Koffie en sand

  • 0

"Do you want black coffee in this cup?" vra die kelnerin, en beduie heftig met haar wysvinger na 'n koppie wat sy desperaat uit die rak gepluk het.

"Ja", sê Anet en knik entoesiasties haar kop, verlig dat die kommunikasiegaping krimp, al is die vrou agter die toonbank al redelik ongeduldig.

"Well, this is a long black. How many?"

"Two," besluit Anet , sy kan vir 'n slag koffie sonder melk drink. Sy weet nie of die vrou genoeg geduld vir nog 'n verduideliking het nie. Tot sy in Syndey geland het, het Anet gedink sy kan Engels vlot praat.

Die probleme het al by die lughawe begin toe sy vir haar niggie Jenny net buite die landingsaal gewag het. Die rooi padteken langs die voetoorgang het in wit letters aangekondig dat "No standing" geduld sal word. Anet het senuweeagtig heen en weer voor die teken verbygestap. Sy het die tas uit die hoek van haar oog dopgehou terwyl sy op en af gemarsjeer het. Sy was glad nie beïndruk nie toe Jenny giggellend langs haar stop en sê: "Dis net vir karre bedoel!"  

Anet probeer om subtiel by die onderwerp van soorte koffie in Australië uitkom toe sy weer langs Jenny by die deli se tafel gaan sit.

"O ja, ek moes jou seker gesê het," sê Jenny. "Hier noem hulle 'n swart koffie 'n long black, en 'n koffie met melk 'n flat white. Die res is darem dieselfde, espresso, cappuccino en so aan. Jy sal gou daaraan gewoond raak."

Gelukkig is dit 'n heerlike dag op Manly se strand en Anet kan ontspan met haar koffie. Manly is een van die strande wat bekendstaan as Australië – en die wêreld – se eerste strand met 'n lewensreddingsklub. Bondi en Bronte is die ander twee strande, ook in Sydney, wat ook daarop aanspraak maak om die eerste te wees. Waar die eerste lewensredders was, traak Anet nie regtig nie, sy is net bly daar is wel mense wat jou kan red as dit nodig is. Dis ook nie lank nie of 'n sirene weergalm en almal storm uit die see. Dis die haaisirene. Om die geleentheid van haar eerste haai in Sydney te vier, gaan koop Anet en Jenny weer koffie. Sy bestel, vol selfvertroue, 'n "Long flat, please". Die barista kyk haar onbegrypend aan en Jenny proes langs haar. "Flat white and long black, please," kom Jenny tot haar redding en Anet lag verleë.

"Hy moes van jou gehou het," sê Jenny toe hulle wegstap. "Hy het 'n hartjie op jou koppiekoffie geteken." Anet kyk na haar papierkoppie, en sowaar, 'n hartjie, fw (flat white) en Anet is in duidelike letters op die koppie geskryf.

"Ons sal dalk môre weer moet kom, wie weet, dalk skryf hy sy telefoonnommer daarop, en hy's nie te onaansienlik nie," terg Jenny en koes toe Anet mik om die koffie in haar rigting te gooi.

Die haai is agter 'n ander skool visse aan, weer diepsee in en ná 'n laaste swem in die see is hulle net betyds om met die veerboot na Circular Quay en die Sydney-operahuis te vaar.
"Kan jy glo dat dit 'n tremstasie was voordat hulle die Operahuis hier gebou het?" vra Jenny. Die hele pier is vandag vol kleurryke toeriste en kantoorwerkers in swart geklee. Die meeste kom drink voor 'n vertoning of ná werk 'n glas wyn of bier by die Opera Bar. Die lug rondom hulle is gevul met elektriese opwinding. Dit is asof almal rondom die operahuis na 'n moderne sprokieswêreld meegevoer word.

"Wel, ek's nou poegaai," sê Anet toe sy op haar bed in Jenny se kamer neerval. Dis heerlik om by Jenny-hulle te kan oorslaap, baie beter as 'n onpersoonlike hotelkamer, en Jenny is 'n gasvrye toergids.

"Solank jy dit net geniet," sê Jenny. "Jy't in een dag Manly en die operahuis gesien, en jy't maar gister hier aangekom. Jy't seker nog jetlag ook."

"Ja, gelukkig is môre nog 'n dag, maar al daai koffie het baie gehelp," is al wat Anet uitkry voor sy aan die slaap raak.

In die middel van die nag skrik almal wakker. Daar is 'n groot lawaai op die dak – dit klink asof olifante daaroor hardloop. "Possums," mompel Jenny deur die slaap terwyl dié se pa deur die huis loop en al die ligte aansit. Jenny se Ma kom loer in en maak vir almal tee. Ná so ‘n paar minute is Jenny behoorlik wakker en verduidelik dat daar verskillend soorte possums is. Hulle is klein buideldiere, omtrent so groot soos katte en bly gewoonlik in boomstamme of neste. So af en toe trek daar 'n familie in mense se plafonne in as hulle uit hulle natuurlike habitat verdryf word.

"Hulle is plantetende nagdiere, skadeloos en skoon. Ons sal maar môre 'n nes bou en dit vir hulle teen een van die buitemure ophang. Hopelik trek hulle dan eerder daar in. Moenie worrie nie, jy sal daaraan gewoond raak," sê sy toe Anet se oë al hoe groter rek. "Dis eintlik heel cool om wilde diere in die agterplaas te hê. Wag totdat jy al die voëls sien wat hier kom boer deur die dag, soos die cockatoos, maar hulle kan soms erg lawaai."  Gelukkig is Jenny te moeg om haar middernagtelike natuurwetenskap les voort te sit en Anet raak weer aan die slaap, sonder enige verdere steurnisse.

Die volgende paar dae vind Anet meer van Sydney se koffiekultuur uit. Mense stap orals in die strate met koppies wegneemkoffie rond, veral in die oggend. Daar is ook boot-baristas, baristas wat op klein bootjies tussen die bote op die hawe rondvaar en vars koffie verkoop. Daar is koffiekombi's, baristas wat in die industriële omgewings waar daar nie baie restaurante is nie van kantoorblok tot kantoorblok ry en koffie verkoop. Daar is klein plekkies wat net koffie en piesangbrood verkoop. Die koffiekultuur is ook 'n baie aansteeklike kultuur en ná drie dae in Sydney woon Anet ook 'n baristakursus by om die fynere kunsies van koffie maak te leer. Sy kan dalk vakansiewerk of deeltydse werk as barista in Johannesburg kry voor die universiteit weer begin.

Natuurlik gaan hulle, indien dit enigsins moontlik is, elke dag Manly toe en ná vyf dae van koffie koop by die deli waar hy werk is dit seker onvermydelik dat Peter sy telefoonnommer op Anet se papierkoppie skryf. Natuurlik bel Anet hom. Daar is nog twee weke van haar vakansie oor en wie sal haar meer van Sydney kan vertel as iemand wat nog altyd hier bly? Peter is baie trots op Sydney en 'n entoesiasties toergids. Hy neem Anet en Jenny na ondergrondse musiekvertonings en wys vir hulle selfs die gedenkteken wat vir 'n boemelaar, ene Eternity, opgerig is.

Die grootste pret is egter die bootrit deur die hawe saam met Peter en sy jonger broer, Andrew. Hulle het 'n klein bootjie waarmee hulle in die hawe, en soms ook in die see, rondvaar en vis vang. Dit is vroeg die Saterdagmiddag toe Anet, Jenny, Peter en Andrew op die klein bootjie klim. Al is dit net vir 'n plesierrit, is dit 'n spektakel om die boot in die water te kry. Die waentjie waarmee hulle dit in die water loods, moet heeltemal in die water staan voordat hulle op die boot kan klim. Daarna moet Andrew die boot loods en Peter moet die kar en waentjie gaan parkeer. Gelukkig verloop alles vlot en hulle vaar die res van die middag deur die hawe, kruis paaie met veerbote en kajakke, vaar voor die operahuis verby en onderdeur die hawebrug. Dit is al skemer toe hulle terugvaar kar toe. Peter klim eerste uit om die boot vas te meer. Hy gee 'n groot sprong van die boot af tot by die pier, en almal skreeu "Aaa!" toe die karsleutel uit sy sak binne in die water plons, en tot op die bodem van die hawe sak.

"Wat nou?" vra Anet.

"Moenie worrie nie," begin Jenny, en toe maak Anet klaar: "Ek sal daaraan gewoond raak?"

Andrew lag en Peter trek sy skoene en hemp uit voordat hy in die koue hawe water spring. Ná vyftien minute se soek en beduie, en net toe Andrew aanbied om die spaarsleutel te gaan soek, klim Peter triomfantelik met die verlore sleutel uit die water. Soos altyd word die middag met 'n lekker warm koppie vars koffie afgesluit.

Die laaste twee weke vlieg verby. Anet, nou 'n ontluikende barista, wonder wat sy die meeste van Sydney gaan mis – die koffie of die barista? Sy neem haarself voor om vinnig vakansiewerk as barista in Johannesburg te soek en so vir haar volgende vakansie te betaal. Sydney het in haar hart gekruip en sy hoop om binnekort weer koffie op Manly se strand te drink.

 

  

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top