Dwaalspoor

  • 0

Die ligte wind kom van die berg se kant af en bring ’n bytende koue oor die kampterrein wat my dwing om my baadjie nog stywer om my nek toe te trek. Dis vroeg Aprilmaand. Ek staan op van waar ek met die tentpenne besig was en loer in die rigting van Cathkin Peak. Die berg is toe onder ’n digte miskombers en net die nederige voetheuwels rondom Monks Cowl is nou sigbaar.

Ek is bly ons kon ’n hele ruk voor donker al hier aankom, want die dag sal ons nog genoeg tyd toelaat om die sirkelroete van vier kilomenter na die Sterkspruit-waterval aan te pak. Dit het onlangs heelwat gereën en die veraf gedruis van die watermassa kan jy selfs tot hier in die kamp hoor.

Dit is egter nie al wat my in die rigting van die voetpad wat oor die rantjie verdwyn dwing nie. Daar is ’n dringendheid diep binne, ’n soeke wat hom nie deur geduld of rede laat onderdruk nie. Ek is warm op die spoor van ’n verhaal waarvan ek onlangs te hore gekom het, ’n merkwaardige verhaal van heldhaftigheid, van twee jong broers en ’n nag in die Drakensberg. In my verbeelding het ek my reeds die opeenvolging van gebeure voorgestel, maar nou wil ek self die weg daarvan oor die berglandskap agterna loop.            

Teen die namiddag val ons in die pad wat jou eers deur die halfdonker van ’n inheemse bos lei. Die grond is nat en modderig onder ons voete. Plek-plek moet ons teen die steilte uit of aan die laaghangende takke vasklou waar die paadjie heeltemal onbegaanbaar geraak het.

Ons stap uit die bos die oopte in en gaan staan stil. Vir slegs ’n paar jaloerse oomblikke lig die berg haar sluier voor die magtige pieke as die mis skielik padgee. Dis die grootsheid daarvan wat my telkens onverhoeds betrap en tot stilstand ruk om sonder woorde op die loutere dimensie ag te slaan. Die absolute omvang. En die stilte. Hier is daar net die eensame geruis van die wind in die gras. Ek maak myself sit op ’n plat klip by ’n vurk in die pad. Aanwysings met pyltjies wat die rigting aandui, is netjies op die klip uitgekerf.

Op hierdie selfde pad moes die vyftienjarige Frikkie Scheepers saam met sy boetie van vier, Liam, hul aanneem-ma en dié se dogtertjie ook een oggend na die waterval toe geloop het. Die seuns het T-hemde en kortbroeke aangehad, Frikkie met tekkies aan sy voete en Liam met sandale en ’n hoed. Hulle sou egter nie saam tot by die waterval vorder nie. Hier naby êrens moes die ma besluit het om met die dogtertjie, wat begin siek voel het, terug te draai. Sy het die seuns agtergelaat om na die waterval te gaan kyk en hulle gevra om dan onmiddellik die pad terug kamp toe te volg.

Ons maak weer aanstaltes en van hier af loop jy met ’n effense helling afdraand tot waar die water met geweld oor die krans stort en in die dieptes aftuimel. Ons kan mekaar skaars hoor praat bo die bruisende water. Die lug is gevul met ’n sagte vogtigheid wat in die kloof afgesweef kom en die wêreld om ons oortrek. Selfs waar ons op ’n afstand by die uitkykpunt staan, kan ek die fyn druppeltjies klammigheid op my gesig voel saampak.

Van hier af sou die seuns besluit het om na die poele te gaan kyk. Dit is seker nog so ’n kilometer of wat met dieselfde pad langs.

Ons laat die geluid van die water algaande agter soos ons berg se kant toe swenk en aanloop tot by die afdraai na die poele. Dit moes hier gewees het waar die seuns reguit aangehou het in plaas daarvan om met die paadjie na links terug te stap kamp toe.

Die veld na die poele toe is klipperig en glad en ons moet mooi trap om nie te gly nie. Hier vloei die rivierloop tussen ’n paar groot rotse deur waar die water in diep kuile saamkolk. Ek kniel in die skadu van ’n boomvaring om hande vol van die vars water op te skep en te drink. In die warm seisoen sou ’n mens sonder twyfel ’n bietjie wou lyf natmaak.

Ná ’n rukkie by die rivier moet ons die pad huis toe begin aandurf, want die tyd stap aan en die daglig vervaag voor die naderende skemer.

By die kruising van die paaie gaan ek eers weer staan en kyk die seuns agterna waar hulle bergop in die rigting van Blindman’s Corner verdwaal, Frikkie met sy boetie in ’n drasak op sy rug. Hy kon dit toe nog nie besef het nie, maar dit sou deels die warmte van sy rug wees wat gehelp het om Liam teen die ergste koue te beskerm en so sy lewe te red.

Al teen die hoogtes uit ploeter hulle in die donkerte voort, nou wetend dat hulle êrens die spoor byster geraak het. Die nagkoue slaan sy wrede kloue in al wat hom sonder skuiling op die berg tegemoet kom. Teen hierdie tyd is die twee kinders honger en uitgeput. Hulle het geen voorrade by hulle nie en word deur die angswekkende vooruitsig van ’n nag oorgelewer aan die elemente sonder enige verweer in die oë gestaar.

Intussen is die ouers desperaat van bekommernis. Die nuus dat die koorsagtige soektog wat intussen begin is weens die swak lig afgestel is, moes hul ontsetting net vererger het. Hulle is maar te goed daarvan bewus dat die temperatuur hierdie tyd van die jaar maklik tot vriespunt of selfs laer kan daal en dat dit moeilik vir enigiemand sou wees om sulke blootstelling te oorleef, wat nog te sê twee kinders van die seuns se ouderdom. Dan is daar ook nog die ruwe, bergagtige omgewing wat groot gevaar inhou vir enigiemand wat dit in die donker daar sou waag.

Ek skuif nader aan die vuurtjie waarlangs ons sit, soekend na die hitte van die vlamme. Bo ons hang die sterrehemel uitgestrek in sy onmeetlikheid. Wolknewels skuif net elke nou en dan oor ons verby en doof die maanlig dan oombliklik uit. Buite die ligkring van die vuur is die wêreld duister en kil. Om in hierdie nag ’n kind daar buite te moet wees met net die wanhoop en die vrees en die koue. Om slapeloos as ouer hierbinne te moet rondstrompel tussen die paniek en versugting, wagtend op die onontkombare, maar hopend op die onwaarskynlike.

Met dagbreek die volgende oggend vroeg is die soektog in die berg met mening voortgesit. Die kinders was nou al sowat twintig uur lank alleen en sou gou gevind moes word as daar nog enige hoop op oorlewing moes wees. Dit was al laat in die oggend toe veldwagters op die twee seuns afkom waar hulle sowat twee kilometer van die kamp naby die Sfinks-klipformasie klouend aan mekaar in die smal voetpaadjie gesit het, albei erg verkluim, maar lewend. Frikkie het net sy liggaamshitte gehad om die koue van sy jong boetie te probeer afweer en moes sekerlik baie verlig gevoel het om die klein seuntjie bewend vir melk te hoor vra nadat hulle gevind is. Hy het vertel dat hy in die koue nie aan die slaap kon raak nie en dat hy toe maar sy boetie weer op sy rug getel en die hele nag met hom bly loop het op soek na hulp.

Voor ek gaan inkruip, krap ek vir oulaas die vuur oop vir die laaste bietjie hitte teen die ysige wind. In my gedagtes dwaal die twee seuntjies steeds in doellose sirkels rond. Of nee, daar is nou ook ’n derde.

Hy is ’n seuntjie wat op ’n wintersmiddag met ’n boodskap vir sy pa die Kalahari by die Ghaapse berg ingestap en nooit weer lewend uitgekom het nie. Daar was die angs toe die man teen die aand sonder sy seuntjie by die huis aangekom het. Daar was ook die eindelose soektog in die wye uitgestrektheid van die Noord-Kaap. En dan was daar die plaaswerkers wat jare daarna op die skedel van ’n kind onder ’n bos in die veld afgekom het waar dit net ’n entjie van die verslete kleertjies gelê het.

Binnekort sal die gloeiende kole hul saam met die gedempte mensestemme uitwoed en uiteindelik wegsterf. Dan sal slegs

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top