Die gewaande Suid-Afrikaanse wonderwerk: tyd vir bestekopname

  • 3

https://pixabay.com/photos/to-travel-planning-vacations-camera-5266875/

1. Suid-Afrika is belangrik vir die wêreld – nou weer

Suid-Afrika is belangrik, nie net vir sy inwoners nie, maar ook vir die grootste deel van die wêreld – veral vir wat ons die Westerse wêreld noem, asook vir Subsahara-Afrika. Oor die afgelope nagenoeg een en ’n halwe eeu was daar opeenvolgend tydvakke waartydens allerweë intens van groot gebeure in Suid-Afrika kennis geneem is en hierdie gebeure toonaangewend was vir ontwikkelings ver buite die grense van Suider-Afrika, of ten minste as sodanige belangrike gebeure beleef is.

Die laaste groot gebeurtenis van nagenoeg drie dekades gelede so enorm en luisterryk dat dit die verbeelding van die wêreld aangegryp het. Dit was die weergalose Suid-Afrikaanse wonderwerk toe die wit minderheid sy regeringsmag vreedsaam aan die swart meerderheid onder die aanvoering van die African National Congress (ANC), gelei deur die groot wêreldikoon, Nelson Mandela, oorgedra het. Suid-Afrika sou voortaan regeer word volgens sy nuwe oppermagtige grondwet, wat allerweë as die beste in die wêreld verheerlik is. Die Grondwet het vir ‘n omvattende katalogus individuele reg voorsiening gemaak. Die eens diep verdeelde Suid-Afrikaanse bevolking was nou die verheerlikte reënboognasie – die navolgenswaardige voorbeeld vir die wêreld.

Nou, nagenoeg drie dekades later is daar ’n teleurstellende omwenteling. Die vermeende wonderwerk is vergete en hoewel die Suid-Afrikaanse staat nie ’n mislukte staat is nie, verduidelik ‘n ontwikkelingsekonoom van Johannesburg, Daniel Meyer, dat dit ’n kwesbare oftewel brose staat is. Dit is sy gevolgtrekking na die toepassing van die maatstawwe van die metodologie van die Internasionale Indeks van Kwesbare State (Fragile State Index – FSI).

Hierdie drastiese agteruitgang ná die groot wonderwerk is die nuwe groot Suid-Afrikaanse gebeurtenis te die midde waarvan ons nou staan.

Almal – binne en buite Suid-Afrika – word nou opgeroep om rekenskap oor Suid-Afrika en sy wonderwerk te gee en oor die groot mislukking wat hom sedertdien oorgekom het.

Maar eers ’n voëlvlug oor Suid-Afrika se groot gebeure van tevore, wat ver buite die grense van die Suid-Afrika weerklink het.

  • Die ontdekking van die wêreld se rykste goudrif in 1886 aan die Witwatersrand is gevolg deur vestiging van harde infrastruktuur oor die subkontinent en die ontwikkeling van ’n mynbou- en nywerheidsekonomie wat baie mense oor die wêreld heen en baie geld soontoe gelok het.
  • Daar was die Anglo-Boereoorlog van 1899 tot 1902, waarin die Boere – die Afrikaners – blywende internasionale roem vir hulle vryheidstrewe en onversetlike gewapende weerstand teen die Britse Ryk verwerf het.
  • Daar was die totstandkoming, onder wit beheer en met die uitsluiting van die swart bevolking, van die Unie van Suid-Afrika in 1910. Die staat was die beliggaming van Westerse kolonialisme, waarvan die wortels herlei na die vestiging van die eerste Nederlanders onder die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie (VOC) in 1652 aan die Kaap van Goeie Hoop. Die koloniale staat het mettertyd die “apartheidstaat” geword. Apartheid was gebou op wit beheer oor Suid-Afrika en die gepaardgaande uitsluiting van die swart meerderheid. Na die vertrek van die eertydse koloniale moondhede en die voltrekking van die onafhanklikwording van die voormalige kolonies het Suid-Afrika se internasionale belangrikheid skerp toegeneem. Hierdie keer nie danksy die heroïese stryd van die Afrikaners nie, maar vanweë die verwerplikheid van die stelsel van apartheid – ’n soort hardnekkige voortsetting van kolonialisme – in Suid-Afrika, in skrille teenstelling met die nou toonaangewende internasionale oortuigings oor dekolonisering, gelykheid, menseregte en demokrasie. Dié keer was Suid-Afrika belangrik omdat apartheid die wêreld met weersin vervul het en bykans almal op die een of ander wyse vir die beëindiging daarvan gehoop, gebid en gewerk het. Die ANC was, soos sy naam aandui, die voertuig van Afronasionalisme, en sy binnelandse bondgenote was die voorhoedekrygers in ’n bykans heilige oorlog teen apartheid. Die ANC het mettertyd die karakter van die goeie verwerf en sy stryd teen apartheid die karakter van ’n heilige stryd. Onder die ANC-leier, Nelson Mandela, een van die mees verheerlikte mense van sy tyd, het Suid-Afrika die morele en politieke beliggaming van die wêreld se hoop op en vertroue in ’n beter wêreld – dié van menseregte, gelykheid en demokrasie – geword. Die Nuwe Suid-Afrika se omarming van hierdie drie dinge – gelykheid, menseregte en demokrasie – was die hoofredes vir die verheerliking van die Nuwe Suid-Afrika en waarom dit die wêreld so geïnspireer het.
  • Weer was Suid-Afrika baie belangrik ten tye van val van apartheid en die koms van die Nuwe Suid-Afrika en van die veel geroemde Suid-Afrikaanse reënboognasie in 1994. Die nuwe Suid-Afrikaanse staat is beliggaam in sy wyd verheerlikte “beste grondwet in die wêreld”. Hierdie grondwet, gebou op gelykheid, menseregte en demokrasie, was Suid-Afrika se nuwe luisterryke gebeurtenis van internasionale omvang, wat ongekende internasionale applous vir die land gaande gemaak het. Die internasionale implikasies van die beëindiging van die wit bewind word onderstreep deur die feit dat dit terselfdertyd die 500 jaar van Europese uitbreiding en politieke dominasie oor groot dele van Afrika en Asië sedert die eerste Portugese en Spaanse vestiging afgesluit het.
  • Toe, onverwags, breek Suid-Afrika se volgende groot gebeurtenis aan: Onder die oë van sy inwoners en van die wêreld misluk Afronasionalisme skouspelagtig. Die hoop op gelykheid, menseregte en demokrasie beskaam, en van die internasionale leiding wat Suid-Afrika hierin moes neem, kom niks tereg nie. Die Suid-Afrikaans staat verval in korrupsie, misdaad, geweld en infrastruktuurverwaarlosing en -plundering, werkloosheid en erger wordende armoede. En Suid-Afrika en die wêreld se vreugde en optimistiese hoop van drie dekades tevore maak plek vir teleurstelling, mismoedigheid en depressie.

Waarheen nou met hierdie falende Nuwe Suid-Afrika en hoe gaan sy inwoners en die wêreld nou te midde van die groot teleurstelling reageer?

Ek lig nou die aanloop tot en tans voltrekkende gebeurtenis kortliks toe.

2. Die stryd teen kolonialisme en die wit minderheid

Tot kort voor 1994 met die koms van die Nuwe Suid-Afrika toe die ANC aan bewind gekom het, was Suid-Afrika – die apartheidstaat soos dit dikwels genoem is – belangrik vanweë sy afstootlikheid.

Daar was binne en buite die land se grense groeiende verontwaardiging oor apartheid se morele verwerplikheid. Die Verenigde Nasies het apartheid as ‘n misdaad teen die mensdom veroordeel. Andersins was apartheid ten minste in so ‘n mate ’n aanstoot dat daar bykans algemene eenstemmigheid geheers het dat dit uit die weg geruim moes word.

Die ideologiese grondslag vir die stryd vir dekolonisering en teen apartheid het sy beslag in die nadraai van die Tweede Wêreldoorlog gekry toe die geloof in universele individuele gelykheid wêreldwyd geseëvier het. Alle vorme van rassediskriminasie en -ongelykheid is gevolglik kategories verwerp. Dit het tot uitdrukking gekom in die toonaangewende regsinstrumente van ’n ontluikende internasionale reg oor menseregte, waarvolgens gelyke regte van almal ongeag, ras, geslag, godsdiens, taal en enige ander onderskeid as ’n onvoorwaardelike beginsel geproklameer is. Die Universele Verklaring van Menseregte van die Verenigde Nasies van 10 Desember 1948, opgevolg deur etlike internasionale en streekskonvensies, het die beginsel van gelykheid van alle individue onomwonde verkondig. Voorts was daar konvensies wat spesifiek teen rassediskriminasie en apartheid gemik was.

Etlike beslissende politieke gebeure gedurende hierdie tydvak is enersyds deur die beginsel van individuele gelykheid aangedryf en het andersyds die beginsel van individuele gelykheid verder ingeskerp.

Veral drie heg verweefde gebeure is van belang.

2.1 Dekolonisering

Die eerste is dekolonisering. Talle gebiede in Asië en Afrika wat eens onder die beheer van Europese koloniale moondhede was, het vanaf die laat 1940’s tot die 1960’s onafhanklike state geword.

Dit is teweeg gebring deur die betreklik lae aptyt om koloniale gebiede te behou en voorts vanweë verswakking van die Europese moondhede ten gevolge van die Tweede Wêreldoorlog, wat na dese nie meer by magte was om hulle koloniale heerskappy te handhaaf nie.

Voorts het die ideologiese gety ten gunste van gelykheid die voortsetting van kolonialisme, wat juis op ongelykheid en diskriminasie geskoei was, onmoontlik gemaak. Dienooreenkomstig het die Algemene Vergadering van die Verenigde Nasies in Resolusie 1514(XV) (Declaration on the Granting of Independence to Colonial Countries and Peoples) van 14 Desember 1960 kolonialisme onwettig verklaar en goedkeuring betuig vir die skep van nuwe state wat toe steeds onder koloniale heerskappy was.

2.2 Nuwe oortuigings in die binnelandse politiek van die koloniale moondhede

Die tweede gebeurtenis is dat die binnelandse politieke oortuigings van die eertydse Europese koloniale moondhede ook verander en die gelykheidsbeginsel insgelyks die hoeksteen van hulle huishoudelike politiek geword het. Die veranderde beleid met betrekking tot immigrasie was tekenend hiervan. Waar immigrante vanuit die Derde Wêreld en meer bepaald uit die voormalige kolonies tevore afgekeer is, het hierdie state vanaf die sewentigerjare hulle grense vir mense vanuit die Derde Wêreld oopgegooi. Westerse state buite Europa, soos Australië, Kanada en Nieu-Seeland, het dieselfde gedoen. Die stroom van immigrante vanuit die Derde Wêreld het in die onlangse dekades soms drasties toegeneem.

Die VSA het ook na die Tweede Wêreldoorlog volskaals in die branding van die aandrang op gelykheid gekom. Die ideologie van gelykheid is sedert die 1960’s met toenemende konsekwentheid onderskryf. Dit het gedurende die bewind van Lyndon Johnson tot uitdrukking gekom met die aanvaarding van burgerregtewetgewing en die instel van maatreëls vir regstellende aksie wat vir vroeëre rassediskriminasie moes vergoed. (Die rassekwessie in die VSA is voortslepend en moontlik nou verder van bygelê as ’n halfeeu gelede. Hierdie kwessie val egter buite die huidige bespreking.) Die kern van die saak is dat die VSA sedert die middel-sestigs sy binnelandse politiek amptelik en prakties op die beginsel van gelykheid geplaas het.

Die gelykheidsoortuiging het trouens dermate veld gewen dat toonaangewende Westerse state hulself inderdaad nie meer as Westers beskou nie. Voormalige president Bill Clinton het in 1997 verklaar dat die VSA ’n revolusie nodig het om te toon dat die VSA sonder sy eertydse dominante Europese kultuur kon voortbestaan. Die Duitse kanselier, Angela Merkel, het op haar beurt verklaar dat die Islam deel van die Duitse nasionale karakter uitmaak. Frankryk, wat gedurende die grootste gedeelte van die Middeleeue eintlik die kern van Christelike Wes-Europa was, se onderskrywing van die beginsel van gelykheid reeds sedert die Franse revolusie het die land natuurlik reeds meer as twee eeue gelede op die pad geplaas om sy Westerse karakter af te leef.

Die slotsom is dat die geloof in universele individuele gelykheid na die Tweede Wêreldoorlog en finaal sedert die 1960’s die dominante ideologie van die (eertydse) Westerse wêreld geword het.

2.3 Die groeiende Suid-Afrikaanse anomalie

Die derde gebeurtenis is dat Afrikastate sedert 1957 onafhanklik geword het, maar dat Suid-Afrika in weerwil hiervan wit heerskappy bly handhaaf het. Die wit bewind onder Hendrik Verwoerd (1958–1966) wou deur interne ontvoogding, oftewel afsonderlike ontwikkeling, soos wat apartheid toe ook genoem is, die onderskeie etniese groepe van Suid-Afrika tot onafhanklikheid of ’n bepaalde graad van selfregering lei.

Dit het egter nie gebeur nie. In die eerste plek het die land ekonomies net te geïntegreerd geraak daarvoor. Tweedens was die gebiede waarin die onderskeie swart etniese groepe se selfregering/onafhanklikheid geografies beliggaam moes word, heeltemal te klein. Derdens was die swart bevolkingsaanwas te groot vir die realisering van Verwoerd se skema van afsonderlike ontwikkeling. Vierdens was Suid-Afrika se wits, oortuig van die onoorwinlikheid van hulle gedugte staat, nie bereid om groter gebiede aan die swart groepe af te staan en hulle met ’n kleiner “wit Suid-Afrika” te versoen nie. Verwoerd en sy opvolgers se poging tot “afsonderlike ontwikkeling”, wat eintlik op Suid-Afrika se eie dekoloniseringsprojek moes uitloop, het dus misluk.

Namate dekolonisasie in Afrika voltrek en die eertydse gekoloniseerde gebiede in Afrika en elders onafhanklik geword het, het apartheid – kolonisasie van ’n spesiale aard, soos die ANC dit genoem het) – al hoe meer as ’n onverdedigbare anomalie uitgestaan en het die stryd daarteen verhewig. Subsahara-Afrika (en die Derde Wêreld) het alles in die stryd gewerp om hierdie anomalie van ’n witbeheerde Suid-Afrika te verdelg. Hulle is hierin flink deur die destydse kommunistiese Sowjetunie en kommunistiese China bygestaan.

Vir die Weste was die wit bewind in Suid-Afrika insgelyks ’n moeilike kwessie. Om hulle eie redes wou hulle die wit bewind ook so gou as moontlik uit die weg ruim. Namate die Westerse magte gelykheid vir hulself toegeëien het, het apartheid ook vir hulle soos ’n seer vinger uitgestaan. Hulle eintlike groot probleem was egter dat apartheid as eiesoortige voortsetting van kolonialisme en rassediskriminasie, wat hulleself oor eeue beoefen het, hulle verhoed het om finaal die deur agter daardie historiese tydvak te sluit.

Die regerings van hierdie lande – Brittanje, die VSA, Nederland, Frankryk, Duitsland en andere – het hulle derhalwe verantwoordelik gevoel om die Suid-Afrikaanse wit bewind tot oorgawe te druk. Groot dele van die bevolkings van hierdie state het hulle regerings hierin aangemoedig. Apartheid het teen hulle oortuigings oor gelykheid ingedruis en hulle slegte gewetes oor hul eie eeue lange koloniale heerskappy wakker gehou. Daarom was die stryd teen apartheid ’n populêre beweging wat die gemoedere van miljoene gewone Europeërs en Amerikaners gaande genaak het.

Westerse regerings was egter tog besorg oor wat van Suid-Afrika se Westerlinge – sy wit bevolking – sou word. Hulle het magsoordrag aan die swart meerderheid voorgestaan, maar dit moes vreedsaam wees en ’n nuwe bedeling moes waarborge aan die wit minderheid verskaf.

Die stryd oor Suid-Afrika se wit bewind was derhalwe benewens ’n plaaslike, Suid-Afrikaanse kwessie ook ’n volskaalse internasionale stryd waarin die groot internasionale rolspelers waarna hier bo verwys is, prominente rolle vertolk het.

In Suid-Afrika het die stryd teen wit bewind onder die aanvoering van die ANC en sy binnelandse vleuel verhewig met massabetogings, boikotte en sporadiese geweld. Voorts het die wit bewind toenemend onder veral ekonomiese sanksies en algemene internasionale isolasie deurgeloop.

In weerwil van die geweldige druk op die wit bewind het daar algemene eenstemmigheid geheers dat dit nog ten minste ’n dekade kon uithou.

https://pixabay.com/photos/sun-reflection-to-dye-multicoloured-5118520/

3. Die triomf oor die bose – die Suid-Afrikaanse wonderwerk

Aan die begin van die 1990’s was daar ’n skielike ontknoping toe die wit regering en die ANC begin onderhandel het. Steeds onder die druk van plaaslike massa-aksie en internasionale isolasie het die wit regering tot ’n magsoorname aan die swart meerderheid ingewillig. Dit het uitgeloop op Suid-Afrika se nuwe grondwetlike bedeling wat op 27 April 1994 in werking getree het.

Hiermee was die groot stryd oor apartheid en wit minderheidsregering op ’n einde. Dit was ’n gebeurtenis van epogmakende historiese belang, nie net vir Suid-Afrika nie, maar wêreldwyd. Etlike eeue van wit politieke oorheersing in Suider-Afrika is beëindig, maar nie net in Suider-Afrika nie. Die beëindiging van die wit bewind in Suider-Afrika het ook die einde van vyf eeue van Westerse geopolitieke oorheersing oor die wêreld heen behels, dit wil sê, die einde van die halfmillennium van die Vasco da Gama-tydvak, wat sodoende die globale betekenis van die beëindiging van die wit bewind in Suid-Afrika verder beklemtoon het.

.........
Die oordrag van die bewind in Suid-Afrika aan die ANC het ’n gulde geleentheid aan die nuwe Afronasionalistiese regering verskaf om ’n groot sukses van die land te maak. Suid-Afrika het die grootste ekonomie in Afrika gehad.
............

Die oordrag van die bewind in Suid-Afrika aan die ANC het ’n gulde geleentheid aan die nuwe Afronasionalistiese regering verskaf om ’n groot sukses van die land te maak. Suid-Afrika het die grootste ekonomie in Afrika gehad. Die land was ’n beduidende rolspeler in die internasionale ekonomie met ’n gevorderde industriële, bank- en dienstesektor en ’n uitstekende harde en sagte ekonomiese infrastruktuur. Voorts was die ANC die liefling van die wêreld, met die gevolg dat dit ekonomies van oral oor kon gebaat het.

Met die oorgang na swart meerderheidsregering kragtens die nuwe grondwet het Suid-Afrika hom met die beginsel van gelykheid versoen. Sy grondwet – die Tussentydse Grondwet van 1993 (wat in 1994 in werking getree het, spoedig opgevolg met die 1996-Grondwet, allerweë as die finale grondwet bekend) – beliggaam ’n hartstogtelike omarming van die gelykheidsbeginsel – juis dit waarvoor die wit bewind onder soveel druk deurgeloop het. So verklaar die Konstitusionele Hof-regter Kriegler in die uitspraak in ’n wyd aangehaalde stelling in President of the RSA v Hugo: “The South African Constitution is primarily and emphatically an egalitarian Constitution. The [...] Constitution was written with equality at its centre. Equality is our Constitution’s focus and organising principle.”

Die beginsel van gelykheid is verder afgerond met altruïstiese maatskaplike regte, waardeur die nuwe Suid-Afrikaanse staat hom as versorgende staat bevestig het.

Almal was verheug hieroor en trots daarop. Suid-Afrika het oornag die liefling van die wêreld geword. Waar Suid-Afrika vir lank oral oor die kortbegrip van die boosheid van kolonialisme, ongelykheid en diskriminasie was, het sy grondwet hom nou die poolster en versinnebeelding van gelykheid, menswaardigheid en versoening gemaak.

Die Grondwet was, in sy eie plegtige woorde, “’n geskiedkundige brug tussen die verlede van ’n diep verdeelde gemeenskap wat gekenmerk is deur tweespalt, konflik, ongekende lyding en ongeregtigheid, en ’n toekoms wat gevestig is op die erkenning van menseregte, demokrasie en vreedsame naasbestaan en ontwikkelingsgeleenthede almal ongeag kleur, ras, klas, geloof of geslag”.

Suid-Afrika se bekering tot en nuutgevonde leidende rol in die leer van gelykheid en menseregte is wêreldwyd verheerlik. In sy buitelandse beleid sou die nuwe ANC-regering van die nuwe Suid-Afrika voorkeur aan die bevordering van menseregte gee. Die eertydse gekoloniseerde wêreld het gejuig oor hierdie laaste pynlike sweer van kolonialisme wat genees het.

Die Westerse wêreld was net so dankbaar en verheug. Hulle het suksesvol hulle verantwoordelikheid nagekom om apartheid en die laaste groot nalatenskap van Westerse kolonialisme op te ruim. Sodoende is hulle ook van die teisterende gewete van hulle eie koloniale geskiedenis verlos. Dis nie ’n oordrywing om te sê dat hulle in vervoering oor Suid-Afrika se grondwetlike skikking was en saam oor Suid-Afrika se nuwe glinsterende grondwet gejubel het nie.

Diegene wat nie self daardie tyd beleef het nie, kan hulle nouliks die uitbundige vreugde voorstel wat gepaard gegaan het met die beëindiging van die wit minderheidsregering en die koms van Suid-Afrika se nuwe “beste grondwet in die wêreld”.

Etlike Suid-Afrikaanse akademici het in besonderhede borduur op die wonderlike metafoor van die brug in die Tussentydse Grondwet: die geskiedkundige brug ’n blink toekoms van menseregte, demokrasie en vreedsame naasbestaan en ontwikkelingsgeleenthede vir almal.

Pelgrims het van oral die reis na Suid-Afrika aangepak om hulde aan Suid-Afrika se verbintenis tot gelykheid, demokrasie en menseregte te bring – ook vanuit die Europese en Amerikaanse universiteitsektor. Op die voorpunt was mense soos Karl Klare van Northwestern University in Massachusetts en Drucilla Cornell van Rutgers. Klare het die Grondwet in ’n wyd besonge artikel as toonaangewende “transformerende grondwet” bewierook. Mense soos Klare en Cornell was op die voorpunt van die (On)Wyse Manne en Vroue vanuit die Weste wat hulde aan die Grondwet gebring het.

Die beëindiging van apartheid en die aanvaarding van Suid-Afrika se Grondwet was ’n wêreldgebeurtenis van die hoogste orde. Waar die land vir lank die beliggaming van die bose was, het dit nou die versinnebeelding van die hoogste waardes van gelykheid, menseregte en demokrasie geword. Waar dit so lank die bron van pessimisme, depressie en lyding was, was dit nou die fontein van hoop vir die wêreld.

Ontelbare woorde is gestort oor die Suid-Afrikaanse cum wêreldwonderwerk van die middel-1990’s. 

4. Mislukking en teleurstelling

Bykans drie dekades het sedertdien verloop, waartydens die resultate van die wonderwerk op die proef gestel is. En helaas, waar Suid-Suid-Afrika eens die inspirasie vir sy mense en hoop vir die wêreld was, is dit nie meer so nie – glad nie.

Gemeet aan bykans alle maatstawwe vir ’n suksesvolle moderne staat is die Suid-Afrikaanse staat klaaglik aan die misluk.

...........
Wat die beoordeling van die ironiese voltrekking van die vermeende – maar nou klaarblyklik bedorwe – wonderwerk betref, begin ek by die drie kernredes waarom die Nuwe Suid-Afrika soveel lof toegeswaai is – sy verbintenis tot gelykheid, menseregte en demokrasie.
...........

Wat die beoordeling van die ironiese voltrekking van die vermeende – maar nou klaarblyklik bedorwe – wonderwerk betref, begin ek by die drie kernredes waarom die Nuwe Suid-Afrika soveel lof toegeswaai is – sy verbintenis tot gelykheid, menseregte en demokrasie.

4.1 Die drie kernredes vir die lof van die wonderwerk

4.1.1 Gelykheid

Die Suid-Afrikaanse Grondwet met sy onomwonde egalitêre karakter waarvan gelykheid die “fokus en organiserende beginsel” moes wees, het nie die gelykheid gebring wat dit moes nie. Inteendeel, Suid-Afrika het tans een van die hoogste werkloosheidsyfers in die wêreld en bykans 40% van die bevolking moet op karige staatstoelaes probeer bestaan. Daar heers dieper ongelykheid as drie dekades gelede, en nasionale ekonomiese groei, wat die aandrywer tot groter algemene welstand moet wees, is oor die afgelope jare bykans heeltemal afwesig. Voorts verkeer basiese onderwys in ’n ernstige krisis met ’n beduidende persentasie van leerlinge wat die skool verlaat sonder dat hulle behoorlik geletterd is en in staat is om aan die ekonomiese verkeer deel te neem.

4.1.2 Menseregte

Die algemene toewyding aan menseregte, soos vervat in die omvattende katalogus van regte in die Grondwet se Handves van Regte, lewer nie die vrugte wat dit behoort nie. Dit is te wyte aan die kombinasie van ’n wanfunksionerende staatsadministrasie, slegte beleid en verval van infrastruktuur, soos hier onder verder verduidelik.

4.1.3 Demokrasie

Suid-Afrika se demokrasie het, soos die sosioloog van die Universiteit van die Witwatersrand, Karl von Holdt, dit reeds in 2013 beskryf het, ’n gewelddadige demokrasie geword. Te oordeel aan die derduisende dikwels gewelddadige diensleweringsopstande wat jaarliks in Suid-Afrika voorkom, is die tipering klaarblyklik geldig. Hieraan moet toegevoeg word Suid-Afrika se voortslepende epidemie van politieke sluipmoorde, die straffelose intimidasieveldtogte en afdreigingspolitiek van die Economic Freedom Fighters (EFF), en die herhaalde ontwrigting van werksaamhede van demokratiese instellings soos die bedrywighede van etlike munisipale rade.

4.2 Transformatisme en patronaatskap en kaderontplooiing

Die kernoorsaak van Suid-Afrika se agteruitgang is Afronasionalisme se ideologie van transformatisme (ook genoem die nasionaal-demokratiese revolusie) soos toegepas deur die ANC. Dit behels sentralistiese beheer deur die ANC oor alle hefbome van gesag met inbegrip van alle wetgewers, die sentra van uitvoerende gesag, die regbank, die staatsdiens, openbare nutsmaatskappye, die weermag, polisie, opvoedkundige instellings en ten slotte ook die burgerlike samelewing en die (privaat) ekonomie.

Dít behels op sy beurt ’n omvattende stelsel van patronaatskap – “kaderontplooiing” in die leksikon van die ANC. Dienooreenkomstig word mense aangestel en bevorder nie in die eerste plek op grond van hulle gepastheid vir die betrokke pos nie, maar omdat hulle lojale ondersteuners van die ANC of ’n bepaalde faksie daarvan is. Hiermee is die spesialisasie en professionalsering as hoeksteen vir die instandhouding van ’n moderne staat verruil vir die demodernisering en neoprimitivisme waaraan Suid-Afrika nou uitgelewer is.

Gevolglik het bykans elke staatsorgaan in die nasionale, provinsiale en plaaslike sfere van regering sowel as daarbuite oor die afgelope dekades onder toesig van die ANC matig tot ernstig agteruitgegaan.

Die patologie van die huidige Suid-Afrikaanse staat strek egter verder as dit. Onder die Afronasionalisme van die ANC het ook korrupsie, diefstal, verwaarlosing en plundering van staatsbates en infrastruktuur, dwase beleid en die onvermoë om die administrasie van ’n moderne staat te behartig die onderskeidende kenmerke van die Suid-Afrikaanse staat geword.

Die Kommissie van Ondersoek na Staatskaping en Korrupsie (die Zondo-kommissie) het die bevind dat miljarde rande se bates van die staat, meer bepaald van staatsondernemings soos Eskom, Transnet en etlike ander staatsinstellings, gestroop is. Senior regeringslui en staatsamptenare is van die belangrikste bevoordeeldes hiervan.

Ondanks hierdie bevindings is daar beswaarlik ’n kentering, eerstens omdat die strafregstelsel (die polisie en die vervolgingsgesag) so verswak het dat dit bykans onmoontlik geword het om die skuldiges te vervolg, en tweedens omdat korrupsie ten dele klaarblyklik deel van die kultuur van die regerende ANC geword het.

4.2.1 Misdaad

Suid-Afrika word oor die afgelope dekades deur misdaad, veral geweldsmisdaad, geteister. En dit vererger steeds. Suid-Afrika het tans een van die hoogste moordsyfers in die wêreld. Die verswakte strafregstelsel ondervind ernstige probleme om dit te bekamp. Privaat en burgerlike sekuriteit vul in ’n beduidende mate die leemte wat hierdeur gelaat word. Die land se privaat veiligheidsbedryf is een van die grootstes in die wêreld en groei steeds.

Boonop het Suid-Afrika oor die afgelope jare, soos blyk uit ’n omvattende verslag van Global Initiative Against Transnational Organised Crime (GI-TOC), ’n speelplek van internasionaal georganiseerde misdaad geword, dermate dat die Suid-Afrikaanse staat daardeur bedreig word. In die verslag word verklaar: “Organized crime has become an existential threat to South Africa, impacting the lives of millions of people together with the country’s economic health and political integrity” (bl 11).

Veral verwoestend is afpersingsnetwerke, veral die sogenaamde konstruksiemafia wat sedert 2014 enorme ekonomiese skade aanrig. Die polisie is nie opgewasse om die situasie te hanteer nie. Hieroor merk die GI-TOC-verslag op:

SAPS [South African Police Service] remains an institution without strategic direction when it comes to organized crime. It is still committed to a high visibility, low-impact approach that centres on taking down “high-flyers” and making big seizures and large numbers of low-level arrests. This has enmeshed SAPS in a cycle of reward and focus that disincentivizes intelligence, analysis and investigation. Promotion is based on stats, and not impact, while there is poor to no training in intelligence or detective capabilities.

4.2.2 Verval van infrastruktuur en dwase beleid

Wispelturige ekonomiese beleid, met inbegrip van onsekerheid oor eiendomsreg, gepaard met misdaad en die ernstige verval van infrastruktuur, het die Suid-Afrikaanse staat se eens hoë reputasie van 1994 enorme skade aangedoen. Ekonomiese groei het getaan; daar is min buitelandse vaste investering; daar is ’n knaende verlies van beroepslui vanweë emigrasie en kapitaaluitvloei en ’n vernouing van die land se belastingbasis. Suid-Afrika het ver egter geraak in vergelyking met sy internasionale ekonomiese eweknieë.

In die vierde verslag van die South African Institution of Civil Engineers (SAICE) in 2022 word verklaar dat Suid-Afrika se infrastruktuur nou die swakste is sedert die SAICE in 2010 sy eers verslag uitgereik het.

Tekenend van die mislukking van die Suid-Afrikaanse staat is die verwaarlosing van die kragvoorsiener, Eskom. Eskom, wat in 2001 nog internasionale erkenning as toonaangewende nutsmaatskappy ontvang het, het oor die afgelope dekades in ’n ongekende krisis verval.

In weerwil van die feit dat alle moderne ekonomieë wesenlik elektrisiteitsekonomieë is, is daar nou al vir minstens twee dekades nie meer langtermynbeplanning, konstante belegging of onderhoud by Eskom nie. Voorts is goeie bestuur, professionale, tegniese en dergelike kundigheid vervang met kaderontplooiing, want soos ’n voormalige hoofregter, Mogoeng Mogoeng, rakende die aanstelling van regters verklaar het, is dit “not all about merit” en “transformation is just as important”, en die Grondwet vereis nie dat die “best of the best” aangestel word nie. Voorts is daar ’n misdaadgeteisterde omgewing en ’n gehawende polisiemag en vervolgingsgesag wat die plundering van Eskom se infrastruktuur en dié van ander sektore van harde infrastruktuur moontlik gemaak het.

Die gevolg is dat die land nou onder ernstige kragtekorte en voortdurende kragonderbrekings ly, wat ekonomiese bedrywighede ernstig kortwiek en mense se daaglikse lewe verontrief.

Watertekorte vanweë gebrekkige instandhouding van infrastruktuur en onbetroubare kragvoorsiening raak ook nou ’n groeiende probleem.

Daar is ook etlike ander sektore waar infrastruktuuragteruitgang heers, soos die land se spoorvervoerstelsel wat erg agteruitgegaan het en talle paaie wat nie na behore onderhou word nie en in baie gevalle trouens onbegaanbaar geraak het.

Die klaaglike verhaal van die wydlopende agteruitgang van Suid-Afrika onder Afronasionalisme ken geen einde nie.

So, in ’n neutedop, sien die huidige groot nuwe Suid-Afrikaanse gebeurtenis drie dekades na die wonderwerk van die “beste grondwet in die wêreld” daar uit: die groot mislukking na die weergalose meevoerende groot sukses.

5. Die bestekopname

Suid-Afrika verkeer nou in ’n diep polikrisis – ’n verskeidenheid van krisisse. Die ANC skiet in alle opsigte te kort in die bestuur van ’n moderne staat en die Suid-Afrikaanse staat verval oor ’n wye front. Die bevolking ly toenemend onder misdaad. Ekonomiese infrastruktuur is verslete en daar is groeiende armoede en werkloosheid. Instellings waarsonder ’n moderne politieke orde nie kan klaarkom nie, funksioneer nie werklik nie. Daar is beswaarlik enigiemand met tersaaklike kennis en insig wat nie negatief op die stand van die Suid-Afrikaanse staat reageer nie. Ek verwys na slegs twee onder talle kommentators.

Die Nirvana wat ons gedurende die 1990’s gehoop het om te beërwe, skryf Barney Mthombothi in die Sunday Times van 26 Maart 2023, het in ’n nagmerrie van plundering, misdaad en korrupsie verander.

Die rubriekskrywer S’Thembiso Msomi skryf in dieselfde uitgawe dat die bedeling wat in die 1990’s gevestig is (die vermeende Nirvana), nie langer toereikend is om die land staande te hou nie (“no longer enough to keep us afloat”).

Hierdie kommentaar vorm deel van algemene swaarmoedigheid van die Suid-Afrikaanse publiek oor die stand van die Suid-Afrikaanse staat in die huidige bedeling en ’n geregverdigde groeiende eenstemmigheid oor die mislukking van die Nuwe Suid-Afrika.

Al die redes vir die uitbundige uitgelatenheid van bykans 30 jaar gelede oor die Nuwe Suid-Afrika wat die wêreld so gaande gehad het, het verdwyn: die “beste grondwet in die wêreld”; die reënboognasie; gelykheid; menseregte en demokrasie.

Die ANC was toe nie die redder nie, maar die wegbereider na agteruitgang en verval. Die veel geroemde oppermagtige Grondwet is die getuie van sy eie magteloosheid en irrelevansie. Die Nuwe Suid-Afrika was oplaas die groot antiklimaks en mislukking van Afronasionalisme, en die huidige regering die prima agent van neoprimitivisme en die vervallende patronaatstaat.

In die lig van die feit dat die koms van die Nuwe Suid-Afrika destyds so ’n asemrowende groot gebeurtenis van wêreldomvang was, is die inploffing van die Suid-Afrikaanse staat natuurlik ook ’n wêreldgebeurtenis, want hierdie inploffing bring aan die lig dat dit waaruit die wêreld toe soveel inspirasie geput het, inderdaad toe ongegrond was. Plek-plek het hierdie besef alreeds tot sommige toonaangewende meningsvormers, media en regerings deurgedring.

Lord Peter Hain, Britse parlementslid, eertydse voorste antiapartheidsaktivis en doring in die vlees van die Suid-Afrikaanse minderheidsregering, het in die onlangse jare ernstige ontgogeling moes verduur. Hain het nou ’n skerp kritikus van die ANC-regering geword. Hy is neerslagtig oor Suid-Afrika en het gewaarsku dat die land in die rigting van ’n mislukte staat beweeg. En toonaangewende publikasies soos The Economist wat oor die Suid-Afrikaanse verwoesting berig het, is insgelyks daarvan bewus dat die Nuwe Suid-Afrika misluk het.

Die Westerse wêreld en Subsahara-Afrika het dus gedwaal in die uitbundige verwagting van wat die Nuwe Suid-Afrika sou oplewer. Hierdie waarheid begin egter nou maar eers deurdring. Die voltrekking van die wêreldgebeurtenis – die besef van die miserabele groot Suid-Afrikaanse teleurstelling – lê nog voor.

  • Koos Malan is ’n konstitusionele juris van Pretoria en ’n genoot van Sakeliga.

Lees ook:

The demise of Eskom | Iingxaki zikaEskom zikubaphathi

Op die lang pad na vryheid

Open Stellenbosch: Beyond the rainbow, towards a change of climate

Breaking a rainbow, building a nation by Rekgotsofetse Chikane: reader impression

Suid-Afrika en die terugbons-faktor

Nuwe geskiedenis van Suid-Afrika deur Herman Giliomee, Bernard Mbenga, en Bill Nasson (redakteurs): ’n LitNet Akademies-resensie-essay

Prisma of reënboog? Suid-Afrika deur ’n Graviaanse lens

Die pad na versoening is lank ...

Die eenheid van die reënboog: ’n Vredesentrum ten bate van transformasie

Is daar nog ’n wonderwerk in die reënboognasie se toekoms?

Hoe verskil SONA 2023 van Zuma-era-staatsredes?

Our poisoned land: living in the shadows of Zuma’s keepers deur Jacques Pauw – ’n resensie

Die EFF-grendelpoging: Wat beteken dit vir Suid-Afrika?

  • 3

Kommentaar

  • Koos Malan sal in die toekoms daarvoor bekendstaan dat hy sy tyd vooruit was. Hy is dapper om die logiese uit te lig en verby die grense van die huidige (en tydelike) versmorende SA staat te dink en praat. Ongelukkig is die meeste kommentators en meningvormers vasgevang in 'n tydborrel waar hulle die onlogiese, die wanorde en die noodwendige mislukking van 'n SA staat probeer regverdig, of kritiek lewer op die omstandighede maar telkens wil terugkeer na 'n vorm van gesuiwerde 1994-toestand. Asof die geskiedenis bloot weer van voor af kan begin en hierdie keer nie foute gemaak sal word nie. Die SA Grondwet is egter nie die oplossing nie, maar die probleem self. Dit skep 'n kunsmatige maar onvolhoubare staat wat nie die nodige erkenning aan die veelvoud van volke, kulture, verskillende ideologiese idees en ekonomiese benaderings bied nie. SA se oppervlakte beslaan die groter deel van Wes-Europa, maar het selfs 'n groter verskeidenheid verskillende gemeenskappe wat in een staat saamgebondel word. Die bestel kan dus nie reg gedokter word nie, die bestel self is die probleem. Dit is dan ook noodwendig logies waarom die staat op 'n bykans natuurlike wyse disintegreer, ongeag of die ANC nou regeer of nie.

  • Eers het die oorlede NP sy kiesers, en sy kiesers die res, bankrot gelieg.

    Nou praat en praat ons onsself bankrot.

    Wag tot die Suidoos in die Kaap waai en fluit windop, jy sal ten minste darem 'n nat broek hê.

  • Wit Suid-Afrika se probleem was nooit werklik dat hy as kolonie beskou was nie. As dit werklik die geval sou was, dan sou dieselfde druk op Australië, Nieu-Seeland, Kanada en VSA gewees het om hul inheemse bevolkings as regeerders van hulle onderskeie lande aan te stel. Nee, Suid-Afrika se hoofprobleem was 'n toenemend swakker demografiese posisie van die wit bevolking, waar die ander koloniale nie so 'n nadeel gehad het nie.
    Demografie is lotsbestemming.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top