Ek was bevoorreg om vroeër vanjaar (April – Mei 2019) ’n omvattende taalreis deur verskeie Europese lande te onderneem om in en oor Afrikaans les te gee. In die lig van die druk op Afrikaans binne Suid-Afrika is dit ’n mooi storie oor ons taal buite Suid-Afrika wat vertel moet word en vandaar hierdie bydrae.
Ons weet Afrikaans is onder groot druk in Suid-Afrika en ons ervaar dit op verskillende vlakke: Afrikaanse enkelmediumskole neem jaarliks af; van die universiteite wat Afrikaans as primêre onderrigmedium gebruik het, is daar slegs twee oor (Stellenbosch en die NWU se kampus op Potchefstroom – maar of dit langtermyn is, is ’n goeie vraag); Afrikaans se funksies skaal stelselmatig af. Soms voel dit inderdaad of Afrikaans se tyd verby is en dat ons ons tyd verkwis deur die taal nog te probeer behou daar waar ons kan. Daaroor is al uitvoerig op hierdie forum geskryf.
Daar is egter vreemd genoeg in die buiteland ’n toenemende belangstelling in Afrikaans (nie net in Afrikaans as taal nie, maar ook as vak), en in so ’n mate dat toe ek in Augustus 2018 ’n uitnodiging gekry het om in die loop van 2019 in Europa te gaan les gee, ek die kans benut het.
Lesers sal ook onthou dat daar in 2018 en 2019 verskeie onderhoude op LitNet met persone wat aan buitelandse universiteite klasgee oor die Afrikaanse taal- en letterkunde, gepubliseer is. Dit is ’n konkrete aanduiding dat daar tog belangstelling in Afrikaans ook buite ons landsgrense bestaan (Namibië, VSA, Verenigde Koninkryk, en verskeie lande in Europa).
Onthou ook dat daar reeds vaste doseerprogramme oor die Afrikaanse taal- en letterkunde aan universiteite in die Lae Lande bestaan. Daar is professorate in Afrikaans aan die Universiteit van Amsterdam (met Margriet van der Waal as die huidige posbekleër) en aan die Universiteit van Gent in België (waar ek einde 2018 die tweede bekleër van die leerstoel was en Louise Viljoen teen die einde van September die nuwe bekleër sal wees).1
Dus al twee professorate in Afrikaans. Beslis iets om te vier. Verder bied die Universiteit van Antwerpen (al sedert 2006)2 en die Universiteit van Leiden (sedert 2015, met Willie Burger as die mees onlangse bekleër)3ook kursusse in Afrikaans as deel van hulle graadprogramme aan. Dat Afrikaans dus waardeer word in die Lae Lande is ’n gegewe.
Afgesien hiervan word daar ook kursusse in Afrikaans in Pole en in Rusland aangebied. Jerzy Koch van Adam Mickiewicz University in Poznań in Pole skryf gereeld op hierdie forum en talle bekendes in die Afrikaanse taal- en letterkundige omgewing het lang tye in Poznań deurgebring en daar hulle loopbane begin of afgesluit. Monica Urb van die Moskouse Staatsuniversiteit volg in die voetspore van die bekende wyle Andrei Ignatenko en Moskouse studente leer flink Afrikaans praat.
Maar my reis sou ook toon hoedanig die belangstelling elders is.
Die uitnodiging
Ek is in Augustus 2018 tydens die 20ste colloquium van die Internationale Vereniging voor Neerlandistiek (IVN) in Leuven, België, deur Chris De Wulf van die Universiteit Zürich gevra of ek belangstel om in oorwegend die Duitssprekende lande in Europa (Duitsland, Switserland, Oostenryk) lesings aan te bied oor Afrikaans omdat daar ’n belangstelling in Afrikaans is wat moontlik deur so ’n reis verder gestimuleer sou kon word. Vanselfsprekend sou so ’n reis in ’n vergelykende verband (Nederlands vs Afrikaans) moes geskied omdat alle lesings via departemente of afdelings Nederlands of Neerlandistiek sou plaasvind.
Die uitnodiging was verrassend omdat ek aan die einde van my loopbaan is (ek het einde 2017 afgetree) en ek gewonder het of daar nog ’n aanvraag vir my kundigheid en ervaring is. Dit is heel ironies dat my afgetrede status uiteindelik juis ’n bepalende faktor geword het omdat dit my die tyd sou gee om die reis te kon onderneem. Dit sou vir voltyds-werkende akademici uiters moeilik gewees het om weens werksverpligtinge so ’n lang en omvattende reis te kon onderneem. Ek het die uitnodiging tentatief aanvaar op voorwaarde dat my reis- en verblyfkostes gedek moet word.
Die beplanning
Die beplanning van die reis was ’n uitdaging op sigself juis omdat ek moes probeer om kostes te beperk deur onnodige kruis-en-dwars-reise tussen die betrokke lande uit te skakel. Die uitdaging was dus om ’n reis te beplan wat (a) reis tussen stede tot die minimum sou beperk deur ’n reisplan te ontwerp wat duplisering van reise sou uitskakel, (b) ’n logiese reisroete sou volg (dus eers in Switserland, dan Duitsland, dan Oostenryk), (c) ’n verskeidenheid lesingtemas sou bied wat in terme van inhoud aan die basiese behoeftes van die deelnemende universiteite se personeel en studente sou voldoen, (d) tred sou hou met die deelnemende universiteite se doseerprogramme, (e) kostes sou probeer beperk (deur byvoorbeeld van basiese huisvesting gebruik te maak en duur etes sou vermy), (f) haalbaar sou wees vir iemand om die intensiteit (konstante reis, doseer, reis, ens.) van so ’n reis te hanteer.
Die reisplan het oor drie maande stelselmatig vorm aangeneem en daar is in ’n groot mate aan hierdie beplanningsuitdagings voldoen. By tye moes daar wel verskuiwings in die beplanningstadium aangebring word om die praktiese sy van die reis haalbaar te maak. Maar uiteindelik was die detail van die reis uitgewerk en kon die vliegkaartjies aangekoop, verblyfreëlings getref en die onderskeie lesings uitgewerk word.
Die voorbereiding
Ten einde so ’n reis te kan aanpak, is dit nodig om voorbereid op te daag by ’n universiteit. In hierdie proses moes rekening gehou word met (a) die waarskynlike vlak van kennis van Afrikaans (en ook van Suid-Afrika as land), (b) die onderwerpe waarin studente en personeel sal belangstel, (c) die plasing van die lesings in die studente en personeellede se onderrigprogramme, maar ook (d) met die vakkundige aspekte waarin die dosente sou belangstel. Afgesien hiervan moes ek ook rekening hou met ad hoc-versoeke oor onvoorsiene temas. Maar daar word mos gesê “Afrikaans is nie vir sissies nie” en ek moes my gereed hou vir onverwagte versoeke. My uiteindelike ervaring was dat die kennisvlak rakende Afrikaans (en soms ook Afrika en Suid-Afrika) heel dikwels uiters laag was en ek moes dus heelwat kreatiwiteit aan die dag lê om wel sinvolle inligting te kon oordra.
In ’n poging om aan dié veronderstellings te voldoen, het ek ’n lys van 14 temas geïdentifiseer waaruit gekies sou kon word vir die lesings. Agterna het ek besef ek was heeltemal te oordadig in my temas. Dit het saamgehang met lesingtemas wat ek al elders aan buitelandse universiteite (Nederland, België, Switserland en Hongarye) aangebied het: oor die grammatika van Afrikaans, oor die geskiedenis van Afrikaans, oor die sosiolinguistiek van Afrikaans, oor taalpolitiek en Afrikaans, en oor Afrikaans en meertaligheid.
My aanname was dat nie ál die temas gekies sou word nie, maar uiteindelik moes ek wel oor 12 temas lesings uitwerk. Slim het toe sy baas gevang! Verskeie lesings was in Engels, ’n aantal in Afrikaans en in bepaalde gevalle het ek beide Afrikaans en Engels in die lesings ingespan.
Ek het ook voldoen aan enkele versoeke oor temas wat nie op my lys was nie, soos ’n inleidende lesing oor die Afrikaanse letterkunde aan die JW Goethe-Universiteit in Frankfurt, en een oor besondere taalinvloede uit Afrikatale op Afrikaans (vir die afdeling Afrikanistiek aan die Universiteit van Wene) en die Universiteit van Basel se Taalsentrum. Ek het uiteindelik selfs saam met prof Eric Mijts van die Universiteit van Aruba ’n seminaar oor taalbeleid in onderwys by die Vrye Universiteit in Berlyn aangebied. Ek het dus probeer om aan soveel moontlik behoeftes te voldoen.
Die verloop
Die reis sou aanvanklik duur van 3 April tot 15 Mei. Maar daar het vanaf Toni Bandov van die Universiteit van Zagreb ’n versoek gekom (ek het hom by die IVN-kongres in 2018 ontmoet) dat ek ook Kroasië (Zagreb) en Serwië (Belgrado) moes aandoen vir enkele lesings. Na aanleiding hiervan is die reis effens verleng sodat ek die besoek aan Zagreb en Belgrado kon inpas, en het ek eers teen 24 Mei huiswaarts gekeer nadat ek na afloop van die lesingreis ook ’n kort boektoer onderneem het toe ek as mede-outeur van Die storie van Afrikaans: uit Europa en van Afrika. Biografie van ’n taal, deel 2, die boek in Amsterdam en Gent gaan bekendstel het. Dus werklik uitputtend. Maar weer eens: Afrikaans is nie vir sissies nie.
Die reis is afgeskop met ’n interessante internasionale kongres oor “Small languages, big ideas” wat van 4-5 April onder die vaandel van die Universiteit van Zürich aangebied is. Die kongres het ten doel gehad om kleiner Germaanse tale te betrek en dit was puik georganiseer deur Chris De Wulf en ander personeellede en nagraadse studente van die universiteit. Die kongres was as sodanig ’n sukses en daar is ’n voorstel gemaak dat dit gereeld in die toekoms herhaal moet word. Ek was een van die hoofsprekers op die program en het gepraat oor die verdwyn van grammatikale geslag in Afrikaans wat ek probeer toelig het aan die hand van verskeie ouer tekste.
Hierna het die lesingprogram afgeskop.
Ek het telkens enkele dae in stede gebly en in hierdie tyd lesings by die toepaslike universiteite in die onderskeie stede aangebied. Die verblyftyd in stede is oorwegend gebruik vir voorbereiding (soos die saamstel van Powerpoint-aanbiedings), opvolgleeswerk, die aanbied van lesings self, die aanpas van lesings weens die (soms) gebrekkige agtergrond van studente, die voer van gesprekke met belangstellende personeel en studente. Tyd vir toeristiese verkenning was min.
Hierna is ’n reis (oorwegend per trein ter wille van kostebesparing) dan aangepak na die volgende stad waar die patroon herhaal is. Soms was die reise lank, soos die een tussen Wene en Zürich wat bykans nege ure geduur het. Maar gelukkig was die landskap te alle tye pragtig! Ek en Toni het ook per bus tussen Zagreb en Belgrado gereis en dit was op sigself besonders om die platteland van dié twee lande te ervaar.
Hier onder is die breë reisprogram. Ek het by elke universiteit ’n foto geneem as “bewys” dat ek wel daar was.
Lesings in Switserland
- Zürich: Universiteit van Zürich: vier lesings tydens twee besoeke (aan die begin van die toer en aan die einde van die toer). Dit was opvallend dat die studente met die tweede besoek beter begrip getoon het as met my eerste besoek aan die begin van die reis.
- Basel: Universiteit van Basel: een lesing (oop vir die publiek)
Lesings in Duitsland
- Münster: Westfälische Wilhelms-Universität Münster (WWU): ses lesings
- ESSEN4 : Universiteit van Duisburg-Essen: vier lesings en een lesing (oop vir die publiek
- Frankfurt: JW Goethe-Universiteit: twee lesings (oop vir die publiek)
- Berlyn: Freie Universität Berlin: twee lesings en ’n seminaar saam met Eric Mijts van die Universiteit van Aruba
Lesings in Oostenryk
- Wene: Universiteit van Wene: twee lesings en ’n lesing vir belangstellende taalkundiges van die universiteit
Lesings in Kroasië
- Zagreb: Universiteit van Zagreb: vier lesings. Personeel en studente van die Universiteit van Ljubljana in Slowenië het ook van die lesings bygewoon deur per bus na Zagreb te reis.
Lesings in Serwië
- Belgrado: Universiteit van Belgrado: twee lesings
Die lesings is bygewoon deur voorgraadse asook nagraadse studente, personeellede van universiteite en by geleentheid ook deur lede van die publiek (hoofsaaklik in Basel, Essen, Frankfurt, Wene). Die klasgrootte het gewissel van 6-80 studente, en dit het verskil van universiteit tot universiteit. Die deelname was in die algemeen goed en ek het die indruk gekry dat die inhoud oorwegend goed begryp is en dat die tempo waarteen ek Afrikaans gepraat het (stadige en rustige Standaardafrikaans) tot goeie begrip gelei het. Uit terugvoer van studente en personeel blyk dit dat die lesings self en die aanbiedstyl positief ervaar is.
Daar was ’n versoek dat soortgelyke reise weer in die toekoms moet plaasvind. Uit Kroasië en Serwië was daar ’n versoek om ’n langer verblyf daar deur te bring en dan oor ’n langer tyd les te gee sodat internalisering beter kan wees.
Die netwerk
Een van die belangrikste vereistes van ’n akademikus se reise na elders in die wêreld is die sluit van nuwe akademiese netwerke en die uitbrei van bestaande akademiese netwerke. Ek het aan beide netwerke aandag gegee, juis met die oog op moontlike toekomstige reise deur ander persone, en natuurlik ook hulp agterna met die verskaf van inligting oor temas en onderwerpe in en oor die Afrikaanse taalkunde in die besonder, oor Afrikaans in die algemeen en oor die verbintenis tussen Nederlands en Afrikaans.
Ek het my ook bereid verklaar om kontakte in Suid-Afrika te help bewerkstellig tussen akademici by die betrokke universiteite en taal- en letterkundiges in Suid-Afrika. Ek het ook die geleentheid benut om die totstandkoming van ’n Internasionale Vereniging vir Afrikaans (IVA) te regverdig. Sedert my terugkeer het ek al verskeie navrae van personeel en van studente hanteer.
Ek was bevoorreg om verskeie akademici verbonde aan vakgroepe, departemente of afdelings Nederlands of Neerlandistiek aan die onderskeie universiteite te ontmoet. Ten einde hulle privaatheid te respekteer, gee ek slegs hulle name aan en nie ook hulle kontakbesonderhede nie.
- Zürich (organiseerder van die reis): Chris De Wulf en Patrick Schetters
- Basel: Stephan Meyer
- Münster: Gunther De Vogelaer, Nele Demedts, Louise Poschen, F de Vries en Lut Missinne (redakteur Internationale Neerlandistiek)
- Essen: Ute Boonen, Gaby Boorsma, Heinz Eickmans
- Wene: Rina Loader, Herbert Van Uffelen, Ute Smit
- Frankfurt: Laurette Artois
- Berlyn: Truus De Wilde, Matthias Hüning, Kristin Stöcker
- Zagreb: Toni Bandov (organiseerder), Željana Pancirov Cornelisse, Maarten Rombouts
- Ljubljana (op besoek aan Zagreb met ’n aantal studente): Anita Srebnik
- Belgrado: Jelica Novakovic-Lopušina, Bojana Budimir
Let Wel: Dit is danksy hierdie mense (en vanselfsprekend al die ander persone elders in die wêreld wat betrokke is by Afrikaans in die buiteland) dat onderrig en navorsing in en oor Afrikaans in Europa moontlik gemaak word en ons as Afrikaanssprekendes is hulle groot dank verskuldig. ’n Mens sou na hulle kon verwys as “Afrikaanse sendelinge” – en lesers sal weet hoe moeilik die taak van ’n sendeling is. Ons moet hulle dus waardeer, troetel en ondersteun waar dit enigsins kan. Hulle hoef of moet nie Afrikaans aanbied nie, maar hulle doen dit omdat hulle potensiaal vir die taal in Europa sien en dus besondere moeite doen om dit in hulle kursusse te betrek. Van hulle was nog nooit in Suid-Afrika nie en sommige het hulself Afrikaans geleer of bekend gemaak met Afrikaans via die internet (nuusberigte in Afrikaans), aanleergidse, die luister na Afrikaanse radioprogramme (RSG is ’n groot gunsteling), gesprekke met Afrikaanssprekendes wat toevallig in hulle omgewing is, die lees van Afrikaanse boeke met behulp van woordeboeke. Telkens was my Afrikaans tydens die huidige lesingtoer ook vir hulle goed verstaanbaar en ek kon weer hulle Nederlands goed volg. Dit het net weer geïllustreer hoe ná die twee tale aan mekaar is.
Die afloop ...
Die reis op sigself was uitputtend – bykans sewe weke oor vyf lande. Dit het telkens (soms lang) (trein)reise van een stad na ’n ander geverg waar aanpassing in ’n nuwe stad nodig was: verblyf, plaaslike vervoer, aanbied van lesings, aangename sosialisering met personeel. Maar dit was ook verrykend omdat soveel nuwe stede besoek kon word (wat op sigself nuwe ervarings meebring), nuwe kontakte gesluit kon word en in hierdie proses ook ’n nuwe netwerk gevorm kon word, inligting oor Afrikaans (en Afrikaans se bande met Nederlands) versprei kon word aan personeel en studente, inligting oor Suid-Afrika oorgedra kon word, en ook gewerk kon word aan ’n groter bewuswording van Afrikaans en die verwantskap wat dit met Nederlands het.
Ek het ook deurentyd gesprekke met talle studente gevoer oor moontlike verdere studie in Suid-Afrika en ek moes ook help met verwysings na geskikte en bekombare bronne vir studentewerkstukke. ’n Besondere hoogtepunt was die dag wat ek saam met Deon Maas, die skrywer van Witboy in Berlyn, kon deurbring in die Berlynse woonbuurt waaroor ’n groot deel van sy boek gaan. Uit gesprekke met studente van die Universiteit van Belgrado het die gebeure van die 1990’s in Oos-Europa baie sterk na vore gekom. Ook hierdie jongmense het hoop nodig.
Daar was ook onverwagte bonusse tydens die reis, soos ’n besoek aan ’n dokumentasiesentrum oor Namibiese geskiedenis (Basler Afrika Bibliographien (BAB) in Basel, asook die verkryging van Duitse taalkundebronne oor Afrikaans (by proff Heinz Eickmans en Ute Boonen in Essen) wat gevoeg kon word by die bestaande versameling van die Digitale Bibliografie van die Afrikaanse Taalkunde (DBAT) aan die NWU. Daar is waarskynlik nog talle ander skatte wat ontgin kan en moet word.
Terugblik
’n Reis van sewe weke oor vyf lande waartydens lesings oor Afrikaans aan nege universiteite gegee kon word, was ’n voorreg en daarvoor is ek die primêre befondser van die reis asook die organiseerder(s) van die reis veel dank verskuldig. Dan ook die mense wat my in die onderskeie stede ontvang en versorg het en bereid was om van hulle klastyd vir my lesings af te staan. Danksy almal kon ek hopelik help om nuwe deure oop te maak, nie net vir Afrikaans nie, maar ook vir Nederlands. Dit was ’n unieke geleentheid om Afrikaans te kon “bemark” via afdelings Neerlandistiek aan soveel universiteite in soveel lande. In hierdie proses is’n groter bewuswording van Afrikaans geskep, asook van die belangrike voordeel wat studie van Nederlands aan die betrokke universiteite inhou: dat via kennis van Nederlands toegang tot ’n verdere taal op ’n ander kontinent verkry kan word.
Die praktiese omvang van wat so ’n reis verg, is egter onderskat. Dit verg veel meer as net die blote reis tussen stede en lesings aanbied by universiteite. Dit vra deeglike voorbereiding, bereidheid om te improviseer op grond van die plaaslike konteks (dikwels moes ek reeds-uitgewerkte lesings van vooraf uitwerk), tyd om met personeel en studente deur te bring. Dit het telkens ook meegebring dat ek my in nuwe stede moes aanpas by plaaslike omstandighede en weens die taalverskille was dit nie altyd so maklik nie. Zagreb en Belgrado was besondere uitdagings!
So’n reis vereis dat ’n ambassadeursrol vervul moet word: vir Afrikaans, vir die belang van die studie van Nederlands en Afrikaans, asook vir die land Suid-Afrika op sigself. Ek vertrou ek het wel hierdie rol met sukses uitgevoer.
Enkele belangrike kwessies met die oog op moontlike verdere reise in die toekoms het na vore gekom:
- Die aard van die reis vra dat iemand met ervaring en kundigheid die reis onderneem, maar hierdie persoon moet bereid wees om aan te pas soos die reis vorder.
- So ’n reis sal moeilik deur iemand wat in ’n voltydse pos aan ’n Suid-Afrikaanse universiteit verbonde is, onderneem kan word, weens (a) die tyd wat dit vooraf verg om voor te berei, en (b) die tyd wat so ’n reis se verloop self neem.
- Daar was versoeke vir opvolgbesoeke en ek sal graag wil aanbeveel dat sodanige reise wel weer in die toekoms oorweeg word. Dit kan afwisselend deur taal- en letterkundiges gedoen word. My reis was vanuit’n inleidende taalkundige (en ook taalhistoriese) oogpunt en ’n volgende reisiger kan moontlik uit ’n letterkundige hoek kom.
- Langtermynverblyf in van die stede word ook aanbeveel sodat daar beter internalisering van inhoud deur studente kan plaasvind, maar ook die moontlikheid van navorsingsamewerking met personeel ontgin kan word. Befondsing om dit moontlik te maak, kan hopelik gevind word.
- So ’n reis het getoon dat die finalisering van die totstandkoming en vestiging van die Internasionale Vereniging vir Afrikaans (IVA) – nou geleë is en dat goeie samewerking tussen die IVA en die IVN ook nodig is met die oog op die toekoms.
Ten slotte weer eens ’n laaste woord van hartlike dank aan Chris de Wulf (Zürich) en Toni Bandov (Zagreb) wat besondere moeite met die reël van die reis gedoen het. Hulle entoesiasme het gehelp om ’n gaping te benut vir Afrikaans. In rugbytaal sal ons sê hulle is goeie senters. My vertroue is dat hierdie bal nie laat val word nie, maar dat dit stewig gedra sal word.
................
1 Die rol van personeel van die Gents Centrum voor de studie van Afrikaans en Zuid-Afrika (https://www.afrikaans.ugent.be/) is hier van groot belang. Die gasprofessoraat geld tans tot 2021 en die vertroue is dat dit verleng sal kan word indien befondsing gevind kan word. Hein Willemse van UP was die leerstoelhouer in 2017, Wannie Carstens van die NWU die houer vir 2018 en Louise Viljoen van die US die volgende bekleër in 2019.
2 In terme van 'n ooreenkoms tussen die toepaslike fakulteite van die NWU en van die Universiteit van Antwerpen waarvolgens personeel van die vakgroep Afrikaans en Nederlands van die NWU elke akademiese semester om die beurt kursusse in die Afrikaanse taal- of letterkunde aanbied. Cecilia Erasmus bied in Oktober en November 'n kursus in die Afrikaanse taalkunde aan.
3 In terme van ‘n ooreenkoms tussen die fakulteit Lettere en Wysbegeerte van die Universiteit van Leiden en die SAVN. In die tweede semester van die Europese akademiese jaar word jaarliks om die beurt ’n kursus in die Afrikaanse taal- of letterkunde aangebied. Die dosent is daar vir drie maande. Vorige deelnemende dosente was Hennie van Coller (UV, 2015), Bertus en Susan van Rooy (NWU, 2016), Etienne van Heerden (UK) en Ingrid Glorie (2018), Wannie Carstens (NWU, 2018) en Willie Burger (UP, 2019). Nerina Bosman (UP) en Angelique van Niekerk (UV) sal die taak in 2020 verrig.
4 Die Universiteit van Duisburg-Essen het ’n samewerkingsooreenkoms met die Universiteit van Namibië. Dit hou vir die studie van Afrikaans in die buiteland groot potensiaal in.
Kommentaar
Dit is "'n mooi storie oor ons taal buite Suid-Afrika." Sedert 1994 het die gehalte van Afrikaans in Suid-Afrika onrusbarend agteruitgegaan; veral weens onnodige verengelsing. Tweetaligheid gedy binne Afrikaans. Wat ek heeltemal onaanvaarbaar vind, is dat geen Afrikaansdosent en -instansie besorgdheid hieroor uitspreek en iets hieromtrent probeer doen nie; Wannie Carstens ingesluit. Dit is myns insiens onmoontlik om taaltrots en entoesiasme vir geradbraakte Afrikaans te wek.
Geagte meneer Carstens, ek stuur jullie een artikel aangaande die ontwikkeling van die afrikaanse taal door middel van standardisasie en die lering eruit vir die opbou van die "Plattdeutsch" in Noordduitsland. Ek stuur my artikel aan litnet@litnet.co.za. Met vriendelik groet. Albrecht Beer
Ai Johannes!! Hoe kan jy sê "Wannie ingesluit?!"
Verduidelik asb. jou siening in hierdie verband.
Watter opbouende aksies het jy persoonlik al vir Afrikaans aan die gang gesit, bestuur en deurgevoer.
Dit is so maklik om te kritiseer, maar opbouende optredes vir iets waarin jy glo verg veel meer as woede, `n geween en `n gekners van tande?
Philip, met jou opmerkings val jy heeltemal uit die minibus. Gebruik LitNet se soekfunksie en gaan na wat ek oor Afrikaans oor baie jare geskryf het. Gaan na Praag.co.za en lees die omvattende resensies wat ek Leon Lemmer oor Carstens en Raidt se Die storie van Afrikaans, deel 1 (26.11.2017) en deel 2 (4.05.2019), geskryf het. Gebruik ook daardie soekfunksie vir verdere inligting oor wat ek oor baie jare oor Afrikaans geskryf het. Benut sommer ook die geleentheid om my resensie oor jou jongste boek te lees (3.02.2019). Carstens vermy (deurgaans) die kwessie van taalsuiwerheid. As ek verkeerd het, is Carstens die aangewese persoon om ons in te lig oor waar oral hy al vir suiwer Afrikaans in die bres getree het.
Die vrees vir Rusland bly ingegrein...
Nêrens word daar melding gemaak oor die reuse entoesiasme vir Afrikaans via die Afrikaanse Wikipedia nie.
Daar kan gerus eersdaags iets daaroor geskryf word; daar is bv. tot Finne, wie se liefde en belangstelling in Afrikaans sommige Afrikaners en Afrikaanses rooi sal laat van skaamte dat hulle nie meer vir ons Liefling doen nie!
Die Russe se Moskou Staatsuniversiteit het Afrikaanse department, met uutgebreide argief vanaf ABO era. Tsar Nicholas en Russe was aan Boere kant gedurende ABO.
Tog bly die "groot rooi gevaar" vassteek onder SA akademici en bevorder hul die idee. Die ANC se sosialisme het tog nou niks met die Russiese Federasie te make nie. Selfs onder sg wit Afrikaners, is daar diegene wat aan "rooi gevaar" klou, soos sommige aan die Wegraping klou.
Tewens, dit gaan Baie slegter in sg demokrasie van SA, as in kommunistiese China.
Nou dat ons op hierdie onderwerp is, verlede week by my boekbespreking by Aardklop het `n jong student van Croatië, genaamd Reneè, die bespreking bygewoon, daarna my boek gekoop en `n lang gesprek met my in vlot Afrikaans gevoer. Ek was verbaas oor sy insig en belangstelling
Phillip Spies, "rooi gevaar" is nog ingegrein weens Russe?
Miskien moet jy dit aan Lesufi noem. Hy sal onmiddelik die student deporteer!
Philip Spies, ek het Nederlandse FB vriend en ons skryf Afrikaans. Selfs Rus wat goeie Afrikaanse vertaler gebruik.
Is jy nou nuwe eienaar kampvegter vir 'n taal wat volksbesit is? Jou bydrae is net druppel in oseaan, want elke moedertaal spreker in Afrikaans, dra by. Ek dink iemand soos bv FA Venter kon roem op sy bydraes oor dekades, want hy het Vele boeke onder skuilname ook geskryf. Ek dink nie 1 boek is so waffers nie.
Behalwe dit, ek en vele is al dekade lank gewoond dat ons skryfsels hier op Litnet gepubliseer word.
Beste Hans, ek verstaan nie jou opmerking nie, maar miskien hou dit verband met my reaksie op Johannnes/Leon se kommentaar op Wannie se plasing hierbo..
Eers wil ek hom om verskoning vra vir my "maklik om te kritiseer"-opmerking - dit was onvanpas en ietwat emosioneel. En ook vir Leon dankie sê vir sy omvattende resensie van my boek wat meer tegnies van aard en miskien moeilik leesbaar is. Hierdie soort skryfsels lok baie min lesers - dus, dat Leon moeite daarmee gedoen het is uitsonderlik. Hy het ook goeie aanbevelings gemaak waaraan ek toe aandag gegee het. Ek wou op sy resensie in hierdie opsig reageer, maar kon nie sy webskakel oopmaak nie.
In die Kaap-omgewing - waar ek nou boer - het my werkers die pragtige uitdrukking:"hy verbeel hom" - omgeset synde, hy is windmakerig sonder enige rede. Ek maak die afleiding vanuit jou opmerking dat jy van mening is dat ek my verbeel dat ek `n nou diè groot kampvegter is vir Afrikaans is. Verre daarvan - my fokus op Afrikaans is uitsluitlik op die groot belang van moedertaalonderrig vir Suid-Afrika se ontwikkeling - en daarby sluit ek alle moedertale van al die verskeidenheid van volke in Suid-Afrika ook in. Ek is oortuig dat die toekomstige lewensruimte vir Afrikaans gaan saamhang met die (hopelike) bevestiging van hierdie grondwetlike reg deur Grondwetlike Hof in Gelyke Kanse se saak oor die Universiteit van Stellenbosch se taal-en institusionele-beleid.
Ons bydraes is maar almal "druppels in die oseaan" as dit oor die toekoms van Afrikaans in Suid-Afrika gaan. Sommige van hierdie "druppels" is egter meer betekenisvol - en daarby sluit ek die werk van Wannie Carstens in en myne verseker uit (ek is nie `n taalkundige nie, maar is net lief vir my taal en vir alle praters van my taal). Wannie is `n ware "doener" oor `n breë toepassingsgebied wanneer dit oor die saak van en vir Afrikaans gaan.
My kommer is wel die buitengewone slordigheid wat soms uitborrel wanneer daar in die kunste en dikwels by ons jeug en kerk "Afrikaans" gepraat word. Ook wanneer jong Afrikaanssprekende sakeleiers verklaar dat hulle dit nie kan bekostig om Afrikaans te bevorder nie want dit sal sleg vir hulle ondernemings wees - of ook: "daar is belangriker dinge as taal". En as universiteite wat uit die Afrikaanse gemeenskap gebore is en daarmee ontwikkel het, nou Afrikaans as kennistaal vir die politieke wolwe gooi
Taalslordigheid wys vir my op `n gebrek aan skeppendheid, dissipline in denke en doen. Dit beteken egter nie dat taaleenvormigheid die teenpool daarvan is nie. Die uiteenlopendheid van Afrikaanstaliges is Suid-Afrika is vir my mooi - dit plaas verskillende "kleure" op dit waaraan ons moontlik te gewoond geraak het, en daarom nie kan raaksien nie. Dink aan Hans du Plessis se Griekwa-psalms. As ek in die Noordkaap kom kan ek net met genot luister. Baie van die praters het `n klein woordeskat en dit is dan vir my lekker om te luister hoe hulle met daarmee woordbeelde kan optower wat ek nie voorheen kon raaksien nie, Hierdie verskeidenheid sê vir my ons het `n lewende taal, `n steeds wordende taal. En dit is ook hoe Afrikaans oor drie en `n halwe eeue uit Nederlands ontwikkel het. Dit is vir my wonderlik wanneer `n Afrikaanse professor in elektroniese ingenieurswese die moeite doen om ingewikkelde tegniese terme uit Afrikaans oor te vertaal na isiXhosa, want dit help om Afrikaans as kennistaal onmisbaar te maak vir Suid-Afrikaners.
Ek neem dankbaar kennis van Philip se opmerkings. Dit bevestig die waardering wat ek vir hom, sy skryfwerk en sy bedrywighede ten bate van Afrikaans het. Soos ek elders geskryf het: Hoe kleiner die ego, hoe groter die gees.
Philip Spies, ek het in Orania afgetree, nie omdat ek dink ek is spesiaal nie, maar ek glo dat selfbeskikking vir Afrikaans en Afrikaners die enigste pad is, om politieke korrektheid teen te werk. Politieke korrektheid van Engels met Amerikaanse inslag. Ek het besluit om te bly en te bou vir toekoms van Afrikaanse skole, tegniese opleiding en ook vir ander tersiêre opleiding in Afrikaans.
Dit en my skryfsels, is my nederige bydra. Net vir interresantheid, FA Venter het in Hopetown gematrikuleer, groot geword in bo-karoo. Die ouer skrywers het uit hul ervaringsveld geskryf, niks hoogdawerend nie, sonder emosionaliteit. FA Venter het oa die Swart luiperd reeks geskryf onder skuilnaam en onder 2 vroue skuilname liefdesverhale. Ek dink dis die eerlike eenvoud van die harde karoo, wat in verlede van ons ouer skrywers gevorm het.
Ek wonder dikwels hoeveel in gehore was in Wannie Carstens se lesings? Een vreemdeling wat in Afrikaans belangstel, soos by Philip Spies se boekbekendstelling?
Waarom die Afrikaners en Afrikaans plaaslik marginaliseer vir belangstelling in vreemde lande? Het Paul Kruger se steunwerwing werklik iets op die grond gedoen vir duisende vroue, kinders en ou mans wat dood is gedurende ABO in konsentrasiekampe? Beswaarlik. Ek dink dit streel persoonlike ego's meer, as wat dit tasbaar bydrae tot oorlewing in SA vir Afrikaans as akademiese en tegniese taal.
Al dieselfde vervelige ou fights hier. Same old, same old. Maar ja, ek is ook maar skepties oor of Europa se hart nou juis so vermurwe teenoor Afrikaans. Maar dit doen sekerlik ook nie skade al hierdie dinge nie. Die lesings meen ek nou.
Barend van der Merwe, bring dan jou inset wat gevegte nuut en opwindend maak. Blykbaar het jy nie redelike bydra nie.
Elke hofuitspraak teen iets, of dit nou vertaal by US is of hofuitspraak ten gunste van gays op preekstoele, dit is terugslae.
Ons verset ons deur bv wanbetaling van tiendes en offergawes aan kerke en deur selfbestuur in Afrikaans te doen. Dit gaan oor regte vir vryheid van godsdiens en moedertaal onderrig in SA, nie in Europa of elders nie. As jy dit vervelig vind, moenie deel nie.