Kom, my kind. Kyk vinnig: Pretoria se reën wat die venster in druppelbersies toevou. Sommer net vir oulaas. Is daai ’n druppel op jou wang? Vas met die gordel. Sit agteroor. Klein Katryn, as jy wil, kyk agtertoe, (onthou tog om agterna te vergeet). Daar rol die doudruppel tot saggies op jou mou.
Kan jy sien die pad is nog besig? Voel die gespin om die spitsverkeer. Motors wat kou en sluk en uitspoeg. Al hoesend en proesend die N1 in. Die snelweg is ’n haastige plek, moenie te veel kyk nie. Die deurmekaar bewegings sal jou mal maak. Dit voel soos ’n warrelwind, my kind, voel hoe haas hulle hul verby. Maak jou oë toe as jy wil. Die geharwar is amper verby. Hou jy nog jou hand vas, Klein Katryn?
Dit voel soos seisoene later, dit is nou meer plattelands en klein. Kyk die roosbosse wat oorkant wink, vir jou en vir my. ’n Uitgekerfde dorpie dra die naam van Bloemfontein. Die vulstasie is effe primitief, goedkoop en vriendelik.
Ons gaan nou verder ry, Klein Katryn. Ek gooi ‘n paar Myprodols in my keel af. ’n Bietjie koffie ook. Dis lekker, wil jy ook hê? Die pad is nog op pad ja, maar ons hou nog uit, kind, dit word net mooier van nou af.
Die teerpad voel te stads vir waar hy skielik nou staan. Effens bleker en meer stof as dit waaraan ons gewoond is. Hou vas, hier moet ons stadig ry. Kyk die koppies daar ver wat soos gelukkige gesinne oor die landskappie strek. So ’n armsalige mooi.
Die Karoo stof haar voorskoot af en uit – ’n paar klippies en blare rol. Droogheid en moedeloosheid breek uit elke krakie in die grond. Is jy nou al wakker ná al daai lang ure se geslaap, Klein Katryn? Maak jou oë oop, ons is amper tuis.
Colesberg pas gemaklik soos ’n handskoen vanaand. Hier in ’n klein Karoolike huisie gaan ek en jy slaap. Lyk dit nie mooi genoeg om te verf en versier nie? Kom ons kleur die mure in en sing en dans en sing.
Daar is die badkamer, uitgeprent in ou keramiek. Langs die deur ’n klein boekrak wat swaar dra aan ‘n klomp boeke wat nog ruik soos alles wat antiek is. Alice in Wonderland, Die Nuwe Testament of Petronella van die Kaap, wat wil jy hoor, my kind?
Kom ons gaan krul op teen die kaggelvuur met katte en kombersies. Eerder nie. Dis slaaptyd en jou ogies is moeg. Lekker slaap, my Klein Katryn.
O, voel jy die heerlike oggendbriesie wat so saggies aan jou wang kom streel? Ruik jy die sandsteen en skalie, kind? Kom, stap saam met my. Ons drink ’n laaste koppie tee saam met die vriendelike tannie van oorkant. Miskien kry jy weer tuisgemaakte goedjies wat lekker is om te eet?
En hoe snaaks jou glimlag nou vir die uitrusting wat sy dra. Die rok is ’n vuil pienk met ou daisies daarop gekrap, tog te koddig, tog so mooi. Die skoentjies: vaal, bruin en deurgeloop. Deurgetrap, eerder. Trots bevestig haar glimlag die dun sole waarop sy werk. Klein Katryn, dis vriendelike mense dié.
Kom, my kind. Sit saggies agteroor en vas met die gordel. Klein Katryn, as jy wil, kyk agtertoe, (onthou tog om agterna te vergeet). Is daai ’n doudruppel op jou wang?
Sien jy die prentjies in die vensters? Van voëltjies wat sing en in die stof rondtrippel. Duiwe wat dans op die slap telefoondraad. Tog so lewendig vir die lewelose plek. Dis die suurstof in die lug my kind, daar is heeltemal te veel. Ek sien Tannie Karoo, Klein Katryn, wat ’n glimlag op jou gesig kom plak.
Die middagson en ons. Nou by die Engen 1-stop in Beaufort-Wes. ’n Geskiedkundige, poëtiese plekkie. Kyk die kerktoring wat doer uitsteek. Eendag is jy groot genoeg om dit ook te verstaan.
En nou? Is die ontbyt dan nie lekker nie, Klein Katryn? En die roomys? Jy het skaars jou mond daaraan gesit.
Voel jy dit in die lug? Dis Beaufort-Wes se asemhaling deur leë vensterrame en die wind. Dis ’n tevrede hartseer wat in my hart kom lê, sien jy die beautiful people wat die strate versier? Sommiges in armoede, ander in plesier. Onder bome wat soos dooies bo die straat uittoring. Maar, Klein Katryn, dis bitter lekker hier.
Hierdie is amper ons laaste wegtrek van hierdie stille avontuur. Is jy gereed daarvoor? Skielik ry ons vinniger, want nou is ons haastig op pad. Die portrette teen die vensters is steeds vermaaklik genoeg. Ons maak stories en sing liedjies daaroor. (Vlugtig verby ’n paar wynplase, maar jy is nog te jonk daarvoor.)
Die jong boompies kronkel kromrug en mooi, soos jy, Klein Katryn. Jy lyk mooi daar waar jy sit, my kind, op jou troontjie in die kar. Jy wuif vir iets daar buite, koninklik verby. Kyk, daar hardloop ’n paar apies oor die pad. Kaalstert en sonder skaamte, hulle laat jou lag. Jy gooi jou kop agteroor, dit blink en bloei in die son. Die sproete op jou wang spring vanself rond. Sien jy die Kaapse lug wat ons skielik omsingel?
Bo alles en ’n paar geboutjies steek ’n blou strokie in die hemel uit. “Dis die see,” sê jy, en lag met die selfvertroue van ’n kind. Ons is hier, Klein Katryn, dis die nuwe begin.
Dis ’n sirkus in die dag, iets dramaties in die nag. Gekleed in allerlei walms en diskoligte. ‘n Hart pomp onder die teer, wat die sypaadjies laat kraak. Gewels en gekleurde mure staan effe snobisties om elke hoek en draai. Rookwalms skakeer die moderne lug in ’n growwe tekstuur.
Klein Katryn, dit ruik soos impressionisme hier. Daar lag iemand wat verby ’n kunswerk stap. Ander skreeu vir mekaar, vloek mekaar met handgebare. Hoor die arm man hier langs ons wat oor die Weskus sing. Kom ons dans op die metrum van ’n outydse geraas.
Ons hardloop in my Ford deur Langstraat. Voel jy die Suidoos se selfsugtige geruk? Kyk die geboue wat vasstaan en hom trotseer. Is die stad baie anders hier? Skuins soontoe is Groentemarkplein. Geraam in Afrika-lappe en krale en diere van hout.
Ruik jy dit nou? Die sout in die lug. Duskant lê die V&A, ’n besige bedryf van arbeid en vermaak. Die adellikheid van die hele Wes-Kaap. Mense spartel soos miere, effens intimiderend, maar kunstig en interessant. “Welcome to Cape Town,” lees ek iewers in die haastige verbygang raak.
Sien jy daar bo? Dis nou die heiligdom: Tafelberg. Kyk hoe na aan die hemel groei hy. Hou homself bewaker. Klein Katryn, hy kyk uit oor al die mense en bewegings van die stad.
Sommiges slaan hul oë op na hom vir antwoorde. En hy luister soms. Hy is wys. Partykeer staan hy sommer so tussen reg en verkeerd. Tussen die lelik en die mooi. Steeds elke dag, ewe aantreklik. Jy hou reeds van hom, nè kind?
Nou skielik die gevoel dat ons amper tuis is. Dit raak stiller. Kleiner. Lyk kompleet soos ’n kunsdorpie hier waar ons nou is. Miskien soos iets uit ’n ander tyd. Die huisies is almal eenvoudig, en kyk die tuintjies, Klein Katryn. Dit lyk asof feetjies binne bly. Kyk die kleurryke plekkies, outyds en fyn. Hulle pryk soos die oumense van hierdie stad.
O, daar sien ek dit in die verte. Ons huisie: nommer 12, as ek reg onthou. Sit vorentoe. Kom, my kind. Af nou met hierdie gordel wat jou vasdruk. Klein Katryn, as jy wil, kyk agtertoe, (vergeet tog om agterna te onthou). Daar voor is ons Kaapse huisie, in die mooi voorstad Boston. Kom ons klink ’n onskuldige glasie op die Kaap vanaand, my kind.
Klein Katryn, ons is uiteindelik weer by ons nuwe begin.

