Die bure kom nie uit nie, nie nou al nie, maar mens voel hulle vanuit die skemer agter blindings en sifdeure loer. So ’n gedoente steek mens nie weg nie. Hoe draai mens ’n trektrok in ’n cul-de-sac? Die antwoord is eenvoudig: jy draai nie ’n trektrok in ’n cul-de-sac nie. Jy trek dit vorentoe in en jy tru dit weer bult af uit. En tussendeur, in die bloedige en bedompige hitte van Queensland se hoogsomer, laai jy af. Nou vervloek jy elkeen van die veertig bokse boeke – kon dit nie maar agtergebly het nie? – maar later sal jy bly wees oor Groot Verseboek, Ingrid Winterbach, Eybers en Agaat. Afrikaans.
Hier bo in die keerweer se buik kom die bries van die see af nog by, bult oor. Dit bring verligting. Ons laat die deure oop, skakel die dakwaaiers aan en wonder of ons dalk volgende jaar die huis se lugversorging sal leer ken. Nou meet ons nog alles, elektrisiteitsverbruik inkluis, in randverrekende Australiese dollars. Minder verligtend.
Ons slaap te laat en mis die sonsopkoms. Die vroeëmôresee is nietemin ’n wals. Gladstone, sê die vrou wat met haar kolliehonde uit die sonlig aangestap kom, is goed. Boyne Island is beter. Tannum Sands is die beste. Ons knik instemmend kop.
Gladstone lê teen Queensland se ooskus net waar die Groot Koraalrif se rugwerwels begin voor dit duisend myl noord wegstrek. Dit is ’n hawestad – skepe vol steenkool, aluminium, aardgas. Industrieë floreer. Visse vrek. Twintig kilometer suid hurk Boyne Island en Tannum Sands, twee kuiltjies aan weerskante van die Boynerivier se mond.
Die brug oor die Boyne is nuut. Lank terug was daar nét die rivier en die eiland, visplek en weiveld. Later het dit dorp geword. Soms was daar uitstappies na die strande aan die suidekant van die mond. Een Sondagskoolgroepie het sonverbrand teruggekeer na min simpatie – “We can really tan ‘um over there”. Van daar, Tannum Sands. Sedert 1980 span die John Oxley-brug oor die rivier en is die twee dorpe een gemeenskap – ? Siamese tweeling met ’n gedeelde wateraar.
Bruce van langsaan kom dagsê, sy aksent so swaar soos modder. Hy werk by die aluminiumsmelter op Boyne Island. Soms werk hy nagskof, dan sien mens hom min. Ander kere het hy vier dae aaneen af. Daar is ’n vissie op sy kuit getatoeëer. Die boot voor op sy grasperk het hy ’n aantal jare terug in ’n lotery gewen tydens die Boyne Tannum Hookup, ’n groot jaarlikse visvangokkasie.
Die Boyne-smelter is Australië se grootste aluminiumsmelter en een van die redes vir die baie inwoners, insluitende Suid-Afrikaners. Soos ook die ontwikkelings op Curtis Eiland by Gladstone, vir baie die raison d’être. Die grootste deel van die eiland is ’n nasionale park. Net langsaan werk duisende aan die konstruksie van drie aardgasplante wat uiteindelik 11 miljoen ton vir uitvoer sal lewer. Besoedelend, vermoed ons. Maar Tannum se lug is skoon, die winde waai dit elders heen. Net soms is daar vuil groen skuim in die golwe.
Bruce se vrou, Anne, is klein en reguit, geen tierlantyntjies nie. Calling a spade a spade. Soggens stap sy die kilometer of twee na die Palm Valley-motel, waar sy as skoonmaker werk. Waar sy nie skroom om soms die hef in die hand te neem nie. Letterlik. ’n Taipan, een van Australië se giftigste en mees aggressiewe slange, het sy hier in een van die eenhede met ’n kombuismes doodgesteek. Anne haal haar skouers op. Ek het só gebewe, nè, beduie sy. Maar ek kon dit nie los nie, nè, ek kon nie eers gaan hulp soek nie. Maar ná die tyd – ek het só gebewe, nè.
In ’n keerweer het mens baie bure. Skuins oorkant bly Mary en Steve met hulle twee dogtertjies en ’n skewebek brakkie. Soos baie werkers hier is Steve se lewe een van kom en gaan. Vir hom – vyf weke aan, vyf weke af as dieselwerktuigkundige op Curtis-eiland. Nou kom sy kontrak tot ’n einde. Byna oornag besluit hulle om na Brisbane te verhuis. Daar is die verblyf goedkoper en meer permanente werk dalk beskikbaar. Die buurvrou sny weekliks hulle gras tot die nuwe huurders intrek.
Hier is ook twee ander Suid-Afrikaners. Hulle is reeds drie jaar in die land; burgerskap kom nader. Ons gesels oor die heining en lag in Afrikaans. Waar hulle kruie tussen die heiningplanke deurgroei, pluk ek vir my steggies af.
In Millennium Esplanade streep ’n hand vol seeskilpaaie oor die pad. ’n Entjie verderaan weer. Motors ry wiegend bo-oor, of wydsbeen. Kinders moet die plat sementrûe fassinerend vind, dink ek, maar sien tóg nooit een van dop tot dop spring nie. Daar is ander attraksies – die speelpark, fiets- of skaatsplankry op die slingerende paadjie tussen groot wildevye en eukaliptusse deur, die grasperke, die see. Veral die see.
Met laagwater trek die see honderde meter ver terug oor ’n getyvlakte. Mense kom met honde en kinders strand toe en plas in die paar agtergelate sloepies of stap uit na waar die waters weer kalm ingolf land toe.
Aan die strand se suidpunt loop Wild Cattle Creek leeg. Ons hou die getykaart dop en glip deur die enkeldiep water by die monding. Met ’n paar hale tree ons twee honderd en vyftig jaar terug, na ’n tyd voor 1770 toe James Cook hier verbygevaar het. Die strand strek kilometers ver ongerep voort. ’n Enkele seemeeu vlieg op, land ’n entjie verder, vlieg weer op en uit oor die see. ’n Groot boomstomp het uitgespoel, heeltemal oortrek met skulpe, asof iemand daarvan ’n mosaïek gemaak het. Toe ons ná ’n uur omdraai, is die inkomende gety reeds ons voetspore aan die toespoel. Iewers see-in ís daar ’n skip. Maar dis nie Cook se Endeavour nie.
Op die horison wag daar altyd skepe. Dag en nag dryf hulle soos swaar swane verby na Gladstone-hawe. Saans is die kim vol liggies. Een aand staan ons in ’n koue wind en wag vir die volmaan om op te kom. Tussen twee skepe rys dit uit die water op.
’n Aantal maande later is daar nog ’n volmaan. Dis weer 25 April, Anzac-dag. Die Australian and New Zealand Army Corps val Turkye binne by Gallipoli, maar ná agt maande moet hulle opgee en omkeer. Maar dis nie die einde nie en in 1918 gee Turkye oor.
Op die walle van die Boyne-rivier vang ons vis saam met ons nuwe bure en kyk hoe die volmaan tussen die bloekombome deur oor die water opkom. Dan pak ons op en keer terug, huis toe. Ons is al agt maande in Australië en vir ons is dit nie ’n doodloopstraat nie. Dit is ’n keerweer, die begin van ’n nuwe offensief.

