’n Warm reis in die koue

  • 0

Juliemaand in die Wieg van die Mensdom kan bitter koud wees. ’n Week voor ons vanjaar daar by my seun, Cornel en sy vrou, Estie, gaan kuier het, het die swartryp alles asvaal verbrand. Sy nuwe kleinhoewe langs die Krokodilrivier regoor Zwartkop, tussen Lanseria en Krugersdorp, kan in die somer seker pragtig grasgroen wees, maar in die winter is dit vaal en yskoud. 

So gee hy ons een aand opdrag om die volgende oggend net ná vyf gereed te wees en baie warm aan te trek vir ’n verrassing. Hier net voor ses trek ons toe in by die Kloofzicht Lodge naby Muldersdrift, ’n paar kilo’s van sy huis af, waar ons lekker warm koffie drink voordat ons deur die span van die Ballon Safari se mense opgelaai word. Dis toe ’n allemintige verrassing – ’n reis per warmlugballon oor die nabygeleë Renoster- en Leeupark.

Die windjie sny deur murg en been wanneer ons in die halfdonker by die ballon en sy mandjie aankom. Die ballon lê op sy sy en word deur ’n baie sterk waaier met koue lug opgeblaas. Wanneer die son se eerste strale deurkom, skakel hulle die gasbrander aan en die ballon begin opbol. Ons staan nader om van die warmte van die gasbrander te voel en stadig styg die reuse-ballon op tot dit reg bokant ons beland, met die mandjie nog stewig op die grand geanker. 

Binne het die mandjie drie afskortings. Een vir die gids en die gaskanne en twee vir die vier passasiers wat nou steunend moet inklim in die borshoë mandjie. Die loods verduidelik dat hy geensins die ballon kan stuur nie. Hy kan slegs op of af beweeg deur die gasbrander oop te draai om die lug warmer te maak of dit af te sluit en dan ’n flap bo aan die ballon bietjie oopmaak sodat van die warm lug kan ontsnap. Vir die res is ons volkome in die hand van die heersende winde … “en die Voorsienigheid”,  wil ek amper byvoeg. Hierdie is die kleinste van die vier ballonne wat die maatskappy besit en so ’n ballon moet elke duisend uur vervang word teen ’n koste van ongeveer R300 000, vanaf Engeland.

Uiteindelik draai  die loods die gasbrander oop en ons styg grasieus op. Die ankertoue word losgemaak en die windjie dryf ons stadig na ’n nabygeleë klipkoppie. Vir ’n oomblik twyfel ek of ons bo-oor gaan kom, maar die ervare loods gee vet en ons skuif stadig ’n paar meter hoog oor die koppie terwyl ’n verdwaalde rooibok ons wantrouig aankyk. Dan sweef ons rustig oor die vlaktes in die rigting van die opkomende son en alle gedagtes aan die snerpende koue verdwyn in die warm gloed van die gasbrander se vlam langs ons.

Ons verlustig ons in die mensdom se heel eerste metode om aan swaartekrag te ontsnap en soos ’n voël in die lug te kan vlieg. Wanneer die loods die gasbrander afskakel, vlieg ons geruisloos stadig oor die veld en kan jy selfs die geluide van die diere onder jou hoor. Skielik waardeer ek De Montpellier en ander pioniers van 250 jaar gelede se vasberade pogings om ballonvlug ’n werklikheid te maak. Selfs Cornel en Estie, wat tussen hulle twee alles van Boeings tot helikopters vlieg, is in vervoering. Dis vir almal ‘n wonderlike nuwe ervaring om so stil en amper sonder ’n gevoel van beweging oor die grasvelde te skuif.

Die loods vertel dat hy al die basiese vakke wat ’n persoon vir ‘n private vlieglisensie nodig het, moes slaag voordat hy sy lisensie vir die ballon kon verwerf. Hy vlieg eintlik in die Pilanesberg rond, maar het hierdie keer hier kom uithelp. Hy verduidelik ook dat hulle altyd 100% oorvoorsiening maak met die gas. Waar ons vir ’n uur gaan vlieg, het hy genoeg gas om twee uur in die lug te bly as ’n skielike sterk wind ons van koers af dryf en daar miskien nie betyds ’n oop landingsplek beskikbaar is nie. Intussen volg die eienaar se verloofde ons met hul dubbelkajuitbakkie en die ballon se sleepwa. Die loods is kort-kort in radiokontak om haar te beduie watter paaie sy moet ry om naby te wees as ons land.

Ons skuif oor ’n woonhuis waar die man van die huis uitkom op die stoep en vir ons terugwaai. Sy hond is glad nie so vriendelik nie en storm blaffend al agter hierdie vreemde dierasie in die lug aan. Voor ons lê die hoofkamp van die park. Daar is karavaanstaanplekke en braaigeriewe vir dagbesoekers, maar dis nog te vroeg en koud vir lewe.

Ook die kampe vir leeus en ander bomas skuif so vyftig meter onder ons verby. Ons sien ’n wit leeu en ’n Bengaalse tier en dan ’n wyfieleeu met kleintjies. Hier is ook ’n boma met drie wees-renostertjies. Die een is net die vorige dag hierheen gebring nadat sy ma deur stropers in die Krugersdorp-wildpark vir haar horing vermoor is. Ons beweeg hierna ’n klofie in en die opkomende son se strale weerlaats wit op suikerbosse en kiepersolle  terwyl wildsbokke op die klipkoppies hul in die son se warmte verlustig.      

 “Hieronder is die fliek The Ghost and the Darkness oor die twee mensvreterleeus van Kenia ’n paar jaar gelede geskiet,” vertel die loods. Ons het almal die fliek gesien en kan ons dus inleef in die gras en bome onder ons wat seker soos die savannaveld van Kenia lyk. Ons volg later ’n klein spruitjie se lopie en wanneer dit pragtig oor ’n watervalletjie stort,  hoor ons die geruis van die vallende water en verlustig ons in ’n eensame huisie in die berge wat hieroor uitkyk. Intussen volg die ballon se donker skaduwee ons soos ’n getroue en indrukwekkende slaaf en hardloop die diere verskrik weg as hierdie monsteragtige ding skielik oor ’n koppie op hulle afgestorm kom.

Dan vlieg ons weer oor ’n vlakte en ’n ry rooibokke stap geduldig onder ons verby totdat hulle ook eensklaps bewus word van hierdie onaardse ding bokant hulle en in wanorde laat spat. So gaan die beplande uur in die lug ook verby en ons loods begin soek na ’n landingsplek. Hy gewaar ’n oop stukkie gras anderkant ’n teerpad en mik soontoe. Net mooi ’n uur en 17 km ná ons opstyging land ons op ’n plat stuk gras voor ’n koppie. Die loods het egter nie ’n groot klip onder die welige rooigras gewaar nie en die mandjie stamp hard hierop en val byna om toe die ballon nog aanbeweeg en dit ’n entjie saamsleep. Dan trek hy die tou wat die boonste flap heeltemal oopmaak en die ballon sak stadig grondwaarts.

Nou is dit ’n gesukkel, veral vir die twee oues met die stywe litte om weer uit die mandjie te klim, maar uiteindelik is ons almal weer op vaste aarde – veilig en ongeskonde. Die herwinningsvoertuig het intussen opgedaag en terwyl die loods en sy drie helpers die ballon klein opvou, in die mandjie laai en alles opkatrol tot in die sleepwaentjie, skink die eienaar se verloofde vir ons glasies sjampanje en lemoensap om ons veilige landing te vier. Met al nege mense in die bakkie en sleepwaentjie geprop, ry ons terug na die Kloofzicht Lodge waar ons ’n heerlike warm ontbyt geniet. Die uitstappie word afgesluit met die oorhandiging van ‘n sertifikaat aan elkeen van die dapper reisigers wat verklaar dat elkeen van ons die moed gehad het “to defy gravity and soar above the earth in a hot air balloon, the oldest form of flight known to man!

Lees nog van hierdie fiksie-kompetisie.  

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top