Kinderboeke wat verheug, vermaak en verruim

  • 4
..........
Wat is dit wat ’n kinderboek suksesvol maak? Soos in enige boek, of dit nou vir grootmense of vir kinders is, gaan dit oor aangrypende karakters. Die lys kan eintlik maar daar eindig. Maar daar is wel veel meer.
...........

Ek het grootgeword as deel van die Wielie Walie-generasie. Smiddags het ek en my maats graag voor die TV aangesit en saam met Sarel Seemonster opgewonde gebulder “Stories is my leeeuuuwwwe!” Vandag, as mens mooi daaroor terugdink, is dit eintlik ongelooflik dat daar ’n TV-program kon wees wat vir kinders stories uit regte boeke voorgelees het en hul jong gehoor se aandag so kon vasvang. Ek onthou hoe opgewonde ek was wanneer ek dan daarna ’n storie wat op Wielie Walie voorgelees is, in die plaaslike biblioteek raakloop.

Ek het in ’n wêreld van stories, boeke en woorde grootgeword – en dit is steeds waaruit my lewe bestaan. Daarom was ek ’n klompie jaar gelede, as nuwe ma, vas van plan om hierdie wêreld met my seun te deel. Soos enige ouer seker ook goed weet, behoort voornemens en realiteite egter nie tot dieselfde kategorie nie.

Daar word vir nuwe ouers vertel om sommer van dag 1 af baie met hul babas te praat, en sommer dadelik al aan hulle te begin voorlees. Navorsing wys hoe meer woorde ’n kind voor die ouderdom van vyf hoor, hoe groter is hul voorsprong op skool en later in die lewe. Ek sien dikwels foto’s van voorbeeldige jong ma’s wat reeds boeke aan hul pap babas wys en voorlees.

Wat my betref, het ek vir minstens die eerste vier tot ses maande ná my seun se geboorte aan bomskok gely. Die feit dat ek een van daardie babas gehad het wat nie aan slaap geglo het nie, het dit nog erger gemaak. Wanneer jy moeg is, is jou woorde weg.

Tot ek op ’n dag van ’n paar van Philip de Vos se rympies onthou het wat ek destyds as skoolkind gememoriseer het. Wanneer ek my seuntjie se doek geruil het, het ek die rympies begin opsê. Dadelik het my knieserige, koliekerige baba stil geraak en met groot oë aandagtig geluister.

Teen ses maande, toe die ergste waas begin lig het, het ek met hom op die mat gesit en saam het ons aan kartonboekies met teksture gevat en gevoel. Daar was nie veel om te lees aan hierdie boekies nie – ons het eerder gesels. “Kyk, daar is ’n bal. Sien jy? Dit is ’n rooi bal. Die bal is rond, en mens skop ’n bal.” En deurentyd, daardie gefassineerde klein gesiggie wat, soos sy ma, sy rustigheid in woorde gevind het.

Daarvoor kan ek net dankie sê. Dit is nog ’n les wat mens bitter vinnig as ouer leer. As jou kind goed slaap, sê dankie. As jou kind goed eet, sê dankie. As jou kind hou van stories, sê dankie.

Toe ons die oorgang begin maak het van die vat-en-voel kartonboekies na boekies wat mens kan lees, het ek dadelik gevind dat rymboeke loshande die beste werk – die ritme van die taal spreek tot ’n kind, net soos daardie rympies in die middel van die nag.

Rymboeke het later tot eenvoudige prenteboeke gelei. Prenteboeke het op hul beurt gelei tot langer voorleesboeke, en boeke met hoofstukke – dit is die fase waar ons ons tans bevind.

Wanneer ek kinderboeke koop, volg ek dieselfde patrone wat ek as kind gevolg het. As ons eers van ’n skrywer hou, maak ek soveel as moontlik van daardie skrywer se boeke bymekaar. As ons ’n band vorm met ’n karakter in ’n reeks, maak ons soveel as moontlik van daardie reeks bymekaar. Ons het natuurlik baie boeke wat nie tot reekse behoort nie, maar reekse is altyd ’n goeie wegspringplek.

Wat is dit wat ’n kinderboek suksesvol maak? Soos in enige boek, of dit nou vir grootmense of vir kinders is, gaan dit oor aangrypende karakters. Die lys kan eintlik maar daar eindig. Maar daar is wel veel meer. Illustrasies speel ’n kritieke rol, en in daardie opsig is moderne kinderboeke werklik ’n visuele fees en ’n inspirasie. Illustreerders is uiters slim, en dit is soms vir die ouer groot pret om die verborge kulturele verwysings in die illustrasies raak te sien.

’n Ander eienskap: ’n Goeie boek word deur die oë van ’n kind geskryf – insluitend die ouer se innerlike kind. As die skrywer wil hê ’n ouer moet vir ’n kind voorlees, moet die boek albei vermaak. Ons is deur ’n paar sieldodende boeke, wat ek later weggesteek het.

...........
’n Ander eienskap: ’n Goeie boek word deur die oë van ’n kind geskryf – insluitend die ouer se innerlike kind. As die skrywer wil hê ’n ouer moet vir ’n kind voorlees, moet die boek albei vermaak.
..............

Humor is altyd ’n wenner, en dit is heerlik wanneer die skrywer sommer lekker oordryf – en hoe grilleriger, hoe beter. Hoe meer die ouers die wenkbroue lig, hoe meer geniet die kinders dit. Ek moes al neus toeknyp vir die potjiehumor, maar om te sien hoe dit my seuntjie laat skater, het my maar laat deurdruk.

Tog is dit nie alles net grappies nie. Ek het gesien hoe sensitiewe, empatiese boeke my kind kan aangryp, en hulle moes ons ook weer en weer lees. Wanneer daar ’n les in ’n boek is waaroor ouers en kinders kan gesels, is dit wonderlik, maar die les moet subtiel ingeweef word, eerder as om gepreek te word – kinders weet wanneer daar vir hulle gepreek word, en sulke stories is boonop vervelig.

As ouer is ek dankbaar dat kinderboeke soms vir my help wanneer my eie woorde ontbreek. Wanneer mens oor moeilike onderwerpe moet gesels, gee kinderboeke leiding, want ons kan praat oor ’n karakter se optrede en gevoelens, en dit op ons eie belewenisse van toepassing maak. Daar vind ons dikwels ’n balans tussen karakters met wie daar maklik geïdentifiseer kan word omdat hul belewenis ons eie weerspieël, en karakters wie se uiteenlopende belewenisse ons gesprek kan verruim. Elkeen het sy rol.

Wat hier volg, is ons persoonlike lys van staatmakers. Hulle is ’n mengelmoes van vertaalde werke (want vertalings het ook ’n belangrike plek in ons literêre landskap) en boeke deur plaaslike skrywers. Hulle is ook suiwer op ons leesgenot geskoei. Daar is natuurlik soveel meer gunstelinge wat ek sou wou deel, maar ek kan die leser dít verseker: Al die boeke op hierdie lys het die “oor en oor”-toets geslaag – dit wil sê, ek moes hulle oor en oor en oor en vir die soveelste maal weer lees. Verder het ek my bes gedoen om boeke in te sluit wat redelik maklik verkrygbaar is, hetsy in ’n boekwinkel of aanlyn, wat beteken dat vele ouer gunstelinge ongelukkig weggelaat moes word.

Omslae van Vos se sokkies en Motors, trokke en alles wat ry: Protea Boekhuis. Omslag vanStories vir pikkies en peuters: NB-Uitgewers

Sewe gunstelingrymboeke, voorleesreekse en prenteboeke vir die kleintjies

  1. Julia Donaldson se Eikewoud-reeks, vertaal deur Philip de Vos, uitgegee deur Protea

Loshande ons gunsteling-beginboekies is Phillip de Vos se vertaling van die Britse skrywer Julia Donaldson se Eikewoud-reeks, wat uit vier boekies bestaan. Die boekies is op karton gedruk, wat dit goed maak vir die heel kleintjies, met flappies wat kan lig. Die rym is ritmies, eenvoudig en baie vermaaklik. Ons het ons stel voos gelees. Ek en my man kon die rymverhale later in ons slaap opsê: “Ou Vos voel goor – hy’t sy sokkies verloor!”     

  • Vos se sokkies, Julia Donaldson en Axel Scheffler (illustreerder – ook hieronder) (Protea, 2016)
  • Posman Beer, Julia Donaldson en Axel Scheffler (Protea, 2016)
  • Soek vir Henna Hen, Julia Donaldson en Axel Scheffler (Protea, 2016)
  • Hasie soek slaapplek, Julia Donaldson en Axel Scheffler (Protea, 2016).
  1. William Bee se Stoffel-reeks, vertaal deur Kobus Geldenhuys, uitgegee deur Human & Rousseau

My seuntjie is versot op enige iets wat met wiele, masjiene of konstruksie uit te waai het. Daarom was die Stoffel-reeks ’n groot wenner, want Stoffel, die flukse en hulpvaardige hamster, maak sy maats se motors reg, help hulle om huis te bou, ry met sy trekker op sy plaas rond – en hou dan sommer ook nog skool. Hierdie reeks van vier boeke was ons eerste papierboeke, weg van die kartonboekies af, en ons het hulle derduisende kere oorgelees. Hierdie boekies is bedrieglik in hul eenvoud, want hulle is eintlik baie slim. Die illustrasies is pragtig, en die eenvoudige sinne bevat ’n ryk woordeskat.

  • Stoffel die bouer (Human & Rousseau, 2018)
  • Stoffel die boer (Human & Rousseau, 2018)
  • Stoffel se garage (Human & Rousseau, 2018)
  • Stoffel se skool (Human & Rousseau, 2018).
  1. Laura Wall se Gans-reeks, vertaal deur Alida Viljoen, uitgegee deur Fantasi

Soos die Stoffel-reeks, is Laura Wall se Gans-boeke bedrieglik eenvoudig, maar baie slim en visueel pragtig. Annie is ’n eensame dogtertjie, tot sy op ’n dag in die parkie ’n gans onmoet. Die twee word beste maats, waarna Gans haar help om mense-maats te maak. My seuntjie skater vir Gans se lawwe manewales, en dan kom daar die hoogtepunt, die laaste sin waarmee iedere boekie afgesluit word: “‘Honk!’ snater Gans.” Waarop daar dan kliphard saam gehonk word.

  • Gans (Fantasi, 2017)
  • Gans doen inkopies (Fantasi, 2017)
  • Gans gaan skool toe (Fantasi, 2017)
  • Gans gaan strand toe (Fantasi, 2017).
  1. Stories vir Pikkies en Peuters, Gertie Smit (Tafelberg, 2018)

My seuntjie moes om gesondheidsredes eers ‘n bietjie wag voor hy kon kleuterskool toe gaan. Daarom was ek dankbaar dat ek die leemte deels kon vul met hierdie boek, wat aansluit by die voorskoolse kurrikulum. Die stories dra basiese konsepte oor; hulle is eenvoudig en toeganklik vir ’n baie jong kind, en die illustrasies, wat deur vier verskillende illustreerders aangepak is, is pragtig. My seuntjie het die stories baie geniet, en die voosheid van ons eksemplaar getuig van baie gebruik. Binne ses maande nadat hy begin praat het, het hy die stories in hierdie boek vir ons begin opsê.

  1. Mag ek in jou doek loer?, Guido van Genechten, vertaal deur Philip de Vos (Tafelberg, 2019)

Hierdie oulike boek met flappies is daarop gemik om kleintjies te help om die oorgang van doeke na die potjie te maak. Maar die potjiehumor in die boek is só goed dat die boek lank ná die doekfase steeds ’n wenner bly. ’n Nuuskierige klein muisie wil in al sy maats se doeke loer – en daar sien hy ’n wye verskeidenheid uitwerpsels. Tot die maats in sý doek wil loer, en sien dan dit is leeg. Want hy gebruik ’n “piepsie-poepsie-pot”. As iemand wat nie baie gemaklik is om oor liggaamsvloeistowwe te praat nie, was hierdie boek vir my ’n uitdaging, maar ek moes maar neus toeknyp en my seuntjie toelaat om saam met die muis die perdevye te bewonder.

  1. Motors, trokke en alles wat ry, Richard Scarry, vertaal deur Alta Diederichs (Protea, 2017)

Ek sal enige van Richard Scarry se boeke ten sterkste aanbeveel. Hierdie is natuurlik my wiel-obsessiewe seuntjie se gunsteling. Wat ons baie geniet het, is die eenvoudige dog humoristiese storielyn, die soektog na die goudgogga wat op elke bladsy wegkruip, die jaagtog tussen sersant Flossie en Dingo Hond wat vir ’n spanningslyn sorg, en dan die feit dat daar só ’n swetterjoel prentjies is dat ons elke keer iets nuuts kon raaksien. Dit is bitter moeilik om met Richard Scarry se boeke verveeld te raak.

  1. Vandag is ek ’n windlawaai, Philip de Vos en Piet Grobler (Protea, 2018)

Hierdie lieflike boek behoort nie eintlik tot enige ouderdomskategorie nie. Dit is aan my seuntjie as geskenk gegee toe hy twee jaar oud geword het, en hy was dadelik versot daarop. Daar is iets aan die sagte ritme van die rym wat hom meegesleur het en rustig laat voel het. Piet Grobler se illustrasies skep ’n onvergeetlike droomwêreld. Dit is seker die mooiste en mees gekoesterde rympieboek op ons rak.

 

Omslag: Protea Boekhuis

Sewe gunstelingprenteboeke en -reekse vir kleuters

  1. Die groot poefwedstryd, Guido van Genechten, vertaal deur Daniel Hugo (Protea, 2013)

As jy ’n jong kind het, moet jy maar vrede maak met die feit dat hul humor by die potjie begin. Ek sal nie name noem nie, maar hierdie boek is vir my aanbeveel deur niemand anders nie as ’n kindersielkundige, wat ook ’n gesiene dominee se vrou is. Want, het sy aan my beklemtoon, ons moet na die wêreld deur die oë van ’n kind kan kyk. Ek wou eers neus optrek, maar toe het ek maar liewer neus toegeknyp en begin lees (die boek kom wel met die waarskuwing: “Nie vir sensitiewe neuse nie”). Koning Kuttel die Eerste kondig die jaarlikse poefwedstryd aan, en al die diere word genooi om hul akkies so kunstig as moontlik te kom aanbied. Al wat ek kan sê, is dat die ouers proes vir die woordspel, terwyl die kinders uitbundig skater. Koop hom. Jy gaan dalk spyt wees, maar jou kind nie.

  1. Zok en Zok en die vlieënde dokters, Julia Donaldson, vertaal deur Philip de Vos (Protea, 2014 en 2017)

’n Mens kan met geeneen van Julia Donaldson se ‘n fout maak nie. Ons is byvoorbeeld versot op Die goorgomgaai en ook Die rowerrot. Ek gee graag Zok en Zok en die vlieënde dokters gesamentlik as ’n verjaarsdaggeskenk. Die rymvertaling is uitstekend en die storie is vermaaklik en baie, baie slim. Elke kind wat ek nog teëgekom het, is versot op Zok. Dit keer die klassieke verhaal van die prinses, die ridder en die draak op sy kop. Want hoe gemaak as die draak eintlik maar so ‘n bietjie van ’n ongeluksvoël is, die ridder so bietjie moeg vir baklei, en die slim prinses eerder ’n dokter wil word? Hulle word ’n wenspan, natuurlik!

  1. Willem die Wreedaard, John Ferdell, vertaal deur Shané Kleyn (Protea, 2016)

Om te sê dat ons versot is op Willem die Wreedaard is om dit heeltemal te sagkens te stel. Die boek is iets besonders wat betref sy strokiesprent-illustrasies, en die storie sorg vir groot vermaak. Willem die Wreedaard is geweldig wreed. Hy ontvoer beroemde uitvinders, wat dan vir hom allerhande kontrepsies moet bou sodat hy rooftogte daarmee kan uitvoer. Dan is hy nog boonop ook gemeen teenoor sy handlangers. Maar wat gebeur wanneer Willem die dag verkoue kry en daar niemand is wat hom wil dokter nie?

  1. Sarel die Supervark, Daniel Napp, vertaal deur Carmen Hansen-Kruger (Protea, 2011)

Nog ’n groot gunsteling in ons huis, en nog ’n boek met uitstekende strokiesprent-illustrasies. Vaatjie was eenmaal ’n doodgewone varkie, tot hy die dag in ’n drom superkunsmis val en soveel as moontlik moes opdrink om nie te verdrink nie. Dit maak toe van hom Sarel die Supervark wat tot sy medeplaasdiere se redding kom. Dan breek die dag aan toe die twee ooievaars die bejaarde hen, Ouma Breinaald, se trui steel. Die storie is uiters vermaaklik, en ek geniet dit om te sien hoe daar met die superheldgenre die draak gesteek word.

  1. Die stormwalvis en Die stormwalvis in die winter, Benji Davies, vertaal deur Rentia Bartlett-Möhl (Protea, 2017 en 2018)

Hierdie sensitiewe, empatiese boeke het my verstom. Ons lees graag humoristiese boeke, maar my seuntjie het met die sagtheid van hierdie boeke geïdentifiseer, en ek moes hulle oor en oor lees. ’n Babawalvis spoel na ’n groot storm op die strand uit, waar ’n eensame klein seuntjie op hom afkom en hom red. Die stories is eenvoudig, maar grawe ‘n bietjie dieper, en dan ontdek ’n mens pragtige temas oor die verhouding tussen pa en seun, en getroue vriende. Daarmee saam is die illustrasies ook iets besonders.

  1. Moenie die melk vergeet nie, Jaco Jacobs (Pan Macmillan, 2020)

Dit is daardie alewige dilemma: Mens gaan winkel toe om melk te koop, en kom dan met sakke vol inkopies terug – maar geen melk nie. In hierdie storie word Mila en haar pa se doodgewone uitstappie na die winkel omskep in ’n verbeeldingsvlug van formaat. Hulle maak ’n draai in die ruimte, verander in Superhelde, ry op ’n eenhoring en kry ’n troeteldraak. Maar wat van die melk? ’n Storie wat enige vervelige kruideniersuitstappie sal opkikker.

  1. Die baie, baie snaakse boek, Jaco Jacobs en Theodore Key (Pan Macmillan, 2021)

As mens ooit gewonder het of jy kan geld maak uit flou grappies, vra vir Jaco Jacobs. My seun sal egter ten sterkste met my verskil, want Jaco Jacobs se grappies het hom laat rol van die lag. Juffrou Seekoei vererg haar vir Hiëna wat haar les onderbreek met sy aanhoudende gelag. Tot sy agterkom hy lag vir ’n grapboek – en almal saam begin lag. Hierdie skreeusnaakse rymverhaal, met ’n grapboek binne-in ’n boek, is ’n groot wenner. En ons moes maar saam lag vir hierdie een: “Wat is net so groot soos ’n buffel, maar weeg niks? ’n Buffel se skaduwee!”

 

Storieman en Liewe Heksie: NB-Uitgewers; Professor Fungus: PRH LAPA Uitgewers

Sewe gunsteling-boekreekse vir saamlees en selflees

  1. Jaco Jacobs se Zackie Mostert-reeks (LAPA)

Van Zackie Mostert kan ons nie genoeg kry nie. Zackie is ’n ondeunde blondekop, en altyd vol planne. Maar hy en sy beste maat, Vincent, loop hulle kort-kort vas. Daar is die kwaai Mevrou Langenhoven wat telkens oor die muur loer en met hulle raas, en dan is daar die boelie Anton wat ander kinders seer maak en nie kan ophou spog nie. Anton kry egter keer op keer sy verdiende loon – of dit nou is dat Zackie en Vincent hom flous om ’n lewende wurm te eet, of omdat hy ’n bottel “sap” by hulle gryp en begin sluk, en dan agterkom dat die bottel vol slakke is. Wanneer Anton sy moses so teëkom, verskaf dit eindelose genoegdoening. Daar is twee reekse: die Z is vir Zackie-reeks, met kleurillustrasies en eenvoudige taal vir jonger lesers, en dan die meer gevorderde Zackie Mostert-reeks vir selfstandige lesers. Ouers sal die illustrasies in die Z is vir Zackie-reeks, wat fyn die spot dryf met Suid-Afrikaanse stereotipes, baie geniet.

  1. Jaco Jacobs se Professor Fungus-reeks (LAPA)

Op die diploma bo professor Fungus se lessenaar staan daar: Professor Fungustus Plutonius Salmonella Langerhans Bunzen van Dyk BSc MSc PhD BTW LOL. Professor Fungus laat ons dan ook telkens “LOL” Buiten die eksentrieke professor Fungus met sy groen hare is daar Argon, sy blaffende konyn (’n proefkonyn wat professor Fungus uit ’n laboratorium gered het), en Edison, die pratende, maar grammaties gestremde robot. En dan die tweeling, Bennie en Jenny, wat graag by professor Fungus gaan kuier, en telkens saam met hom in ’n penarie beland. Dit is dan gewoonlik Bennie en Jenny se flinkdinkery wat almal uit die penarie red. Die boeke het dieselfde gevoel as die Back to the Future-filmreeks. Die karakters, die humor, die vreemde situasies en die lewendige illustrasies maak van hierdie boeke ’n wenner.

  1. Jaco Jacobs se Bastian Blom-reeks (LAPA)

Bastian Blom woon saam met sy pa op die boonste verdieping van ’n ou huis. Die onderste verdieping is Bastian se pa se antiekwinkel, Optelgoed. Snags, wanneer sy pa slaap, gebeur daar allerhande vreemde goed in die antiekwinkel – maar Bastian is glad nie bang nie, want hy is al lankal gewoond daaraan. So kry hy met ’n verliefde geraamte te make, ’n opgesmukte pratende portret, ’n weerwolf en ’n weerwolfjagter, en ’n moerasmonster wat in ’n ou film vasgevang is. Die stories is humoristies en het ’n uitstekende spanningslyn wat ’n kind laat asem ophou maar nooit vir ’n oomblik laat bang voel nie, terwyl die ontknopings vir hope pret sorg. Boonop is die illustrasies ’n fees. Ná Bastian Blom het my seun amptelik aangekondig dat spookstories sy gunsteling is.

  1. Fanie Viljoen se Slym-reeks (LAPA)

Wie sal nou nie hou van ’n wurm wat ’n stink bol slym kan uitskiet wanneer hy in die moeilikheid is nie? Slym die wurm word deur ’n voël gevang, wat met hom wegvlieg. Maar voor die voël hom kan insluk, gebruik hy sy geheime wapen, sy stink bol slym, om te ontsnap. Die voël laat los, en Slym beland voor die deur van ’n paddaskool. Die paddas neem hom aan, en saam met sy beste maat, Paddavoet, beleef Slym avonture wat baie dapperheid en, natuurlik, stink bolle slym vereis. Fanie Viljoen het aangrypende karakters geskep waarmee ’n kind baie sterk kan identifiseer. My outjie het deurgaans met ’n speelgoedwurm, wat summier Slym gedoop is, op sy skoot gesit terwyl ons die boeke lees. Hierdie reeks is in 2019 in ’n enkele omnibus onder die titel Slym se stories deur LAPA uitgegee.

  1. Alex T Smith se Claude-reeks (vertaal deur Jaco Jacobs)

Claude is nie jou gewone hond nie. Hy is ’n hond met styl, want hy dra ’n stylvolle rooi trui, en daarmee saam ’n deftige rooi baret. Wanneer sy eienaars, meneer en mevrou Skitterskoene, werk toe gaan, is dit tyd vir Claude en sy beste vriend, Meneer Bobbelkous, om hul avontuur vir die dag aan te pak. Meneer Bobbelkous se naam sorg vir eindelose plesier – dit spring so lekker oor mens se lippe. Ek weet egter nie wat Meneer Bobbelkous daarvan sou dink nie, want al kan hy nie praat nie, is hy ’n bietjie opgesmuk. Die stories is humoristies en byderwets, die taal is ’n fees, en die karakters sorg vir groot vermaak. Daar is verhoogkunstenaars, akrobate, atlete, haaie, seerowers en kunsdiewe – en keer op keer is dit Claude en Meneer Bobbelkous wat tot almal se redding kom. Die illustrasies is net soveel van ’n fees, en hulle dra al die “styl” uitstekend oor.

  • Claude hou vakansie (Struik Kinders, 2019)
  • Claude in die stad (Struik Kinders, 2019)
  • Claude gaan vir goud (Struik Kinders, 2019)
  • Claude in die kollig (Struik Kinders, 2019).
  1. Verna Vels se Liewe Heksie-reeks (Human & Rousseau)

Liewe Heksie is weer in druk, vir voorlees en selflees, met pragtige nuwe illustrasies. Sy bly tydloos en immergroen, wat dit vir my as ouer heerlik maak om haar met my kind te deel. Noudat ek Liewe Heksie weer as grootmens lees, het ek opnuut bewondering vir die wêreld wat Verna Vels geskep het. Ons geniet dit om al dieselfde redes wat al jare lank van Liewe Heksie ’n geliefde karakter maak. Daar word geskater van die lag wanneer sy Koning Rosekrans se naam sê, en ook wanneer sy sukkel met groot woorde, en praat van “dikkefrelletjies” en “muisvlêrre”. Ons is versot op Griet die perd, en raak vreeslik opgewonde wanneer die stoute Gifappeltjies op die toneel verskyn. Ek sien ook hoe Heksie my seuntjie se empatie aanwakker. Hy kry haar baie jammer as almal so lelik met haar maak, en hy het al onderneem om haar te leer tel. Dit was vir ons onlangs ’n hoogtepunt om Margit Meyer-Rödenbeck se opvoering van Liewe Heksie by te woon. ’n Hele teater vol gillende kinders, wat alles geweet het van ’n “bikikini” en die Geel Heks uit volle bors uitgejou het.

  1. Die Storieman-omnibusse (Human & Rousseau)

Storieman is weer in druk, en ons het al ses omnibusse aangeskaf. Die reeks bevat ’n uitstekende keur van sprokies – die oorspronklike weergawes, nie die versuikerde Disneyagtige weergawes nie. Daar is ook klassieke verhale, soos Heidi en Pinocchio, en vele aangrypende karakters, soos Besie, Gobbolino die heksekat, en Timmertak. Daarmee saam is daar talle klassieke Afrikaanse verhale, soos dié oor Antjie Somers, Wolraad Woltemade en Racheltjie de Beer. Ons gunstelinge is loshande Brolloks en Bittergal, en Jakkals en Wolf. Die CD-opnames wat die omnibusse vergesel, is uitstekend, en ons luister graag na die voorlesings. Dit is heerlik om die Afrikaanse kultuurerfenis so te kan oordra.

 

Plons: LAPA Uitgewers; Die mooiste sprokies van Grimm: NB-Uitgewers

Sewe gunstelingboeke wat geskik is vir selflees en saamlees

  1. Die mooiste sprokies van Grimm, Marita van der Vyver en Piet Grobler (Human & Rousseau, 2021)

Mede-ouers moet maar hul harte vashou – Marita van der Vyver se vertellings van die Grimm-sprokies is getrou aan die oorspronklike verhale. Daarom is hulle ook 'n duisend keer meer aangrypend, verbeeldingryk en verruimend. Ek wil 'n sterk pleidooi vir sprokies in hul oorspronklike gedaante lewer. Sprokies vertel van goed en sleg, van reg en verkeerd, van wreedheid en empatie en van al die uithoeke van die menslike natuur. Ons luister in die motor na die opname wat op Audible beskikbaar is. Toe my seuntjie die eerste keer die boek self sien, en na Piet Grobler se pragtige illustrasies kyk, het sy gesiggie so opgehelder dat ek gewens het ek kon op daardie oomblik 'n foto neem. 

  1. Die Groot Jaco Jacobs-Storieboek, Jaco Jacobs (LAPA, 2020)

Hierdie samestelling van vyf Jaco Jacobs-stories is ’n groot gunsteling in ons huis. Daar is ’n bababoetie wat, doek en al, eintlik ’n superheld is; ’n meermin wat ’n besoedelende visfabriek ’n ding of twee wys; feetjies wat twee seuntjies ’n les leer nadat dié ’n stinkbom in hul woning gegooi het; en probleme met dinosourusse. Ons gunsteling is die storie van twee maats wat ’n ooreenkoms aangaan: As die een belowe om vir 'n week lank nie sy tande te borsel nie, sal sy maat elke dag vir hom 'n heerlike toebroodjie skool toe bring. Maar hoe dan gemaak as daardie toebroodjies vol knoffel, uie en bloukaas gepak word? 'n Grillerige storie oor ’n stink asem wat selfs ’n gorilla kan laat omkap. Maar as daar een ding is wat ek tot dusver geleer het: hoe grilleriger die storie, hoe groter die kindergenot.

  1. Die fantastiese avonture van Theo die Kat, Wendy Hartman en David Theron (LAPA, 2017)

Hierdie boekie moes ek oor en oor lees, tot groot vermaak. Ek wens daar was nog. Dit is ’n samevatting van drie stories, met vrolike illustrasies. Theo die kat woon langs ’n biblioteek en peper sy ma met oneindige vrae. Hoe spel jy katjiepiering? Waarom is melk wit? Waarheen gaan die sterre bedags, en slaap haaie snags? Sy ma sug dan en stuur hom biblioteek toe om self te gaan oplees. Van al die lees word Theo baie slim – só slim dat hy al die dorp se katte uit hul penaries kan red, soos kattediewe wat hulle probeer ontvoer, ’n kwaai ou tante wat hulle gevange neem om haar lyf warm te hou, en ’n kammasirkus wat hulle probeer verkoop.

  1. Wie skrik vir Wortel Wolf?, Leon-Ben Lamprecht en Nicolene Louw (Tafelberg, 2021)

Hierdie slim boekie het vir groot vermaak gesorg, en is ’n uitstekende eerste kennismaking met satire. Die skrywer neem drie klassieke wolfsprokies (“Die drie varkies”, “Rooikappie” en “Die seun wat wolf geroep het”) en gee hulle 'n lekker hedendaagse Suid-Afrikaanse geur, kompleet met rooibostee, soetkoekies en Namakwalandse blomme. Dan draai hy hulle op hul kop. Die skurke is nie meer wie jy dink hulle is nie, en nou is die wolf 'n vegetariër.

  1. Prinses Klara en die krokodil, Laura Amy Schlitz en Brian Floca, vertaal deur Jaco Jacobs (LAPA, 2017)

Hierdie lieflike storie het ons verbaas en verras. Prinses Klara se ouers besef sy gaan eendag koningin word, en neem hul opvoedingstaak baie ernstig op. Só ernstig dat daar geen tyd vir speel of net lekker stories lees is nie. Prinses Klara moet drie keer 'n dag bad (want prinsesse is altyd silwerskoon), sy moet vervelige boeke oor staatsleer en rekeningkunde bestudeer, en die heeltyd formele oefeninge doen. Tot haar towertante vir haar 'n troetelkrokodil stuur, en die krokodil vir 'n dag met haar plekke ruil. ’n Sensitiewe, maar ook ’n humoristiese storie wat ’n kind aangryp en wys hoe ’n netelige situasie op ’n mooi en taktvolle manier aangespreek kan word.

  1. Plons, Fanie Viljoen en Arnelle Woker (LAPA, 2016)

Ons was versot op hierdie storie – ek moes dit oor en oor lees. Hein is veronderstel om hul swembad skoon te hou, maar hy doen dit nie. Nou is die swembad "groener as 'n Mars-man se snollies" – en met daardie grillerige sin is my outjie se dag gemaak. Daar daag 'n pragtige meisie op wat aanbied om die swembad skoon te maak. Natuurlik stem Hein in, maar toe hy weer sien, het hy 'n plakkerprobleem op hande, want die meisie en haar gesin neem hul intrek in die swembad. Sy is toe al die tyd ’n meermin (so min of meer). Die gesin bring selfs hul meerhond, vuurvreterouma en troetelseeperdjies saam. Want besoedeling het die see so vuil gemaak dat die meermense nie meer daar kan woon nie.

  1. Monsterpizza, Jaco Jacobs en Yolandi Prins (LAPA, 2019)

Hierdie is nog ’n prettige, lekkerleesstorie in die monstergenre wat so gewild is in ons huis. Zia soebat om saam met haar pa na sy werk te gaan, want hy het die beste werk in die wêreld: Hy lewer pizzas af. Uiteindelik stem hy een aand in dat sy hom mag vergesel. Dit is egter ’n volmaan-aand, en Zia en haar pa kom gou agter: Wanneer dit volmaan is, loop die monsters rond. En monsters hou baie van pizzas ...

  • Lindie Koorts is ’n historikus verbonde aan die Universiteit van die Vrystaat. Koorts junior het egter nie veel van ’n saak daarmee nie.

Lees ook:

Oupa Zombie deur Jaco Jacobs: ’n resensie

Tien vrae: Jaco Jacobs oor die Professor Fungus-reeks

Die Groot Jaco Jacobs-storieboek deur Jaco Jacobs: ’n resensie

Afrikaanse jeugboeke vandag: ’n perspektief deur NB-Uitgewers

Afrikaanse jeugboeke vandag: ’n perspektief deur PRH/LAPA Uitgewers

Dié kabouter deurstaan die toets van die tyd saam met (Human &) Rousseau

 

  • 4

Kommentaar

  • En moenie vergeet nie: die Niki Daley-boeke. Ons eie internasionale kinderboekillustreerder en sy boeke is meestal in alle landstale vertaal. Zanzibarstraat en Jamela se rok, ens. In al my jare wat ek met kinderboeke gewerk het, het ek veral gesien die prentestorieboeke waar die illustreerder die skrywer en die illustreerder is, werk die beste. Op die oomblik is ek besig om navorsing te doen hoe om Afrikaanse fiksie in die primêre kurrikulum te integreer sodat stories ook deel van hul ander lesse word en nie net in taallesse nie.

  • Lindie Koorts

    Sarie, jy is heeltemal reg, en ons is ook baie lief vir Niki Daley! "Verassing, verassing!" en "Werner en die Wildewragtigs" behoort ook tot ons "oor en oor" lys. Ek wens ek kon die bostaande lys nog veel langer maak, want daar is werklik soveel lieflike kinderboeke in Afrikaans.

  • JOHAN Coetzee

    Goeie artikel, maar wonder waarom hier geheel en al geen verwysing na Naledi se uitsonderlike kinderboeke is nie? Veral Lizette Rabe se besonderse Blou Feetjie en Ronél van der Watt se Hoephoepieland. Sonder hierdie twee boeke is geen gesprek oor kinderboeke volledig nie. Ook ander: Louise Viljoen se Bibbi Babbelbek en ook Marieta McGrath se Die Groot Kompetisie. Daar is nog baie ander. Ek (moet) verstaan dat jy sê "daar is egter veel meer".

  • ’n Wenner is ’n wenner! Ek het Richard Scarry in 1979 aangekoop, toe genoem Tjorries en lorries en goed wat ry, en het vir my en toe my seuntjie van drie jaar oud groot vermaak verskaf. Die goue tor wat gevind moes word op elke bladsy was ’n uitdaging. En toe word ek Ouma, en ek en my kleinseun geniet die boek dertig jaar later weer net soveel! Die Otto-boeke van Eric Hill, met prentjies wat wegkruip agter ander prente, is wonderlik om die liefde vir boeke vir kleinmensies aan te wakker.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top