Die EFF-grendelpoging: Wat beteken dit vir Suid-Afrika?

  • 2

Wat beteken die aanloop tot, verloop en afloop van die EFF se grendelpoging (shutdown) vir die EFF, ander politieke partye en Suid-Afrika se korttermyn politieke toekoms?

Die aanloop tot die grendelpoging het beteken dat die EFF die derde van die drie groot opposisiepartye was wat massaoptogte teen beurtkrag gehou het. Die DA en die IVP het ook al hul optogte gehou, maar die EFF s’n was die grootste en het die meeste aandag getrek.

Die rede hiervoor is voor hande, naamlik dat die EFF ’n baie anargistiese indruk van hulself geskep het, en by baie Suid-Afrikaners die beeld het van onrussaaiers, moeilikheidmakers en afbrekers. Koelbloedige retoriek van die EFF-leierskap, by name die partyleier, Julius Malema, soos “Oorwinning of Dood” skep ’n rewolusionêre beeld. Rewolusies en gerugte van rewolusies maak almal met iets om te verloor meer as net ’n bietjie bekommerd. Niemand wil spoke opjaag of skrik vir koue pampoen nie, maar niemand wil ook onkant betrap word of alles verloor nie.

In Suid-Afrika is daar juis tans ’n lossigheid in die lug. Iets is vaardig; alles is nie pluis nie. Vertroue en selfvertroue is laag, veral vertroue in die regering en staatsinstansies, soos die polisie. Dis ’n tydsgees van onsekerheid, soos ons laas in die vroeë 1990’s beleef het. En hierdie keer is daar geen FW de Klerk en Nelson Mandela in sig nie.

Vir die EFF was die grendelpoging belangrik om hul steun te toon. Geen massaoptog gaan ’n duit verskil maak aan enige elektrisiteitkrisis nie. Dit het die DA korrek uitgewys – ’n insig wat hulle ontsnap het tydens hul eie, heelwat kleiner en ewe futiele massaoptogte enkele weke gelede. Die IVP het hul massaoptog wyslik tot Durban beperk. Wat die DA, EFF en IVP gemeen het, is dat hul massaoptogte maar ’n geval van “aanhou beweeg en geraas maak” is, eerder as dat dit as sulks ’n poging is om landsprobleme op te los. Dis mos volgende jaar weer verkiesing.

Vir die EFF kom die ietwat onsuksesvolle grendelpoging op ’n ongemaklike tyd. Die afgelope ses en ’n half jaar – sedert die plaaslike regeringsverkiesing van 2016 – heers daar ’n meningsverskil in die EFF oor wat hul rol in regering moet wees om te kan groei. Daar is drie denkskole, en ’n vierde en vyfde terugvalposisie.

Die eerste denkskool is dat die EFF moet saamwerk met die ander opposisiepartye teen die ANC. Hierdie denkskool het sedert 2016 nog telkens die oorhand gehad in die sentrale bevelspan – die 25 topleiers in die party. Daarom het die EFF telkens ná 2016 met die DA en ander opposisiepartye saamgewerk teen die ANC.

Daardie eerste EFF-denkskool het in 2016 een groot taktiese flater begaan. Nadat die EFF aanduidings gegee het dat hulle met die opposisiepartye sou saamwerk, het die ANC baie luidrugtig aangevoer die EFF het sy townshipkiesers in die steek gelaat deur met die DA saam te werk – dat die EFF uit opportunisme en in ruil vir posisies voorgee hulle is links van die regering, en dan in die bed spring met diegene regs van die regering, soos die DA, IVP en VF Plus.

Met dié dat die eerste denkskool so half onverwags die meerderheid steun in die sentrale bevelspan gekry het (sowel Malema as sy onderleier, Floyd Shivambu, was daarteen, maar moes by die meerderheid berus), het die EFF in 2016 die flater begaan om (in reaksie op die ANC-bewering van indicate left, turn right) in te stem om die opposisiekoalisies te steun sonder om enige uitvoerende leiersposisies vir hulself op te eis.

Dit het beteken hulle kon geen EFF-beleid implementeer nie, wat beteken het hul kiesers se EFF-stemme het beleidsgewys niks beteken nie. Toe die DA later (nadat dié party in 2019 regs geswaai het in ’n tot dusver onsuksesvolle poging om hul steunverlies aan die VF Plus te probeer teenwerk) besluit het om nie meer met die EFF saam te werk nie, het dit die meer gematigde eerste denkskool (van opposisiesamewerking) binne die EFF se posisie benadeel.

Die tweede denkskool binne die EFF oor die EFF se rol in regering is om met die ANC saam te werk. Daar is rede om te glo dit is eintlik Malema se voorkeur, of dat dit al by tye sy voorkeur was. Die gedagte word ook rondgegooi dat die EFF mos uit die ANC ontstaan het, so samewerking sal eintlik hereniging wees. Enigeen wat dink dit is so eenvoudig, vergeet dat daar in die magspolitiek niks so bitter as broedertwis is nie. Gaan kyk maar na die Afrikanerpolitiek van die 1980’s – alle buitestaanders het gemeen die NP en die KP hoort eintlik maar saam, maar ingeligtes het geweet dit is onmoontlik. Eweseer is dit waar dat waar die bloed letterlik vloei tussen die EFF en ’n politieke opponent, daardie politieke opponent gewoonlik die ANC is.

Waar die tweede EFF-denkskool dus strategies versigtig moet trap, is tydsberekening. Die stryd tussen die ANC en die EFF is naakte, brutale magspolitiek. Beginsel en beleid is nie afwesig nie, maar dit is ’n bysaak. Indien die een kant die ander nie kan vernietig nie, is die tydsberekening van samewerking deurslaggewend. Dit moet uit ’n magsposisie geskied. Uit ’n EFF-oogpunt kan samewerking met die ANC dus net gebeur as die ANC genoegsaam verswak kan word sodat die EFF die ANC kan insluk. Anders gaan die ANC die EFF insluk, en dan loop EFF-leiers weer die gevaar om verswak of uitgeskop te word, soos in 2012 gebeur het toe baie huidige EFF-leiers in die ANC-jeugliga was.

Benewens die verswakking van die eerste EFF-denkskool soos uiteengesit, het drie verwikkelinge die tweede EFF-denkskool die afgelope paar jaar versterk. Die eerste is dat die huidige korps ANC-leiers regtig baie oud is, en dat die volgende generasie taamlik treurig en oninspirerend voorkom. Daar is dus ’n komende leiersvakuum. Die tweede aspek is dat die DA se skuif na regs en gevolglike verlies aan swart leiers die grond braak laat vir die EFF om ontevrede swart ANC-kiesers aan te keer. Die derde aspek is Panyaza Lesufi se verkiesing tot die ANC se provinsiale voorsitter en premier van Gauteng.

Lesufi was reeds in 2012 een van die sterkste stemme in die ANC teen die skorsing van Malema en sy destydse jeugliga-trawante. Nou het hy ’n ooreenkoms moontlik gemaak wat in praktyk binnekort kan beteken die ANC beheer Johannesburg en die EFF beheer Ekurhuleni. Daardie ooreenkoms is nog nie vas nie en kan ontspoor as die nasionale ANC-leierskap – teen die onlangse geskiedenis in – murg in hul pype ontdek. Die tweede denkskool binne die EFF, naamlik samewerking met die ANC, staan dus die sterkste sedert 2016, hoewel steeds wankelrig weens die werklikhede van die brute magspolitiek, soos hierbo verduidelik.

Die derde denkskool binne die EFF oor die EFF se rol in regering is dat die EFF met niemand moet saamwerk nie – ’n tipe hedendaagse verdraaiing van die Steve Biko-spreuk: “Swart man, jy staan alleen.” Aanduidings is dat Floyd Shivambu as EFF-onderleier ’n sterk voorstander hiervan is. Die noodwendige nadeel wat so ’n strategie se sukseskanse tans uitknikker, is die EFF se lae steunvlakke – hulle het nêrens genoeg steun om op hul eie te wen nie. Veral in die drie groot kusprovinsies – KwaZulu-Natal, die Oos-Kaap en die Wes-Kaap – kry die EFF die een rooi bloedneus op die ander in tussenverkiesings. Daarom sal die populistiese retoriek van die EFF dikwels klink asof die derde denkskool die oorhand het – asof die EFF met sulke gaar, gedaan Jeeps deur die hekke van die Uniegebou gaan jaag om die landsregering rewolusionêr oor te neem as ’n tipe hedendaagse reïnkarnasie van hul Kubaanse held, wyle Fidel Castro. Terwyl min mense sal stry dat Malema, Shivambu en die res van die EFF se diknekke sekerlik sulke drome het, is die ondersteuningsgetalle net nie daar om dit vir die derde denkskool te maak werk nie.

Wat ons dus vierdens en vyfdens bring by die twee terugvalposisies, wat die hedendaagse debat in die EFF dikwels rig, en met hierdie week se grendelpoging weer duidelik te siene was in al sy teenstrydigheid, sowel in Malema se toespraak verlede Vrydag in Soweto ter aanloop tot Maandag se grendelpoging, was in die EFF se optrede Maandag.

Die eerste terugvalposisie is dat die EFF meer konstruktief moet wees as hulle sukses wil behaal, en dat hulle moet wys hulle kan verantwoordelik regeer en die gemeenskap tot diens wees. Hul pogings om eerstens met die ander opposisiepartye (veral die DA en die IVP) saam te werk in koalisies waar die EFF ook ’n uitvoerende regeringsrol sal vervul, moet in hierdie lig gesien word. Nadat eers die DA en later (op ’n heel ander manier) die IVP nee gesê het vir die EFF se samewerkingsplanne, het die EFF se nuwe samewerkingsplanne met Lesufi se Gautengse ANC gevolg. ’n Verdere aanduiding van die EFF se meer konstruktiewe pogings is die huidige Andries Tatane-projek waar EFF-lede elke naweek townships skoonmaak en opknap, wat – so sal alle Suid-Afrikaners tog sekerlik saamstem – ’n baie nodige en goeie projek is waarvoor die EFF krediet moet kry.

Maar die tweede terugvalposisie – dat die EFF destruktief moet wees en die huidige politieke stelsel en bestel in Suid-Afrika rewolusionêr moet vernietig sodat iets nuuts tot stand kan kom – het ook steeds baie steun en is skynbaar ingeburger in die EFF se grein. Hul gedrag elke jaar by die staatsrede, hul ontwrigting van burgemeestersverkiesings in stadsrade waar hul kandidate verloor, en les bes hul bloedstollende aansprake in die aanloop tot hierdie grendelpoging, dra by daartoe dat die meeste Suid-Afrikaanse kiesers, wat beskryf kan word as aspirerende kiesers wat voorbeeldige gedrag van hul leiers waardeer, die EFF die rug bly toekeer. Daarom wen die konstruktiewe opsie stadigaan meer veld binne die EFF, al is die destruktiewe neiging steeds sterker.

Die grendelpoging het as destruktiewe optrede begin en as konstruktiewe poging geëindig. Daar was nie geweld of plundery om van te praat nie. Die rede hiervoor was waarskynlik pragmaties, naamlik die onverwags goeie optrede van die polisie en weermag. ’n Mens kan amper nie glo die land het soveel polisie nie – waar is hulle op ’n gewone dag? Wat die weermag betref – so drie en ’n half duisend van hulle is nou vir ’n maand ontplooi teen ’n ontstellende R166 miljoen. ’n Mens weet nie wat die koste van die polisie-ontplooiing was nie.

Die vraag is natuurlik wat sou gebeur het as daar nie so baie polisie- en weermaglede ontplooi is nie, en dis waar daardie raam van onsekerheid wat hierdie gebeure as tydsgees omvou, so belangrik is. Niemand kan ooit regtig weet wat sou gebeur het as pres Kennedy byvoorbeeld nie in 1963 geskiet is, of Jan Smuts en Paul Kruger nie in 1899 ’n ultimatum aan die Britse regering gestuur het nie. Maar met ’n mate van studie kan ’n mens wel ’n aanvoeling ontwikkel, en wat die grendelpoging betref, is ’n mens se aanvoeling dat die EFF Maandag so ver sou gaan as wat hulle toegelaat sou word om te gaan. Dit is die ontplooiing van die veiligheidsmagte en voorbereidings soos die verwydering van potensiële brandstof soos buitebande wat verseker het die EFF gedra hulle.

Vir die Suid-Afrikaanse politiek gaan hierdie grendelpoging van die EFF nie die werklikhede in die aanloop tot die 2024-verkiesing veel verander nie. Kiesers bly kwaad vir die ANC oor die vyf redes wat die EFF heel korrek gelys het: die elektrisiteitkrisis, hoë lewenskostes, hoë werkloosheid, hoë misdaad en swak leierskap deur pres Cyril Ramaphosa. Kiesers soek ’n alternatief, maar met die DA wat regs swaai (en maar hoop hul persentasie steun styg indien swart kiesers van die stembus wegbly), nuwe partye soos ActionSA en die Rivonia-kring wat groeipyne ervaar, GOOD wat in die ANC se sak is, die IVP wat op KwaZulu-Natal fokus en die VF Plus wat aan etniese minderheidsgroepe se belange voorkeur gee, sit swart kiesers met die hande in die hare en bly die EFF ’n alternatief. Die swak opkoms by die grendelpoging wys egter dit is nie tans ’n genoegsame alternatief vir swart kiesers nie, met weliswaar nog heelwat tyd voor die 2024-verkiesing.

Vir die EFF is hul verdelingslyne (die drie denkskole en twee terugvalposisies) en dus ook hul opsies in die magspolitiek nogmaals duidelik deur die mislukte grendelpoging omlyn. Hulle sal keuses moet maak of aanhou aankarring met stadige groei in die plattelandse binneland en ’n gesukkel aan die kus en in die stede. Daardie keuse is hulle s’n.

En Suid-Afrika? Die land slaak ’n sug van verligting – die appelkar staan steeds. Dit was nie ’n herhaling van Julie 2021 in Gauteng en KwaZulu-Natal nie. Hierdie keer het die polisie en weermag puik gevaar, en geluk aan hulle (en dus ook aan Bheki Cele, of hoe?). Maar wat is die koste? Wat kon gedoen word met die seker minstens R200 miljoen regstreekse koste waarvan die geld aan veiligheidsmagte bestee is, om van die geleentheidskoste aan byvoorbeeld sakeondernemings nie te praat nie.

Wat dus van Suid-Afrika? Ons leef voort in hierdie tydsgees van onsekerheid. Ons byt vas. Dit is miskien die bevestiging hiervan wat die grootste nalatenskap is van hierdie grendelpoging wat genadiglik misluk het. Dit is tog altyd vreemdweg gerusstellend dat ons land se beste historikus, CW de Kiewiet, reeds in 1941 geskryf het Suid-Afrika ontwikkel deur ekonomiese gelukskote en politieke katastrofe. Dalk bly dit waar. Dalk is dit wel, soos die joernalis Ken Owen beweer het, altyd kwart voor middernag in Suid-Afrika. Miskien is hierdie onsekerheid ons lot, soos hierdie mislukte grendelpoging weer aantoon. Minstens tot die volgende keer.

(Jan-Jan Joubert is ’n politieke joernalis en skrywer wat tans besig is met ’n doktorsgraad in politieke wetenskap aan die Universiteit van Chester)     

Lees ook op LitNet en LitNet Akademies:

Het olifant ’n muis gebaar? #NationalShutdown

Sal die Suid-Afrikaanse konstitusionele demokrasie die huidige krisis wat die bestel in die gesig staar oorleef?

Houdings in verband met protesaksie in Suid-Afrika

  • 2

Kommentaar

  • Is swart Suid-Afrikaners by implikasie "links" net omdat hulle swart is? Miskien verstaan ek nie "links" en "regs" so lekker nie. Vir my het hierdie terme meer met ekonomiese beleid as met ras te make. En baie Suid-Afrikaners is nie "links" nie. Trouens, Suid-Afrika is 'n konserwatiewe land en baie mense wil 'n stukkie grond besit waarop hulle 'n huis kan bou.

    Die DA se probleem is die ou probleem van partypolitiek. En dit is, die party is demokraties na buite maar outokraties na binne. Die topleiers bly die kitaar slaan.

  • Sakkie Spangenberg

    Die DA het homself hier in Tshwane in die voet geskiet. Om nommers op stembriewe aan te bring in 'n poging om raadslede verantwoordbaar te hou, was dwaas. Dom, dommer, DA. Nou speel die twee groepe in die Tshwane-stadsraad ping-pong en kyk wie gaan die langste uithou. Van goeie stadsbestuur is daar nie meer sprake nie. Kiesers is besig om vertroue in die DA te verloor - ook op nasionale vlak. Die klomp kan strategies nie goed beplan nie. Hulle nie kan insien dat die kieserskorps swart leiers soek nie. Geen politieke party met 'n leierskorps wie se gesigte wit is, gaan aftrek kry nie. Ons woon in Afrika.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top