Stoutwees op Sonlandpark

  • 0

Ek onthou nog die dag toe ons met ons treklorrie Sonlandpark vir die eerste keer binnegegaan het. Dit was ’n klein woonbuurt, wel vinnig aan die groei. Dit was die eerste keer dat ons van woon in ’n stad kon praat. Vereeniging. Voor ons in die PWV-streek, oftewel die Vaal Driehoek (deesdae die Vuil Driehoek) kom bly het, was al stad wat ons geken het Nelspruit. Ons het een keer elke maand vanaf Sabie daar vertoef om inkopies te doen.

Ons was nie die stad gewoond nie. Maar my pa het dit veel erger gehad; hy moes elke oggend Johannesburg toe ry vir sy werk.

Sonlandpark was ’n lieflike knus plekkie. Die mense was merendeels vriendelik, behalwe vir oom Os, soos my pa hom genoem het. Hy het langs ons gebly en altyd my en my boeties geblameer vir die afbrand van die groot oop veld oorkant ons. ’n Mens doen een keer ’n ding en jy loop vir die res van jou lewe daarmee saam … Wanneer ek nou terugdink, was dit nie ’n goeie idee om skelmpies daar te gaan rook nie.

Ons het ’n gerieflike huis gehad. ’n Rugbyveld-agterplaas, met vrugtebome wat ons deur die jare gekweek het. Mooi tuin met rose en angeliere wat heeldag en aldag gepronk het. Die buitekamer het my verskriklik bang gemaak. Ons tuingereedskap was daarin gestoor, en ná elke Saterdag se grassnyery moes ons die gereedskap gaan terugsit. My ouer boetie het altyd oor die vriendelike bure se muur gespring (die ongetroude antie was partykeer té vriendelik, veral met my oudste broer wat vir die een of ander rede bang was vir haar) – nog voor die grassnysessie begin het. Op die ou einde moes ek die gereedskap laat in die donker gaan bêre, want my sussie was té bang. Die deurslot wou nooit toesluit nie; ek het altyd daarmee gesukkel. Ek het ook altyd gehuil van vrees, en dit het gewoonlik groot sports binne die huis afgegee. Snaaks, wanneer ek my sussie sou spot omdat sy bang was, was ek in die moeilikheid, maar andersom was daar geen moeilikheid nie.

Oom Os was nie vriendelik nie. Hy het altyd op ons geskree wanneer ons sy pos steel, mits hy ons sou uitvang. Tannie Pop, aan die ander kant van ons, het altyd haar hare mooi opgedollie soos Marge van die Simpsons-faam en met ’n sigaret in haar mond haar seun en dié se pelle rondgery. Sy het dit gewoonlik deur die dag gedoen. In die aande het die laaitie in elk geval die ou tjorrietjie gesteel en met ’n gedoef-doef die strate in gevaar. Dit was die tyd net toe 6 x 9 speakers uitgekom het.

Skool was naby, net so om die hoek van ons. Max Shapirostraat. Daardie tyd kon jy nog kaalvoet skool toe loop en Sakkaboela sou jou ook nie vang nie. Die skool was ’n lekker skool – wel, so lekker soos ’n skool kon wees. Ek het in 1987 in Laerskool Sonlandpark met standerd een begin.

Die onderwysers was cool. Sport was cool. Boelies was nie cool nie. Cool was basies die eerste Engelse word wat ek geleer het by al die ander cool outjies. Ongelukkig was ek nooit een van hulle nie.

Skielik het Standerd 6 aangebreek.

Ek was gelukkig genoeg om gedurende my skoolloopbaan koerante te kon aflewer, in die koue vroeë oggendure. Al die pad af in Outeniquastraat onder in Sonlandpark tot bo in Kwartelstraat bo in Falcon Ridge, waar my oudste broer vandag bly. Vir hierdie doeleindes het ek vir my ’n dikwielfiets aangeskaf, ’n mooi swarte met ’n Harley Davidson stuurwiel – en kon self hoërskool toe ry met my back-paddle-fiets. Ek kon ook van die boelies af wegjaag deur die lang strate van Sonlandpark, veral Majuba en Naas Rautenbach.

Soms, wanneer ek ’n pap band gehad het en te lui was om dit reg te maak (ek dink nou: miskien moes ek nie so lui gewees het nie en die tuingereedskap vroeër gaan bêre het, want ek sou myself baie slapelose nagte kon spaar) sou my ma my en my ouer broer in die middae by Hoërskool Overvaal oppik, net bokant die ryk gedeelte van Sonlandpark en onder in Falcon Ridge. Ek sien nou nog die roesbruin Cortina-stasiewa om die hoek aankom.

Op skool besef mens nie wat alles buite jou vakuum gebeur nie. Ons wou nie die nuus kyk nie, ons wou cool Arnold Schwarzenegger-flieks en cool Sylvester Stallone-flieks kyk, dis al. MNET het daardie tyd net uitgekom.

Onwetend van hoe die wêreld begin verander het, en hoe ons eens mooi woonbuurt ook stelselmatig begin verlep het, het ons kattekwaad aangevang en tannie Pop en oom Os grensloos die mure uitgedryf.

Matriek geslaag, ek weet nie hoe nie, en begin werk soek. Dit was nie maklik nie. Dis tóé dat ek vinnig van politiek begin leer. Gelukkig kon ons ’n besigheid in die hartjie van Vereeniging begin.

Ons moes self al die advertensies op straathoeke of op karre se windskerms kry. Ek was verbaas toe ’n vriendelike man die eerste keer my selfoon gryp en weghol. Hy sou ’n goeie Olimpiese atleet gemaak het, en die polisie het hom seker nooit gevang nie.

Elke maand het meer en meer winkels begin toemaak om plek te maak vir nuwer winkels. Ou geboue is afgebreek net om ’n kleiner geboutjie op te rig. House & Home beslaan nou slegs een vloer in plaas van drie. Die O.K. bestaan nie meer nie, maar meer belangrik, Panarotti’s en Mike’s Kitchen bestaan nie meer nie.

Ek het snaaks genoeg verlede week getel hoeveel tweedehandse motorhandelaars daar in Vereeniging is, dis meer as ’n honderd. Plus dan by die aantal cash loans en dan die selfoonwinkels. Dis waaruit Vereeniging deesdae bestaan.

Seker nou nie al nie, maar op die oog af lyk dit so. Hier en daar is daar darem iets anders soos ’n klerewinkel of twee. Geen ysterwarewinkels tussen al die vinnige fish and chips-winkeltjies in sig nie.

Het die tyd dan so vinnig verbygegaan?

Ek bly lankal nie meer in Sonlandpark nie. Ek besoek dit deesdae net om vir my skoonsus te gaan kuier. Ons huis in Waterbergstraat pronk nie meer onder al die ander uit nie. Ons vrugtebome is al lankal kunsmis, en daar word ook nie eens meer rugby gespeel in ons agterplaas nie. Oom Os se hond MacGyver is dood en tannie Pop bly ook nie meer daar nie.
Wanneer ek Sonlandpark binnery, onthou ek hoe ek en my boetie by die Four Square-winkelkompleks vislyn aan ’n beursie vasgemaak en dit voor die ingang van die winkel neergesit het. Dit het ons ure vermaak om te kyk hoe mense vir ’n beursie vol koerantpapier-geld spring.

Sies tog, ou Manny leef ook nie meer nie, nes sy winkel waar ons games gespeel het. Dis vandag ’n kroeg, of was ’n kroeg en word toe weer ’n kroeg.

Ons ou kerk het ook agteruitgegaan. NG kerk Sonlandpark was ’n lekker kerk, net die pad af, onder in Waterbergstraat. Ek onthou die basaar wat elke jaar daar gehou is. Ek het altyd baie boekmerkies gewen en my ma het altyd skoonskip gemaak met haar fudge en koekies. My pa was ’n diaken en my ma het die Dankie-sê-blikkies en die biblioteek behartig. Dit was lekker tye. Goeie tye.

Ongelukkig is daar altyd ’n vyand of twee in elke verhaal. Vir die een of ander rede het dominee Ampie besluit om te trek. Later sou ons uitvind dat daar van die kerk se geld spoorloos verdwyn het en dit het dominee Ampie baie omgekrap. Neem hom nie kwalik nie.

Sedertdien is die kerk ’n spookkerk.

My vroutjie, my droomvrou, was in dieselfde kerk as ek, dieselfde laerskool as ek. Ons het al lankal van skool en Sonlandpark vergeet toe ons mekaar weer raakgeloop het.
Ons het getrou in die NG kerk Sonlandpark en ons onthaal was in Laerskool Sonlandpark, die plekke waar alles begin het, waar alles eendag sal eindig.

Soms wonder ek: Moet ek nie maar Vereeniging verlaat en groener weivelde soek nie? Aangesien Sonlandpark se son nie meer skyn nie en die valke van Falcon Ridge ook begin wegtrek. My vriende sit in Ierland, Wene, Chicago en Boekarest. Dit gaan glo goed met hulle almal.

Dan dink ek, ek gaan nie sommer weghardloop nie, het nog nooit, ook al is ek baie geboelie op skool en baie deur oom Os se afgryslike hond gebyt.

Dan wonder ek verder: Is dit nie dalk ons eie fout dat Vereeniging en Sonlandpark agteruitgaan nie?

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top