Wannie Carstens is in Julie 2024 met die Jan H Maraisprys van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns bekroon. Hierdie toekenning gee erkenning vir ’n uitstaande bydrae tot Afrikaans as wetenskapstaal deur wetenskaplike werk en publikasies op hoë vlak en van hoë gehalte in Afrikaans. Die prys word aan Carstens toegeken ter erkenning van sy vakkundige bydrae ten bate van die Afrikaanse taalkunde.
Menán van Heerden gesels met Wannie oor sy loopbaan en oor Afrikaans.
Wannie, baie geluk! Wat het jou genoop om jou loopbaan rondom die Afrikaanse taal te bou?
Elke loopbaan het ’n unieke storie waarin toeval ’n groot rol speel. Daar is gewoonlik ’n besondere persoon of gebeurtenis wat ’n mens motiveer tot ’n volgende stap. In my geval het ek ’n besondere onderwyser aan die Hoërskool Jan Möhr in Windhoek (waar ek in 1970 gematrikuleer het) gehad – mnr Hennie Brand – en hy het deur sy klasgee iets van die wonder van Afrikaans vir my ontsluit. Tot vandag toe weet ek nog nie wat dit presies was wat hy gedoen het nie, maar sy benadering tot Afrikaans as vak het die vaalheid van die vak laat verdwyn.
Toe ek in 1971 aan die US begin studeer het met Afrikaans-Nederlands en Duits as hoofvakke, het ek die Afrikaanse pad begin loop. Tydens my voorgraadse studie het een van my dosente (die latere Henning Snyman van UCT) “iets” (hopelik ’n talent!) in my raakgesien en my aangemoedig om verder te studeer nadat ek my BA Tale verwerf het. In my honneursjaar het dit duidelik geword dit is wat ek wil doen: dat Afrikaans (in die besonder Afrikaanse taalkunde) my fokus sou word. Weens beursverpligtinge moes ek eers my HOD verwerf voordat ek in 1976 my MA kon aanpak. Die geleenthede vir poste was min, maar toe daar aan die einde van my MA-studie (met Meyer de Villiers die leier van my M-skripsie) in April 1977 aan die US ’n vakature ontstaan het toe Henning Snyman ’n pos by UCT aanvaar het, was ek toevallig op die regte tyd op die regte plek. Ek is die pos as junior lektor aangebied en so het my loopbaan begin. Dit was kort voor lank duidelik ek was waar ek wou wees. Bykans 50 jaar later is ek steeds daarmee besig!
Publikasies oor die Afrikaanse taalkunde en die geskiedenis van Afrikaans, soos Die storie van Afrikaans, is lewensare van kennisverspreiding en -uitbreiding. Wat is vir jou interessante navorsing wat tans oor Afrikaans gedoen word? Watter navorsing moet nog onderneem word?
Daar word tans deur die jonger garde innoverende werk gedoen, soos VivA se Grammatikaportaal wat die Afrikaanse grammatika op ’n nuwe manier beskryf en dit ook toeganklik probeer maak vir ’n breër gehoor. Hulle werk met data (materiaal oor werklike taalgebruik) en metodes (korpuslinguistiek) waartoe my generasie nie toegang gehad het nie. Die moontlikhede wat dit bied, is eindeloos en ek beny hulle die wêrelde wat dit ontsluit. Maar my tyd is verby en ek neem met groot jaloesie kennis van wat hulle doen. Dit is nogal interessant dat my eie D-studie (in 1980–1984) ook van data afhanklik was, maar daardie tyd het ons met die sompompie ons berekeninge gedoen. Deesdae doen rekenaars dit sommer blitsig.
Daar is so baie wat nog gedoen moet word oor die Afrikaanse taalkunde. Nadat werk aan deel 2 van Die storie van Afrikaans (2019, saam met Edith Raidt) voltooi is, is ek gevra om die EB van Wyk-gedenklesing by UJ te lewer en ek het gepraat oor “Geskiedskrywing en beskrywing van Afrikaans: Wat is daar nog te sê oor Afrikaans?”. Ek het na aanleiding van my werk aan Storie agtergekom hoeveel leemtes daar nog bestaan, nie net oor die geskiedenis van Afrikaans nie, maar ook oor die beskrywing van Afrikaans uit ’n sinchroniese hoek. Lesers wat belang stel in my lysie kan gerus hierdie bydrae gaan raadpleeg – in Van Niekerk, A. e.a. (reds.). 2019. JC Steyn en Afrikaans – ’n Viering. Bloemfontein: SUN Media Bloem. 177–212. Daar is nog baie te doen, ook uit ’n normatiewe hoek. Soveel bronne oor Afrikaans is verouderd en moet dringend bygewerk word. Ek hoop die jonger mense besef watter verantwoordelikheid op hulle lê.
Jy het as gasdosent by verskeie universiteite oorsee opgetree. Jy het ook verskeie samewerkingsooreenkomste tussen universiteite en instansies in die Lae Lande en in Suid-Afrika inisieer. In lande soos Nederland, België, Kroasië en Oostenryk: Wat is die internasionale akademiese en kulturele voetspoor van Afrikaans in 2024? In watter mate het die verhouding tussen die Afrikaanse wêreld en die Lae Lande verander oor die jare?
Ek was nog altyd iemand wat waarde geheg het aan die bou van netwerke, en dit is afhanklik van goeie interpersoonlike verhoudinge met kollegas in ander wêrelddele. Netwerke skep geleenthede vir vakgenote, maar dit verg werk om dit te vestig en in stand te hou. Dit het my gerig in hoe ek te werk gegaan het en ek glo dat deur my manier van doen daar talle geleenthede vir internasionale samewerking gekom het, en daardeur ook geleenthede vir kollegas en studente in die veld. Ná die laat 1990’s het al hoe meer geleenthede vir samewerking gekom en daar waar geleenthede vir samewerking ontgin kon word, is dit met ywer en oortuiging gedoen. Self het ek les gegee in die VSA, die Lae Lande en talle lande elders in Europa en ek glo dat ek hierdeur talle deure vir Afrikaans oopgesluit het. Dikwels was ek op die regte tyd op die regte plek en kon daar ’n ooreenkoms tot stand kom soos met Antwerpen, Gent en Leiden. Vandag is daar etlike samewerkingsooreenkomste tussen universiteite in SA en lande elders (in die geval van Afrikaans in die besonder in die Lae Lande) wat Afrikaanse taal en letterkundiges baat, en ek is trots dat ek op my manier daartoe kon bydrae. Daar is ook in 2017 ’n leerstoel vir Afrikaans gevestig in Gent (naas die een in Amsterdam) en die “Festival voor het Afrikaans” word sedert 2011 aangebied. Klein stappies, maar aan die ander kant ook groot stappe vir kulturele skakeling. Ek het in November 2023 deelgeneem aan die fees in Den Haag en watter fees was dit nie!
Hierdie geleenthede het nie sommer net tot stand gekom nie. Dit het oor jare gebeur danksy mense wat bereid was om uit hulle gemaksones te beweeg en kulturele skakeling te bewerkstellig. Dit kom weer terug op wat ek aan die begin van hierdie afdeling gesê het: Bou aan gesonde menseverhoudinge en die vrugte word mettertyd gepluk. Wees geduldig en bou aan vriendskappe. Ek hoop van harte dat van die jonger garde bereid sal wees om my rol hier oor te neem. Dit lyk darem so as ek kyk na die sukses van Samespraak onder leiding van Alwyn Roux en Yves T’Sjoen.
Het die Afrikaanse taalwêreld iets om oor te praat met ander taalwêrelde in die suidelike halfrond? Word daar genoeg in hierdie verband gedoen?
Ons kan waarskynlik meer doen as wat tans die geval is, maar met Samespraak en die byeenkomste van die SAVN, soos onlangs die 11de internasionale kongres van die SAVN in Windhoek, en die bywoon van die kongres van die IVN (soos in Augustus 2025 in Brussel) ontstaan daar geleenthede vir die wedersydse ontsluit van hierdie taalwêrelde. Studiegeleenthede vir nagraadse studente in die Lae Lande en ook navorsingsbesoeke van akademici ontsluit dit nog verder. Ek en Yves T’Sjoen het in 2018 voorgestel dat daar ’n wisselleerstoel tot stand moet kom om die rol van Nederlands in SA te versterk. Danksy ’n ooreenkoms met die Taalunie het dit moontlik geword. Weer eens: Hierdie soort geleenthede kom na vore omdat mense dit laat gebeur (ek, Yves, die bestuur van die SAVN, en andere) en dit plaas ’n groot verantwoordelikheid op die jonger garde om dit te doen. Niks gebeur vanself nie. Ons het meer as genoeg om vakkundig oor te praat met ander wêrelddele waar Afrikaans aangebied word en dit moet ons met ywer en entoesiasme doen. Toe daar in 2019 ’n geleentheid gekom het (na aanleiding van ’n uitnodiging tydens IVN 2018 in Leuven) om klasse oor die Afrikaanse taalkunde op ’n Europese rondreis te gaan gee, het ek die kans aangegryp, dit gedoen – baie deure is oopgemaak en entoesiasme vir Afrikaans gewek. Ek het my byna in die hospitaal ingewerk, maar die langtermyndividende is groot. Dus: Gryp die kans as dit kom en doen dit. Skroomvalligheid is nie nou die aangewese manier van doen nie. Wees opportunisties en ontgin geleenthede (samewerking aan projekte, uitruil, ensovoorts) as geleenthede ontstaan, soos ek in 2019 gedoen het.
Deur die jare het jy ’n sentrale rol by verskeie organisasies en akademiese tydskrifte gespeel. Watter raad sal jy vir jong mense gee wat ’n loopbaan in Afrikaans wil volg, veral noudat dit lyk asof die Afrikaanse wêreld inkrimp?
Ek kan verstaan dat nagraadse studente in die Afrikaanse taal en letterkunde al hoe minder word, en dit is die gevolg van die afskaal van Afrikaans as vak aan universiteite in SA. Soos die studente minder word, word die dosente algaande minder. Groot departemente wat 20 jaar gelede 10–15 dosente gehad het, het nou vyf tot ses dosente. Ander departemente het ophou bestaan. Die kans om dus ’n pos te vind, is skraal. Dit skep groot kommer en ons moet begrip daarvoor hê. Minder studente sal nagraads in Afrikaanse taal en letterkunde studeer en eerder ander vakterreine probeer waar daar miskien ’n kans op ’n pos is, soos vertaalkunde of teksredaksie. Maar met die opkoms van KI kan die moontlikhede hier ook minder word. Dit is hier waar toeval weer inkom. Doen wat jou hart jou aanspoor om te doen, sorg dat jy dit goed doen, neem deel aan kongresse, publiseer waar jy kan en bou ’n akademiese rekord op. As die geleentheid kom, is jy reg geposisioneer. Lees gerus ’n bydrae wat ek in 2022 vir die Tydskrif vir Nederlands en Afrikaans geskryf het oor hoe om ’n loopbaan in die taalkunde (maar ook die letterkunde) te bou. Dit is gebaseer op my ervarings oor meer as 40 jaar. Miskien help dit om rigting te gee aan enkele aspirerende jonger potensiële akademici.
- Carstens, WAM. 2022. Die taalkunde as loopbaan: Hoe eet ’n mens ’n olifant? Tydskrif vir Nederlands en Afrikaans, 2022(2):99–120.
Het Afrikaans as taal groot veranderinge wat voorlê?
Dit hang af waarna jy verwys: die taalkundige struktuur van Afrikaans of die status van Afrikaans. As dit gaan om die taalkundige struktuur van Afrikaans, is dit belangrik om daarvan bewus te wees dat tale dinamies is en dat natuurlike taalverandering ’n gegewe is. Oor jare sal die grammatikale strukture min verander, maar aanpassings rakende die gebruik en betekenis van woorde sal beslis voorkom. Ons gebruik lankal nie meer die woordeskat van 1990 nie, want die wêreld van tegnologie het ’n groot impak op ons leefwêreld en ons denke (in woorde wat nog geskep gaan word) oor ons leefwêreld. Oor 30–40 jaar van nou af sal die woordeskat van 2024 waarskynlik nie meer toepaslik wees nie. Afrikaans sal ook in die lig van eise om herstandaardisering leksikale aanpassings tot gevolg hê, asook waarskynlik beperkte grammatikale aanpassings. Herstandaardisering (waaroor Gerda Odendaal van die WAT so omvattend geskryf het) hou ruweg in dat die huidige standaardvariëteit op grond van besondere faktore aanpassings sal ondergaan, met ander woorde dat die aard van die standaardvariëteit ook sal aanpas. Dit is maar deel van normale taalverandering, alhoewel die term herstandaardisering natuurlik aanleiding gee tot groot debatte in die Afrikaanse taalgemeenskap!
Die status van Afrikaans sal nog lank staande bly, maar die funksies van Afrikaans begin algaande afskaal en dit sal onvermydelik bepaal hoe mense in die toekoms (40–50 jaar die toekoms in) na die taal se funksionaliteit en waarde vir hulle as gebruikers sal kyk. Dit sal Afrikaans se gebruik raak en dit is heeltemal moontlik dat ’n nuwe geslag gebruikers minder waarde aan Afrikaans kan heg as die huidige geslag. As ons kyk na die tempo waarteen Afrikaans by skole en universiteite afskaal, dan is daar rede tot kommer oor ons taal. En juis daarom is teenstand teen sommige van die bepalings van die BELA-wetgewing so belangrik. Taalgemeenskappe moet oor die gebruik van hulle tale besluit en nie die een of ander vyandige of onkundige amptenaar agter ’n lessenaar in ’n staatskantoor nie.
Hoe verder met Afrikaans?
Soos hier bo genoem, moet ons “wakker slaap” oor Afrikaans. Die druk op die taal se funksies neem ongelukkig toe. Dit help nie om ons oë daarvoor te sluit nie. Kyk byvoorbeeld na die huidige en geregverdigde bekommernis in die Afrikaanse gemeenskap oor die moontlike sluit van bepaalde koerante in die noorde van die land. As dit sou gebeur, is daar al een minder rede om Afrikaans verder te ondersteun omdat die taal minder sigbaar word. Vir ouer lesers is dit te aaklig om selfs aan te dink dat hulle geliefde koerante net digitaal beskikbaar sal wees. Baie van hulle het nie toegang tot digitale hulpmiddele nie en dan word die daaglikse lees van die koerant iets wat in die verlede gebeur het. Ja, die wêreld word meer digitaal en ons moet dit omhels, maar soms is gesprekke met die kultuurgemeenskappe nodig sodat saam oplossings gesoek kan word. Geld speel egter altyd ’n rol en die mense wat die somme maak, is dikwels min gepla oor die gevolge van hulle besluite op kultuurgemeenskappe.
Dit gaan tans nog goed op verskeie funksieterreine, soos kunste (vergelyk die kunstefeeste), die letterkunde (Afrikaanse mense lees nog graag), die geloofswêreld (die beoefen van geloof in die eie taal), die media (daar is nog steeds ’n groot verskeidenheid koerante en tydskrifte beskikbaar; daar is radiostasies en danksy kykNET het ons steeds Afrikaanse televisie). Maar op ander terreine begin die spreekwoordelike rooi ligte flikker, soos op onderwys, die gebruik van Afrikaans in die politiek, die staatsdiens, die parlement, in die wêreld van werk, die wêreld van vermaak, en andere – Engels het die dominante taal geword. Dit gaan van die huidige en toekomstige Afrikaanse gemeenskap afhang wat op die langtermyn hier gaan gebeur. Dit is ’n groot en belangrike verantwoordelikheid om op te neem, om Afrikaans volhoubaar te bly gebruik sodat dit eerder kan groei as stagneer. As dit eers gebeur, begin die agteruitgang in funksies. Ek hoop van harte dat Afrikaans eerder sal groei. Ek het in my loopbaan my bes gedoen om deur my publikasies, optredes en aktivisme seker te maak dat Afrikaans op die langtermyn steeds vir die Afrikaanse gemeenskap ’n “tuiste in die eie taal” (om Jaap Steyn aan te haal) sal bly.
Sien jy ’n verdere regressie wat betref Afrikaans as akademiese taal of sien jy lig aan die einde van die tonnel?
Een van die belangrikste funksies van ’n taal is die wetenskapsfunksie, dus dat die kern van die wetenskap (in alle terreine) in daardie taal ontsluit kan word. Die opwinding van die eerste 60 jaar se produkte (boeke, vakwoordeboeke, artikels, verslae, nagraadse studies) nadat Afrikaans in 1925 as amptelike taal erken is, bevestig ook die erns met die strewe om van Afrikaans ’n volwaardige taal van die wetenskap te maak. Deesdae is Afrikaanse vakwoordeboeke egter verouderd en ook nie altyd beskikbaar nie (talle is wel op VivA se woordeboekportaal te vind), word die meerderheid nagraadse studies deur Afrikaanssprekende studente in Engels geskryf (omdat hulle verkeerdelik glo dat hulle wetenskaplike bydraes slegs in Engels gedoen kan word), word Afrikaanse vaktydskrifte algaande minder (gewoon omdat daar minder uitsette deur Afrikaanssprekende wetenskaplikes in Afrikaans aangebied word vir publikasie), word Afrikaanse vakverenigings opgeneem in die vaagheid van breër Engelse vakverenigings en lewer Afrikaanssprekende akademici ook al hoe minder referate in Afrikaans, ensovoorts. Dit is dus ’n ietwat donker prentjie wat besig is om te ontvou. Jaap Steyn het uitvoerig geskryf oor faktore wat tot die groei of kwyn van ’n taal lei – hy noem taalgetrouheid as ’n kernfaktor. As Afrikaanssprekende wetenskaplikes vir hulself ’n toekoms in Engels sien, verval taalgetrouheid vir hulle as hulle bydrae tot hulle taal. Ek sê nie dat Afrikaanssprekende wetenskaplikes nie in Engels moet publiseer nie, maar ek pleit daarvoor dat hulle steeds volhou om óók in Afrikaans hulle wetenskaplike bydraes te lewer. Ek hoop van harte dat Afrikaans teen 2125 steeds ’n volhoubare akademiese taal sal wees. Ek hoop dit is nie die dowwe lig van ’n trein wat daar in die verte aankom nie ...
Watter uitdagings lê nog vir jou voor?
Ek is aan die einde van my loopbaan, maar my stem is darem nog (hopelik lank) nie stil nie. Ek het nog ’n boek of wat om klaar te maak, soos die 7de hersiene uitgawe van Norme vir Afrikaans (hopelik teen 2026 beskikbaar) en ook ’n wetenskaplik populêre weergawe van Die storie van Afrikaans, gebaseer op my en Edith Raidt se twee boeke oor Die storie van Afrikaans: uit Europa en van Afrika (Protea, 2017 en 2018) – hierdie boek is beplan vir publikasie in 2025. Dit is moeilik om op hierdie stadium van my loopbaan my skryfstyl te verander en die boek verg werklike harde werk, heelwat meer as wat ek verwag het. Op ander terreine het ek al begin oorgee aan die jonger geslag – ek het heelwat van hulle opgelei en ek vertrou dat hulle sal voortgaan om produkte van gehalte te lewer. Ek tree ook graag op as mentor van jonger akademici om hulle voor te berei vir die akademiese reis. Ek het ’n uitnodiging om vroeg in 2025 klas te gaan gee in Antwerpen (een van die ooreenkomste wat ek kon help sluit – al in 2006) en dit sal ’n lekker manier wees om daardie kant van my loopbaan af te sluit. Ek en Nerina Bosman van UP is tans die gasredakteurs van ’n spesiale uitgawe van die Tydskrif vir Geesteswetenskappe in 2025 – hierdie uitgawe het ten doel om Afrikaans se prestasies van sy eerste 100 jaar as amptelike taal te vier. Hier kom ’n mooi bydrae vir Afrikaans, gebaseer op die aanbiedings wat ons reeds ontvang het.
Natuurlik het ek nog drome van projekte wat ek sou wou aanpak, soos die totstandkoming van ’n volledige digitale biblioteek vir Afrikaans, en natuurlik die dokumenteer van Afrikaans se wye verskeidenheid – deur die ProVARIA-projek, waarvan ek tans die sameroeper is. Ek is bewus daarvan dat my ouderdom dalk gaan verhoed dat ek behoorlik by alles uitkom, maar ek sal doen wat ek kan terwyl ek nog kan. Ek glo ook dat die personeel van departemente Afrikaans en Nederlands dringend moet bymekaarkom en saam moet beplan aan die voortsit van Afrikaans as ’n gevestigde akademiese vak. Vandaar my pogings om ’n gesprek oor die stig van ’n Sentrum vir die Studie van die Afrikaanse taal en letterkunde (as alternatief ’n Sentrum vir die Studie van Afrikaans) aan die gang te kry. Belangstellendes kan my gerus hieroor nader. Ek sou ook graag wou help om die Akademia-kampus in die Wes-Kaap gevestig te kry, maar ek wag nog op daardie oproep, alhoewel ek al aangebied het om daarmee te help. Daar is dus duidelike planne om steeds konstruktief met Afrikaans besig te bly in die komende jare.
Ek is besonder trots op die werk wat ek kon doen om in die tydperk ná 2000 versoening in die Afrikaanse gemeenskap te probeer bewerkstellig. Dit was moontlik met die hulp van soveel ander eendersdenkendes en dromers oor ’n inklusiewe Afrikaanse gemeenskap. Die resultaat hiervan is die Afrikaanse Taalraad (ATR) wat in 2008 tot stand gekom het. Saam met die boek Ons kom van vêr (2016, saam met Michael le Cordeur), wat aan wyle Adam Small opgedra is, is dit van my groot nalatenskappe vir Afrikaans.
Tydens ’n loopbaan trap ’n mens natuurlik onvermydelik op ander se tone in jou pogings om projekte gedoen te kry, veral as daar traagheid in optrede is. Daarom is die onsmaaklike skeiding wat vroeër in die jaar tussen my en die ATR ontstaan het – nadat ek ’n omvattende navorsingsprogram vir die ATR gevestig het – een van die hartseeroomblikke in my loopbaan. Ek het waarskynlik onbewustelik op ’n toon getrap terwyl ek met een van die projekte besig was. Afrikaanse organisasies het mekaar nodig omdat die taak vir Afrikaans so groot is, en hierdie soort gebeure is teenproduktief omdat dit die swaar verworwe eenheid in die gedrang bring en mense en organisasies weer hulle eie koers laat begin kies, iets wat ek ongelukkig al begin opmerk. En dit kan soveel harde werk ongedaan maak. Ek glo ek kon vir die ATR nog soveel bygedra het om die eenheid in stand te hou, maar die keuse is gemaak en ek staan buite.
Wie was jou mentor(s) / wie het jou geïnspireer / wie se navorsing het jou geïnspireer?
Ek het hier bo kortliks verwys na van die mense wat my geïnspireer het om met Afrikaans besig te raak, soos my oudonderwyser Hennie Brand. Op universiteit het Henning Snyman (’n latere kollega aan UCT) my aangemoedig om verder te studeer en my oor die jare ook aanhou motiveer. Aan die PU vir CHO het Jacques van der Elst soveel wêrelde vir my oopgemaak omdat hy nie grense vir my gestel het nie. Maar my navorsingsmentore was waarskynlik Hester Waher (UCT) en Fritz Ponelis (US) – beide was ernstige navorsers vir wie kwaliteit ononderhandelbaar was. Maar by beide het ek ook geleer om die grense van die vakgebied te verken en daar my eie tuiste te vind, wat ek hopelik wel gevind het met my werk in normatiewe taalkunde, tekslinguistiek, teksredaksie en teen die einde taalgeskiedenis en historiese taalkunde. Ek moet egter ook die name noem van Roy Pheiffer (UCT), Edith Raidt (Wits) en Ernst Kotzé (NMU) wat hulp en steun verleen het toe ek as jong navorser nog my voete probeer vind het. Jong navorsers het dus spanne nodig om hulle te laat groei. Ek hoop dat ek ook deel van die jonger mense se spanne kon of kan wees, soos ek saam met Nerina Bosman van UP vir twee belangrike publikasies oor die Afrikaanse taalkunde was (die standaardboek oor Afrikaanse taalkunde vir gebruik aan universiteite in SA, asook ’n boek in Engels oor die stand van sake van die Afrikaanse taalkunde – gemik op die internasionale mark), en ook Tobie van Dyk oor die toegepaste taalkunde in Afrikaans.
Lees ook op LitNet:
Die storie van Afrikaans – uit Europa en van Afrika, Deel 1 deur WAM Carstens en EH Raidt
Afrikaans se digitale toekoms: ’n onderhoud met Wannie Carstens en Roné Wierenga
Elders gesien: As akademikus probeer ’n mens altyd ’n sinvolle bydrae maak
Kettinggesprek: Charlyn Dyers gesels met Wannie Carstens oor Ons kom van vêr
Kettinggesprek: Wannie Carstens gesels met Frank Hendricks oor Kaaps in fokus
Commendatio met die oorhandiging van die Van Ewijck Stigting se prestasieprys aan Wannie Carstens
Lees ook in LitNet Akademies:
Lees ook op Voertaal:
Wannie Carstens: “Die wit geskiedenis is nie die geskiedenis van Afrikaans nie”
Wannie Carstens: "Iedereen verliest bij een te dominant Engels"
CJ Langenhovenprys vir Taalwetenskap 2021: ’n onderhoud met Wannie Carstens