..............
Vir my slaag enige boek as dit gelees word en die leeservaring die leser aanmoedig om nog ’n boek en nog ’n boek en nog ’n boek te wil lees. Met ander woorde as die regte boek op die regte tyd by die regte leser uitkom.
...........

Boekomslag: https://www.nb.co.za/en/view-book/?id=9780798183376; Kerskous: https://pixabay.com/photos/christmas-stocking-decoration-4753317/
Magdel Vorster praat met Naomi Meyer oor Skool vir talente – en oor ander kinderboeke wat Magdel vir die Kerskous sal aanbeveel.
Magdel, jy het ’n jarelange belangstelling in kinderboeke, en het in die kinderboekafdeling van biblioteke gewerk. Daar’s vanjaar baie oor kinder- en jeugboeke gepraat. Boeke is ontleed en temas is gedissekteer. Wat het jy in jou jarelange ondervinding raakgesien as dit kom by kinderlesers en kinderboeke? Wanneer slaag ’n boek?
Sjoe, dis nie ’n eenvoudige vraag nie. Vir my slaag enige boek as dit gelees word en die leeservaring die leser aanmoedig om nog ’n boek en nog ’n boek en nog ’n boek te wil lees. Met ander woorde as die regte boek op die regte tyd by die regte leser uitkom. Ek glo dat ’n mens enige iemand aan die lees kan kry as jy dít kan regkry.
Wanneer ’n mens egter in die algemeen na boeke, en spesifiek fiksie, kyk en wat slaag, glo ek dat niks ’n lekker storie in toepaslike formaat sal klop nie. Ten spyte van wat die Engelse spreekwoord sê, glo ek ook dat die omslag en die illustrasies in die geval van geïllustreerde kinderboeke en prenteboeke ’n groot rol speel.
’n Boek soos Skool vir talente is ’n vertaalde boek, en dalk gaan Suid-Afrikaanse lesers dit nie vinnig op die rak raaksien en veel daarvan weet nie. Het jy die boek gelees en wil jy iets van die storie vertel?
Ek glo dat vertaalde boeke ’n baie belangrike bydrae maak tot ons Afrikaanse kinder- en jeugfiksieversameling. Klassieke internasionale kinder- en jeuglektuur word immers ook danksy die vertalings daarvan vir Afrikaanse lesers toeganklik gemaak.
...........
En ek dink ons lesers gaan Skool vir talente – Eerste periode: Oorverdowend! beslis raaksien. Dis ’n pragtige boek. Die omslag en die prettige en ekspressiewe uitbeelding van die hoofkarakters in karikatuurstyl nog voor die storie begin, sal voornemende lesers oorrompel.
..............
En ek dink ons lesers gaan Skool vir talente – Eerste periode: Oorverdowend! beslis raaksien. Dis ’n pragtige boek. Die omslag en die prettige en ekspressiewe uitbeelding van die hoofkarakters in karikatuurstyl nog voor die storie begin, sal voornemende lesers oorrompel. En ja, ek hét dit gelees en baie geniet. Dis uitstekend en gemaklik uit die Duits in Afrikaans vertaal deur Kobus Geldenhuys, aan wie ons onder andere Alice Pantermüller se Lotta-boeke, die Dork-dagboeke, Joanna Nadin se Stoutste klas-boeke, ’n spul David Walliams-titels en Die Ickabog van JK Rowling in Afrikaans te danke het. Alles boeke wat ek met die grootste vrymoedigheid vir jong lesers aanbeveel.
In Skool vir talente – Eerste periode: Oorverdowend! het die leerders, soos die skool se naam aandui, almal spesiale, baie oorspronklike, maar dikwels ook ongemaklike talente. Die hoofkarakter, Alva, kan byvoorbeeld alles wat diere “sê”, verstaan, wat dit moeilik maak om te konsentreer op wat enige iemand sê wanneer daar diere of insekte in die rondte is wat almal hulle eie unieke gesprekke voer. Hierdie gesprekke sal lesers veral laat skaterlag. Daar is ook Mala, wat water kan beheer en byvoorbeeld wolke kan bewerkstellig om reën of sneeu te laat val, Theo wat kan krimp en Paul wat magneties is. Skool vir Talente – Eerste periode: Oorverdowend! is definitief een van daardie boeke wat al die boksies tiek om ’n boek te laat slaag – ’n baie lekker storie in ’n mooi baadjie met moderne illustrasies.
............
Skool vir Talente – Eerste periode: Oorverdowend! is definitief een van daardie boeke wat al die boksies tiek om ’n boek te laat slaag – ’n baie lekker storie in ’n mooi baadjie met moderne illustrasies.
.............
Ek is besig om die boek saam met my dogter te lees. Daar is gedeeltes daarvan wat haar herinner aan ’n fliek met kinders wat superhelde is, ook ander aspekte wat vol towerkrag en raaisels is. Die boek hou haar aandag en sy wil graag aan die einde van elke hoofstuk weet wat in die volgende hoofstuk gaan gebeur. Wat is jou gedagtes: sal so ’n boek slaag vir kinderlesers – en hoekom?
Ek moet erken ’n paar van hierdie spesiale talente van die verskillende kinders het my ook aan die Incredibles, selfs die Powerpuff Girls van ouds en Miss Peregrine’s Home for Peculiar Children wat op die boek van Ransom Riggs gebaseer is, herinner. Tim Burton se rolprent en die Riggs-boek is egter myns insiens vir ’n ouer gehoor en donkerder. Schellhammer se boek en Kobus Geldenhuys se vertaling daarvan is, ten spyte van die feit dat dit wel stof tot nadenke bied wanneer die vriende oor hulle onderskeie talente en hoe dit aangewend moet word, begin praat, lig en kostelik.
Dan is daar ook die raaisel wat die vriende oplos aan die hand van ’n rympie wat heel misterieus op hulle rooster verskyn, deur hulle talente op ’n oorspronklike wyse in te span, wat maklik kan kompeteer met enige iets wat op skerms opgedis word. So ja, al glo ek dat hierdie boek slaag, bloot op meriete van ’n lekker en oorspronklike storie, kan die feit dat die meeste jong lesers ’n verwysingsraamwerk van superhelde het, daartoe bydra dat soortgelyke boeke slaag.
Waarom sal jy die boek Skool vir talente vir die Kerskous aanbeveel? Vir watter lesers – ouderdomme of leesvlak?
Baie boeke kom op jou pad en ná jy dit gelees het, besluit jy vir wie jy hierdie boeke wil aanbeveel, al dan nie. Party boeke meld hulleself as’t ware aan en jy wil dit dadelik lees en vir almal daarvan vertel. Skool vir talente – Eerste periode: Oorverdowend! is een van daardie boeke. Ek glo dat min nege- tot twaalfjariges dit nie sal geniet nie. En die goeie nuus is dat dit die eerste titel van die Skool vir talente-reeks is. Ek hou styf duim vas dat die volgende titels ook vir ons in Afrikaans vertaal sal word.
Het jy nog enige ander voorstelle vir jong lesers en hul ouers, of as iemand na nog ’n laaste geskenk vir die Kerskous op soek is?

Boeke in Kerskouse en onder Kersbome is altyd ’n uitstekende idee. Ek sou egter altyd aanbeveel dat lesers se belangstellings en leesvlak in ag geneem word wanneer daar op leesmateriaal as geskenke besluit word. Wanneer ’n kind byvoorbeeld meer in feite as fiksie belangstel, het ’n boek met eksperimente of ’n boek oor hulle gunstelingsport of ’n resepteboek of selfs ’n boek met grappe ’n beter kans om gelees te word as ’n storieboek. Hou ook hulle leesvlak in gedagte. Daar is heelwat boeke in dagboekstyl of selfs ’n paar in strokiesprentformaat beskikbaar vir trae lesers. Jaco Jacobs en Alistair Ackermann se Tekkies is ’n goeie voorbeeld van ’n grootwordverhaal in strokiesprentformaat vir ouer lesers. Zander, die hoofkarakter van hierdie storie, is in graad 8. Vir meisies en seuns is daar Cecilia Steyn se ’n Hart is net Atome, ’n ligte liefdesverhaal in strokiesprentformaat wat in 2021 verskyn het. Om kinders en jong mense te probeer dwing om ’n dikker boek met meer teks te laat lees wanneer hulle nie toegerus daarvoor is nie, sal hulle net verder van lees afskrik.

’n Paar titels op dieselfde leesvlak as bogenoemde Skool vir talente – Eerste periode: Oorverdowend! wat ek graag aanbeveel, is Jaco Jacobs se Die meisie met vlerke en ook sy Die boekwinkel tussen die wolke; Die verdwyning van Seamus Smit deur Seamus Smit van Nerine Ahlers; en Speurder Sammi – die blou steen van Crystal-Donna Roberts.

Vir tieners beveel ek graag Joha van Dyk se Branderjaer-sage, Branderjaer en Vuurvreter aan, asook Ihette Senekal se Vyf sekondes voor Vrydag, en Cecilia Steyn se Vrydag is ek verlief en haar nuutste en meer substantiewe, Dryf. Elizabeth Wasserman se Elf dae-reeks, waarvan die nuutste een Elf dae in Amsterdam is, is ’n reeks van reis-cum-avontuurverhale wat, veral omdat hulle nie in volgorde gelees hoef te word nie, ook ’n veilige keuse vir veral tienermeisies is.

My prenteboek-van-die-jaar-keuse is Niki Daly se Op Pappa se skouers, maar Refiloe Moahloli en Zinelda McDonald se Kom ons speel is ook ’n lieflike en vrolike prenteboekkeuse. Dr Seuss-boeke is altyd goeie geskenkkeuses en daar het hierdie jaar vier nuwe vertalings by Protea verskyn: Hier kom die Kat; Die kat kom terug; O, die dinke wat jy kan dink! en Daar’s ’n grak in my sak!

Beginnerlesers sal gek wees oor die baie prettige Krok en Dil-reekse van Jaco Jacobs en daar is reeds twee vlakke met tien titels per vlak beskikbaar, en die derde vlak is binnekort op pad. Vir die outjies wat reeds selfstandig kan lees, is Katastrofe en Die holderstebolder hondepartytjie van De Wet Hugo uitstekende keuses. Hierdie twee boeke waarborg ook baie binnepret vir voorlesers as na voorleesboeke gesoek word.
Ter afsluiting beveel ek Philip de Vos se rympieboek Tokkelossiebossie, en Die mooiste stories van Helena Lochner wat deur Leoni Hofmeyr saamgestel en hersien is en pragtig deur Toby Newsome geïllustreer is, sterk as geskenk-voorleesboeke en versamelaarsitems aan.
Met die huidige kinder- en jeugaanbod in Afrikaans is daar geen verskoning dat daar nie hierdie Kersfees baie boeke hulle weg tot in Kerskouse en onder Kersbome sal vind nie.
Lees ook:
Die boekwinkel tussen die wolke deur Jaco Jacobs: ’n boekresensie
Vyf sekondes voor Vrydag deur Ihette Senekal: ’n boekresensie
Die bydraes vir LitNet se miniseminaar, “Kinder- en jeugboeke vir ’n nuwe era”, is hier beskikbaar:

