Kinderboeke: Rafiek Mammon se Faizel versamel sterre in Afrikaaps

  • 2

Met die onlangse opskudding oor die Trompie-boeke en die debat wat om Hennie van Coller se kop gewoed het oor kinderboekkarakters in Afrikaans, het Melt Myburgh met Rafiek Mammon gesels oor sy boeke vir bloedjong lesers: Faizel en die sterre en ’n Goue ster vir Faizel. Anders as Trompie is Faizel ’n Moslem-seuntjie wat Afrikaaps praat. Rafiek vertel hoe hy kinderboeke begin skryf het en hoe klein Faizel ’n stem help gee aan gemarginaliseerdes. Hy deel ook waarom die polemiek oor Trompie hom laat gaap.

Rafiek Mammon (Foto: Gys Loubser)

Rafiek, jy is alombekend as dramaturg wat onder meer die produksie van LitNet en die Suidoosterfees se Stemme | Voices | Amazwi-projek agter die skerms hanteer. Vertel kortliks hoe jy vir Jacana begin kinderboeke skryf het.

Dit was maar een van daai dinge wat net in jou skoot val – iets wat mét jou gebeur sonder dat jy daarvoor gevra of gebid het. Ek het vir jare by CPUT klasgegee in joernalistiek. My voormalige studente is natuurlik oral – een so ’n student en vriendin, wyle Nadia Goetham, het as uitgewer by Jacana gewerk. Sy bel toe eendag en vra – nee, sy sê: “Jy sal perfek wees om ons nuwe idee te toets … Ons wil ’n kinderboek uitbring in Afrikaaps. Ag, sê tog jy sal?”

En voor ek my oë uitvee, skryf ek Faizel en die sterre. Maar ons het besluit om vir Faizel en sy familie in outentieke stemme te laat praat wanneer hulle aan die woord is. Die res is in Standaardafrikaans. En dit het gewerk. Dis hoe Faizel ontwaak het.

Met watter boeke het jy as kind grootgeword? Was daar kinderboeke met Moslem-karakters wat in jou Afrikaans gepraat het? Wou jy met Faizel ’n mark bereik waarvoor daar in jou tyd as kind nie voorsiening gemaak is nie?

Weet jy, as kind het ons maar gevat wat ons kon kry. Ons moes stories lees en luister waarin die karakters in die sprokieswêrelde almal spierwit en slank was. Daar was nie ’n bruin verteenwoordiger nie, tensy hy of sy in die kombuis of tuin gewerk het. So, nee, daar was geen boeke met Moslem-karakters nie.

Ek het gevoel dat dit tyd is dat ons almal bietjie onsself in daai wêreld kan uitleef. In die kykNET-sepie Suidooster is daar nou ’n Moslem-gesin en een van die karakters se naam is Rafiek. En dis die eerste keer dat my naam ook nou in almal se voorhuise uitgespreek word. Verder het ons maar grootgeword met die Marias en die Anne-Maries en die Janne van die wêreld, asof hulle die enigste mense was wat op TV en in die literatuur kon wees. En, baie belangrik, dat hul kulture en tradisies die enigste was wat saakgemaak het. Ons RDP so bietjie – ons Restore Dreadful Past!

Toe jy Faizel as karakter bedink het, wat moes jy alles in gedagte hou om die karakter só te skep dat jong lesers nie uitgesluit of vervreemd voel nie? Hoe werk die wisseling tussen Afrikaaps en sogenaamde Standaardafrikaans in klein Faizel se wêreld?

Faizel se ma se Afrikaans is bietjie meer “streek” as Faizel s’n. Die familie is die eerste (en enigste) sosiale struktuur waaraan Faizel blootgestel is. Hy praat soos hy die taal optel by sy ma en sy ouer sussie. Maar daar is ook die familiedinamika waar hulle weet as jy meer “akademies” wil verkeer, of by die skool wil slaag, is daar ’n “standaard”-Afrikaans en -Engels – ook Faizel se twee tale in die huis.

Dit is hoe dit was toe ek nog ’n kleuter was. Hopelik skep ons karakters wat nie noodwendig vir almal bedoel is nie, maar wel karakters met wie mens as skrywer gemaklik voel sodat daar nie marginalisering is nie, maar liewer inklusiwiteit van mense wat miskien nie voorheen eens ’n stem gehad het nie.

Die boeke is ook wyd vertaal en verwerk tot opvoedkundige kinderteaterproduksies wat by die Suidoosterfees opgevoer is. Watter dinge is vir jou belangrik vanuit ’n opvoedkundige oogpunt? Wat moet jou verhale vir kinders leer?

Die boeke is beskikbaar in vier tale: Engels, Afrikaans, Xhosa en Zulu. En alhoewel dit feel-good boeke is, is daar altyd iets wat ek wil sê oor die liefde en oor vriendskap en vriendelikheid wat heers oor boosheid en haat. Dit is iets wat ons nou nodig het.

In terme van die kinderteaterproduksies: Dit is ook weer van daai dinge wat net gebeur het. Die stories is universeel en die temas ook. Dit het amper net sin gemaak om die karakters te omskep in teaterkarakters en om poppe te laat maak wat hulle voorstel. Nou doen ons lesings by skole en daar is ’n poppekasproduksie wat besig is om te broei, wat eersdaags Oos-Kaap toe gaan danksy die Jakes Gerwel Stigting en Suidoosterfees. Volgende jaar sal die poppekas ook by die Suidoosterfees opgevoer word. Watch this space.

Dink jy daar is genoeg boeke vir kinders wat in Kaaps of enige ander variëteit van Afrikaans lees?

Is daar ooit genoeg boeke, punt?

Nee, ons makeer nog sommer baie boeke om ál die wonderlike kindertjies van die wêreld en hul kultuurtjies aan almal voor te stel. Vir elke boek wat ’n stem aan ’n Faizel gee, is daar talle en talle ander in die wêreld waarin die karakters leliewit, slank en blond is.

Kaaps is nie iets waaroor ek mal of passionate is nie. Ek glo jy moet jouself kan uitdruk soos jy wil. Dis tog waarvoor ons geveg het, is dit nie? Ek doen Afrikaans en Kaaps en Engels en Mengels en … en … solank ek en enigiemand wat wil skryf of idees wil deel dit kan express soos ons wil.

Onlangs was daar ’n groot palawer op LitNet oor gender-stereotipes in die Trompie-boeke van weleer. Het jy ooit die Trompie-boeke as kind gelees, en in watter mate kon jy met die karakters identifiseer?

Ek het dit nooit gelees nie. Ek weet daarvan, maar kon nooit juis ’n vattigheid kry nie. So, I just stayed away. Ons almal ken vir Trompie en die Boksombende – is dit oor wie ons praat? Ek is ook nie die tipe mens wat eers moet kan identify met karakters voordat ek dit ’n kans sal gee nie. Ek is nou heeltemal te oud vir daai klas van ding. Ek vind aanklank op ander maniere, en ons makeer die teenstrydigheid om vorentoe te kan beweeg. Blake het gesê sonder teenoorgesteldes is daar nie progress nie – ek stem! Ek los dit vir die jong skrywers en teatermakers wie se vuiste nog stewig en sterk in die lug is om daai geveggies aan te pak.

Ek besef ek loop die gevaar om moedswillig te klink met hierdie vraag, maar ek is tog nuuskierig. Wat is jou gut reaction wanneer jy hierdie toneel uit ’n Trompie-boek lees, soos wat Lindie Koorts in ’n Rapport-artikel uitgewys het?

Terwyl Trompie vir sy bendelede wag, vermaak hy homself deur klippies na Jafta wat onder in die tuin werk te gooi. Hy probeer die tuinman nie raakgooi nie, nee, hy wil maar net sien hoe naby aan Jafta hy die klippies kan kry. Dis mos maar al!

“Bendelede”? En ek neem aan Jafta is nie wit nie? Ek is jammer dat my gut reaction is om te wil lag vir die belaglikheid van die toneel, maar net na daai reaksie wonder ek dan: Dit is tog iemand se realiteit? Die skrywer s’n?

En ek weet, ons moet mos almal iets sê soos: Hoe kon hy? Jafta is mos ’n mens, nie ’n live target nie! Dit is wat die privileged white folk se kinders van ons dink, en dit is hoe hulle hul kinders leer om van ons te dink. En en en …

Maar weet jy, ek is te oud, lelik en vet daarvoor ook. Ek is seker ou Trompie – bliksem wat hy is – sou dieselle gedoen het as dit sy sussie (het hy ’n sussie gehad?) was wat daar gestaan het. Om te sien hoe naby hy die klippies aan haar kon gooi. Of selfs sy ma, miskien? Ek was self so ’n tipe kind – shame on me!

Wat gaan ons dan sê? Dinge is soos dit is. Dinge is nie soos óns is nie. Dit is hoekom ons almal so lekker kan praat en redekawel en bespiegel en ja, ook skel. Lekker skel. Ons leer mos! En soms is ’n mens net te moeg om almal se gevegte te wil veg – en dit op ’n weeksdag!

 

  • Die teks en foto’s uit ’n Goue ster vir Faizel (2021) is deur Rafiek Mammon en Jacana Media verskaf.

Lees ook:

Sê nou ôs lies stories vi ôs kinners tydens die pandemic?

"Ek wou die boek skryf wat ek nie as kind gehad het nie" – ’n onderhoud met Bianca Flanders

Sala-toekennings 2021: ’n Onderhoud met André Trantraal

Verspring

#opdielug met Ivan Ndevu

  • 2

Kommentaar

  • Betsie van der Westhuizen

    Melt en Rafiek, julle verkwiklike onderhoud oor onder andere die Faizel-boeke het my laat wonder of Alba Bouwer en illustreerder Katrine Harries se Abdoltjie (1958), 'n kinderboek met ses kortverhaaltjies waarin die taalgebruik van die verteller en die karakters ook wissel, moontlik soms albei vir kinders van ongeveer 5-9 voorgelees kan word. Moontlik in die Grondslagfase, waarin Geskiedenis 'n deel is van Lewensvaardigheid; dit kan klein kinders subtiel help om geleidelik en op 'n mooi manier 'n historiese bewussyn te laat ontwikkel. Moontlik sal Abdoltjie van tagtig jaar terug en Faizel van die hede baie lekker saam kan speel en gesels en maats kan wees.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top