). Dit is die woorde van ’n skrywer wat sy lewe op die spel plaas vir sy boeke. Hy het onlangs sy oog verloor in ’n insident waar hy verskeie kere met ’n mes gesteek is tydens ’n geleentheid in New York.

Die skrywer van die gewilde reeks His Dark Materials, Phillip Pullman, se mening is bloot: “If it does offend us, let him go out of print” (Manley 2023).

Laastens het selfs die koningin-gemalin, Camilla, haar mening op die tweede herdenking van haar boekklub se ontstaan gelug. Sy het na die aankondiging deur Puffin verwys en skrywers aangemoedig: “Please remain true to your calling, unimpeded by those who may wish to curb the freedom of your expression or impose limits on your imagination” (Khomami 2023).

Duidelik is daar selfs onder die kundiges, ervare skrywers en beroemdes nie konsensus of die veranderinge goed of slegs is nie. Waarom dan die groot bohaai?

Woke- en cancel-kultuur

Die kwessie handel meer oor wat beskryf word as die woke-kultuur. Dit is ’n soort kultusbeweging wat hulle daarop toespits om sosiale ongeregtigheid en ander sistemiese kwessies op die voorgrond te plaas. En dit ten alle koste te probeer “regstel”. Dit kan van diskriminasie op grond van ras, seksualiteit, etnisiteit of bloot voorkoms tot die gebruik van spesifieke voornaamwoorde om jou genderidentiteit uit te druk, wees.

Hierdie vasbeslote sosiale aktivisme sluit weer aan by wat “cancel culture” genoem word, omdat dié wat nie die woke-groepe se oortuigings en standpunte ondersteun nie, bloot uitgekanselleer word. Daarmee word bedoel dat enige teenkanting of teenargument wat bots met dié van die betrokke woke-groep, blatant geboelie word. Hulle word uitgejou, doodgeskree, beledig, verneder en verkleineer. My eerlike vraag oor hierdie taktiek is bloot: Wat word hierdeur bereik? Los dit werklik die probleem op, of is dit net nóg ’n manier om so hard as moontlik rondom die probleem te dans en bloot aandag te trek.

........
My eerlike vraag oor hierdie taktiek is bloot: Wat word hierdeur bereik? Los dit werklik die probleem op, of is dit net nóg ’n manier om so hard as moontlik rondom die probleem te dans en bloot aandag te trek.
........

Wat het al hierdie dinge nou met Roald Dahl te doen? 

Sensuur, aanpassing of vernuwing

Onderskeid moet getref word aangaande die kwessie of die veranderinge aan Dahl se tekste sensuur, ’n aanpassing of bloot klein veranderinge is om die tekste by te werk en relevant te hou vir jong lesers, alhoewel matigheid voor oë gehou moet word, en dit is ’n goeie begin om sake rondom sensuur vanuit verskeie hoeke te bespied voordat mens ’n opinie vir of teen ’n saak vorm.

Die risiko’s verbonde aan sensuur van enige aard het sterk en uiteenlopende implikasies en konnotasies. Sensuur is ’n glibberige glyplank. Sodra daar besluite geneem word oor wat afgekeur word en wat nie en dit dan van ander weggehou word, moet daar vrae gevra word.

In die wêreld se geskiedenis is sensuur nog altyd aangewend om menseregte op die een of ander manier negatief te beïnvloed. Ons kan dink aan die kerk (Katoliek, Protestants of enige ander Christelike denominasie) wat spesifieke tekste en selfs mense onder sensuur geplaas het. Daar is ook die tipe sensuur wat in Suid-Afrika plaasgevind het tydens die apartheidsjare. Waar boeke links en regs totaal verban is en sommige tekste amper heeltemal herskryf is om ’n voorgeskrewe profiel te pas. Hierdie definisie van sensuur ken almal en dit is voorwaar sleg en nie reg nie.

Dit is nie heeltemal die radikale sensuur wat ons sien met Puffin se beoogde heruitgawes van Dahl se kinderboeke nie. Is dit ’n aanpassing wat verbetering bewerkstellig, of dan wel veranderings wat aangebring word omdat dit sal lei tot beter verkope en meer lesers? Wanneer dit by kinderliteratuur kom, is dit ’n heel ander spel en in ’n kategorie van sy eie.

Kinderliteratuur, didaktiek en sensuur

In die vroeëre ontwikkeling van Afrikaanse kinderliteratuur was die meeste van die boeke didakties van aard. Daar was altyd ’n morele les van die een of ander aard voorgehou. Hierdie morele lesse is vanselfsprekend gebaseer op ’n spesifieke profiel en ideale kinderleser. Dus moet daar mooi gedink word oor wat presies gedefinieer word as sensuur binne kinderliteratuur. Wat tans in die Dahl-tekste gedoen word, is moontlik meer aanpassing vir ’n spesifieke leserspubliek. Toegegee, om aan ’n teks te verander maak die water (en teks) troebel. Hou in gedagte dat indien ’n kind die nuwe weergawe lees, hy of sy tog later sal vind dat die oorspronklike weergawe anders was. Die grense kan dus baie glibberig word, of daar nou sensuur ter sprake is of nie.

As ons nou eerlik met mekaar moet wees, sal enige tipe sensuur die nuuskierigste tiener net verder motiveer om uit te vind wat hy of sy dan nou nie mag lees nie.

Die ander kant van die muntstuk is dat Suid-Afrikaanse kinderliteratuur reeds deur ’n periode gegaan het van didaktiese en “goedgekeurde” onderwerpe. Daarmee saam die teenstand van sensuur vir volwasse boeke, het kinder- en veral jeugliteratuur ook in opstand gekom met skrywers soos Leon de Villiers, Barrie Hough, Maretha Maartens. In die vroeë negentigs en meer onlangs het skrywers soos Zelda Bezuidenhout en Ihette Senekal oor onderwerpe begin skryf wat voorheen as taboe of, soos nou, aanstootlik beskou word vir jonger lesers.

Die definiëring van sensuur by kinderliteratuur moet baie spesifiek gedefinieer word: Is dit sensuur om ’n argaïese woord soos “skoolmeester” te vervang met “onderwyser”, of dalk is ’n meer sensitiewe term “fasiliteerder”? Is dit sensuur om woorde (veral rassistiese woorde) uit ouer tekste uit te haal wat nie aanvaarbaar is nie? Wat van tegnologie? Wanneer raak hierdie tipe veranderings en aanpassings sensuur en wanneer raak dit, soos Rushdie tereg sê, absurd?

Afrikaanse kinder- en jeugboekskrywers

Uit die Afrikaanse kinderliteratuurgeledere het Marita van der Vyver en Jaco Jacobs ook hul mening gelug.

Van der Vyver, wat ’n lang en suksesvolle lys kinderliteratuur al die lig laat sien het, voel ook, soos vroeër genoem: Moet liefs nie karring aan ’n teks nie.

Want as jy eers begin met sensuur, hoe goed bedoel en edel jou motiewe ook al is, eindig jy onvermydelik met óf boosheid óf die soort absurditeit wat Roald Dahl se boeke nou tref, waar karakters nie vet of lelik mag wees nie, waar alles soet en voorbeeldig en prekerig moet word. (Van der Vyver 2023)

Hierdie stelling is beslis waar, veral as ons na die verlede kyk. Sensuur gaan óf boos wees, soos die apartheidsera se sensuurrade en politieke invloed bewys het, óf dit sal absurd wees soos om ’n trekker te beskryf sonder om die kleur te noem. Wat maak dit tog saak watter kleur die trekkers is wat Mr Fox se huis wil verwoes – dit is van groter belang dat die trekkers Mr Fox se huis en sy gesin bedreig – hulle is dan “murderous, brutal-looking monsters” (The Guardian 2023).

Van der Vyver wys self op die foute uit die verlede en dat ons eerder daaruit moet leer. “The road to hell is paved with good intentions”, en een of ander tyd beland die mag om sensuur toe te pas in die “verkeerde” mense se hande – kyk maar na die geskiedenis van letterkunde – en wat maak ons dan met al ons goeie bedoelings (Van der Vyver 2023)? Die Engelse noem hierdie tipe gevolge ook unintended consequences – daardie nare nagevolge wat nie bedoel was nie, maar tog gebeur het.

Jaco Jacobs volg ’n meer diplomatiese benadering en het die volgende te sê gehad in sy Facebook-inskrywing omtrent die saak:

Die afgelope tyd het twee debatte oor kinderboeke kosbare koerant-, debat- en dinkspasie opgeëis – wat myns insiens aan veel dringender, sinvoller en opbouender gesprekke oor dié tema afgestaan kon word, onder meer die steeds al groterwordende geletterdheidskrisis in ons land. Dit kon dalk selfs – bid jou aan! – aan deeglike, breedvoerige resensies en besprekings van Afrikaanse kinder- en jeugboeke afgestaan word. Maar nou ja, dit maak nie sulke lekker clickbait nie en dit bied minder geleentheid om menings en uitsprake te copy and paste. (Jacobs 2023)

Kom ons fokus eerder daarop om die kinders aan die lees te kry en nóg interessante boeke te publiseer en ouer geliefde boeke te bewaar.

Afrikaanse kinder- en jeugboeke

Roald Dahl en Puffin is nou daar in die verre Europa en Charlie en James praat Engels, maar in die Afrikaanse kinder- en jeugliteratuur was daar alreeds soortgelyke situasies. Ons laat vir eers vertalings van Dahl se boeke buite rekening; hier kan verwys word na die Maasdorp-reeks, Die Uile-reeks en die gewilde Trompie- en Saartjie-boeke, wat almal heruitgawes beleef het.

Wanneer kinderboeke heruitgegee word en soms aangepas word, sal daar veranderinge verwag kan word. Die kinders wat die teikenlesers is van hierdie boeke, leef nie meer in ’n wêreld waar die Tweede Wêreldoorlog ’n bepalende rol speel nie, maar in ’n wêreld waar klimaatsverandering en tegnologie hul toekoms bepaal. Virtuele realiteit is ’n alledaagse verskynsel en die kinders het almal slimfone. Dit wil sê dit gaan nie noodwendig as sensuur beskou word om ’n selfoon in ’n nuwe weergawe van ’n kinder- of jeugboek te sit in plaas van ’n tiekieboks nie.

.........
Wanneer kinderboeke heruitgegee word en soms aangepas word, sal daar veranderinge verwag kan word. Die kinders wat die teikenlesers is van hierdie boeke, leef nie meer in ’n wêreld waar die Tweede Wêreldoorlog ’n bepalende rol speel nie, maar in ’n wêreld waar klimaatsverandering en tegnologie hul toekoms bepaal. Virtuele realiteit is ’n alledaagse verskynsel en die kinders het almal slimfone.
...........

Goeie voorbeelde is die heruitgawes van Trompie en Saartjie deur Topsy Smith, Die Uile-reeks en die Maasdorp-reeks en die Trompie- en Saartjie-boeke wat in 2006–2007 heruitgegee is deur Human en Rousseau, waarvan in 2013 en 2016 omnibusse uitgegee is (Potgieter 2023 ). Die tekste is effens vernuwe deur Kobus Geldenhuys, dieselfde man wat die gewilde Harry Potter- en Hoe om jou draak te tem-boeke vertaal het.

Die Maasdorp-reeks deur Stella Blakemore het verskeie heruitgawes beleef, rondom 1995 en weer in die vroeë 2000’s. Hier is ook ’n paar aanpassings gemaak en dit blyk steeds ’n gewilde reeks vir jong lesers te wees.

Ten slotte

Self het ek nog nooit geaffronteer gevoel deur ’n boek weens spesifieke beskrywings of woorde nie. Elke boek pas binne ’n bepaalde konteks. Verskeie karakters het al ’n afkeurende effek op my gehad, maar hulle is per slot van rekening karakters. ’n Karakter hou wel ’n model voor, want so ongelukkig as wat dit mag wees, herken mens soms karakters in die werklikheid. Dit beteken nie ek verwag om vir Miss Trunchball in Adderleystraat raak te loop nie, maar daar is ’n goeie kans dat ek iemand wat ander grootmense boelie en ander minderwaardig laat voel, in my lewe sal teëkom.

Roald Dahl was beslis ’n kleurvolle skrywer, en dit vind neerslag in sy boeke. Sy uitgewers het met die beste bedoelings aan sy verhale verander. Moontlik teen sy sin en al is dit nou vanuit die graf deur middel van ’n bandopname bekend gemaak dat hy sy Krokodil sal stuur.  

Verskeie ervare, bekende en gerekende kinder- en jeugliteratuurskrywers het ook hul uiteenlopende opinies gelug, en selfs Camilla van Engeland het haar stem dik gemaak omtrent die saak. Miskien het die woke-beweging en “cancel culture” ’n groter aandeel in die beweegredes vir hierdie veranderings as wat ons sou wou hê.

Afrikaanse kinder- en jeugliteratuurskrywers het ook hul onderskeie perspektiewe en menings gelug. Die groots struikelblok bly die kwessie van sensuur. Waar word die streep nou eintlik getrek wanneer sensuur ter sprake kom? Is dit nie die eintlike vraag waaroor ons as lesers moet dink nie? Nuut beteken die noodwendig sleg nie, maar verandering speel tog ’n rol, veral vir uitgewers, wanneer die teikenslesers oorweeg moet word.

Sensuur is sensuur en die peuter met ’n skrywer se woorde is ’n riskante besigheid ten beste van tye. Ten einde het Puffin aangekondig dat saam met die nuwe, hersiene (aangepaste of gesensuurde) heruitgawe daar ook ’n klassieke uitgawe uitgegee sal word. Dus het die kant van die skrywer en sy wense geseëvier. Dit laat mens egter net wonder vir hoe lank.

Die volgende slagoffers is glo die beroemde spioen James Bond en RL Stine se Goosebumps-boeke ...

 

Bibliografie

Abramovitch, S. 2023. Roald Dahl controversy changes Salman Rushdie's “Willy Wonka”. The Hollywood Reporter. https://www.hollywoodreporter.com/news/general-news/roald-dahl-controversy-changes-salman-rushdie-willy-wonka-1235333536 (27 Februarie 2023 geraadpleeg).

Alberge, D. 2023. Roald Dahl threatened publisher with “enormous crocodile” if they changed his words. The Guardian. 2023.https://www.theguardian.com/books/2023/feb/25/roald-dahl-threatened-publisher-with-enormous-crocodile-if-they-changed-his-words (27 Februarie 2023 geraadpleeg).

Khomami, N. 2023. Camilla tells authors to “remain true to calling” amid Roald Dahl row. The Guardian. https://www.theguardian.com/uk-news/2023/feb/23/camilla-roald-dahl-books-row#:~:text=Camilla%20(Queen%20Consort)-,Camilla%20tells%20authors%20to%20'remain%20true,calling'%20amid%20Roald%20Dahl%20row&text=Camilla%2C%20the%20Queen%20Consort%2C%20has,changes%20to%20Roald%20Dahl's%20books (28 Februarie 2023 geraadpleeg).

Jacobs, J. 2023. Kinderboeke: nie woke genoeg nie – of nou weer té woke? LitNet. https://www.litnet.co.za/kinderboeke-nie-woke-genoeg-nie-of-nou-weer-te-woke  (2 Maart 2023 geraadpleeg).

Manley, J. 2023. Literary giants have thoughts on the new edits to Roald Dahl’s works. Literary Hub. https://lithub.com/literary-giants-have-thoughts-on-the-new-edits-to-roald-dahls-works (28 Februarie 2023 geraadpleeg).

Pople, L. 2023. Rushdie vaar uit teen  “absurde sensuur” van Dahl se boeke. Netwerk24.  https://www.netwerk24.com/netwerk24/kunste/boeke/rushdie-vaar-uit-teen-absurde-sensuur-van-dahl-se-boeke-20230220 (2 Maart 2023 geraadpleeg).

Potgieter, O. 2016. Die uile en Trompie vlieg steeds hoog. LitNet. https://www.litnet.co.za/die-uile-en-trompie-vlieg-steeds-hoog-2 (27 Februarie 2023 geraadpleeg). 

Roald Dahl. 2023. https://www.roalddahl.com (27 Februarie 2023 geraadpleeg).

Smith, M. 2023. Roald Dahl rewrites: Rather than bowdlerising books on moral grounds we should help children to navigate history. The conversation.com. https://theconversation.com/roald-dahl-rewrites-rather-than-bowdlerising-books-on-moral-grounds-we-should-help-children-to-navigate-history-200254 (6 Maart 2023 geraadpleeg).

Steyn-Bezuidenhout, C. 2023. Roald Dahl-stories glo nie “woke” genoeg. Maroela Media. https://maroelamedia.co.za/nuus/wereld/roald-dahl-stories-glo-nie-woke-genoeg (24 Februarie 2023 geraadpleeg).

The Guardian. 2023. Roald Dahl rewrites: Edited language in books criticised as “absurd censorship”. https://www.theguardian.com/books/2023/feb/20/roald-dahl-books-rewrites-criticism-language-altered (1 Maart 2023 geraadpleeg).

Van der Vyver, M. 2023. Elders gesien: Dahl se stories moet juis nie soet en voorbeeldig en prekerig vervelig wees nie. LitNet. https://www.litnet.co.za/elders-gesien-dahl-se-stories-moet-juis-nie-soet-en-voorbeeldig-en-prekerig-vervelig-wees-nie (27 Februarie 2023 geraadpleeg).

 

Lees ook:

2022: Die (on)verkwiklike jaar van Trompie en kie

Miniseminaar: Moenie kanselleer nie, publiseer net meer

Miniseminaar: Kinder- en jeugboeke vir ’n nuwe era

Gendertemas in Topsy Smith se Trompie-boeke

Jeugboeke se storm en drang: Onstuimige gesprekke en versugtings na tienerreekse wat die ouers onthou

SA-illustreerders: Marjorie van Heerden

Emosie in kinderboeke

Kinderboeke: Rafiek Mammon se Faizel versamel sterre in Afrikaaps

Media24 Boeke Literêre Pryse 2020: MER-prys vir geïllustreerde kinderboeke

’n Onderhoud oor Skool vir talente – en oor nog kinderboeke vir die Kerskous

Kinderboeke, karakter en selfbeeld

Kinderboeke wat verheug, vermaak en verruim

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top