Donker onweerswolke wat bokant jou kop dreig, digte, spierwit mis wat soos klam vingerpunte teen jou enkels optrek en rillings teen jou ruggraat af laat kriewel, happerige hoekpunte van ruwe rotse wat bokant die mistigheid ronddryf en die spookgestaltes van kaal anoreksiese takarms wat in die ligte briesie waai, sorg vir ‘n benoude, onheilspellende landskap – as jy een van die paranormale soort is.
Vir die res van ons vriendelike volk wek die dowwe, mistige en doodstil landskap ‘n gevoel van geheimsinnigheid en misterie. Dit vertel van laggende feetjies tussen die boomblare en skaam tuinkabouters wat agter groot rotse en welige jasmynranke wegkruip. Die perfekte plek vir ‘n volbloed Ier wat huis toe verlang. Dit is waar ek nou is.
Kaapsehoop in Mpumalanga: ’n poskaartgrootte dorpie, so ‘n bietjie meer as honderd inwoners, vyf en twintig kilometer suidwes van Nelspruit. Reg bo-op ‘n plato langs die digte Berlinwoud, en een van die baie min plekke in Suid-Afrika waar wildeperde vrylik ronddwaal. En met vrylik bedoel ek waarlik vrylik, tussen die inwoners, en tussen die besoekers. Dit is nie snaaks om eers ‘n paar minute in jou motor te moet wag totdat merrie en vulletjie ‘n ander weiplek gaan soek voordat jy met ‘n geruste hart kan uitklim nie.
Vir die inwoners natuurlik, is ‘n vreesbevange gesig van ‘n toeris wat deur ‘n gedierte drie keer haar grootte agtervolg word net iets om kopskuddend oor te glimlag.
Party vertel dat die perde meer vry as waarlik wild is. “Waar kom hulle vandaan?” vra ek verskrik. Die antwoorde wat ek kry, verskil natuurlik van inwoner tot laggende inwoner. Party het te sê dat hierdie klompie afstammelinge is van ongeveer tweehonderd perde wat ‘n honderd jaar gelede uit hul kampe “ontsnap” het, en vir die een of ander rede is daar net nie moeite gedoen om hulle weer terug te jaag nie. Ander sê weer dat die helfte van die perde glad nie in die vlees met ons is nie. En dat die res – dis nou die vleeslikes – afstammelinge is van perde wat gedurende die Anglo-Boereoorlog deur die Britse troepe agtergelaat is. Maar een waarskuwing klink in albei stories op: Die perde is nie mak nie, so moenie mak met hulle raak nie. Die perde is deur die jare al vir talle hospitaalgevalle en vir net soveel noodlottige ongevalle verantwoordelik.
En net so, van die een gesprek na die ander, bring die perde ons terug by die geskiedenis van die pragtige klein toeristedorpie. ‘n Geskiedenis wat enige paranormale fanatikus se tone van lekkerte sal laat omkrul.
In 1882 ontdek iemand ‘n goudklont. Voordat jy kan sê “hoes”, is al wat prospekteerder is daar, en so ontstaan die dorpie Duiwelskantoor (so genoem omrede die permanente mistige omstandighede). Bykans oornag. Met meer as twee duisend families wat op die plato saamtrek op soek na ‘n klontjie geluk. Maar geluk in Duiwelskantoor was maar skaars. Net so vinnig as wat die dorpie ontstaan het, verval dit weer in ‘n spookdorp.
Die oorblywende prospekteerders verander toe die dorpie se naam na Kaapsehoop, in hoop dat die geluk wat in die Kaap gevind is, ook aan hulle toegeken sal word. Maar helaas, die geluk het skaars gebly. So skaars dat daar teen die 1940’s net so ongeveer sestien moedelose en baie gefrustreerde inwoners oorgebly het. En dit is dan ook net hier, volgens legende, waar al die paranormale aktiwiteite ontstaan het.
In een van die kroeë wat voorheen ‘n ruilhandelaar was, sit spookprospekteerders soms saam met die toeriste en drink en verdwyn dan weer wanneer hulle opgemerk word. In ‘n ander een weer is daar ‘n klein meisietjie wat na bewering op jou skoot klim en jou hare streel terwyl jy eet. Maar dit is net die “mak” gevalle, volgens die inwoners. Wag tot jy snags hier is ...
Somtyds hoor jy die verskriklike gille van ‘n kind wat histeries om hulp roep. Blykbaar het daar in die 1950’s ‘n groot brand ontstaan en ‘n ma en kind het doodgebrand in een van die geboue. En dan is daar die verrimpelde ou tannie wat deur die nou straatjies dwaal. Volgens legende was sy ‘n alkoholis wat haar man in ‘n bedwelmde oomblik van onbeheerbare jaloesie met ‘n byl dood gekap het.
“Al die geeste op ons dorpie is darem nie boos nie,” vertel een van die inwoners. “Ons het goeies ook, soos die kinders wat soms giggelend van pret tussen die rotsblokke baljaar.”
Hoe dit ook al sy, waar of verbeelding, die plekkie is pragtig; in my oë meer fenomenaal as paranormaal. Die mense is vriendelik en die kos om van te droom. Definitief ‘n plek om te besoek as jy weer in die Laeveld.


Kommentaar
Hierdie is 'n fantastiese artikel - ek wil nou sommer na Kaapsehoop gaan vir ons volgende vakansie. Ek dink regtig dis ons land se klein dorpies wat soms die mooiste stories maak.
Dankie Ronel, vir die pragtige verhaal. Ek het ook daar grootgeword vanaf 1958 maar ons het op Coetzeestroom 'n bosbouplantasie ongeveer 6 km vanaf Kaapsehoop gebly. Kan jy my dalk ook meer oor Coetzeestroom se ontstaan kan vertel?