Aankoms in Lagos

  • 0

’n Kollega het ons vooraf gewaarsku: Moenie sommer in enige taxi klim nie. Maar wat nou gemaak? Dis elfuur op ’n Sondagaand by Murtala Muhammed-lughawe in Lagos, Nigerië. Ons is na buite verwilder, want die lughawegebou word gesluit. ’n Verskeidenheid verdagte karakters hang in die halfdonker rond en bied aan om óf ’n taxi vir ons te reël óf namens ons akkommodasie te bespreek óf hande vol randnote vir Nigeriese naira te verruil. Hoe weet hulle ons is Suid-Afrikaners? Ons wag al twee uur vir die bestuurder wat ons moet oplaai. Die telefoonnommer wat ons het, bly onbeantwoord.

Gelukkig sien Mark in ’n donker verlate hoekie van die lughawe ’n Avis-toonbank met wonder bo wonder ’n enkele werknemer wat net begin toemaak. Natuurlik kan hy ons na die naaste hotel neem, die Sheraton. ’n Internasionale hotelgroep waarmee ons bekend is, sug ons van verligting. Dit sal ons vyftig Amerkaanse dollar kos. Op dié stadium sal ons enigiets betaal net om van die lughawe en die obskure karakters wat soos aasvoëls op ons toesak weg te kom.

Die oorvriendelike Avis-werknemer sê ons moet hom na sy motor volg. Ons struikel in die halfdonker met ons bagasie tot by ’n stowwerige swart sedan waarvan ons nie die model herken nie en wat minstens tien jaar oud is – definitief nie die normale Avis-standaard nie. Meneer Oorvriendelik verseker ons dis een van hulle “top of the range” motors. Die lughawe is pikdonker. Ons sien Lagos se ligte in die verte. ’n Paar swart skaduwees beweeg glibberig om ons. Ons het nie ’n keuse nie en klim in.

Wat ’n verligting toe ons twintig minute later voor die Sheraton stilhou. Ons stap die hotel binne en voel onmiddellik of ons na die sewentigs teruggeplaas is. Oral troon marmerpilare en die meubels is minstens veertig jaar laas vervang. Die handjie vol personeel is baie vriendelik en behulpsaam. Ongelukkig is die hotel vol.

Maar nog ’n vlug vanaf Johannesburg het nog nie in Lagos geland toe ons by die lughawe weg is nie. Is van hul gaste dalk op daardie vlug? Ja? Wel, die vlug sal dit definitief nie vanaand maak nie. Ons kan een van hul kamers vir die nag kry. Die ontvangdame weet nie hoe om dit op haar stelsel te verander nie. Mark met sy meer as twintig jaar ondervinding in die hotelbedryf is ook nie links nie, skuif agter die toonbank in, doen sommer self die verandering op die rekenaar en gee die ontvangsdame terselfdertyd ’n les.

Dis amper middernag toe ons uiteindelik in die hotelkamer is. ’n Swaar mufreuk hang oral. Ons is sopnat gesweet, dis 32 grade Celsius met ’n geweldig hoë humiditeit. Die lugreëling is aan, maar maak nie juis indruk op die hitte nie. Ons is so moeg dat ons sommer bo-op die lakens aan die slaap raak.

Ons word vroeg wakker van die klam hitte. Die water wat uit die stort kom, is bruinerig en louwarm. Ons stort vinnig en maak reg vir ontbyt. Johannesburg is een uur voor Lagos. Sewe-uur skakel ons die hoofkantoor in Johannesburg. Ons ken nie die adres van ons bestemming in Lagos nie en die plaaslike nommer wat ons skakel, bly steeds onbeantwoord. Gelukkig is iemand vroeg op kantoor in Johannesburg en sal ons terugskakel met die besonderhede. Ons besluit om solank ontbyt te gaan eet, ons laaste maaltyd was laat gistermiddag op die vliegtuig.

Ek verloor gou my aptyt. Die roereiers het ’n bleekwit kleur. Die “vars” groente en vrugte lyk verlep. Daar is ’n verskeidenheid vreemde disse met vreemde, sterk geure. Op die ou end kies ons veilig en versigtig droë graankos en ingelegde perskes. Skielik gaan die krag af en alles is pikdonker. Iewers sluk-sluk ’n generator. Dit neem enekele minute voor die krag weer aankom. ’n Kelner verseker ons dis normaal en gebeur ’n paar keer elke dag. Dit het niks met die hotel te doen nie, dis Nepa, die kragvoorsieningsmaatskappy. Ons besluit om liefs nie die hysbak te gebruik nie en eerder trap te klim tot op die derde vloer. By die kamer aangekom, het ons weer ’n stort nodig.

Hoofkantoor skakel terug om te sê ’n bestuurder is op pad om ons op te laai. Ná omtrent ’n uur daag Chucks op met ’n groot glimlag op sy gesig. Hy verduidelik hy kom van Victoria-eiland aan die anderkant van die stad af. Ons is nog glo op die “mainland”. Trots maak hy die deur van ’n blinkskoon 1998-model Peugeot oop. In die motor ontwikkel ek ’n hoofpyn, gedeeltelik van die hitte, deels van ’n swaar petrolreuk aan die binnekant.

Die reis deur Lagos is ’n belewenis. Met omtrent twintig miljoen inwoners is dit ’n bedrywige miernes. Ons vergaap ons aan al die motorfietse op straat, die meeste met twee of drie passasiers plus ’n pakkaas of selfs ’n lewendige boerbok op die skoot. Dis die vinnigste en goedkoopste vervoer in Lagos, en die gevaarlikste. Niemand dra ’n helmit nie. Padreëls bestaan nie, maar almal ken die toeterkode. Ons vleg deur chaotiese verkeer, maar Chucks is selfversekerd en lag net vir ons benoude waarskuwings van agter af.

En van die geliefde Afrika-taxi’s kom ons ook nie weg nie. In Lagos is almal geel geverf en by elkeen hang omtrent ’n halfdosyn liggame by die oop sydeur uit. Ek kan my indink hoe warm dit in so ’n taxi moet wees met temperature van in die dertig dié tyd van die oggend. En oral is straatverkopers. Die verkeer kom telkens tot stistand, wat hulle die geleentheid gee om hul ware af te wys: van selfoonkaarte tot gaar hoender op ’n stokkie, spotgoedkoop CD’s en DVD’s en dooie rotte aan ’n stok as advertensie vir hoe goed die rottegif werk. En die mense koop. Dit lyk of sommige hul hele maand se kruideniersware op straat koop.

Dis ’n stad vol kleur en energie. Baie mense op straat dra tradisionele drag, die vroue kleurryke bloese en rompe met flambojante kopdoeke en die mans eweneens kleurryke hemde en wye broeke. Die mense is vriendelik en vindingryk. Jy word oral met ’n glimlag begroet. Op ’n straathoek staan ’n man met sy fotokopieermasjien en sy klein “generator”, fluks aan die fotokopieë maak vir Jan en alleman.

Dan is daar ’n padblokkade. Chuks verduidelik dat dit algemeen is. Half ongemerk verwissel ’n paar naira tussen hom en die polisieman hande. As jy enige onaangenaamheid wil vermy, is dit die maklikste en veiligste uitweg. Veral met “expats” in die motor. Hy sorg vir dié uitsluitlike doel dat hy altyd kontant aan hom het.

Ons ry met die “mainland”-brug oor die Lagos-lagune na die eilande: Lagos-eiland, Ikoyi, Victoria-eiland en Lekki-skiereiland. Die lagune verskaf toegang na die grootste hawe in Wes-Afrika. Rye en rye vragskepe kan aan die seekant van die brug gesien word waar hulle op die Atlantiese horison toustaan om in die hawe toegelaat te word. Aan die ander kant sien mens letterlik ’n stad op die water. Rye en rye gehuggies staan op stelte in die water met klein roeibootjies wat soos sardiens heen en weer woerts-warts om almal en alles te vervoer. Ons ry verby ’n seiljagklub en ’n reusehotelboot op die water.

’n Netwerk paaie bied toegang na oral in Lagos. Chuks bestuur versigting om al die reuse-slaggate in die paaie te vermy. Victoria-eiland is vol wolkekrabbers tussen kleiner, vuil geboutjies. ’n Reuse- “goue” gebou troon onvaspas uit. ’n Warboel elektriese drade hang soos spinnerakke tussen geboue en op straat.

Uiteindelik kom ons by ons bestemming aan – ’n veertienvloer-hotel wat bo die lagune uittroon. Die oprit kronkel deur mooi tuine, maar alles lyk afgeleef. Kan ons oor die volgende vier jaar die hotel in ’n wêreldklasoord help omskep? Ons word soos koninklikes deur die Nigeriese personeel begroet. Die hotelbestuurder, tot dusver die enigste ander Suid-Afrikaner, ontmoet ons en maak verskoning vir die misverstand by die lughawe.

Aan die binnekant lyk die hotel moeg en verlep. Ons word na ons kamer op die twaalfde vloer geneem. Die hyser dateer uit die ark. Ons hou duimvas daar is nie weer ’n kragonderbreking nie; twaalf vloere is te veel om te klim. Die kamer is skaflik, maar bedompig. Ons pak vinnig uit en kry dan die hotelbestuurder vir koffie. Hy neem ons op ’n toer deur die gebou. Oral is watervlekke en dop verf af. Die matte is verslete en ’n swart muf kleef aan alles.

Ek verskoon my toe die mans die papierwerk takel. Braaf klim ek in die hysbak. Ek sal maar net gewoond moet raak hieraan. Terug in die kamer gaan ek uit op die balkon, wat ’n pragtige uitsig oor die lagune en die Atlantiese oseaan het. ’n Verroeste skip lê halfpad in die lagune versink. Groot vragskepe vaar luidrugtig verby. Die lug is grys en die water is grys. My tuiste vir die volgende vier jaar. Ek gaan sit op die bed en begin huil.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top