Koebaai

  • 1

As ek en Mamma die pad Namibië toe vat, moet jy weet die kar is gepak. Oorlede Pappa het altyd gesê dis ‘n vroueding – die baie kospakkies. Die kattebak is feitlik leeg. Dis asof daar geen dorp tussen ons en Karasburg is nie. Sus bly mos daar. Haar man het haar verneuk en nou gaan ons haar haal.

Ons beplan darem nou nie een van daardie maandkuiertjies waar die vis al begin ruik soos Mamma sou sê nie, maar net ‘n naweek. Net om haar te help uitsorteer wat is myne en wat is joune. Gelukkig is daar nie kinders nie. So dit gaan pak en laai en terug Kraaifontein toe wees. Haar man is juis die naweek op een van sy hyg-avonture. En buitendien het ek net Maandag verlof.

Toe die son sy kop oor die Olifantsriviervallei gooi, maak ons ons eerste stop by die Clanwilliamdam. Mamma kan nie meer so maklik bossies toe nie, want die knieë wil nie meer nie en die skoene bly nat.

Ons het vanoggend sommer met hoenderkraai op die N7 geklim. Al met die blou streep langs. Verby die twee emme in die Swartland, Malmesbury en Moorreesburg. Dan die twee p’s, Piketberg en Piekenierskloofpas. Ons ry verby Citrusdal, geleë tussen die Olifantsrivier en die rotstuin van die gode, die Sederberg. Dan al langs die loop van die Olifantsrivier vir meer as 100 km tot waar die rivier by Klawer noordoos wegswaai.

RSG kraak tussen die koppies en so ook ons kake. Ons ry Namakwaland by Vanrhynsdorp binne, waar ons weer stop. Sommer vir al die nommers. Brandstof inkluis. Dis nou die dorp met sy marmer- en gipsmyne en blykbaar die grootste vetplantkwekery ter wêreld. Dan Garies met sy granietkoppies. By Kamieskroon is dit namakwa-madeliefies en vygies. Die Nama-Khoi het van th’amies gepraat. ‘n Deurmekaarspul. In hierdie geval die wanordelike verspreiding van die granietkoepels. Ons ry oor die Burke’s-pas en sien verspreide kokerbome en hier en daar ‘n halfmens. En eindelik bereik ons Springbok, hoofstad van Namakwaland.

Die Yaris loop ligvoets verby Okiep. Noord van Steinkopf kruis die N7 die waterlose vlakte voordat ons die maanlandskap tegemoet ry. Dis massiewe granietdagsome en die pad vleg met die Vyfmylpoort se kronkels na Vioolsdrif. Lieflike besproeiingsgrond begroet ons langs die Oranjerivier. Ek weet nie hoekom nie, maar mens se mond raak ontsettend droog by ‘n grenspos. Ons ry stadig oor die 350 m lange brug oor die Oranjerivier en Namibië binne.

Die pad verander na die B1. ‘n Kilometer noord van die grenspos stop ons by die Camel Lodge. Dis nou vir brandstof en ‘n ‘g’ en tee. Dis soos Mamma praat. “Gin en tonic.” Die warmte lê nog in my maag toe ons by die C10, so 5 km voor Grünau, afdraai, op pad na Karasburg.

Ons koop ‘n melkbrood op die dorp en ry die laaste 10 km suid op die M21 tot by die plaashek. Dis oop. Ek en Mamma kyk vir mekaar. Sug. Trek ons skouers op. En ry soos in ‘n lykstoet die werf binne, net ons ligte brand nie.

Die huis is koel. Die atmosfeer koud. Sus is maer en plooierig. Ook maar die lewe wat haar so gemerk het. Terwyl ons in die halfdonker kombuis sit en koffie, sê Mamma: “Ja, Sus.” Mamma sug. “Mamma het nooit kon dink jou blindederm sal lank genoeg wees om jou goed te pak en te loop nie.” “Bedoel Ma nou my ‘guts’?” Mamma knik haar kop. “As jul pa sulke loslootjies gehad het, sou ek die eerste dag geloop het. Maar ek is bly jy het tot ‘n besluit gekom. Jy is mos nie ‘n sponskind nie.”

Ons drie stap soos die “three blind mice” in die donker huis. Hoe donkerder, hoe koeler. In elke vertrek staan ons stil, kyk en wonder. Sus kan alles vat wat in die kar se kattebak pas. Die meubels kom nog van haar man se oupa af wat ook maar die kat in die donker geknyp het. So eintlik kan sy net haar persoonlike goedjies, bietjie trougeskenke en beddegoed vat. Maar dis môre se worries.

Die twee sweet-warm dae het gevlieg. Alles is in die kar gepak. Ons drie se reisklere lê reg en ons slaapgoed moet in Spar-sakke by Sus se voete kom; sy gaan agter sit. Dis om haar tyd te gee om in privaatheid te grens. Môre-oggend wil ons ry voor die hitte ons vang.

My selfoon se alarm maak my vyfuur wakker en toe ek in die kombuis kom, sit Sus reeds met rooi oë by die kombuistafel. Net ‘n hoop verfrommelde tissues om haar geselskap te hou. Haar jeugdeeg afgehuil. Ek maak vir ons koffie en neem Mamma s’n kamer toe.

Ek begin haastig raak. Die huis wil my keel toedruk. Sus draai. Mamma draai. Hulle is nou regtig soos twee “tannetjies hekel”. Dis nou om Mamma se woorde vir “ou ladies” te gebruik. Ek roep vir Sus om klaar te maak. Ek wil nog vir Mamma roep, maar bedink my en besluit dis darem nou bietjie oneerbiedig. So ek stap maar na haar kamer.

En daar lê sy steeds in die bed. Ek kan onmiddellik sien daar is fout. Groot fout.
“Sus!”

My gil trek deur die Namibiese vlaktes tot by Keetmanshoop. Sus storm in. “Ag, liewe fok! Net nie dit nie!” Sus begin huil en huil. Ek sluk swaar, maar besluit iemand moet kophou. “Het julle ‘n dokter hier rond?” Ek voel weer aan Mamma se pols. Sit my oor teen haar neusgate. Niks. Absoluut niks. Ja-nee, sy is dood.

“Wat gaan ons maak?” En daar skree Sus weer. Hierdie keer klink dit na jakkalse wat skaap vang.

“Ek weet nie wat nie, maar ons kan haar nie hier los nie! En ons kan dit nie bekostig om haar met ‘n ambulans of lykswa Kaap toe te vervoer nie. Wie gaan dit betaal?” Ek loop heen en weer by die bed se voetenent. Sus het darem in die tussentyd Mamma se gesig met die laken toegegooi.

Ek gaan haal die mat in die voorhuis. “Help my dan rol ons Mamma in die mat toe.” Sus se oë verpiering.

“Hè?”

“Daar is nie tyd vir ‘hè’ nie. Ons gaan Mamma nie hier los nie en ons kan haar nie Kaap toe koerier nie. So ons vat haar saam. Ons rol haar in die mat toe en laat haar op die agtersitplek lê.”

So gesê, so gedaan. Toe ons deur die plaashek ry, het Sus vergeet om vir oulaas na die huis te kyk, want Mamma rol amper van die sitplek af toe ons op die M21 draai.

“Ek ruik vir Mamma,” sê Sus. “Oukei! Dan draai ek die aircon vol oop sodat Mamma nie ruik nie!” Ons bewe van die koue. Ek stop en ons haal ons K-way-baadjies uit. Sus draai haar ook nog in ‘n kombers toe. Toe ons op die B1 draai, tref dit my soos ‘n bom. ‘n Atoombom. Hoe gaan ons met ‘n lyk deur die grenspos kom?

“Sus,” sê ek amper onhoorbaar. “Ons het een moerse probleem. Hoe verklaar ons Mamma op die grens?”

En daar tjank Sus weer. “Ek wil nie tronk toe nie!”

Ek ry al hoe stadiger. Voor ons lê die toringkranse van helderkleurige rots wat bokant die grenspos uittroon. Ons kyk, maar sien niks raak nie. Ons kry koud. Ons binneste bewe. Ons het klaar besluit. Sus het keelinfeksie en kan nie praat nie. My blaaie en elke liewe vou is natgesweet. Ek begin sigarette kou. My bene is lam. My knieë wil onder my padgee toe ons by die grenspos uitklim. Ek maak darem seker Mamma se hare of voete steek nie uit nie. “Ag, liewe Vadertjie! Help ons asseblief vandag!” Dis reeds oor die 30 grade en ons staan met sonbrille, dik baadjies en Sus nog met haar kombers om haar gedraai in die doeanegebou. Ek laat val my paspoort soos ek bewe.

“Everything okay?” Ek sluk en skud my kop.

Buite wag die polisie. “Anything to declare?” Ek voel hoe stoot die angs-kots op en voor ek kan antwoord, gooi ek. Die ou se gepolishde boots vol spatsels.

Hy vervies hom. “Go! Go!”

En daar “go” ons. Ek met stukkies van vanoggend se beskuit in my neus. Sus sit soos Lot se vrou.

Nou nog by die Suid-Afrikaanse kant. Ek en Sus stap eers badkamer toe. Ek moet gorrel en snuif. Dan na die doeane-ry terwyl Mamma buite in die kar lê met die son wat van bo af bak.

Niemand vra vrae nie. Niemand deursoek die motor nie. Ons klim in en ry omtrent 2 km. Ek stop. Daar is nie eers ‘n doringboom in sig nie. Ek haal die halfjackie uit die kattebak. Skink twee bekers koffie en gooi twee dubbels in elke beker. Ek gaan sit langs die agterwiel. Plat op die grond met my polisiekoffie en ek begin lag en lag en lag. En toe kom die trane ... 

Koebaai, plaaskuiertjies. Koebaai, Namibië. Koebaai, Mamma.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top