Woorde wat migreer. Die resultate van ons fiksie-kompetisie

  • 0

Het jy al die vreemde halfmenslike bome in die Göreme-vallei in Turkye gesien? Het jy al op iemand verlief geraak op ’n bus iewers tussen Mosselbaai en Colesberg? Ken jy die mense van Mqanduti in die Oos-Kaap? Het jy al ’n koppie koffie langs die standbeeld van John Lennon in Havana gedrink? Weet jy boonop hoe om koffie in Sydney te bestel? Ken jy die musiek van Berlyn ... die afdraaipaadjies van Provence? En weet jy hoe om geliefdes en geliefde landskappe in Karasburg in Namibië vaarwel te roep?

Deur ons 44 inskrywings in ons fiksiekompetisie, “Reisende skrywers”, te lees, kan jy al hierdie ervarings op verskillende verrassende en versteekte plekke beleef. En soos jy uit bostaande paragraaf kan aflei, gaan dit nie juis oor die plekke self nie, maar oor die persoonlike, individuele ervarings waarvan ons verskillende aspirant- (maar ook ’n paar reeds-gepubliseerde) skrywers getuie was wat die verhale so boeiend maak.

Tien verhale speel in Europa af: vier in Frankryk, drie in Oostenryk, een in Duitsland (Berlyn), een in Spanje (Barcelona) en een in Italië (Sorrento). Oor die algemeen is hierdie verhale reisverhale – maar elkeen individueel ingekleur en uit ’n persoonlike perspektief vertel. Anton Döckel skryf byvoorbeeld oor ’n afgryslike besoek aan die Mauthausen-konsentrasiekamp in Oostenryk, Anita van Rensburg oor haar eie liefdesverdriet tydens ’n skivakansie in die berge van Oostenryk, en Joanita Erasmus deel ’n merkwaardige gesprek met ’n ou dame met ’n potsierlike hondjie op ’n trem in Wene. Marike Snyman kom openbaar die geskiedenis, kos en argitektuur van die wynlande van die Elsas en Magda Janse van Rensburg die sitrusgeure van Sorrento.

Op die twee Amerikaanse vastelande kom twee kontrasterende en uiteenlopende stede ter sprake: New York en Havana; in Asië die Anatoliese landskap in Turkye; en weer eens, in kontras hiermee, die paradyslike eiland Ko Samui in Thailand. In Australië skryf Ilse van Staden baie treffend oor haar verblyf in ’n keerweer in Queensland en Dorothy Cilliers oor ’n vakansie in Sydney. Op die Afrika-vasteland was Lagos in Nigerië, Kaïro in Egipte en Karasburg in Namibië gepaste ruimtes vir onderskeidelik ’n snaakse, ’n wonderlike en ’n teder-hartseer verhaal.

 Die meeste verhale speel egter in Suid-Afrika af. Daar word van spesiale vakansie-ervarings in Paternoster (“Daai Paties-kyk” van Hannes Steyn), Keurboomstrand (“Keurbooms se kersboom” van Stef Delport) en Pringlebaai (“Die Hengelaar” van Chris Wait) vertel. Spoke en skimme kom blykbaar ook op verskillende plekke van die Suid-Afrikaanse landskap voor: perdskimme in Kaapsehoop, spoke op Norwalspont en ’n verhaal oor ’n kind wat soek geraak het in die Drakensberge.

Jeugherinneringe kom volop in die inskrywings voor. Ilse van Staden skryf uitstekend oor haar “kaalvoettyd” in Vaalwater in die Waterberge; Lydia Willems deel haar kinderjare aan die hang van die Platberge in Harrismith en kontrasteer dit met die geografiese ruimte van Wallis. Suné Nel-Coetzee vertel van ’n besoek aan ’n plaas naby Pofadder, waar sy grootgeword het, en Ockert du Preez vertel van jeugherinneringe in ’n woonbuurt met die ironiese naam “Sonlandpark” in Vereeniging.

Dit is duidelik dat ruimtes in baie van die verhale ’n simboliese betekenis het. Lees gerus “Molopo” van Elsa van der Watt, “Elamshal” van Adriaan Coetzee en “Op pad” van Paula Hartzenberg.

’n Paar van ons reisverhale gaan nie oor spesifieke plekke, stede of dorpe nie, maar
beskryf eerder ’n reis van een punt na ’n ander (“Die Reisgenoot” van Joanita Erasmus, “Van Muizenberg tot Musina op die rug van ’n muis” van Henk Seymore en “Kaap toe, Klein Katryn” van Trudy Coetzee).

Stef Delport se “My reis met boeke” en Magda Janse van Rensburg se “Etikette op my reistas” kan as essays beskou wat bespiegel oor die waarde van reis (hetsy werklike reise of reise deur woorde).

En dan moet Henk Seymore se “Kom vertrek op ’n retoer-koekeloer toer” ook genoem word. In hierdie stuk verklap hy nooit die dorp waaroor hy skryf nie, maar moedig eerder die leser aan om self nuuskierig daardie vraag aan hom in ’n e-pos te rig.

Baie dankie aan almal wat deelgeneem het aan ons poging om wêrelde met woorde te verbind! Binnekort word die wenner van ons kompetisie aangekondig. Hou LitNet asseblief dop!

Tot binnekort!
Rentia

Europa

1.       Eguisheim, Elsas, Frankryk:   “Les Trois Châteaux”, Marike Snyman
2.       Bennwihr, Elsas, Frankryk: “Stoesel”, Marike Snyman
3.       Provence, Frankryk, “... afdraaipaadjies in Provence”, Magda Janse van Rensburg
4.       Parys, Frankryk, “Parys”, Una Beukman
5.       Wenen, Oostenryk: “Gesprek”, Joanita Erasmus
6.       Mauthausen Konsentrasiekamp in Oostenryk, “KZ Mauthausen”, Anton Döckel
7.       Kaproen, Oostenryk: “Sneeupyn”, Anita van Rensburg
8.       Berlyn, Duitsland, “Die helde van Berlyn”, Thomas Channell
9.       Barcelona, Spanje: “Barcelona”, Liza Louw
10.     Sorrento, Italië: “’n Sitrus-somer”, Magda Janse van Rensburg

Noord-Amerika

11.     New York, Amerika: “’n Wêreldreis tussen stedelinge”, Liza Louw

Suid-Amerika

12.     Havana, Kuba: “Koffie met Castro”, Estelle Nagel

Asië

13.     ?rk?p, Middel-Anatolië, Turkye: “Die halfmens-boom”, Joanita Erasmus
14.     Eiland Ko Samui, Thailand: “Vakansie in die Paradys”, Lisl Rossocha

Australië

15.     Gladstone, Queensland: “Keerweer”, Ilse van Staden
16.     Sydney, Australië: “Koffie en sand”, Dorothy Cilliers

Afrika

17.     Kaïro, Egipte: “Piramides van Giza”, Lana Lubbe
18.     Lagos, Nigerië: “Aankoms in Lagos”, Petra Courtney
19.     Karasburg, Namibië: “Koebaai”, Elsona Viljoen

 

 

Suid-Afrika

Wes-Kaap:

20.     Kaapstad en Kalkbaai: “Kaapse keuses”, Renée du Toit
21.     Pringlebaai: “Die Hengelaar”, Chris Wait
22.     Paarl: “Die belofte”, Merle Danhouse
23.     Keurboomsstrand, Plettenbergbaai: “Keurbooms se kersboom”, Stef Delport
24.     Paternoster: “Daai Paties-kyk”, Hannes Steyn

Limpopo:
25.     Northam: “Elamshal”, Adriaan Coetzee.
26.     Magoebaskloof: “Kom saam na Magoebaskloof!”, Trienie Mahne
27.     Vaalwater: “Kaalvoet deur die Waterberg”, Ilse van Staden
28.     Kaapsehoop: “Kaapsehoop”, Ronel Gill

Noord-Kaap:
29.     Norwalspont: “Die spook van Norwalspont”, Lourens van Schalkwyk
30.     Die Molopo: “Molopo”, Elsa van der Watt
31.     Plaas naby Pofadder: “Huis toe”, Suné Nel-Coetzee

Gauteng:
32.     Zwartkop: “’n Warm reis in die koue”, Stef Delport
33.     Plaas naby Maropeng: “Op die plaas”, Lettie du Preez
34.     Vereniging: “Stoutwees in Sonlandpark”, Ockert du Preez

Vrystaat:
35.     Harrismith: “Een swaeltjie maak nie ’n somer nie”, Lydia Willems
36.     Bethulie: “Bethulie”, Louis van Tonder

Oos-Kaap:
37.     Mqanduti: “Op pad”, Paula Hartzenberg

KwaZulu-Natal:
38.     Drakensberg: “Dwaalspoor”, Murray Retief

Reise:

39.     Busrit van Mosselbaai tot Karoo: “Die Reisgenoot”, Joanita Erasmus
40.     Te reis deur te lees: “My reis met boeke”, Stef Delport
41.     Reis van Muizenberg tot Musina: “Van Muizenberg tot Musina op die rug van ’n muis”, Henk Seymore
42.     Reis van Pretoria na Kaapstad: “Kaap toe, Klein Katryn”, Trudy Coetzee
43.     Reise oraloor: “Etikette op my reistas”, Magda Janse van Rensburg

Onbekende plekke:

44.     “Kom vertrek op ’n retoer-koekeloer toer”, Henk Seymore

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top