Dié kabouter deurstaan die toets van die tyd saam met (Human &) Rousseau

  • 0

Storieman het jare gelede as tydskrif verskyn, en was die Afrikaanse eweknie van die oorspronklike Britse Storyteller. Die tydskrif was vol stories. Destyds was daar ’n kasset by die tydskrif ingesluit waarop verskillende stemkunstenaars elke storie voorgelees het. Wanneer mens moes omblaai, het ’n kenmerkende "pieng"-geluid aangedui waar die bladsy se voorlesing ophou.

As kind het ek uitgesien na elke volgende uitgawe wat verskyn. En toevallig ontvang my seuntjie ’n paar maande gelede stapels ou Storytellers uit my kinderdae (minus die kassette) van sy ouma en oupa. Slaaptyd word voorgelees: Gobbelino, Timbertwig, Grogre the Golden Ogre en Shorty the Satellite. En my kind vra aan die einde van elke storie: "Nog net een ..."

Human & Rousseau het Storieman pas laat herleef.

Dit word in boekvorm uitgegee en dis saamgestel deur Leon Rousseau, die Rousseau van Human & Rousseau, en bekend om Die groot verlange, ’n biografie van Eugène Marais, en sy Fritz Deelman-reeks.  Die eerste omnibus is reeds op die rakke, en daar is nog op pad.

In die eerste omnibus is verhale opgeneem soos Van Hunks en sy pyp, Brolloks en Bittergal, Jakkals en Wolf maak kennis, Antjie Somers en Wolraad Woltemade. Daar is oorvertellings en illustrasies deur mense soos Marita van der Vyver, Kobus van Zyl, Niki Daly, Cora Coetzee en Marjorie van Heerden. En natuurlik is twee CD’s hierby ingesluit.

Maar laat ek ’n ander boek – ’n volwasse een – oor voorlees betrek.

Bernhard Schlink se boek Der Vorleser (The Reader) handel oor konteks. Die boek se tema is dat mens nie binne vandag se verwysingsraamwerk die geskiedenis volkome kan begryp nie. Want toe was alles anders. Almal was anders.

Maar wat het Storieman hiermee te doen?

Daar is ’n woordspel in die titels en nou klink Der Vorleser sommer soos die Duitse weergawe van die tydskrif. Maar dis toevallig. Die skakel tussen die twee boeke is vir my die hele kwessie van konteks.

Is dit nie maar net ek wat sentimenteel voel en Storieman vir my kind wil gee omdat ek daarvan gehou het, jare gelede, nie?

Het tye nie verander nie? En ook: kinders? Alles waaraan hul blootgestel word, is blinker en meer stimulerend. Gaan Storieman vandag en vir vandag se kinders wérk?

Gelukkig het ek die voorreg om vir Leon Rousseau self hieroor te vra.

Hallo Leon. Wat ’n voorreg om met jou te gesels oor ’n boek wat my generasie van sewentigersbabas onthou as tydskrifte: Storieman, wat nou as Storieman Omnibus deur jou hersaamgestel is.  Maar voor ek my lofsange voortsit, eers ’n moeilike vraag: ons almal onthou Storieman, maar ons kom uit ’n ander era, of hoe? Wat dink jy van “vandag se kinders” se konsentrasie en hoe lank hul kan stilsit en storie luister?

Die mening van kindersielkundiges en opvoedkundiges dat ouers hul kinders  teen die gevare van TV en (tot ’n sekere leeftyd) rekenaars moet beskerm, is so oorweldigend dat elke ouer sy of haar kind(ers) se TV-kyktyd behoort te beperk. Jy doen dit in die belang van die kind. Sonder TV of rekenaarspeletjies kan die meeste voortieners of tussentieners nog groot plesier uit Storieman put.

My eerste vraag is eintlik ’n onregverdige vraag, want my seuntjie van vyf sit heerlik en luister na die verhale (dikwels as ek dit voorlees en dikwels ook as die voorleser dit voorlees) en hoe gruweliker en meer angswekkend, hoe beter. Brolloks en Bittergal is tot dusver sy gunsteling, al vier dele. Op watter ouderdomsgroep het jy die omnibus gemik? En sommer ook: op watter geslag kind?

Beslis albei genders. In Storieman, met sy oudio-visuele aanslag, het ek ’n geleentheid gesien om die kind baie vroeg, reeds van so twee af, in lees te interesseer en ’n liefde daarvoor by hom te kweek. Hoewel dit ongetwyfeld waar is dat die oudio-visuele benadering die leeftyd waarop kinders ’n storie verstaan en waardeer, dramaties verlaag, was dit tog ’n bietjie vroeg. (Vir hierdie groep het ek later StorieMuis uitgegee.) In die praktyk was die ouderdomsgroepe kleuters (drie tot ses) en voortieners (tot so 12), hoewel baie ouer kinders dit ook geniet het, terwyl menige volwassene wat drie dekades gelede daarmee grootgeword het, vandag nog nostalgies daarna luister.

Simone Hough, Leon Rousseau en Riette Rust by die Storieman Omnibus-bekendstelling.

“Dit was my gevoel dat kinders in ons tyd te veel met eenvormige internasionale massakultuur gebombardeer word. Die oplossing hiervoor was om te sorg dat elke uitgawe van die Storieman-reeks minstens een plaaslike storie bevat. Vandaar ‘Van Hunks en sy pyp’, ‘Antjie Somers’, ‘Wolraad Woltemade’ en baie ander,” skryf jy in die voorwoord.

Die Storyteller Magazine, wat ek as kind geken het, het wel ook ’n spul stories gehad wat ek nie as fabels of sprokies algemeen geken het nie: soos “Timbertwig” en “Shorty the Satellite”. Natuurlik is daar ook baie stories wat universeel bekend is: “The Wizard of Oz”, “Cinderella”, “The Magic Porridge Pot”. Maar wat ’n vreugde om “Die heks van Hexrivier” in die inhoudsopgawe te sien, of “Wolraad Woltemade”. Dis heerlik Suid-Afrikaans. Maar hoe op aarde het jy bepaal watter verhale Storieman haal (toe die tydskrifte uitgegee is jare gelede en ook nou, in die omnibus)?

Ek het maar ’n goeie mieks plaaslike stof probeer kry. Ek was toe darem al 25 jaar ’n uitgewer van veral kinderboeke. “Jakkals en Wolf” bly gewild, en ek het Marita van der Vyver gevra om die klasssieke “Von Wieligh”-stories oor te vertel. “Van Hunks” hoort in elke versameling. ’n Kind moet die helde van sy volk en taal leer ken, vandaar “Wolraad” en “Racheltjie”. Ook ’n paar Helena Lochners en meer as ’n hele paar Liewe Heksies. Liewe Heksie is by ons wat Pinocchio in Italië is en Heidi in Switserland.

Die verhale in Storieman het gelukkige eindes, maar hier is vir my raakpunte tussen die broers Grimm se sprokies wat deur Marita van der Vyver – ook een van die skrywers van sommige van die Storieman-stories – oorvertel is en die Storieman Omnibus I  se verhale: die bloed spat plek-plek en die kinders luister met blink en gretige oë. Wat dink jy is die geheim om kinderstories eerlik aan te bied en terselfdertyd die tekstuur daarvan so te behou dat dit nooit die kind so beangs maak dat dit hom vervreem nie?

’n Ou tabakadvertensie het gesê: “Die geur is in, die byt is uit.” Ek het altyd probeer om die spanning te behou en oormatige wreedheid  uit te skakel.

Michelle Cooper, kinderboekuitgewer by Tafelberg, en haar kinders by die Storieman Omnibus-bekendstelling

Vertel ons lesers van die heel eerste Storieman in Afrikaans, asseblief. En wat is nou anders? Is sommige van hierdie verhale nou verwerk en anders oorvertel?

Dis eintlik ’n vraag vir Simone Hough van Human & Rousseau. Toe sy begin het om die reeks weer uit te gee, was party van die buitelandse regte tydelik nie beskikbaar nie. Die eerste twee omnibusse het dus ’n groot persentasie inheemse stories. Die kopieregsituasie is egter nou opgelos, en ek dink van Deel 3 af sal ons “Gobbolino die kat” en al die ander groot gunstelinge sien. Die stories is nie verwerk nie. 

Ek het onlangs met iemand gesels oor oudioboeke wat op volwassenes gemik is. Sy is self ’n stemkunstenaar en noudat ek Storieman weer so beluister het, het ek weer gedink watter deurslaggewende rol dit speel: hóé ’n storie voorgelees word. Wie is Storieman se stemme? En vertel asseblief vir ons lesers nog van die voorlesers. (Ek raai die meeste van hulle het self kinders.)

Uit die staanspoor het ek wyle Pierre Marais as reeksregisseur aangestel. Hy het al die voorlesers gewerf en die stories met behulp van klankingenieurs in die ateljees van die SAUK opgeneem, met pragtige byklanke en musiek uit die SAUK se diskoteek. Party is ook voortreflik deur hom voorgelees. As ek nou name moet noem sonder om party belangrikes weg te laat, sal ek navorsing moet gaan doen in ou uitgawes van Storieman. Omdat Pierre verantwoordelik was, het ek  baie min met die "stemme" en die mense agter die stemme te doen gekry. Vandag besef ek, en ek gee dit as wenk vir Simone Hough aan, dat dit ’n fout was. Splash daai name. Gee volle, prominente erkenning aan elke stem. 

Jou eie Fritz Deelman en Die Verlate Tuin duik ook op in Storieman se tweede omnibus, wat nog uitgegee moet word. Waar het die man met die wonderlike naam Fritz Deelman se eerste vonk begin?

Fritz Deelman en Die Verlate Tuin word aangegee as ’n mini-Deelman vir jonger lesers. Dit is dekades later as die agt in die hoofreeks geskryf. Wat die naam betref, ek wou ’n Dietsklinkende naam hê wat minder kommin (algemeen) is as Van der Merwe, en die “z” in sy voornaam was daarop gemik om so ’n titsel Germaanse kragdadigheid daaraan te verleen.

Skryf jy nog en wat skryf jy?

Wyle JD Pretorius, stigter van Tafelberg-uiitgewers, het altyd gesê mens praat nie van brood in die oond nie, en ek dink dis ’n goeie reël vir skrywers ook.

Jy het so ’n ruk gelede vir LitNet ’n heerlike brief geskryf oor woordspel en taal. Waar het jou liefde vir taal en skryf begin?

Ek dink dis in die bloed, en ek dink dit kom van weerskante. Die tweede deel van die frase "voorsaat of vorming" het baie te doen met die stories deur Helena Lochner
wat my pa al vir my begin aandra het vandat ek baie klein was, en met die magdom boeke in ons huis se rakke. Later het hy ook elke week Enid Blyton se Sunny Stories huis toe gebring.

Wie en wat lees jy self graag?

Hieroor het ek onlangs ’n hele stuk in die koerant geskryf. Lees die artikel hier.

Belangstellendes by die boekbekendstelling bekyk die pragtige illustrasies wat in Storieman verskyn.

Storieman is ’n bundel heerlike stories vir kinders – vir luister, voorlees of self lees. Wie sou kon gedroom het dat ’n mens in 2012 sou kon sê: My kind is gek oor stories van Langenhoven?  

Die Storieman-deuntjie neem my terug na ’n ander era – en maak dit saak dat die konteks en alles om my verander het? In daardie era was een ding dieselfde as vandag: as ’n storie goed is, is hy goed. En die Storieman Omnibus bevat ’n hele boek vol hiervan.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top