"Ek wou die boek skryf wat ek nie as kind gehad het nie" – ’n onderhoud met Bianca Flanders

  • 0

...........

“Dit sê: ‘Ek is genoeg, ek is perfek net soos ek is.’”

...........

Prinses Pampoenpit se wilde, woeste krulle weier om getem te word. Cliffordene Norton gesels met die skrywer, Bianca Flanders, oor dié kinderboek wat deel in die debat rondom die dra van hare op ’n natuurlike manier.

Wat het jou geïnspireer om hierdie boek te skryf?

As ’n kind het ek baie gesukkel met my hare. Ek het rêrig my hare gehaat en dit het baie lank gevat om te leer hoe om my hare lief te hê. Ek wou die boek skryf wat ek nie as kind gehad het nie. As kinders selfvertroue kan kry en hulself lief kan hê, dan kan hulle dink aan belangriker dinge, soos hoe om president of ’n pilot te word. 

Wat was die grootste struikelblokke en/of hoogtepunte wat jy tydens die skryf van Prinses Pampoempit ervaar het?

Ek het gekies om die boek in rhyme te skryf, so daai was soms moeilik. Want jy wil eerlik wees, en nie net rhyme omdat jy moet nie. Maar ek het die proses rêrig geniet! 

Prinses Pampoenpit is ’n baie relevante boek, veral siende dat baie mense meer vry voel om hul natuurlike hare te dra. Daar is egter steeds ’n stigma aan natuurlike hare, wat dikwels as kroes en lelik beskou word. Wat is jou mening hieroor?

In ons land was hare altyd political. Hare was nog nooit net hare nie. Ek dink dit het baie te doen met die gevoel dat ek as mens nie genoeg is nie, ek moet probeer om iemand anders te wees. Maar ek moet sê, ek dink dinge begin verander. Daar is baie meer mense wat hulle natural hare begin dra en ek dink dis belangrik en exciting. Want dit sê: “Ek is genoeg, ek is perfek net soos ek is.” 

Jy het ’n pragtige bos krulhare. Het jy enige diskriminasie weens jou hare ervaar?

Baie keer, toe ek klein was, het mense vir my ma gesê sy moet my hare uitsorteer. Ek was ook skaam oor my hare. Ek het gedink dit was lelik, want ek het nie soos die ander meisie gelyk nie. Maar my ma het altyd vir my gesê my hare was mooi, en ek is perfek net soos ek is. 

Foto: Izak de Vries

Speel die lesers se verwagtinge, veral in ’n kinderboek, ooit ’n rol in jou skryfwerk?

Ek weet nie, want Prinses Pampoenpit is my eerste boek! Maar ek wil meer skryf, so vir my gaan dit nie so baie oor hulle expectations nie, maar ek wou hê mense moet hulself in my boeke sien. 

Wat was vir jou die aanmoediging om te begin skryf? Wou jy altyd ’n skrywer wees? 

Ek hou baie van lees en ek is ’n groot boekwurm, so dit was altyd ’n droom vir my om ’n boek te skryf. Ek is ’n akteur, en akteurs vertel stories. Vir my is skryf net ’n ander vehicle vir stories. 

Werk jy tans aan ’n nuwe boek? Wat is volgende vir jou?

Ek is nou besig met my acting-werk, maar ek wil definitief nog ’n Pampoenpit-boek skryf!

...........

Titel: Prinses Pampoenpit 
Skrywer: Bianca Flanders 
Uitgewer: LAPA Uitgewers 
ISBN: 9780799395808

Pampoenpit het ’n geheim … Sy hou glad nie van haar hare nie! Haar wilde, woeste krulle weier om getem te word. Sy kry dit ook nie weggesteek nie. Hoekom kan haar hare nie net soos die ander kinders s’n lyk nie? Maar op ’n dag ontdek jy dat jou verskille iets is waarop jy trots kan wees … ’n Treffende verhaal oor hoe om dit wat jou spesiaal maak, te vind. Die boek skakel in by debatte rondom die dra van hare op ’n natuurlike manier. Die verteenwoordiging van meisies in boeke is baie belangrik, en hierdie boek het ’n meisie as hoofkarakter.

...........

Kom luister na Bianca Flanders tydens die Wanneer hare “mince” … en kinders droom-gesprek by die Toyota US Woordfees: 12 Maart by die Drostdy Teater.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top