Op die lang pad na vryheid

  • 0

’n Drie en ’n half meter groot standbeeld ter ere van oudpres Nelson Mandela is op 25 September in Den Haag onthul. Dit het die hoogtepunt gevorm van die afgelope somer se tentoonstelling The Rainbow Nation. Twee-en-dertig Suid-Afrikaanse beeldhouers het daaraan deelgeneem. Die eregas tydens die onthulling van die standbeeld was aartsbiskop Desmond Tutu, terwyl die Mandela-familie verteenwoordig is deur Ahmed Katrada. In Hotel Bel Air is die verrigtinge deur ’n uitgebreide program voorafgegaan. Tydens hierdie program én tydens die onthulling buite het dit geblyk dat vryheid iets is waarvoor nog daagliks gestry moet word. Die vryheid van die kunstenaar is geen geringe onderdeel daarvan nie.  

Aanvanklik sou die standbeeld op 18 Julie (Mandela se 94ste verjaarsdag) onthul word. Die Nederlandse beeldhouer Arie Schippers het twee en ’n half jaar daaraan gewerk. Uiteindelik het die onthulling op die dag na Erfenisdag plaasgevind. Schippers het geen spreekbeurt op die program gekry nie. Dit is iets waaraan kunsliefhebbers in Nederland baie waarde heg. Schippers se vryheid is deur ’n kunskommissie aan bande gelê ten opsigte van die manier waarop hy Mandela as die beliggaming van vryheid kon uitbeeld.

Dit moes ’n vollengte standbeeld wees – iets wat nogal ouderwets is in die hedendaagse kunswêreld. Mandela dra die uniform van die twintigste en een-en-twintigste eeu – ’n westerse pak. Sy staphouding visualiseer konkreet sy “long walk to freedom”. Hierin is weinig simboliek, behalwe miskien vir die paar kaalvoet spoortjies in die sement agter hom. Die onthulling van die standbeeld het nogtans baie aandag getrek.

 

Standbeeld van oudpres. Nelson Mandela: Long Walk to Freedom.

Daarteenoor het die Natalse sonskyn in Howick op 5 Augustus’n kragtige en hedendaagse standbeeld van Mandela die lig laat sien. Dit herdenk die dag van Mandela se inhegtenisname in 1962 op presies die plek van sy inhegtenisname. In die Afrikaanstalige pers het hierdie onthulling nouliks aandag gekry, ondanks die feit dat die Suid-Afrikaanse kunstenaar van die werk die internasionaal bekende Marco Cianfanelli is. ’n Foto daarvan is gesirkuleer. Cianfanelli se monumentale werk van Mandela bestaan uit vyftig beweeglike staalkolomme tussen ses en ’n half en nege en ’n half meter hoog. Op die staalstawe is ’n portret van Mandela wat na die westekant toe oor die Midlands uitkyk.  As die wind deur die panele waai, verwys dit nie net na Mandela se jare in gevangenisskap nie, maar ook na baie onderdele wat saam ’n volledige prentjie vorm. Die gloeiende heuwels adem vryheid.  

Het die Suid-Afrikaanse kunstenaars wat deur Museum Beelden aan Zeeuitgenooi is om deel te neem aan die tentoonstelling The Rainbow Nation dieselfde vryheid van artistieke uitdrukking ervaar as Strijdom van der Merwe toe hy in Nederland was? Van der Merwe was in 2009 verstom oor die algehele vertroue en vrye hand wat hy gekry het om te doen wat hy wou. Geen voorskrifte, voorleggings, keuringskomitees of ander sogenaamd belanghebbende kommissies het met sy werk ingemeng nie. Op hierdie selfde vraag aan een van die huidige deelnemers antwoord Angus Taylor: “Vryheid. Ja, ek het algehele vryheid gehad. Die kurator het spesifiek vir Disclosing Decay (2008) gevra. Intussen het my gedagtegang ‘n bietjie geskuif en ek wou graag Layers of Being aanbied. Dit het moeite gekos om hulle te oortuig, maar hulle het (nadat hulle ingestem het) baie gedoen sodat dit kon gebeur.”

Angus Taylor staan by Disclosing Decay (2008) waarmee die somertentoonstelling, The Rainbow Nation, in Den Haag geopen is

The Rainbow Nation was ’n maande lange oorsigtentoonstelling van die Suid-Afrikaanse beeldhoukuns. Die publiek kon op verskillende plekke in Den Haag die beeldhouwerk uit Suid-Afrika se pad loop: vanaf Anton van Wouw tot Mary Sibande. Dit was rofweg in drie geslagte van kunstenaars verdeel.

Dis die kunstenaars se soeke na verskillende tipes vryheid wat die tweede en derde generasie opvallend van mekaar onderskei. Onder die tweede generasie val onder andere Willem Boshoff, Willie Bester, David Brown en William Kentridge. Hulle kuns was en is steeds in diens van die stryd teen apartheid – vir politieke vryheid. Die kunstenaars van die derde generasie hou hulle besig met persoonlike vryheid. Nicholas Hlobo veg vir sy homoseksualiteit. Mary Sibane probeer haar ma en ouma se rol as bediende in die Suid-Afrikaanse samelewing verwerk. Nandipha Mntambo werk teen die stereotipering van vroulikheid met haar harige koeivelskulpture. Wim Botha se soeke na vryheid voer hom deur die burokratiese en religieuse gange van die individu se bestaan met beeldhouwerke uit Bybels, telefoonboeke en ander owerheidsdokumente.

Aanvanklik het Claudette Schreuders ’n stryd gehad omdat sy as wit vrou hout gekies het as haar materiaal van artistieke uitdrukking. Uit die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse beeldhoukuns is dit ’n tradisionele materiaal van swart kunstenaars. Haar vryheid moes sy voetjie vir voetjie verwerf. In Schreuders se smal, oorvereenvoudigde houtbeelde speel moederskap en kinders ’n prominente rol.

Twee kunstenaars het tydens die opening in Junie persoonlik hulle werk kom toelig op die Lange Voorhout. Dié buitelugtentoonstelling was ‘n onderdeel van The Rainbow Nation. Taylor en Gordon Froud was sigbaar ontspanne. Albei die kunstenaars is betrokke by wat tans in die Suid-Afrikaanse samelewing gebeur. Froud se taxibusse uit duisende plastiekhangers reageer op hierdie vorm van openbare vervoer in Suid-Afrika. Taxibus het hy met ’n duik voor in die modderskerm gebou. As demonstrasie van wat daagliks op die paaie gebeur, het hy daarvoor gaan lê. Die vryheid wat hy hier beleef, het hom die vrymoedigheid gegee om van Taxibus ’n vervlietende “performance” te maak – ’n ander vorm van hedendaagse kuns.

 

Gordon Froud maar van sy Taxibus (2010-2011) 'n "performance" op die Lange Voorhout in Den Haag.

Vir Taylor was die erkenning van sy werk op die Lange Voorhout soet. Ses jaar gelede moes sy reus Positive voor die woonstelblok Cape Sands in die Strand verwyder word  omdat dit aanstoot gegee het. Die inwoners het nie die kunstenaar sy artistieke vryheid gegun nie. Die naakte beeld van 750 kg staan nou by Karoo I. Layers of Being op die Lange Voorhout was weer ’n naakte knielende reus, maar hier het dit nie vooroordele uitgelok nie. Inteendeel. The Rainbow Nation is geopen met die onthulling van Disclosing Decay deur koningin Beatrix.  

Die standbeeld van Mandela kompeteer wat formaat betref goed met die beelde van Taylor en boesem ontsag in by die publiek. Aan die einde van die onthulling gebeur die magic. ’n Vrou gaan sit haar hand in Mandela s’n vir ’n foto. Dit lyk asof sy ’n treetjie wil saamloop op die lang pad na vryheid. Nog ’n dosyn of meer volg haar voorbeeld. Dit is soos pelgrims wat die voet van ’n heilige aanraak. Beeldhouer Arie Schippers se oë skitter. Hy weet sommer dat daardie hand binnekort gaan glinster. In my kop draai skielik en onwillekeurig die deuntjie:

“Put your hand in the hand of the man who stilled the water
Put your hand in the hand of the man who calmed the sea
Take a look at yourself and you can look at others differently
By putting your hand in the hand of the man from Gallalee.”

Op 28 September is die afsluitingsfunksie van die tentoonstelling gehou met die simposium Mixing the Colours of the Rainbow. Lize van Robbroeck van die Universiteit Stellenbosch se lesing  het oor die herskryf van die Suid-Afrikaanse kunsgeskiedenis gegaan.  

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top