Keurbooms se Kersboom

  • 0

Die Kerstyd is ’n tyd van vreugde en feesvierings en ’n gepaste tyd om die nietigheid van die mens en die genade van ons Skepper te ervaar. Dit het ek elke jaar op Keurboomstrand ondervind.

Keurboomstrand, en veral Arch Rock-karavaankamp, naby Plettenbergbaai, is seker een van die mooiste strandoorde langs die Kaapse kus. So glo die Keurboomstranders in elk geval en kom hulle jaar ná jaar terug vanoor die hele land: van binnelanders wat ’n welverdiende ruskans kom geniet tot vlugtelinge van Kaapstad en die KwaZulu-Natalse kus waar die mensedrukte en gekommersialiseerdheid dreig om hulle te verstik. Hier parkeer hulle dan hul woonwaens in ’n stukkie boomryke wildernis of betrek hul vakansiehuise vir ’n paar weke van luilekker ontspanning.

Naburige Plettenbergbaai word besoek en verken, maar net wanneer dit nodig is om proviand aan te vul, want Keurboomstrand se Arch Rock, sy Matjiesrivier, sy visvangs en pragtige klein strandjies bied ’n volledige ontvlugting.

Plettenbergbaai is nou wel die miljoenêrsparadys. Die plek van die Johannesburgse jet-setters, in die ou dae mense soos Sol en Anneline, die Rhoodies, Chris Barnard en ander bekendes. Die plek waar die geldjies rol en die vetjies dril as die rykes kom vakansie hou langs die see. So kosmopolitaans soos kan kom. Die regte Keurboomstranders het egter hul neuse opgetrek vir hierdie Plettenbergse hoi polloi. Hier was dit nog die regte boere-adel wat tradisievas kom strand hou het. Dis nou wel deesdae splinternuwe karavane onder die pragtige melkhoutbome, maar die gees is nog reg.

Kersfees op Keurboomstrand was dan ook iets wat jou vakansie help maak het. Twee dinge veral: die opelug-Kersdiens onder ’n digte blaredak, en die Kersboom op die strand die vorige dag.

Dit het tradisie geword dat die gesinne op Kersoggend so streep-streep aanstap na die groot ruimte onder die bome waar ’n paar honderd bymekaar kan kom. Elke gesin met sy opvoustoeltjies, kussings en gesangeboekies. Uitgevat in gewone stranddrag, maar tog stil en stemmig soos dit mens op so ’n groot dag betaam.

Wanneer jy dan jou stoeljie oopgevou het en wag dat die diens moet begin en jy hoor die voëltjies en sonbesies sing in die bome en die gedruis van die branders in die agtergrond; dan weet jy hierdie dag het ook vir jou ’n spesiale boodskap. Jou bestaan en jou toekoms en jou drome kry sommer weer sin en jy sien weer kans vir die jaar wat voorlê. So het van my kinders later spesiaal die 250 kilometer Kersoggend vanaf ons plaas op Kirkwood afgelê om na die Kersdiens onder die bome te kom luister. Mense soos dr. Louw Alberts en ds. Johan van der Merwe kon jou so besiel dat jy weer genoeg moed vir die toekoms gehad het.

Die Kersboom op die strand was weer die kinders se groot dag. Een jaar in die vroeë 1980’s, toe my kinders nog in die laer- en kleuterskool was, was dit weer so. Die vorige dag al moes Pa skelm-skelm uitsluip om die geskenkies by die kantoor af te gee. Vanaf twee-uur die middag is my drie kannetjies by die see. Swem kamtig, maar die groot Kersboom wat reeds ingeplant staan op die sand word kort-kort beloer om te sien of Kersvader nie dalk al daar doenig is nie

Later begin die jongklomp stadigaan om die Kersboom saamdrom en ook die pa's en ma's begin naderstaan om hul sit te kry, want om vieruur kom Kersvader. Die kleinspan is vrolik en opgewonde. ’n Paar groot kartondose is reeds langs ’n opslaantafel staangemaak en aan die bokant steek stukkies geskenkpapier uit. Dit trek die kinders se oë soos magnete. Die kleintjies vroetel in die sand, die son bak warmer en ons wag.

"Sou Allen besef dis om halfvyf vandag hoogwater, en dis springgety?" vra ’n buurman kort-kort. Die see stoot al hoe hoër en elke groterige brander wat breek, kom ’n paar sentimeter nader aan die Kersboom. Twee wit honde staan en ruik aan die boom. Een begin kou aan ’n takkie en trek daaraan. ’n Piepklein meisietjie in ’n nog meer piepklein bikini begin om van die rooi en wit versiersels aan die boom se onderkant los te torring. As haar pa haar kom keer, waggel sy weg en skop sand op die honde. Die een hond trek sy neus op, lig sy been teen die boom en draf verveeld weg.

En nog steeds kom Kersvader nie. Die son brand en die branders breek nader. Die pa’s kyk na die mooi bikini's wat nou al oral ook hul sit begin kry. So hier en daar loop daar nog ’n oulike een verby wat tientalle pare oë saam met haar laat draai.

"Ek hoor Sol en Kie onderhandel glo om die hotel hier oor te neem," sê my buurman. “Dan stoot hulle seker hierdie hele inheemse bos hier uit om ’n gholfbaan te bou," laat hoor sy maat. “Ja, en dan vlieg hulle groot palmbome met helikopters in om die ontwikkeling af te rond," sê ’n ander sarkasties. Daarmee droog die geselskap ook op.

Dan vat ’n omie solank die mikrofoon. "Kinders, ons moet maar duim vashou dat Kersvader wel vandag hier sal aankom. Oom Allen het darem al verlede jaar op die ses-en-twintigste Desember met hom gereël om vanjaar weer hier ’n draai te kom maak. Kom ons raai solank van watter kant Kersvader vanjaar gaan kom? Wie sê hy gaan oor die see kom?" ’n Paar verdwaalde hande gaan op. "Wie sê van die kafee se kant af?" ’n Hele klomp hande skiet op. "Wie sê ...?" So gaan hy voort om die tyd te probeer omkry.

Skielik skree iemand: "Daar kom hy!" Al die kinders spring op en kyk na die paadjie vanaf die woonwaens. Daar kom Kersvader. Sy rooi plastiekklere blink tussen die groen rankplante toe hy met ’n sak oor sy skouer met die paadjie afkom. Dan is hy op die sand en die kinders stroom soontoe om hom te verwelkom. Die gesiggies blom en die heel kleintjies spring eintlik op en af van lekkerkry. Kersvader gaan staan agter die tafelblad bo-op die twee oliedromme en begin met die kinders voor hom gesels.

Met die uitlees van hul name kom die kleintjies om hul geskenk by Kersvader te kry. Sommiges kom gretig terwyl ander sleep-sleep aan die hand van ’n ouer boetie nadergebring moet word. Elkeen kry saam met sy geskenkie ook 'n pakkie lekkers en ’n koeldrank, met komplimente van die bestuur.

My drie manne sit al lank op hete kole. Wanneer die Engelse oom Allen uiteindelik met ’n gesukkel “Jason” sê, weifel Janus eers. Ek stoot hom vorentoe. “Toe, dis vir jou. Die oom kan net nie jul ma se handskrif ontsyfer nie.” Waarop ek ’n vuil kyk van my wederhelf kry. Reeds lankal ’n teer puntjie dié. Ricus word “Riches” en Cornel word “Colonel”, maar uiteindelik kry almal hul presentjies.

Terug met die presente en die skyfies en die Coke is my manne in die sewende hemel. Die geskenkpapier word met oorhaastige hande afgeskeur en pure lekkerkry geskied as hulle die inhoud onder hande kry. "Kersvader het vir my gebring net wat ek hom nou die dag by die winkel gevra het, ’n resiesmotor en soldaatjies," sê my jongste.

Skielik styg daar ’n geskree en ’n gegil op. Almal was so doenig dat hulle van die see vergeet het. Kinders hardloop rond, pa's en ma's spring nat-nat op en gryp drywende geskenke en Kerspapier en lekkergoed en babas en handdoeke.

Die voorpunt van die brander stoot verby die Kersboom en Kersvader gryp na die oorblywende geskenke in die doos. Die kinders lag en raas en almal geniet dit. Geen skade is aangerig nie en die verrigtinge gaan voort ­– nou met een oog op die branders wat kort-kort tot by die tafel opstoot.

Dan is die laaste geskenkie uitgedeel en Kersvader gaan terug, papnat gesweet in sy rooiblink plastiek. Die pa's en ma's en hul krose drentel stadig terug woonwaens toe. Elke kindergesiggie is nog steeds aan die blom en elke kinderbekkie volgeprop met lekkers. Nog ’n suksesvolle Kersboomfunksie is verby.

Dis net ...  toe ek en my vrou die aand langs die see gaan stap, kom ons skielik weer op die Kersboom af waar dit verlate langs die see uitgespoel lê: Die branders het dit blykbaar omgespoel en ingetrek en weer ’n ent verder op die sand uitgespoel. Die dag se vreugde het skielik vir my platgeval en ek het so ’n leë gevoel in my binneste gekry. Die verlate, halfbegrawe boom met die tikseltjie kleur nog so hier en daar sigbaar, het my skielik so nietig laat voel.



  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top