Barcelona

  • 0

Tapas verwys na aptytwekkers, en verwys letterlik na ’n deksel op jou glas wat verhoed dat die vlieë inval. Bo-op die deksel lê ’n versnapering. So is dit vroeër gedoen – `n stukkie brood met `n brokkie lekkerte bo-op – vandag is dit ’n lewenswyse.

My heerlikste herinneringe aan Barcelona speel af in tapaskroeë.

Tapas is natuurlik niks eg-Katalaans nie, verseker die Barcelona-inwoners ’n mens vinnig. Dis eintlik ’n oorblyfsel van die Moorse invloed. Maar tapaskroeë is so ingewortel soos die knoetsige olyfbome in die dorre Spaanse heuwels – ook geen boorling van Iberië nie, maar oorspronklik afkomstig van Noord-Afrika en die Griekse eilande.

When in Barcelona, you do as the Catalans do: jy gaan drink koffie, sterk en donker, want teen 18:00 is die aand nog jonk. Op my eerste aand luier ek in die Nou de la Rambla se Taberna de la Ronda.

`n Verskeidenheid tapas is keurig in die glastoonbank uitgestal – blokkies Manchego-kaas gemarineer in gekruide olyfolie; skywe chorizo en migas aangebied met salsa; en klein geroosterde sosaties wat Pinchitos Morunos genoem word. Dit is knoffel-gemarineerde olywe en ansjovissies met rissie bedien op ’n stokkie saam met ’n olyf. My boeretone krul van lekkerkry.

Ek sit buite en verwonder my aan twee tantetjies by die tafeltjie langsaan, ene lyk
nogal op `n haar nes ’n buurvrou van my. Hierdie signora en haar vriendin bespreek die dag oor ’n lang glas bier, `n onbekende gesig in ons eie land. As ons die eeue-oue Europese tradisie van gesellige sypaadjiekroegies sou voortgesit het, sou ons dalk soveel toegankliker vir ons medemense en mede-Afrikane gewees het.

Terug by die hotel digby die mosgroen Montjuïc-heuwel doen ek by die ontvangstoonbank na ’n eetplek vir aandete navraag. Aandete word nie bedien voor tienuur saans nie, verseker die Katalaan se olyfswart oë my. Maar dis seweuur en ek is honger! Dit was ’n lang dag. Daar is tapaskroëe, voeg die lang man by; dié is altyd oop. Sy agteroorgekamde swart hare is blink geolie.

Met die uitstap merk ek die straatkafee oorkant die hotel is nes ons spazas tuis. Ek stap deur die smal ysterhek en bevind my in ’n vertrek so groot soos my badkamer. Die vroutjie met die grys bolla agter die toonbank groet my in Katalaans en volg my met haar onpeilbare swart oë. Sy is klein en rond met ’n lang wye romp tot bokant haar sandale. Ek koop ’n jogurt vir môre-oggend en vra vir ’n botteltjie naranja (lemoensap) vanuit haar glastoonbank. Die vrou is onmiddellik woedend kwaad vir my, haar swart oë blits. “Naran-dja-a,” korrigeer sy en wys met haar vingers hoeveel dit kos.

Ek vra haar hoe laat sy soggens open. Sy antwoord: Nueve. What time? Hoe laat? probeer ek in my eie taal, wat sy blykbaar beter verstaan, want sy hou haar hand omhoog en wys, wag! En stap doelgerig na haar vet kasregister toe. Sy slaan die syfer “9” daarop. Kommunikasiemiddele in die Westerse beskawing! Tevrede vaar ek die strate in.

Een van die mooiste prentjies in my album van herinneringe speel af in `n knus kroegie in die Avinguda del Parallel; van `n jong gesin met die oulikste klein swartoog dogtertjie. Ek hou die kindergesiggie in die reuse-spieëlwand dop. Sy sit wydsbeen op die jong man se skoot met haar ruggie teen sy bors gestut. Haar blinkleerskoentjies swaai ritmies weerskante van sy bene.

Die pa vertel vir haar `n storie terwyl die kind hom noukeurig in die spieël dophou en verwonderd toeluister. Die kroegman luister saam terwyl hy sy glase een vir een blink vryf en af en toe opkyk. Sy oë mis niks nie. Die elegante jong moeder luister woordeloos terwyl sy afgetrokke met haar glas bier speel, haar hoë hak wieg ritmies.

Ons almal se aandag is vasgevang. Ek luister saam. Na die onverstaanbare woorde wat oor die verteller se lippe borrel, na die op- en afbuiginge van sy stem soos die vertelling weifel en vloei. Die kind stel kort-kort grootoog ’n eensillabe-vragie. Die verteller brei tydsaam op sy storie uit. Ek sien hoe hy die twee kinderhandjies in elkeen van syne neem en in stadige bewegings voor haar gesiggie begin beduie: só groot was dit, só wyd. Stadig beweeg hulle inmekaargestrengelde hande van links na regs terwyl haar kinderogies die bewegings in die spieël volg.

Ek wens ek kan heelaand so daar in die warm kring van die gesin in ’n openbare kroegie bly sit, want ek het die siel van Barcelona gevind. Ek skryf poskaarte en vertel die hart van Spanje lê in die gesin, en die leefvertrek is die tapaskroeg!

Kinderprogramme op TV begin eers om nege saans, wanneer gesinne terugkeer ná hulle besoek aan die plaaslike tapaskroeg saam met vriende hul kinders. Net voor aandete. Laatnag verkneukel ek my aan Fran Drescher se vlot Katalaans in die oorgeklankte TV reeks The Nanny.

Die volgende oggend koop ek `n skyf lywige tunatert by my Katalaanse gasvrou oorkant die straat. Dis ‘ n tert van ’n tert; tuisgebak met liefde, ryk en lekker. Ek eet dit met oorgawe en suig my vingers af.

My voorgenome besoek aan die allemagtige katedraal, die Sagrada Familia, eindig weens stortende reën in die gesellige ingewande van die naaste tapaskroeg. Met my sopnat skoene uitgeskop smul ek aan bakkies bruingebraaide aartappelskywe, sampioene in vinaigrette en diepgebraaide stukkies vis, afgespoel met ’n koel Carvesa, die plaaslike bier.

Deur die tapaskroeg se bewasemde ruite skiet die halfklaar Sagrada Familia se toring-geraamte die grys lug in; die Sagrada met sy drie ingewikkelde hooffasades wat man-alleen deur Gaudi beplan is: die eerste fassade met die geboorte van Christus, die tweede met die passie en dood, en die glorie as derde fassade. Ek belowe myself ’n Gaudi-toer deur sy eertydse tuisstad.

So volg Gaudi se Casa Milà wat my totaal betower. Ek blaai later deur die gids oor ’n koppie stomende dik drinksjokolade – Chocolate a la Taza, bedien met ’n fris croissant.

Wanneer die reën bedaar, pak ek die beroemde wandelgang in die middestad, die La Rambla, verby die Kerk van Santa Anna, ’n juweel uit die 12de eeu, aan. Al met die Rambla de les Flors langs by blommestalletjies onder die stokou plataanbome verby. ’n Gedeelte van die plaveisel is versier met ’n ontwerp van Joan Miró, nog ’n beroemde boorling van Barcelona. Dis amper te mooi om daaroor te loop.

My staptog neem my deur die Boqueria-mark met sy geurige stalletjies vars groente, vleise en vissoorte tot binne-in `n koffiehoekie, ’n granja met varsgebakte Crema Catalana (crème caramel).

Ek swenk uit na die doolhof van die eeue-oue Gotiese deel van Barcelona, die Barri Gotic, op soek na die Picasso-museum. Onvoorsien beleef ek die heerlikste verdwaal tot nog toe in ’n labirint van straatjies, stadspleine en smal stegies met balkonne vol malvas. Die son syfer skuins oor drade vol wasgoed. Ek bereik uiteindelik die museum wat in ’n eertydse herehuis, Palau Berenger d’Aguila, gehuisves word.

In die klipkamers tussen die gangetjies van die museum verras die kinderlikheid van Picasso se pottebakkerswerke, sy haastige houtskoolsketse en bont prente wat afwisselend vreugde en hartseer uitdruk.

Ek koop by ’n winkel in een van die systraatjies ’n handgesnyde langsteel-hout-lepeltjie vir olywe en ’n aardbruin paella-erdebak met twee fraai ore. Ywerig wikkel die eienares dit in ’n El Mundo-dagblad toe. Op pad terug teug ek iewers aan ’n copa Cava, ’n glas Spaanse vonkelwyn.

Die laaste oggend smag ek na ontbyt en beland by ’n kafee in die systraat Comte Borrell. Dit is geleë in die kelder van ’n ou gebou agter ’n ry yl bome.

Die knalrooi tentdakkie bo die ingang lok my. ’n Uithangbord is beskilder met ’n palmboom en ’n meisie in ’n romp van gras met ’n string blomme om haar nek. Hawaii Café, kondig dit aan, Degustacion de Cafes y Bocadillos: koffie en brode word hier bedien.

Binne is die plek silwerskoon. Die roubaksteen-keldermure is oortrek met kelderpype wat kruis en dwars daaroor strek. Glase en koppies blink op die ruwe houtrakke teen die muur. Op die toonbank prut ’n espresso-masjien gesellig.

By die tafeltjie langs myne gesels ’n paartjie vertroud in enkelfrases. Hy lees koerant en teug aan sy bier; sy eet behaaglik aan ’n tortilla. Dis negeuur in die oggend, en buite loer ’n gesonde Spaanse son uit, geel soos ’n lemoen. Dis Maartmaand en die laaste Sondag van die maand waarin die horlosies van Europa klokslag om 12 met een uur vorentoe gedraai word. Die vroeglente-luggie is kil.

Wanneer ek vir oulaas teen die heuwel na die Parc de Montjuïc opstap – na die Joan Miró -stigting, nog een van die vele kunsmuseums, misreën dit weer. Heelbo word ek beloon met ’n asemrowende blik oor die wye stad Barcelona. Die strate is Sondagstil. Ver ondertoe troon die Familia Sagrada bo die geboue uit. Die katedraaltorings reik met knopperige vingerpunte na die hemel.

Ek wonder hoekom die Katalane hulle tapaskroeë met soveel oorgawe geniet en benut. Kan dit vanweë die afwesigheid van godsdiensvoorskrifte teen die euwels van drank en die lyflike genot van kuier en eet wees?

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top