"Het julle geweet ons ry nou oor die langste brug in Suid Afrika?" vra ek so in die algemeen terwyl ons Bethulie nader.
"Genuine, Pa?" vra my oudste vanuit die agterste sitplek.
"Ja, teen 1,2 km is dit die langste in Suid Afrika, en ek praat onder korreksie, maar die D.H. Steyn-brug is ook die langste pad-en-spoor-brug in die Suidelike Halfrond, en daarby ook die hoogste teen 51 m."
"Sal mens doodgaan as jy hier afval, Pappa?" kom dit van my jongste.
"Beslis, my liefie, want as jy nie dood is van die val nie, gaan jy in die Oranjerivier verdrink."
"Kan ons ’n bietjie stilhou om 'n koffietjie te drink?" vra Vroutjie.
"Dis 'n goeie plan. Ek wil al lankal hier by die konsentrasiekamp-kerkhof stilhou om in die verlede te delf. Dan kan ons sommer ook 'n bietjie bene rek."
"Wat is 'n konstrasiehof, Mamma?" vra my nuuskierige jongste en ek weet by voorbaat dit gaan nou 'n vraag-en-antwoord-sessie word. Nie dat ek of Vroutjie omgee nie, want dit is tog immers hoe mens jou kennis opdoen.
"'n Konsentrasiekamp is 'n plek waar iemand sy vyand aanhou, amper soos tronke, maar die mense word nie toegesluit in 'n sel met tralies nie. Dis 'n groot kamp wat omhein is met draadheining sodat die mense nie kan uitkom nie."
"O. Hoekom gaan ons soontoe, Mamma?"
"Ons gaan bietjie kyk wat alles gebeur het ... die kamp bestaan nie meer nie, maar ons wil sien waar dit was en daaroor oplees. Dit was meesal vroue en hul kindertjies wat hier aangehou is, en duisende van hulle is hier dood."
"Waar is hul Pappas dan gewees?"
"Dit was met die Boereoorlog, my kind. Die mans het gaan veg teen die Engelse en die oorlog het baie lank aangehou. Omdat die Engelse nie die Boere kon oorwin nie, het hulle die mammas en hul kindertjies en ook die ou mense gevang en in die kampe gesit. Daarna het hulle die huise en landerye afgebrand sodat die Boere nie kos kon kry nie."
"Ek sou hulle vrek geskiet het, Pa! Hulle sou nie naby ons huis en Ma en Sussie gekom het nie!" kom dit heldhaftig van Ouboet.
"Die oormag was te groot, my seun, en baie van die jong seuns is saam met die kommando’s uit op patrollies om te veg. Baie van die plase was onbeskermd ... so ja, hier is ons. Kom ons gaan kyk ’n bietjie wat hier aangaan."
Die eerste ding wat my tref toe ek die motor se deur oopmaak, is die snerpende koue van die oggendwind. Dis nog vroegoggend en plek-plek lê die ryp nog op die dooie gras. Die wind sny deur murg en been, en ek is gouer terug in die motor as wat ek uitgeklim het. "Kom ons drink eers die koffietjie in die kar ... dis vrek koud buite. Ek kan nie help om aan die vroue en kinders te dink wat die wintermaande hier moes deurbring nie, en onthou hulle het in tente gebly en met net die minimum klere wat hulle kon saambring."
"Waar is die tente nou, Pappa?" vra Kleinding.
"My liefie, dis al lankal weg, die oorlog is oor 'n honderd jaar gelede verby. Al wat hier oorgebly het, is die grafte van die kindertjies en hul mammas wat hier doodgegaan het. Kyk anderkant die hek, sien jy daardie muur? Dis 'n gedenkmuur met al die name van die mense wat hier dood is. Kyk, daar agter is 'n monument wat ook opgerig is, en daar sien jy nog 'n paar grafte in die veld."
"Kan ons gaan kyk, Pa?"
"Ja, Ouboet, ons gaan nou. Trek julle net warm aan, die luggie is yskoud buite."
Ons stap na die gedenkmuur waar rye op rye name opgeteken is. Voor is die inwydingsplaat; die inwyding is op 10 Oktober 1966 deur wyle C.R. Swart waargeneem. Die kindertjies is opgegrawe en herbegrawe omdat daar 'n moontlikheid was dat die ou begraafplaas sou verspoel as die Verwoerddam te vol raak.
"Wat staan alles daar, Mamma?"
"Dis al die name van die kindertjies wat hier dood is, my kindjie, 1 737 altesame."
"Sjoe! Dis baie! Hoekom is daar so baie kindertjies dood?"
"Die meeste is dood aan siektes soos maagkoors en masels. Ander is dood van die honger en dors. Die kindertjies het baie siek geword omdat die water uit die spruit so besoedel was."
"Wat is besoedel, Pappa?"
"Dit is wanneer die water vuil raak. Hierdie kamp het sy water van 'n fontein uit die berg gekry wat in 'n stroompie hier verbygevloei het. Die Engelse het natuurlik eerste vir hulself gesorg en die meeste water is na hul kamp gepomp. Daarna het dit verby die swart kamp gevloei. Baie swart werkers van die Boere is ook hier aangehou, en dan eers het die bietjie water wat verbyvloei by die vroue en kinders uitgekom. Onthou ook dat baie mense sommer in die spruit gewas en dit moontlik ook as latrine gebruik het. Al daai kieme was in die water en daarom was dit so besoedel."
"En dis ook hoekom hulle hierdie ‘Moordspruit’ en ‘Moordkamp’ genoem het," las vroutjie by.
Ons stap verder na die monument toe. Dis kort ná die oorlog deur die Engelse as 'n versoeningsteken opgerig, maar is nooit heeltemal voltooi nie. Ek kan ook verstaan hoekom. Hoe kon daar versoening gewees het ná soveel lyding en moord? Hoe bitter moes die Boere nie ná die uitwissing van hulle geliefdes gewees het nie? Gestroop van hul besittings en grond.
Nog verder aan is daar weer mure met van die oorspronklike grafstene ingemessel. Die oorspronklike klipstene vertel 'n hartseer verhaal ... soveel kinders is dood nog voordat hulle regtig kon lewe. Die een klip ná die ander, almal vertel dieselfde verhaal.
My vroutjie lees hardop en ek kan aan haar stem hoor dit raak haar net so diep soos vir my: "Hier rust Johannes Schoeman, Geb 29 Jun 1899 Ovl 28 Feb 1902 Nooitgedach."
Twee en 'n half jaar oud, dink ek, en seker niks anders as net swaarkry beleef nie.
"Grafsteen van FJC Smal, Geb 14 Jun, 1900 Ovl 22 Aug 1901," lees my vroutjie verder.
Ek draai om en stap terug, my gemoed swaar. By die gedenkmuur staan ek weer en lees die gedigte van Celliers en Totius wat op die muur geskryf is :
Daar lê 'n skat vir ons bewaar op Vaarlands veld, in Vaarlands aarde.
O waar is edelsteen of goud wat haal by onse skat se waarde?
Dis Moedertrane en Heldebloed en Reg verkrag deur snood geweld.
Dis oumens-swakheid wreed bespot dis kindergraffies op die veld,
En niks kan ons die skat ontroof of ons die vrug daarvan onthou.
Dis onse Volk se vryheidspand en dis die skat wat nasies bou.
— Celliers
Maar tog het daardie boompie
weer stadig reggekom,
want oor sy wonde druppel
die salf van eie gom.
— Totius
Ons klim in die motor, elkeen besig met sy eie gedagtes. Terwyl ek deur die mooi dorpie ry, maak ek 'n aantekening in my gedagtes dat ek op 'n volgende keer weer hierlangs gaan kom om die ander geskiedenis wat Bethulie bewaar te kom opsoek: die Pellisier-huismuseum, die Perdemonument, die Ossewa en die Louw Wepener-monument ... skatte van 'n ryk geskiedenis.


Kommentaar
Ons was ook al by die lang brug en die konsentrasiekamp.
Daar is oulike oornagplekke in Bethulie, 'n hotel en eetplekke.
Moenie net deurry nie, vertoef daar.