Die helde van Berlyn

  • 0

Laat my begin met ’n “caveat”, die woord wat ek so baie uit die monde van my medestudente by die Universiteit in Amerika gehoor het. Ek woon nou al amper nege jaar buite Suid-Afrika en praat redelik min Afrikaans en skryf nog minder. Eers was ek in New York vir drie jaar en is toe na Berlyn. Ek Skype darem so nou en dan met die familie en kuier by SA pelle as ek in Londen is, but that’s it. Engels en Duits het intussen die oormag in my kop. Wat probeer ek sê? Dalk net, vergewe die moontlike gebrek aan Afrikaans Eerste Taal.

Wat liedjies betref - ek bedoel nie dat ek al hier iets geskryf het oor liedjies nie, net dat liedjies, myne en ander s’n, dikwels in my kop speel – en die afgelope tyd was dit dikwels, "Where are we now?" Bowie (soos in David) en Berlyn kan mens nie van mekaar skei nie. Berlyn sou seker fine sonder Bowie wees, maar Bowie sonder Berlyn? Hy het in Wes-Berlyn gewoon in die 1970’s en sy bekende song en album "Heroes" in 1977 in die Hansa Studios opgeneem, reg langs die Berlynse muur, aan die "regte" kant van die muur. Brit Punk is in Berlyn gebore. Blykbaar kon hulle uit die studio vir die Oos-Duitse grenspolisie tydens die opnames waai. Is dit eintlik die Berlyn-muur of Berlynse muur? Die muur wat gebou is kort ná die beroemde woorde van Walter Ulbrich, president van Oos-Duitsland, “dat niemand beplan om ’n muur hier te bou nie”. Read my lips, soos George Bush sou sê.

Ek dwaal af. In Januarie vanjaar (ons trek in die jaar 2013) reik Bowie uit die bloute ’n nuwe single uit, "Where are we now?", en onthul dat hy sy eerste nuwe album in tien jaar gaan uitreik. In Maart verskyn "The Next Day". Ek kan die single nie meer aanhoor nie. My gunsteling-radiostasie, Radio Eins (Radio Een), speel dit omtrent 17 keer per dag, of "gevoelde 17 keer", soos die Duitsers sou sê. Plus die produksie en sy stem op hierdie song is net nie na my smaak nie - sy stem klink gebroke, wankelrig, effens flat, en die song voel ritmies onstabiel, asof die ProTools-programmeerder te veel (of te min) drugs geneem het – quick and dirty productions, vinnig en vuil?

Die liedjie klink bietjie soos 'n toeristewandeling deur Berlyn, ’n soort terugblik op "Heroes" en die Berlyners is natuurlik gevlei – Potsdamer Platz, Nürnbergerstrasse, die Dchsungel Bar, KaDeWe – die alledaagse, vroeër histories, intussen net weer alledaagse plekke in die stad, word verheerlik in ’n liedjie. En dan aan die einde sing Bowie: "As long as there’s sun, rain, fire, as long as there’s me, as long as there’s you." Nostalgie kan so goedkoop klink, of dalk wou Bowie goedkoop klink, of dalk was hy glad nie nostalgies nie. Ek gaan die koning wees en jy die koningin.

En dan is daar die love-hate-verhouding tussen Berlyn en David Hasselhoff – hy love Berlyn en Berlyn haat hom. Sitcom-humor, sorrie. Die man wat in my geestesoog in ’n rooi swembroek op die strand hardloop of jaag met die swart kar wat kan praat om die wêreld te red. Ken enigiemand nog vir KITT? "The Hoff" het nog net in Duitsland ’n soort-van-loopbaan as wannabe-sanger. Hy kan sy liedjie "Looking for freedom" (wat natuurlik regstreeks vir die val van die Berlynse muur verantwoordelik was) jaar ná jaar by die Brandenburg-poort op die Oujaarsaandkonsert sing. Vergeet van Rostropovich wat Bach se tjellosuites op straat voor die muur gespeel het terwyl mense van Oos en Wes met hamers en beitels die beton in 1989 getakel het. Hasselhoff het hom ook in 1989 na Berlyn gehaas. Of eintlik het hy eers op Oujaarsaand, dus in Desember, sy song op ’n konsert gesing – die muur het al begin November geval – en homself in die psiges van die Duitsers (veral die Oos-Duitsers) gebrand. Of “Ossis”, soos die “Wessis” hulle noem.

Deur ’n ironiese ontwikkeling het Hasselhoff in Maart na Berlyn teruggekeer, (toe David Bowie se nuwe album op die rak gekom het) om tydens ’n soort Loveparade met ’n slegte klankstelsel op ’n vlot "I’ve been Looking for freedom" te sing – teen die agtergrond van een van die laaste stukke van die Berlynse muur wat nog staan, die sogenaamde East Side Gallery. Maar hierdie keer is dit sy missie om die muur te red. Hierdie bekendste oorblywende deel van die Berlynse muur, ’n ware toeristemagneet, loop langs die Spreerivier tussen die stadsdele Kreuzberg en Friedrichshain, oorkant die O2 World-monster, en is ongeveer 1 300 m lank. Daarop is wêreldbekende muurkuns te sien – Brezhnev wat vir Honecker soen, die kombinasie van die Israeliese en Duitse vlae in een vlag. ’n Ontwikkelaar wil fênsie woonstelle op die nou landstrook tussen die muur en die rivier bou, en daarvoor moet dele uit die muur weggebreek word sodat die bouvoertuie kan deurry. Etlike honderde of ’n duisend betogers (afhangend van wie jy vra) het gekom om die stootskrapers te stop. Die politici moes ingryp nadat die eerste dele van die muur reeds deur die boumasjiene geskuif is.

Die mense luister verveeld na Hasselhoff, eerder nuuskierig om die ster van dronk YouTube-videos in lewende lywe te sien as wat hulle dankbaar vir sy ondersteuning is. Die burgemeester van Berlyn, Klaus Wowereit, ’n lid van die Sosiaal-Demokratiese Party (SPD, met rooi partykleure), verklaar in die media dat hy persoonlik na die saak gaan ondersoek instel en gaan probeer om die muur te red. Rooi, stop. Dis nou dieselfde burgemeester wat verantwoordelik is en was vir die debakel rondom die bou van die nuwe lughawe. Die BER-lughawe wat, wanneer dit eendag open, die ander twee lughawens moet vervang en in 2011 al moes geopen het, toe 2012, en dit is steeds nie duidelik wanneer die eerste vliegtuie daar gaan kan land nie. Dieselfde burgermeester wat graag op partytjies en funksies uithang en trots aankondig, “Berlyn is arm, maar sexy.”

Die probleem met die muur is net dat die kontrakte met die belegger al lankal onderteken en goedgekeur is deur die verantwoordelike bouraad en “voorstadburgemeester” van Friedrichshain, Franz Schulz (van die Groen Party, ja dis hulle naam, omgewingsbewustes uit die 1960’s wat intussen in die hoofstroom-politiek en goeie jare aangekom het). Die groen-burgemeester sê net die planne was lank genoeg vir die publiek beskikbaar om beswaar daarteen aan te teken. Dis nou te laat vir betogings. Groen, ry. Maar as die beton verbrokkel en die Caterpillars opruk teen ’n simbool van Berlyn, dan staan die volk op. Nie teen die reddingspakkette vir Griekeland of Ciprus nie, nie teen die kortings en privatiserings nie, nie teen die hoeveelste verhoging van die kaartjiepryse vir openbare vervoer nie. Nee, om ’n muur te red. “Don’t Tear Down the Wall!” Moet die gruwelike muur wat die stad verdeel het nie afgebreek word nie? Dalk, maar nie sodat ’n paar ryk poepolle absurde pryse vir woonstelle kan betaal om dan vir al hulle pelle in Helsinki en Sjanghai te kan vertel hoe amazing Berlyn is nie – so cool en alternatief en eg en soveel geskiedenis en tog so goedkoop. Elders in die stad waar die muur vroeër gestaan het, het die stadsvaders en -moeders ’n lyn laat plavei, ’n dubbele strook bruin, vierkant bakstene – dit loop op en oor en deur strate tot teenaan geboue en weer verder aan die ander kant.

Talle mense het hulle lewens verloor soos hulle probeer het om oor die muur te vlug, deur koeëls van die Oos-Berlynse Volkspolisie, met hulle berugte outomatiese skietapparate, en die donker waters van die riviere. Behoort ’n mens so ’n muur nie heeltemal te sloop nie? Of moet mens dit bewaar as openbare herinnering aan die geskiedenis? Moes ’n mens in Suid-Afrika ’n paar tekens met "Slegs Blankes" op ’n paar banke en strande gelos het in plaas daarvan om hulle in die Apartheidmuseum uit te stal?

Die Knight Rider het gekom en weer gegaan. Die muur moes plek maak vir die voertuie en Bowie sing steeds in my kop:

"I can remember standing by the wall
And the guns shot above our heads
And we kissed as though nothing could fall
And the shame was on the other side
Oh we can beat them for ever and ever
Then we could be Heroes just for one day"

Die Muur. Die Helde. 

O, en as jy ooit Berlyn toe kom en as die ou by die Turkse Döner-kiosk (reuse-vleissosaties waarvan die vleis dan gekerf en in geroostede Turkse brode met slaai bedien word) vir jou vra watse soort sous jy wil hê – moenie vra watter soort souse daar is nie. Dan is dit obvious jy is ’n toeris. Daar is Scharf (pikant), Kräuter (kruie) en Knoblauch (knoffel). Ek hou van kruie met 'n bietjie pikant, "Kräuter und ein bisschen Scharf, bitte."

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top