Somer, son en suurlemoen – ons kuier op die Sorrentynse skiereiland!
Tydens my onlangse besoek aan Suid-Italië het ek groot respek gekry vir die lemoncedro, oftewel suurlemoen wat koningstatus beklee in die Napolitaanse streek en veral in Sorrento. Elke tuin, elke straat, park of agterplaas het sy swaardragtige suurlemoenbome.
Seep, reukwater, roomys, nougat, marmelade, kerse, limoncello-likeur – net waaraan jy kan dink – word van die “eenvoudige” aromatiese sitrusvrug gemaak. Dié suurlemoen is heelwat groter as dié wat ons ken en ligter van kleur, amper soos ’n yslike pomelo. Op ’n warm somersdag het ons ons veral verlustig aan die granita, soet suurlemoensap op fyn ys – net die regte opkikker.
Ons nesskopplek vir ’n week lank was Sorrento, wat vanaf die Napels-stasie per Circumvesuviana-treintjie bereikbaar is. Sorrento is die hartklop van die skiereiland; hiervandaan vertrek veerbote na die nabygeleë eiland Capri, toeristetreintjies, dubbeldekker-busse of oranje Sita-bussies neem besoekers rond vir besigtiging van Sorrento en die omgewing.
Te voet sien jy egter die dorp in al sy glorie en eenvoud – glorie synde die manjifieke panoramas oor die marinas, Napels-hawe en die Excelsior Vittoria-hotel wat tot sewe eksklusiewe troues per dag reël, en eenvoud synde die wasgoedjies oor ’n balkon uitgehang, en die lieflike lukwartboom wat ‘n ereplek by ’n voordeur het. By ’n groentewinkeltjie kyk ons toe hoe ’n vrou haar mandjie uit die boonste verdieping laat sak sodat die groenteman onder haar daaglikse aankope kan opkatrol. Die kleuterskooloptog se tema is die see; klein skulpies, meerminne, seekatte en seeperdjies trippel vrolik straataf.
Giardino Publico het ’n mooi uitkykplek oor die kaaibedrywighede van Marina Grande, die baaiplekke of spaggias van Marina Piccolo, oor die beroemde Baai van Napels en Vesuvius in die blou verte. Ek neem my voor om ook daar ver onder in die helder water te gaan ronddobber. Ons gaan loer in by die klooster van San Francesco wat tans uitstallings van allerlei kunswerke huisves. My kamera werk oortyd om al die visuele indrukke van beelde, monumente, tuine en vergesigte vas te lê.
Wandel ‘n mens so langs smal afdraaipaadjies, kom jy af op piepklein agterplasies agter berankte klipmure. Deur ’n skrefie loer jy na omies wat in hul groentetuintjies skoffel tussen pampoenranke, aarbeibeddings en boontjiestellasies, of tannietjies wat doenig is met wasgoed op die draad.
Die hoofstrate Corso Italia en Via Cesaro het ’n menigte winkeltjies wat porselein, keramiek, houtinlegwerk of skilderwerke verkoop. By stalletjies hoor jy die trillende mandolien-musiek uit die maag van die amandelvormige snaarintrument en ek koop op die plek ’n CD met Napolitaanse musiek, lek aan ’n verfrissende limun-sorbet en onderhandel oor die prys van ’n intarsiato-juweledosie. By Cameii e Coralli sien ons ’n skulpgraveerder met vergrootglas-bril wat tydsaam en versigting ’n mooi kamee uitkerf. Koraalkrale hang in begeerlike stringe en snoere.
Piazza Tasso, vernoem na ’n beroemde digter, die “Shakespeare van Sorrento”, is die plek vir mense kyk, vir perdekoetse wat langs Lamborghini's verbyskuur, en vir die laatmiddag passegiata wat die gebruiklike uitstaptyd is.
Vir ’n middag-uitstappie (slegs €1 per rit) ry ons na Punta Cabo, waar mens tussen die ruïnes van ’n Romeinse villa kan swem, en waar ons inloer by La Tonnerella, ’n hotel reg op die krans waar ’n mens oor ’n traliebalkon kan afkyk op die medussa-jellievisse wat in digte kolonies in die deurskynende water daar vér onder ronddryf.
Someraande teen halftien kies almal koers na Teatro Tasso vir meesleurende mandolien-musiek en vrolike Tarantella-volksdansuitvoerings deur plaaslike kunstenaars wat bedags ander ambagte beoefen.
Vir verkenning van die skiereiland-kuslyn maak mens maar gebruik van plaaslike vervoer; die Sita-bussies steun opdraandes uit, rakelings verby ander verkeer op die smal paaie en om skerp klipmuurdraaie.
Die Amalfi-kuspad word allerweë beskou as een van die mees natuurskone ritte in Italië. Eintlik skiet my woordeskat tekort vir ‘n gepaste beskrywing van hierdie uitmuntende panoramiese kranspad-roete. Dorpies klou hoog teen die kranse vas en onder lê die see blou en stil soos ’n dam. Hoewel die hoogste heuwels soms vroegoggend in Mei nog onder ’n miskombersie lê, ry jy gou daardeur en as jy afsak kus se kant toe, is die lug helder skoon en kyk mens ver uit oor die see waar allerlei vaartuie soos blink spikkels in die oggendson vertoon.
Terrastuine agter gegote ystertralies is uitgebou tot teenaan kranse wat loodreg ondertoe val. In die verbyry merk ek ’n marmer madonna, ’n Pan-beeldjie wat sy fluit bespeel, en wingerd-terrasse wat skuins kranswaarts neig.
Positano en Amalfi het gewildheid verwerf weens hul panoramiese ligging en besondere ambience. Lieflike villas met “hangende tuine” is op die onmoontlikste plekke teen die skuinstes aangelê. Kerktorinkies en sipresse wat hoog bo óp mekaar wonings in subtiele pastelkleure uittroon, skep ’n onvergeetlike Mediterreense dorpsprofiel.
Op die klipstrandjies kan jy wandel (mits jy ’n lekker gemaklike paar Crocs aan jou voete het!), of veilig in helder water baai. Iewers onder ’n bougainvilea-berankte pergola sit en eet jy ’n stuk pizza of panini met kaas en prosciutto, of bestel ’n peperduur cappuccino. Deur ystertralies verwonder ons ons aan die spuitfonteine en keramiek-“skilderye” teen die mure van eksklusiewe villas met eksotiese name, soos Villa Sirena of Villa dei Pini.
By Positano besluit ons om ’n bootrit na Grotta Smeralda te onderneem. Dit neem so twee ure lank heen en weer. Die groen grot ontleen sy mooi smaragkleur aan ’n skeur in die rotse onder die water waardeur die sonlig binnetoe kaats en ’n helder fosforagtige groen wonderwêreld skep. Die roeispaan kap ’n boog skitterliggies uit die water.
Amalfi se aantrekkingskrag is die Cobalto-strand en die hoë trappies na die St. Andreas-kerk met sy mooi ou groenkoperdeure. Op die pleintjie sit besoekers en wag vir die klokkespel om twaalfuur. Tyd kan ingeruim word vir ’n kort begeleide besoek aan die papierfabriek waar handgemaakte Amalfitana-papier met geparste blomme en blare vervaardig word. Die Metro del Mar vaar laatmiddag al langs die kranskuspad terug Sorrento toe.
Dan word ’n dag spesiaal opsygesit vir Capri-eiland wat teen €25 heen en weer per Caremar-veerboot bereikbaar is. Die geheim van so ’n besoek aan die immergewilde Capri is vroeg uit die vere en vroeg terug, sodat die toustaan en gedrang van toeriste op die kaaie vermy kan word. Hier in die suide begin die toeristeseisoen mos al in April.
Capri se Monte Solero is letterlik en figuurlik die hoogtepunt. My kleindogter sou die rit as "scary" beskryf en ek sal dit beaam, want die halfsekonde wat jy het om te sit en vas te gordel, is blitsig. Dan ruk die gemeganiseerde kabel jou op en oor die allermooiste veld. ’n Mens voel vry en ongebonde as jy sowat vyf meter hoog bo-oor die agterplaas-tuintjies beweeg en dan verder oor die aromatiese geel besembos en heuningblomveld. Dit is so stil dat jou stem ver trek as jy wil "oe!" en "aah!". Dan bly jy stil en luister na die absolute stilte wat slegs af en toe deur ’n kwetterende voëltjie verbreek word.
Hoe hoër, hoe verder kyk mens uit oor die eiland met sy baaie en ou Romeinse villas waarvoor Capri sy bekendheid verwerf het, soos Villa Jovis en Villa San Michele.
By Capri-dorp, Anacapri en Marina Piccolo hoor jy alle tale en is enige kleredrag aanvaarbaar. Besoekers is nie om hulself hier nie, maar om te sien en te absorbeer wat anders is as wat hulle tuis het. Almal hier is alles gewoond en geen wenkbrou word gelig oor dit wat vreemd voorkom nie. Ons leer dat elke artikel sy bedingingsprys het, besluit dat behendige busbestuurders beslis medaljes waardig is en ervaar dat jy bussies kan volprop tot barstens toe sonder dat iemand ’n oog knip, frons of ongeduldig word.
Baie dinge is aanvaarbaar hier in die suide, maar kennisgewings “Vietato fumare” (rook verbode) is wel oral aangebring. Ten spyte van hordes mense het ek niks sien rondlê wat enigsins na rommel of gemors gelyk het nie.
In die turkooisgroen water by Marina Piccolo se klipstrandjie moet ek vir oulaas gaan swem, sommer so tussen die kleurryke geankerde bootjies deur, Crocs en al! ’n Swembroek word sommer so aan jou lyf droog op pad bushalte toe.
Op Capri sou ek ’n week lank kon vertoef sonder om verveeld of ongeduldig te raak. Daar is baie wegkruipplekke langs smal klipstegies vir jou eie stiltes.


Kommentaar
Ek hou van jou ''n Sitrus-somer', Magda.