Suid-Afrika en die terugbons-faktor

  • 3

Wat maak dat sommige nasies kan terugbons van terugslae, terwyl ander sukkel om weer op die been te kom?

Neem Rwanda as voorbeeld. Volksmoord, burgeroorlog, buurman wat teen buurman opgestaan en mekaar vermoor het, vroue wat deur mense wat hulle ken, verkrag is, massagrafte waar liggame soos vullis gestort is, haat wat op radio aangeblaas is, predikante wat moord van die altaar af verkondig het. Niemand sou hulle verkwalik het as hulle vir ’n ruk lank net eers hul wonde gelek en herstel het nie. Instede daarvan het hulle die nasie in Afrika geword wat sekerlik bekend is as die skoonste en mees ekologies verantwoordelike land op die kontinent.

Dan is daar Duitsland. Niks wat hier gebeur het, was onwettig nie. Nie in terme van Duitse burgerreg nie. Daar was wette, en ’n begroting, wat voorsiening gemaak het vir plekke soos Auschwitz, waar staatsmasjinerie ingespan was om groepe sistematies uit te wis. Daar is die Berlynse muur, en alles waarvoor dit gestaan het. Vandag word die Duitse kanselier allerweë beskou as die leier van die vrye wêreld.

En dan is daar Suid-Afrika. Die land van apartheid, en politieke verdwynings, en Robbeneiland en Vlakplaas. Die land van die reënboognasie en die 2019-rugbywêreldkampioene. Die land waar swart mense vir so lank onderdruk is, maar terselfdertyd die land waar ’n swart rugbykaptein as ’n held aanbid word. Die land waar die eerste demokraties verkose president wêreldwyd vereer is as ’n simbool van versoening verpersoonlik. Die land waar mense op rassegronde die een oomblik mekaar in die hare vlieg, maar vir tagtig minute kan verenig om hul span op die sportveld aan te moedig.

Wat maak hierdie lande anders as soveel ander? Dis tog nie die enigste lande wat onderdrukking op ’n stadium ’n nasionale tydverdryf gemaak het nie. Dis ook nie net die regte leierskap, polities of burgerlik, wat die verskil maak nie. Natuurlik help die regte leiers op die regte tyd. Dink maar net hoe anders Suid-Afrika daar sou uitsien indien Zuma ons eerste president was en nie Madiba nie.

Maar sonder die bereidwilligheid en die regte ingesteldheid van landsburgers help al die Madibas in die wêreld niks. Dis gewone mense op die straat wat ’n nasionale versoeningsprojek maak of breek. Die Madibas en die Kolisi’s neem leiding daarin om iets beter te droom, maar eers wanneer Jannie en Sannie in daai droom inkoop, kan die magic waar droom en realiteit mekaar ontmoet, gebeur. Dis die vermoë van gewone mense om vir ’n oomblik van hulself te vergeet en in iets groters te glo, die vermoë om terug te bons van feitlik onmoontlike odds, wat die verskil maak. Dis die vermoë om die gevestigde narratief op sy kop te draai wat die verskil maak.

Ek weet van rugby bitter min, maar ek lees iewers dat die Sprngbokke hierdie naweek geskiedenis gemaak het deurdat hulle die eerste span ooit is wat wêreldkampioene word nadat hulle ’n wedstryd vroeër in die reeks verloor het. Dis ’n span wat weet van terugbons na ’n terugslag. Dis ’n span wat weet wat dit beteken om jouself af te stof, op te staan en terug te baklei, al veg jy ver buite jou gewigsafdeling. Dis ’n span wat weet van aanhou en uithou.

Gelukkig is dit nie net op die sportveld waar ons dit sien nie.

Hierdie naweek is daar weer foto’s en berigte van vreemdelinge wat otheemd gelaat is deur xenofobiese aanvalle, en nou uitsetting deur die staat in die gesig staar. Dit het in verskeie sentra deur die land gebeur. Een foto uit die Kaap bly my by. Honderde mense het skuiling gaan soek by die Metodiste-kerk by Groentemarkplein, lank bekend as ’n kerk en christen-gemeente wat sosiale geregtigheid ernstig opneem.Voor die deur is ’n trok van Gift of the Givers, ’n organisasie met sy wortels in die Moslem-tradisie van zakat, besig om goedere af te laai. Twee gelowe wat so maklik in stryd met mekaar kon wees, maar wat verkies om saam te werk om reg te laat geskied.

Hoe gelukkig is ons nie?

Daarom het ek baie hoop vir hierdie land. Wild en woes soos wat dit soms gaan, gefrustreerd soos wat ons soms voel, is daar tog iets lewegewend, iets hoopvol, aan die manier hoedat ons mense op die mees onverwagse oomblikke kan handevat en saamstaan.

In die Anglikaanse kerk word daar elke Sondag die gebed vir Afrika gebid. Dit gaan so. “God bless Africa. Guard her children, guide her leaders and give us peace. For Jesus Christ’s sake. Amen.”

Nkosi Sikelel’ iAfrika

 

  • 3

Kommentaar

  • Avatar
    Lief-vir-SA Vlakvark

    Graag verneem ek van Bettina en alle Suid-Afrikaners presies wat is die Suid-Afrikaanse “nasie” se Nasie-Visie? Wat maak ons oor die toekoms gelukkig opgewonde?

    Watse nalatenskap oftewel legaat gaan die “nasie” aan die Suid-Afrikaanse nageslagte nalaat? Groot staatskulde wat die nageslagte sal moet afbetaal? ‘n Verskroeide aardebeleid teenoor die omgewing en natuurlewe? ‘n Oorbevolkte werklose verarmde honger samelewing gevul met skaamte en minderwaardigheidsgevoelens? ‘n Massa onopgevoede onopgeleide verlore generasie jeug? ‘n Slawejeug wat verslaaf is aan verdowingsmiddele? Paar sport sukses herinneringe? Pap, sokker, rugby, krieket balle en kougom om die stemvee gelukkig te hou? ‘n Waardestelsel van “demand and entitlement”? ‘n Kinderoppasser (“nanny”) regering?

    Menigde inwoners van Suider Afrika was die afgelope sowat 1000 jaar deur wit en swart imperialistiese kolonialiseerders en meelopers verneder, beroof, misbruik, verkrag, van hul gronde verdryf en selfs vermoor. Geen mens of groep is heilig of heiliger as andere nie.

    Die vraag is: “Wat het ons as Suid-Afrikaners geleer uit die suksesse en foute van Suider-Afrika se verlede? En hoe kan ons naasteliefde en regverdigheid bevorder sonder om onregverdighede van die verlede te vervang deur nuwe onreverdighede onder die rookskerm van demokrasie en die besluite van die meerderheid nie?”

    Ons moet fokus op onderwys, opvoeding, opleiding, kreatiwiteit, werkstrots, ekonomies wêreldkompeteerbaarheid en wedersydse respek en om geduld te beoefen.

    Wat gaan ons nageslagte van ons lewensuitsette dink? Raai maar self. Probeer ten minste net ‘n opbouende verskil in hierdie lewe te maak.

    Amen. Ek gaan nou lekker koffie saam met Ben Bosvark en Willie Wildevark en Erna Erdvark drink en gesels oor wat dit beteken om waarlik gelukkig te wees.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top