Kinderboeke, karakter en selfbeeld

  • 5

Prent: https://pixabay.com/photos/karate-sunset-fight-sports-2578819/

Toe ek onlangs in boekwinkels rondsoek na kinderboeke vir die kleinkinders uit Londen, het ek afgekom op Dr Seuss se “Oh, the places you’ll go!”, ’n kinderboek wat al vyfde op New York Times se ranglys van topverkopers was. Na ’n vinnige deurblaai het ek die prettige, kleurvolle rymboek gekoop.

Dit gaan oor ’n seun wat verseker word dat hy oor al die wonderlike talente beskik om sy toekoms te kies en ’n sukses daarvan te maak: “You are the guy who’ll decide where to go.” Sy sukses sluit oa bekendheid en roem in: “ Fame! You’ll be famous as famous can be, with the whole world watching you win on TV.” En sy sukses is verseker: “And will you succeed? Yes! You will indeed 98 and ¾ percent guaranteed.” Die hoofkarakter en held om wie die hele suksesstorie draai, is jy, en jy gaan vir seker wen.

Toe ek by die huis kom en die boek rustig deurlees, het iets my begin pla.

.............
Alle normale ouers en grootouers wil graag hê dat hul kinders en kleinkinders met selfvertroue en waagmoed die wêreld sal aanpak en soveel as moontlik van hul potensiaal sal ontwikkel. Daarom gee hulle baie positiewe versterking en ondersteuning en bou soveel as moontlik hul kinders se selfbeeld.
...............

Alle normale ouers en grootouers wil graag hê dat hul kinders en kleinkinders met selfvertroue en waagmoed die wêreld sal aanpak en soveel as moontlik van hul potensiaal sal ontwikkel. Daarom gee hulle baie positiewe versterking en ondersteuning en bou soveel as moontlik hul kinders se selfbeeld. Die boek is in ooreenstemming met die humanistiese sielkunde en veral die denke van Carl Rogers, wat fokus op selfaktualisering en selfagting. Rogers het ’n reusebydrae gelewer om mense te help om positief te dink en te voel oor hulself. Ek het gewonder of die boek kan help dat meer kinders met groter waagmoed leef om die epidemie van negatiewe selfagting en swak selfbeeld teen te werk. Sal dit dalk kinders aanmoedig tot groter selfaktualisering? Daar is te veel mense wat onnodig vasval in doodloopstrate en vasvries in negatiewe denke en nooit hul unieke potensiaal ontwikkel nie. David Whyte sê so raak: "Wat as die wêreld asem ophou, in afwagting vir jou om die plek in te neem wat net jy kan vul?"

.............
Maar aan die ander kant, watter soort huweliksmaat, kollega en spanspeler word iemand wat van jongs af die boodskap kry dat hulle die middelpunt van alles is en dit glo? Gee dit nie dikwels aanleiding tot egoïstiese, selfgerigte, individualiste nie? Wat gebeur wanneer kinders voortdurend hoor dat hulle wonderlik en ongelooflik talentvol is, dat hulle onbeperkte moontlikhede het, kan doen net wat hulle wil en dat sukses gewaarborg is? Dit is tog eenvoudig nie waar nie.
..............

Maar aan die ander kant, watter soort huweliksmaat, kollega en spanspeler word iemand wat van jongs af die boodskap kry dat hulle die middelpunt van alles is en dit glo? Gee dit nie dikwels aanleiding tot egoïstiese, selfgerigte, individualiste nie? Wat gebeur wanneer kinders voortdurend hoor dat hulle wonderlik en ongelooflik talentvol is, dat hulle onbeperkte moontlikhede het, kan doen net wat hulle wil en dat sukses gewaarborg is? Dit is tog eenvoudig nie waar nie. ’n Dogtertjie wat ’n boerebou van haar voorouers erf, gaan nooit ooit ’n prima ballerina kan word nie al oefen sy ook hoe hard. Soveel kinders wat aanhoudend die boodskap kry dat hulle onbeperkte potensiaal het en enige iets kan doen, kom met ’n slag aarde toe wanneer hulle met die harde werklikheid kennis maak. Dit gebeur wanneer studente erg geskok is omdat hulle nie A’s kry vir baie gemiddelde werkstukke nie en wanneer jong werknemers onrealistiese bevorderingseise stel wat eenvoudig nie kan realiseer nie. Die sukses wat in die boek gewaarborg word, strook glad nie met die werklikheid nie. Hoeveel van die miljoene kinders wat begin tennis speel, slaan ooit ’n bal op Wimbledon se bane?

Die eensame held van die boek funksioneer totaal outonoom en hy het geen medereisigers op sy pad na roem nie. Die gevaar is dat hy so ingebuig kan raak in homself en sy sukses dat hy dalk nie baie gelukkige gaan wees nie. Navorsing toon telkens die sterk verband tussen geluk en onselfsugtigheid. Daar is bewys dat tieners wat aktief betrokke is by gemeenskapsprojekte en dikwels vrywillig ander help, meer deernis toon, beter persoonlike verhoudings met onderwysers en ander volwassenes het, skolasties beter vaar en minder geneig is tot dissiplinêre probleme, tienerswangerskappe en dwelmmisbruik as dié wat nie daaraan deelneem nie. Daar is ook gevind dat die mees vervullende beroepe dié insluit waar jy ander mense ondersteun en help en waar jy ander onderrig.

In ’n uitstekende artikel in Biznews (19 Augustus 2022), “Making mice out of men”, ontleed Frank Furedi die wêreldwye gevolge van die streng COVID 19-inperkings. Een van die gevolge wat hy uitspel, is die skuif in die manier waarop kinders vandag gesosialiseer word. Waar sosialisering vroeër itv morele en selfs religieuse taal plaasgevind het, vind dit nou in psigologiese terme plaas. Dit het nou baie belangrik geword om kinders se menswees te bevestig, om hulle goed te laat voel oor hulself en om hulle selfagting te verhoog, daarom moet hulle nie te veel gekritiseer word nie en moet daar nie te veel druk op hulle geplaas word nie. Die gevolge van die skuif weg van moraliteit, weg van deugde en morele moed na psigologie en selfagting is nie werklik so bemagtigend as wat mens mag dink nie: “[B]y introducing psychology as the main way to socialise, what we’re doing is not giving kids the kind of values that give them a sense of who they are, what their place in the world is.” Sonder ’n morele onderbou is selfagting alleen nie ’n stewige fondament vir kinders se identiteitsvorming nie. Furedi waarsku ouers dat al is hul kinders se selfagting hoe gesond, wanneer hulle nie die verskil tussen reg en verkeerd ken nie en nie ’n morele woordeskat aangeleer het wat hulle kan help navigeer tussen goed en kwaad nie, hulle op die ou end hul outonomie verloor en nie daarin sal kan slaag om self morele oordele te maak nie. Dit gee aanleiding tot die infantilisering van die jeug van die Anglo-Amerikaanse wêreld.

Die feit dat kinders en jongmense nie meer oor ’n morele woordeskat beskik nie, is ook die gevolg van die feit dat die taal van moraliteit en karakterontwikkeling aan die afneem is, nie net in ouerhuise nie maar ook in publieke ruimtes. Dmv Google kan die gebruik van woorde in die media nou gemeet word. Die afgelope paar dekades het die gebruik van die woord dapperheid met 66 persent afgeneem, dankbaarheid met 49 persent, nederigheid met 52 persent en goedheid (“kindness”) met 56 persent.

Die gesinsterapeut Mary Phiper waarsku dat wanneer daar op selfagting gefokus word en nie op karakter nie, word narsisme bevorder. Baie ouers is meer ingestel op hul kinders se positiewe selfagting en selfbeeld as op die ontwikkeling van hul karakter. Hulle fokus is meer daarop om hulle kinders gelukkige te maak as om hulle te help om goed te doen en wyse keuses te maak.

’n Gesonde selfbeeld is nie noodwendig die resultaat van aanhoudende positiewe bevestiging en applous nie. Ware selfagting is nie afhanklik van hoeveel “likes” jy op Facebook kry nie, maar van die neem van wyse besluite en die oortuiging dat jy bydra om van die wêreld ’n beter plek te maak. Dit gaan nie om selfies nie, maar om groepfoto’s; nie om “image” nie, maar om integriteit; nie om ego’s nie maar om eerlike omgee. Karakter is die fondasie van ’n gesonde selfbeeld.

Met die toemaak van die boek het ek besef: Wat my pla is die feit dat die woord “jy” nie minder nie as 90 keer in die kort kinderboek gebruik word!

..........
Met die toemaak van die boek het ek besef: Wat my pla is die feit dat die woord “jy” nie minder nie as 90 keer in die kort kinderboek gebruik word!
............

Maar miskien moet oumas maar net boeke voorlees en dit saam met hul kleinkinders geniet en minder daaroor wroeg?

Lees ook:

Jeugboeke se storm en drang: Onstuimige gesprekke en versugtings na tienerreekse wat die ouers onthou

Miniseminaar: Kinder- en jeugboeke vir ’n nuwe era

Miniseminaar: Moenie kanselleer nie, publiseer net meer

  • 5

Kommentaar

  • Dankie, Betsie, vir jou sinvolle artikel! Ek sekondeer heelhartig jou siening! Ek hoop dit maak ouers se oë oop!

  • Lindie Koorts

    Ek sien die skrywer se punt ten volle in, maar tog het my lesing van die boek nog altyd verskil. Vir my lê die krag van hierdie klein boekie juis in sy beklemtoning van die feit dat alles nié altyd noodwendig klopdisselboom gaan nie, en selfs die talentvolstes kan siklusse van teëspoed, mislukking, teleurstelling en stagnasie te wagte wees. Enige gesprek oor dié boek moet daardie komponent ook in ag neem.

  • Madelé Heymans

    Ek vind De Klerk-Luttig se bespreking van die boek van dr. Seuss baie insiggewend. As onderwyser van oor die 40 jaar het ek heelwat van die bedenkinge wat sy opper in my taalklasse sien manifesteer. Die afgelope dekade veral, het leerders (oor die algemeen) soms minder begin lewer en dan dieselfde resultate verwag as die hardwerkende, toegewyde leerder. Om so 'n leerder aanmekaar wys te maak dat hy/sy hoër hoogtes sal bereik, met minder insette, net omdat hulle uniek en besonders is, werp nie vrugte af nie!
    Goeie maniere en omgee vir ander is NIE oudmodies nie!
    EK is belangrik, is belangrik!

  • My siening is dat die ouer/ouma die boekie met die kind saam lees en dan meer perspektief gee en andermensgesentreerdheid beklemtoon. Dit lei tot ware geluk.

  • Madelé Heymans

    Ek het in my kommentaar 'n vingerfout gemaak in die laaste sin. Ek wil dit asb regstel. Die sin moet lees: "Ek is belangrik - en JY is belangrik!"

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top