Is daar nog ’n wonderwerk in die reënboognasie se toekoms?

  • 0

Reënboog: https://pixabay.com/photos/landscape-rainbow-tropical-atoll-7373484/; boekomslag: https://store.hbr.org/product/the-new-capitalist-manifesto-building-a-disruptively-better-business/12794

Umair Haque, Britse ekonoom en skrywer van The Capitalist Manifesto: building a disruptively better business, beskryf die VSA in ’n onlangse meningstuk as ’n samelewing op die rand van sosiale verval.

...........
Umair Haque, Britse ekonoom en skrywer van The Capitalist Manifesto: building a disruptively better business, beskryf die VSA in ’n onlangse meningstuk as ’n samelewing op die rand van sosiale verval.
............

Daar is daagliks skietvoorvalle waar meer as een persoon gedood  word. Dit het inderwaarheid so algemeen geword dat die meeste voorvalle nie meer die nuus haal nie. Haque sien hierdie skietvoorvalle, en die skynbaar gelate manier waarop die meeste Amerikaners dit aanvaar, as simptomaties van die verval waarteen hy waarsku. Hoe weet ons wanneer ’n samelewing in gevaar is? Volgens Haque is waarskuwingstekens speurbaar wanneer verval op sosiale, kulturele en ekonomiese vlak gelyk gebeur. Anders gestel, as mense nie meer hoop het dat hulle hulself uit armoede kan werk nie, as daar geen inhibisies teen geweld bestaan nie, en as sosiale kapitaal heeltemal verlore raak, dan word die tipe geweld wat deur massaskieters vergestalt word, aanvaarbaar. Haat van enigeen wat anders as jy dink, lyk of glo, word genormaliseer. Daar is geen vertroue meer in instellings soos howe, verkiesings, die eerbaarheid van politici, ’n gesondheidstelsel en ’n pers vry van fopnuus nie. Juis daarom, so redeneer Haque, is die meeste skieters ook jong mans met min of geen sosiale vaardighede nie.

Dis ’n akkurate beskrywing van die huidige Amerikaanse toestand, maar dit beskryf ook apartheid-Suid-Afrika in die jare voor demokrasie. En tog het ons relatief min massageweld ervaar. Beslis was daar nie daaglikse gevalle waar gefrustreerde jong mans losbrand op skares nie. Daar was oorgenoeg AK-47’s en R1-gewere in omloop, dus kan ’n gebrek aan masjiengewere nie as rede aangevoer word nie. Die vreedsame oorgang na ’n demokratiese bestel word steeds as ’n wonderwerk voorgehou.

Was dit?

As ek Haque se kriteria as korrek aanvaar, dan het ons nie geweld op groot skaal gesien nie omdat die samelewing se inhibisies teen geweld te sterk was.

............
Ek wil verder gaan en argumenteer dat ons iets anders, selfs meer waardevol, aan ons kant gehad het: leierskap aan alle kante van die politieke spektrum wat gesprekvoering en versoening gekies het bo volskaalse burgeroorlog.
............

Ek wil verder gaan en argumenteer dat ons iets anders, selfs meer waardevol, aan ons kant gehad het: leierskap aan alle kante van die politieke spektrum wat gesprekvoering en versoening gekies het bo volskaalse burgeroorlog. Ons het kerklike en burgerlike leierskap gehad wat bereid was om politieke leiers tot verantwoording te roep. Die VSA het dit nie meer nie. Trump, die de facto-leier van die Republikeinse Party, het geen respek vir die regstelsel of demokrasie nie. Hy gee nie om of hy die land in oorlog dompel nie, solank hy oor die puin kan koning kraai. En as teenvoeter? Biden is nie charismaties genoeg om die tipe verandering te inspireer wat nodig is nie.

..........
Haque is korrek wanneer hy sê VSA 2022 is in die moeilikheid. Maar wat van RSA 2022?
............

Haque is korrek wanneer hy sê VSA 2022 is in die moeilikheid. Maar wat van RSA 2022? Sy kriteria het nie gewerk vir 1993/1994-RSA nie. Ek wens ek kon met sekerheid in my gemoed sê hy is ook verkeerd oor 2022 RSA, en dat ons weer ’n wonderwerk kan verwag.

Ons het egter nie meer die politieke en morele leierskap wat in die 1990’s bestaan het nie. Ons het eerder leiers wat xenofobie aanhits, wat korrupsie verpersoonlik en wat die kultus van persoonlikheid aanmoedig. Natuurlik is daar altyd ruimte vir nuwe leiers om na vore te tree. Maar watter leierskap het ons nou, en in watter mate beïnvloed hulle groepe om hul gedrag aan te pas en te verander? Imtiaz Sooliman van Gift of the Givers is een naam wat van oor die politieke en geloofspektrum respek afdwing. Daar is min ander.

..............
Ons geheime wapen is nou, en was tot groot mate toe ook, gewone Suid-Afrikaners wat net eenvoudig weier om as politieke speelballe gebruik te word. Dit lyk nie altyd so as daar na sosiale media gekyk word nie, maar ons gee om vir mekaar.
...............

Ons geheime wapen is nou, en was tot groot mate toe ook, gewone Suid-Afrikaners wat net eenvoudig weier om as politieke speelballe gebruik te word. Dit lyk nie altyd so as daar na sosiale media gekyk word nie, maar ons gee om vir mekaar. Ons baklei soos kat en hond onder mekaar, maar die oomblik dat ’n krisis dreig, staan ons bankvas by mekaar.

Dit was nog altyd ons behoud. Kom ons bid dat dit in die onsekere toekoms wat ons binnegaan, steeds ons behoud sal wees.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top