Emosie in kinderboeke

  • 1

Foto’s en grafika: verskaf

Inleiding

Stories speel ’n al groter wordende rol om kinders meer vertroud te maak met emosie en hoe om konstruktief daaraan uiting te gee. In ’n artikel getitel “Kinderboeke oor emosies” wys onderwyskundige John Ortiz daarop dat emosionele intelligensie ’n vaardigheid is, en daarom kan dit aangeleer, geoefen en geslyp word.[1] Behalwe om hulle fisiek te versorg, wil ons tog ons kinders emosioneel veerkragtig en geestesgesond grootmaak.

............
Dit is belangrik dat kinders geleer word hoe om hulle gevoelens te identifiseer en daaroor te gesels. Kinders wat ’n emosionele woordeskat het, verstaan makliker dat hulle emosies normaal is en dat ander dit ook ervaar. Hulle behoort in ouderdomsgepaste taal verduidelik te word wat en hoe hulle voel.
...............

Dit is belangrik dat kinders geleer word hoe om hulle gevoelens te identifiseer en daaroor te gesels. Kinders wat ’n emosionele woordeskat het, verstaan makliker dat hulle emosies normaal is en dat ander dit ook ervaar. Hulle behoort in ouderdomsgepaste taal verduidelik te word wat en hoe hulle voel. Wanneer hulle eers ’n naam aan ’n emosie kan koppel, kan hulle dit leer beheer en nie langer daaraan uitgelewer wees nie. Kinders wat aangemoedig word om uiting te gee aan hulle emosies en ook ’n veilige uitlaatklep het, is minder geneig tot angs en depressie.

Ek het die voorreg gehad om as redigeerder saam met drie skrywers wie se kinderboeke op emosie fokus, te werk. Die enigste twee redes waarom ek spesifiek hierdie drie boeke voorhou, is a) omdat ek deeglik vertroud is met die teks en b) die skrywers se beweegrede of motivering om die stories te skryf, ken.

Die boeke is: Hoephoepieland: Tien omgeestories met hart geskryf deur Ronél van der Watt, Karimpel en Kadot geskryf deur Jacolene du Plooy en My GROOT dierestorieboek geskryf deur Dennis Wevell. Die eerste twee titels is ook in Engels vertaal as Hoopoe Land: Ten stories about caring en Crumple and Crumbs.

Hoephoepieland: Tien omgeestories met hart

https://naledi.co.za/product/hoephoepieland/

Ronél van der Watt het ’n PhD in kindersielkunde (UV). Dié bundel uitsonderlike stories is gebaseer op haar praktykervaring van 34 jaar as kliniese sielkundige, waarvan sewe jaar as dosent in kindersielkunde (UV).

Die lokteks op die agterblad beskryf Hoephoepieland as ’n baie spesiale kinderboek met ’n sosiale gewete. Dit speel binne die multikulturele Suid-Afrikaanse konteks af en is gemik op kinders vyf tot nege jaar oud, maar ouer kinders sal beslis ook daarby baat vind. Dit bevat tien lekkerleesstories oor omgee, vriendskap en lojaliteit. Die stories gee aan kinders hoop, maak hulle bewus van ander se lewensomstandighede en dra by tot die ontwikkeling van empatie.

Die onderskeie temas fokus op hoe kinders die uitdagings van hulle besondere lewensomstandighede as gevolg van trauma, ’n mediese toestand of ’n spesifieke gesinsamestelling beleef. Hier is die tien storietitels en ook die emosionele behoefte wat elke storie behels:

  • Storie 1: “Die nuwe juffrou en die hoep-hoep” – om gehoor te word
  • Storie 2: “Nina word geboelie” – om deel te wees
  • Storie 3: “Fatima en die winkelroof” – om aanvaar te word
  • Storie 4: “Sebete en die taxi-ongeluk” – om beheer te hê
  • Storie 5: “Rachel se huis brand af” – om veilig te voel
  • Storie 6: “Tumelo se ouers baklei” – om te vertrou
  • Storie 7: “Samuel se mammas” – om te behoort
  • Storie 8: “Tom wil ook ’n pa hê” – om selfwaarde te hê
  • Storie 9: “Rachel se sussie word siek” – om te verstaan
  • Storie 10: “Joshua, sy sussie en die konsert” – om wense en drome te hê

Aan die einde van die boek is daar ’n afdeling getiteld “Die grootmense gesels”. Dr Van der Watt gee hier kerninligting oor elke storie se spesifieke tema. Sy verskaf ook vrae wat die ouer of terapeut kan gebruik om met die kind oor ’n tema te gesels en dan ook te luister na hoe die kind dit beleef. Hierdie vrae help kinders onder meer om hulle emosies te verwoord en hulself in ander se skoene te plaas. Storie 3 handel byvoorbeeld oor ’n immigrantegesin wat vreemdelingehaat ervaar. Deur klein Fatima se oë leer kinders om begrip vir haar situasie te hê.

Dr Van der Watt skryf: “Om deur die oë van kinders na die uitdagings in hulle lewensomstandighede te kyk, na hulle belewenis daarvan te luister, hulle behoeftes raak te hoor en daadwerklik te ondersteun – dít is omgee met hart” (145). Sy het Hoephoepieland geskryf omdat sy kinders in haar praktyk gesien het wat sukkel om hulle emosies te verstaan, te verwoord en te verwerk. Kinderboeke is in haar oë ’n medium wat kinders kan ondersteun in hulle bestuur van emosies.

Ek plaas die volgende drie paragrawe hier net soos ek dit van dr Van der Watt ontvang het:

Kinderboeke kan kinders én volwassenes van emosies leer, met ander woorde wat emosies is, watter tipe emosies daar is en hoe om dit te bestuur. Kennis van emosies en die hantering daarvan is belangrik vir emosionele en sosiale welsyn. Die oorsprong van die woord emosie dateer terug tot 1570.[2] Dit is afgelei van die Franse woord émotion en Latynse woord emovere wat onder andere beteken om te “stir” en “in beweging” te kom. En dis presies een van die rolle wat kinderboeke in die lewe van ’n kind kan speel. Dit kan kinders speel-speel in beweging bring om te ontdek wat hulle emosioneel ervaar, die gevoel ’n naam te gee en te leer hoe om toepaslik daaraan uiting te gee.

In die stories kan karakters, ’n situasie of gebeure wat met kinders se ontwikkeling verband hou of waarmee hulle kan assosieer, geskep word, byvoorbeeld die hantering van ’n eerste skooldag in die “groot” skool. ’n Knap storie hieroor kan kinders help met die hantering van emosies soos onsekerheid of opgewondenheid en ook om die maatjies se emosies te verstaan. Kinderboeke kan ook kinders wat met verlies of trauma gekonfronteer is, help om die traumatiese gebeure te verwerk. Die stories kan kinders se emosies reflekteer of ’n woordeskat gee vir dit wat hulle ervaar. Dit kan hulle ondersteun en aanmoedig om hulle gedagtes en gevoelens aktief te deel. Die karakters kan oplossings bied vir die situasie waarin kinders hulself bevind. In stories wat met trauma of verlies verband hou, behoort die donker emosies met sagte emosies, selfs humor, gebalanseer te word. Ook in die illustrasies.

Kinderboeke, hetsy die lees, luister of deurblaai daarvan met die oog op kinders se ontwikkeling of verwerking van verlies en trauma, behoort binne ’n geborge verhouding aangebied te word. Deur saam ’n storie te lees of saam daarna te luister (shared storybook reading), word ook volwassenes se begrip vir kinders se emosionele belewenisse bevorder. Dit kan egter ook ’n snaar by die volwassene raak – ’n bewusmaking en bewuswording van (eie) onverwerkte emosies oftewel die innerlike kind wat seergekry het. Die emosies in kinderboeke strek wyer as die kind self. Dié medium is meer as net ’n kinderspeletjie.

Karimpel en Kadot

https://naledi.co.za/product/karimpel-en-kadot/

Jacolene du Plooy is ’n spelterapeut met ’n eie praktyk. Dit is haar passie om kinders te bemagtig met die vaardighede om emosioneel gesond en sosiaal bekwaam te wees. Sy het Karimpel en Kadot geskryf om ’n waardevolle hulpmiddel te wees om kinders van vier tot nege jaar van emosies te leer.

Die lokteks op Karimpel en Kadot se agterblad lui: “Karimpel die hoedemaker ontmoet ’n ongewone vriend met die naam Kadot. Die neus-in-die-lug kabouters is onvriendelik met Kadot omdat hulle hom nie ken nie. Sal hulle ooit weer van Karimpel se hoede koop?” Die storie verbeter emosionele intelligensie en bied waardevolle lewenslesse.

Du Plooy gee professionele advies oor die emosionele en sosiale aspekte in die boek. Sy stel ook vrae en aktiwiteite voor waarmee die ouer of onderwyser met die kind gesprekke oor emosies kan voer wat prettig en ouderdomsgepas is. Sy skryf: “Ons kan leer hoe om te maak met ons emosies sodat ons dit beter verstaan en nie ander mense seermaak nie. Ons is die baas van ons emosies en breintjies” (35). Haar raad is dat volwassenes ondersteunend reageer selfs as negatiewe emosies bespreek word. “Dit is gesond en gepas vir kinders om hulle emosies te verbaliseer. […] Die doel is om kommunikasie aan te moedig, verhoudings te versterk en emosionele woordeskat en intelligensie te verbeter deur oop gesprekke” (33).

Sy kry daagliks met kinders se emosionele lewe te doen in haar terapiesessies. “Angstigheid en depressie neem onrusbarend toe onder jong kinders. Hulle emosies word dikwels ontken of as onbelangrik afgemaak. Een van die belangrikste vaardighede wat kinders nodig het om emosioneel gesond te wees, is om hulle gevoelens te verwoord.” Sy reken dat kinderboeke waarin emosie nie ontken, weggepraat of geminimaliseer word nie, maar bloot deel is van die karakter se ervaring, lewensbelangrik is. “Dit laat kinders identifiseer met die karakter én die emosie en bevorder die ontwikkeling van empatie. Skrywers wat outentieke en trauma sensitiewe dog prettige boeke produseer, stel volwassenes in staat om kinders emosioneel toe te rus vir ’n wêreld wat soms ongenaakbaar is.”

My GROOT dierestorieboek

https://naledi.co.za/product/my-groot-dierestorieboek/

Dennis Wevell is ’n ingenieur en entrepreneur. Hy ontwerp produkte wat kinders finansiële geletterdheid leer. Maar hy gee nie nét om vir kinders se breine nie. Hy het ook ’n passie vir kinderharte en wil graag sien dat kinders gelukkig is en hulself aanvaar nes hulle is.

Die lokteks op My GROOT dierestorieboek se agterblad lui: “In My GROOT dierestorieboek ontmoet lesers opwindende dierekarakters wat belangrike lesse oor hulself leer. Daar is vyf volledige stories met hart oor ’n akkedissie, ’n valkie, ’n skilpad, ’n vlakvark en ’n miskruier.” Inkleurprente is ’n heerlike bonus. Die boek is gemik op kinders sewe tot nege jaar oud, maar ouer kinders sal dit ook baie geniet.

Hier volg die hoofstuktitels (die oorwegende emosies wat die individuele stories uitlig, verskyn in hakies):

  • “Annie Akkedis is spyt dat sy stout was” (verdriet, jammer, verligting)
  • “Frikkie Valkie dink hy is ’n hoender” (ontnugtering, woede, opgewondenheid)
  • “Sakkie Skilpad wil nie uit sy dop kruip nie” (skaam, bang, verwondering)
  • “Frieda Vlakvark dink sy is lelik” (hartseer, eensaam, tevrede)
  • “Markus Miskruier dink hy is ’n nikswerd” (minderwaardig, afguns, dankbaarheid)

Wevell het My GROOT dierestorieboek geskryf omdat hy reken volwassenes onderskat die emosionele kapasiteit van kinders te maklik. “Kinders begin vroeg reeds worstel met dieselfde probleme waarmee grootmense worstel. Hulle voel vinnig geïsoleerd en afgesonder wanneer hulle in ’n omgewing is waar emosies nie bespreek word nie. Deur erkenning aan hulle emosies te gee, dit in die oopte te bring en daaroor te gesels, verseker ons hulle dat hul gevoelens normaal is. Hulle moet op ons aanvaarding en ondersteuning kan reken. Ek hoop dat kinders met die stories in my boek sal identifiseer en dat hulle saam met die karakters emosioneel sal groei.”

Illustreerders oor emosie in kinderboeke

Die illustreerders van die drie geïllustreerde boeke hierbo is dit eens dat emosie in kinderboeke noodsaaklik is om kinders op ’n selfontdekkingstog te neem en aan hulle ’n sin van eiewaarde te gee. Ek het die drie illustreerders genader om kommentaar.

Uit: https://naledi.co.za/product/hoephoepieland/

Mandé du Plessis, die illustreerder van Hoephoepieland: Tien omgeestories met hart, is ’n grafiese kunstenaar en het ’n honneursgraad in kunsgeskiedenis (UV) en ’n BA-graad in beeldende kuns (UV). Sy verduidelik dat dit uiters belangrik is dat die illustrasies in Hoephoepieland aanklank vind by kinders van verskillende agtergronde om die diversiteit van ’n multikulturele samelewing te weerspieël. “Dit was vir my lekker om waterverftekeninge in sagte kleure te verf. Kinders moet rustig voel wanneer hulle daarna kyk, selfs as hulle dalk moeilike vrae beantwoord oor wat in hulle eie hartjies aangaan. Ek hoop dat wanneer hulle na die illustrasies kyk, hulle hul sal verbeel dat hulle saam met Hoephoepieland se kinders speel.”

Uit: https://naledi.co.za/product/karimpel-en-kadot/

Elsabé Ebersöhn, die illustreerder van Karimpel en Kadot, het al verskeie kinderboeke geïllustreer. Dis haar passie om stories op kreatiewe wyse visueel voor te stel sodat die wêrelde en karakters wat skrywers skep, tot hulle reg kan kom.

Een van die grootste (en lekkerste) uitdagings vir Ebersöhn is om deur middel van haar illustrasies karakters se emosies visueel geloofwaardig voor te stel. “Vir jong lesers om te kan identifiseer met die emosie wat in die teks uitgebeeld word, moet hulle weet hoe lyk iemand wat daardie emosie beleef. Dit gaan oor meer as net gesigsuitdrukkings soos byvoorbeeld ’n vrolike glimlag of ’n kwaai frons. Ons liggaamshoudings weerspieël ook ons emosies. Deur dus op te let na die houding van ander, leer ons om hulle emosies te ‘lees’ en hulle beter te verstaan.”

Ebersöhn verduidelik dat wanneer kinders van kleins af emosies in illustrasies raaksien en deur middel van die teks begin verstaan hoe daardie emosies voel en lyk, dit hulle kan help om dit in hulself en ander te eien. “Ons ontwikkel oor ’n leeftyd heen die vaardigheid om emosies in onsself en ander te identifiseer, te verwerk en te verstaan. Kinders kan reeds van baie jongs af leer hoe om op ’n gesonde manier met emosies om te gaan.”

Sy glo dat illustrasies wat emosies suksesvol uitbeeld en die teks ondersteun, ’n groot bydrae lewer tot die emosionele ontwikkeling van kinders. “As illustreerder bied dit vir my die geleentheid om kinders, sonder om te ‘preek’ of ‘lesse’ te gee, aan emosies bekend te stel op ’n veilige manier.”

Uit: https://naledi.co.za/product/my-groot-dierestorieboek/

Erna van der Merwe, die illustreerder van My GROOT dierestorieboek, het ook al ’n hele klomp kinderboeke se illustrasies gedoen. Sy hou veral daarvan om met waterverf te werk wanneer sy stories vir kinders illustreer.

Van der Merwe glo dat ’n mens se liefde vir lees en stories begin lank reeds voor jy letters en woorde verstaan. Sy hou deur die hele skeppingsproses in gedagte dat vóór kinders nog weet waaroor die storie gaan, hulle reeds aan die hand van die illustrasies met ’n karakter kan identifiseer omdat hulle die emosie op dié se gesig of houding kan sien. Hulle verstaan dat die karakter bang, hartseer of bly is deur net na die prentjie te kyk. “Dit geld nie net vir peuters en kleuters wat nog nie self kan lees nie, maar ook vir kinders wat sukkel om hulle emosies verbaal uit te druk. Deur net na die prentjie te kyk, begin hulle ’n begrip vorm van hoe daardie karakter voel en kan hulle hul met die emosie assosieer. Deur die loop van die storie leer hulle dan saam met die karakter hoe om ’n probleem te oorkom of hulle emosies te hanteer.”

Afsluiting

Dit is duidelik dat skrywers, illustreerders en uitgewers die uitbeelding van emosie in kinderboeke deur middel van teks en illustrasies hoog ag. Johan Coetzee, uitgewerhoof van Naledi en die uitgewer van bogenoemde drie titels, stem saam dat boeke ’n noodsaaklike rol speel wanneer dit kom by die ontwikkeling van emosionele intelligensie in kinders. Hy haal Antjie Krog aan: “Dis belangrik om ’n kind te leer om sy gevoelens in woorde te kan uitdruk. ’n Mens is nie in staat tot kommunikasie, tot regtige kontak met iemand as jy nie kan formuleer wat jy voel nie. Ek is self so grootgemaak.”[3]

Daar pryk heelwat boeke waarin emosie ’n groot rol speel op die boekwinkels se rakke. Wees op die uitkyk daarvoor, skaf dit gerus aan en help ons kinders om emosioneel gesond te wees.

 

[1] https://www.litnet.co.za/antjiekrog-1952/

[2] https://www.etymonline.com/word/emotion

[3] https://sites.google.com/site/antjiekrognwuafll/krog-se-se-goed

Lees ook:

Omstredenheid en kleuter-, kinder- en jeugliteratuur

Miniseminaar: Kinder- en jeugboeke vir ’n nuwe era

Miniseminaar: Antjie Somers, ons oudste gender-bender

  • 1

Kommentaar

  • Sandra du Preez

    Ek werk daagliks met kinders en ek kan net 100% saamstem.

    Dit moet ons roeping wees om ons kinders ’n vol kinderlewe te gee en meer nog: toe te rus vir die lewe!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top