
Skrywers oor hul nuwe boeke: Jaco Jacobs oor die Professor Fungus-reeks
Waarom het jy die Professor Fungus-reeks begin skryf?
Ek wou graag ’n lekker aweregse, avontuurbelaaide storiereeks vir laerskoolkinders skryf met wetenskap as vertrekpunt. Ek onthou ek het dae lank met die konsep gestoei, totdat ek met ’n idee vorendag gekom het: zombie-tamaties! Dis die soort lawwe idee wat my brein aan die brand skop. Ek het dadelik begin wonder wat sou gebeur as ’n eksperiment met groente en vrugte sou skeefloop. Die tagline wat dadelik in my kop gespring het, was: “Eet jou groente ... voor hulle jóú eet.” Dis hoe Professor Fungus en die zombie-tamaties ontstaan het. Die reeks is ’n soort huldeblyk aan die wetenskapfiksieflieks waarmee ek grootgeword het. Lesers sal sien hoe ek soms knipoog na flieks soos Godzilla, RoboCop, Honey, I Shrunk the Kids, Back to the Future en Jurassic Park.
Wat was die moeilikste aspek van die skryfproses van hierdie reeks, en hoekom?
Die grootste uitdaging is om elke keer ’n nuwe storie te kry wat perfek binne die reekspatroon pas. Die hoofkarakters en basiese storieraamwerk is reeds daar, maar dit maak nie die kreatiewe proses minder ingewikkeld nie – inteendeel.

Het jy op enige plek in die manuskrip(te) ’n dooie punt bereik, en indien wel, wat het veroorsaak dat jy dit kon oorkom?
Ja, beslis. Ek het al een of twee storie-idees gekry waaroor ek vreeslik opgewonde was, maar wat op die ou end nie regtig geskik was vir die reeks nie. Soms laat die karakters en die reeksformaat jou sommer al tydens die skryfproses weet dat dinge nie gaan uitwerk nie; soms is dit jou uitgewer se taak om jou aarde toe te bring. Dit is ’n baie frustrerende proses om by die punt te kom waar jy besef jy moet jou idee laat vaar en met iets anders vorendag kom. Al raad is maar om vir jouself ’n goeie pep talk te gee en weer met ’n skoon skerm te begin.
Wat was vir jou die belangrikste: plot, karakter, ruimte, atmosfeer of tema?
Ek dink in die Professor Fungus-boeke is die verhaallyn en die karakters die belangrikste elemente. Lesers van die reeks verwag ’n sterk, boeiende storie waarin die bekende karakters getrou aan hulleself optree. En die ander belangrike element is humor – terwyl ek skryf, hoop ek altyd dat lesers hopelik ten minste op elke tweede bladsy iets sal kry om oor te giggel of te proes of te grinnik.
Het jy, nadat die manuskripte aanvaar is, in alle opsigte na jou redigeerder geluister?
Meestal, ja. My uitgewer, Miemie du Plessis, ken die reeks net so goed soos ek, maar as skrywer het ek nie altyd genoeg afstand van die teks kort nadat dit voltooi is nie – daai spreekwoord wat lui: “You can’t see the forest for the trees.” Ek weet dus ek moet aandag gee aan iets wanneer sy dit uitwys.

Waarom skryf jy?
Omdat ek nie anders kan nie, vermoed ek. Dit klink nou vir my eie ore na ’n vreeslike aanstellerige antwoord, maar ek het pas ’n drie weke lange blaaskans agter die rug waartydens ek doelbewus nie ’n enkele woord geskryf het nie, en die laaste week of so kla my vrou dat ek buierig en befoeterd is. En ek wéét voor my siel dis omdat ek nie met iets kreatief besig was nie.
Werk jy reeds weer aan ’n volgende manuskrip?
Die volgende Professor Fungus-boek is reeds voltooi, en ek speel op die oomblik rond met idees vir nog een. Die boeke verskyn in sarsies van twee, so dis nogal ’n uitdaging om telkens met twee manuskripte gelyk vorendag te kom!
Wie is jou skryfhelde (plaaslik en Afrikaans, maar ook internasionaal)?
Onder andere Roald Dahl, Marlene van Niekerk, Stephen King, Paul Jennings, PG du Plessis, Louis Sachar, Jeffrey Archer, Mo Hayder, JM Coetzee, Shirley Jackson, Roger McGough en Jonathan Safran Foer. Hoe’s daai vir ’n eklektiese spulletjie?
Wat dink jy van die Afrikaanse letterkunde op die oomblik – die boeke wat verskyn (en dalk ook in die onlangse verlede verskyn het)?
Hoewel ek deesdae veels te min Afrikaans lees, dink ek die Afrikaanse letterkunde beleef ’n opwindende bloeityd. Daar is sterk nuwe stemme wat na vore tree, en ek hou daarvan dat daar ’n opbloei in die publikasie van meer “gewilde” tipe prosa is, byvoorbeeld spanningsromans. Dit gaan goed met die kinder- en jeugboekbedryf ook, hoewel daar ’n tekort aan nuwe stemme is. Die internasionale blootstelling wat baie Afrikaanse skrywers deur vertaling kry, is ook bemoedigend. Dit kwel my egter dat daar deesdae so min ruimte vir resensies en literêre kritiek is. In my studentedae kon jy maklik ’n stapel resensies oor enige beduidende roman of digbundel by NALN aanvra. Nugter weet wat letterkundestudente deesdae doen, met slegs twee of drie resensies wat per boek verskyn. Ek mis ’n hele klompie gesaghebbende Afrikaanse resensente se stemme in die hedendaagse literêre kritiek.
En wat is jou gedagtes oor die toekoms van die Afrikaanse boek (of dalk oor wat uitgewers behoort uit te gee)?
Die toekoms van die Afrikaanse boek hang in die eerste plek daarvan af of daar voortdurend boeke sal verskyn wat Afrikaanse mense wil lees. As skrywer probeer ek nie te ver vooruit kyk nie – ek doen bloot my bes om boeke te skryf wat jong lesers hopelik sal oortuig dat dit die moeite werd is om in Afrikaans te lees.

