Die hengelaar

  • 0

Hy dryf stadig na bo vanuit die veilige warm holte van ’n diep lenteslaap. Hy vee oor sy oë en sug tevrede. Hy raak stelselmatig bewus van die geruis van die verkeer ver na onder, en glimlag. Die woonstel is op die dak van ’n kantoorblok in Langstraat; Kaapstad. Dis die enigste een in die gebou en sy sitkamer loop uit op die dak van waar mens die stad, berg en see kan sien. Hy was baie gelukkig om dit te kry. Hy is jonk, gesond na liggaam en gees en hy word betaal om te doen waarvan hy hou; die lewe is goed.

Die beeld is presies 2,2 m hoog en staan in die werkswinkel wat hy saam met twee ander kunstenaars deel. Roger maak lewensgroot skilderye van bekende figure uit die geskiedenis wat hy herinterpreteer (“Geskiedenis is geskryf deur die oorwinnaars, en ek herskryf dit namens die verloorders.”), Andrea doen fotografie met chemikalieë en papier en eksperimente met lig en donker, en hy, Theo, doen abstrakte beeldhouwerk.

Die vloer lê bestrooi met leë bierblikke en papierglasies; hulle het die vorige aand partytjie gehou ter viering van die borg wat hulle gekry het vir ’n gesamentlike uitstalling waaraan hulle lank reeds beplan. Dit was ’n groot sukses. Daar was heelwat mense en hy het iemand ontmoet, ’n meisie met lang donker hare, stil oë; ’n melancholiese glimlag en ’n ondeunde sin vir humor. Die kombinasie het hom oorweldig.

Hy stap op die sonnige Saterdagoggend met Langstraat af. Hy is op pad na sy gunsteling- ontbytplek, Arnold’s. Dis al lank ’n tradisie in sy vriendekring om op Saterdagoggende hier bymekaar te kom en stories uit te ruil. Langstraat is besig – mense wat die mooi dag gebruik om die goeie dinge van die stad te beleef krioel oraloor: Inkopies, goeie kos en die inhibisielose sosialisering maak die stad ’n opwindende plek om in te woon.

Hy druk sy hande in sy baadjiesak en bekyk die ware in die winkels op pad na Kloofstraat. Hy glimlag vir vreemde mense, en sommiges glimlag terug. Sy regterhand raak aan ’n verfrommelde papiertjie en hy haal dit uit sy sak. Hy kyk daarna en grinnik, hy het skoon vergeet van die boodskap. Hy gaan voor Sgt Peppers staan en lees: “Bel my as jy in Plankies is: 082 298 1171. Minkie. x”

Hy sit die papiertjie terug en besluit om van sy roete te wyk. Hy stap by die trap op tot bo en gaan sit by die kroegtoonbank. Behalwe vir een kroegman en ’n kelnerin is die plek leeg. “Dis nog te vroeg vir die jol,” dink hy. Hy bestel ’n bier en ’n tequila, en dan nog ’n tequila, waarna hy vir Pieter SMS, sy beste vriend wat hy al meer as vyf jaar ken – vandat hy in die stad aangekom het: “Ek gaan dit nie maak nie, het ’n mission. Next time.” Hy stap terug na sy woonstel en gooi ’n paar benodigdhede in ’n klein rugsak. Daarna stap hy buitentoe en sit op ’n gehawende groen gemakstoel op die dak en kyk oor die stad terwyl hy ’n sigaret rook. Dis een van die eerste ware mooi dae van die lente en alles ruik vars; die gebou staan skerp afgeëts teen die poeierblou lug. ’n Konstante stroom motors beweeg in die verte op pad na die kabelkar. “Dis die perfekte dag vir ’n roadtrip,” prewel hy hardop.

As hy weer onder in die straat kom, stap hy in die rigting van die Bo-Kaap waar sy motor geparkeer staan. Hy stap oor Loop-, Breë- en dan Buitengrachtstraat, verby die kleurryke huisies wat sy aan sy staan en helder in die son glim tot by die systraat waar sy motor voor ’n vriend se huis geparkeer staan. In ruil vir die parkering staan daar ’n beeld van ’n knielende man in gebed op die stoep. Sy kop is na onder gebuig en sy oop palms, gemaak van kru staal, word na bo gehou.

Hy voel verlig as hy die stad verlaat en sien daarna uit om kuslangs tot in Pringlebaai te ry. Dis een van sy gunstelingplekke en sy uitkoms as dinge te besig raak in die stad. Dis nie te ver nie, net sowat 85 km vanaf Kaapstad, en dis een van die mees dramatiese en mooiste stukkies kus om langs te ry, veral op ’n windstil dag as die water soos dié van ’n dam uitgestrek lê tot waar mens Kaappunt in die verte kan sien. Net voor Gordonsbaai stop hy by ’n winkel om padkos te kry: ’n paar koue biere, toebroodjies en ’n bottel goeie vonkelwyn vir later. Hoekom dan nou nie? So ’n dag is gemaak om te vier.

Anderkant Gordonsbaai begin die pad om die berg kronkel. Hy ry stadig en neem die blou vista in. Doer onder hom kan hy ’n seiljag sien wat stadig teen die kus langs vordering maak. Anderkant Kogelbaai se karavaanpark trek hy by een van die talle parkeerplekke in. Hy haal ’n bier uit die koelboks en gaan sit op die lae klipmuur en kyk uit oor die see. Hy haal die papiertjie weer uit sy sak en kyk na die nommer. Hy oorweeg dit om haar te bel. Hy druk die nommer op sy selfoon en wag vir die ander foon om te lui. Skielik druk hy dit dood en sit die foon terug in sy sak. “Sy het tog gesê ek moet haar bel as ek in Plankies is.”
Ná ’n hele ruk klim hy terug in sy motor en ry aan. Hy draai die venster oop en voel hoe die wind met sy hare speel, dit voel goed, en die dag is roekeloos en vry.

Rondom middagete draai hy by Pringlebaai in en ry na die middedorp om iets te gaan eet. In ’n plek genaamd Perigators bestel hy ’n pizza. “So, wat gebeur vanaand hier?” vra hy die kroegman. Die kroegman druk sy bril effe terug op sy neus: “Blues, daar kom ’n blues-ensemble uit die stad. Hulle het al een of twee keer hier gespeel. Hulle is goed, jy moet ’n draai gooi.”

“Ek sal seker, maar eers laat, ek het ’n date met iemand by Plankies.” Hy sê dit selfvoldaan, hoewel hy weet dat dit tegnies ’n leuen is. Sy het hom tog genooi, het sy dan nie? Die papiertjie is mos ’n soort sosiale kontrak.

Ná ete ry hy in die rigting van die Hangklip-hotel. Die grondpad is pas geskraap en vir ’n slag heel gangbaar. Sy hart klop effe vinniger as hy nader aan die hotel kom. Hy ry verby tot by die sloep en klim uit die motor. Hy gaan sit op die enjinkap en kyk na die bootjies in die baai. Ná ’n ruk begin hy kuslangs stap, en dit vat hom ’n goeie halfuur om by die ligtoring te kom. Op pad stap hy verby etlike rotse wat soos oermonsters bo hom toorn, en hy verbeel hom dat hy terug is in tyd toe daar nog net strandlopers hier rond was en toe alles nog woes en leeg was. Hy loop en wonder hoe dit daai tyd op dié plek moes wees. Hy het iewers gehoor dat die slawe wat in Jan van Riebeeck se tyd uit die kolonie gedros het hier kom nesskop het. Hy verbeel hom dat dit ’n goeie lewe moes wees, vry langs die see sonder goewerment of baas en met al die seekos wat jy wou hê sonder om ’n pennie daarvoor te betaal.

By die lighuis neem hy foto’s van die wit en rooi gestreepte toring wat soos ’n NASA-vuurpyl die lug invaar.

Dis laatmiddag as hy terugstap. As hy by die sloep kom, staan die skuite in die helder oranje lig wat warm en koesterend oor die baai skyn. Hy kyk weer vir lank oor die branders en die dramatiese skemer begeester hom opnuut.
Dis reeds sterk skemer as hy die grondpad terug na die hotel vat. As hy daar kom, gaan groet hy gou ’n paar bekendes wat in die hotel werk voor hy omstap na die kroeg. Daar staan ’n skiboot op ’n sleepwa agter ’n 4x4 voor Plankies. Harde musiek spoel oor die parkeerarea. Hy is seker dat daar baie mense sal wees ná ’n dag soos vandag. Hy gaan sit by die kroeg en groet die vrou agter die toonbank. Langs hom sit twee vissermanne. Hy bestel ’n dubbele Captain Morgan en kola, teug daaraan en vra: “Julle iets gevang?”

Die middeljarige bebaarde man met die keppie op knik in sy rigting en antwoord: “Klomp krewe uitgetrek en ’n hotty of twee, en jy?”

“O nee, ek is nie ’n visserman nie.”

Hy haal weer die verfrommelde papiertjie uit sy sak, en bel haar nommer.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top