Huistoe

  • 0

Ek weet die Kaapse winter het aangebreek toe die reën knap voor Junie ’n week lank aanhou. My lus vir hot chocolate en sop is soos die reën ­– sonder einde. Ná aandete saans soek ek iets soets om aan te knibbel terwyl ek knus onder my kombersie sit. My gestel werk saam met die seisoene.

“My lief, sal ons nie ’n draai gaan maak in die Boesmanland nie,” vra ek een aand oor ’n glasie rooiwyn. Manlief lyk heel ingenome met die gedagte. Ek weet ons agendas verskil. Hy sien uit na Springbokjag saam met my pa. Ek sien uit na sommer net wéés.

Ek pak padkos vir die 800 km plaas toe, huis toe. Ons het grootgeword met padkos. Régte padkos. Ek maak frikkadelletjies, eier-en-mayonaisebroodjies en pasteitjies. Net soos ek grootgeword het. Daar’s vrugte, net vir my gewete. Ons gooi ook soet moerkoffie in ons koffiebottel.

Ons ry voor die Paarl ontwaak. Byna al die ligte in ons buurt is nog donker toe ons wit Rav uit die woonbuurt ry. Ek voel tintelend opgewonde.

Toe ons Klawer binnery, begin die son versigtig opkom. Ons stop vir petrol en Wimpy-koffie, ondanks ons bottelkoffie. Dis altyd ’n móét: Wimpy-koffie op Klawer. Dit proe anders as enige ander koffie by enige ander Wimpy in Suid-Afrika.

Ek voel altyd “huis” as ons Bitterfontein se bordjie kry. Ons stop vir padkos iewers tussen nêrens. Dis net die stilte en ons.

Die oggendlig is nog koel toe ons Pofadder se kerktoring in die verte gewaar. Toe weet ons: Dis nou regtig nie meer ver nie. Ons stop vir oulaas vir brandstof by die kafee soos jy uitry uit Pofadder. Regoor die pad sit ’n swart vrou wat ’n verskeidenheid blikdiere verkoop. Ek het nog nooit vantevore so ’n wye verskeidenheid gesien nie! Die kafee het skuinskoek, biltong, beskuit en heuning. Alles uit die kontrei.

Die laaste stukkie huis toe is altyd so lank. Dis op hierdie stuk stofpad wat my hart begin rus kry. Alles in my raak rustig. Dis 130 km se stof en vlaktes en dan kry jy die bordjie op linkerhand: Makkiesplaas. Die Nels. Dis ons plaas. Dis waar my wortels ingegrawe lê.

Jy kry eers die hek op linkerhand by die kraal, dan is dit klipgooi se ry voor jy die werf binnery. Ek maan my man om stadiger te ry. Ek wil eers wyd se kyk, kyk. Ek sien links in die verte ’n lowergroen doringboompie. Die boompie by ’n gronddammetjie staan uit soos ’n seer oog tussen bruin bosvlaktes so ver jy kyk. Op die wal van daardie dammetjie het ons al baie piekniek gehou. Skuins voor my gewaar ek die begraafplaas. Die ses grafstene lyk verlate so tussen die niks.

My oog vang ook die houtkruis regs op ’n effense hoogte. Ons gesin het dit baie Paasfeeste gelede daar geplant. Dit was ’n heilige oomblik. Ek tel eers die windpompe voor ons afklim vir groet. Die windpomp by die klipdam, ons swemdam, staan stil in die flou winterson. Dié windpomp maak ’n droewige geluid as die wind sterk genoeg waai. “Climax” staan op sy stert geskryf. Die windpomp wat die huiswater pomp, is net ’n stippeltjie anderkant die begraafplaas. Die windpomp by die beeskraal is ook rustig. In daardie windpomp se dam is vissies. Ek het so baiekeer al daar gaan krummels gooi vir die vis.

Ons klim uit.

My pa en tannie Marinda wag ons op die voorstoep in. My pa sê hulle is al óp gewag. Hy kan nie wag om sy kleinkind te sien nie. Die koffiewater kook al. Tannie Marinda het spesiaal van tannie Keppies se skuinskoek gekoop.

As die namiddagson skelmpies begin flouer skyn, pluk ek malvas uit tannie Marinda se tuin en kies koers begraafplaas toe. Ek moet eers vir Mamma gaan groet. Namiddaggeluide breek die hemelse plaasstilte. Voëltjies maak ook gereed vir die aand. Hulle gesels vrolik in die doringbome. Ek hoor iemand gee die hoenders kos. Eers die kraan wat bo hul waterbak oopgemaak word. Dan die blik wat mielies uit die groot blik skep. Ek hoor die kraal se hek se oop-en-toe. Die skape in die kraal kry lusern. Ek hoor hoe Hendrik se klein Franklin op sy kindermanier met sy pa gesels terwyl sy pa voer gee.

Ek sit sommer so op die graf se rand vir lekkerder gesels met my ma. Langbeenboesmangras groei tussen die grafte en die olyfboompies wat my pa geplant het. Die veld is droog, sien ek. Makkiesplaas is ’n grasplaas. Die gras lyk moeg van lewe. En die lang winter lê nog voor.

Op pad huistoe ruik ek die vuurtjie.Die stemme gesels al in die skerm, hoor ek. Ek wonder vlugtig hoeveel Jakkalspisbossies word vir so ’n skerm gebruik.

Almal is daar.

My pa, tannie Marinda, my man, en my sussies. “Pappa het vanaand spesiaal ’n winddroogrib om vir jou te braai. En skilpadjies en roosterkoek,” verklap my pa trots  terwyl hy nog ’n stompie op die vuur gooi. My pa weet net hoe om my te bederf.

Toe ek met my eerste glasie wyn langs die vuur staan, weet ek: Ek’s by die huis. Ek’s in die Boesmanland.

’n Week se kuier later gaan stap ek my laaste stap voor ons terugry Paarl toe. Dis nog baie vroeg en druppels dou hang vars aan die kampdrade. Spinnerakke tussen Driedoringbosse lyk amper sprokiesagtig met doudruppels wat soos diamante daaraan hang. Ek hoor ’n duif iewers koer. Skape blêr na die dammetjie se rigting toe. Makkiesplaas maak reg vir ’n nuwe dag. Ek tel ’n klippie op my pad op en gooi dit in my sak.

Ek sal dit by die huis in my tuin sit. Dis vir onthou van my laaste vroegoggendstap in die Boesmanland.



  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top