Waar lê die uitklophou vir Afrikaans?

  • 1
jean_oosthuizen_200x200

Jean Oosthuizen

Terwyl Afrikaans steeds op kunstefeeste en om braaivleisvure gedy, flikker die gevaarligte al hoe meer vir die taal as akademiese en onderrigtaal. Vir baie is dit hier waar die dood in die pot lê en wag. Breyten Breytenbach het gewaarsku dat as Afrikaans as ’n akademiese taal verlore gaan, dit een van sy sogenaamde hoërordefunksies verloor. Dan is die taal op pad om ’n taal te word “wat net om die braai gepraat word”, voorspel hy. Jean Oosthuizen het met die direkteur: Skool vir tale aan die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit, Wannie Carstens, gesels oor die toekoms van Afrikaans as akademiese taal. Carstens is ook ondervoorsitter van die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad (PanSAT) wat veeltaligheid as deel van die land se grondwet bevorder.

Die feit dat Afrikaans die status het as ’n taal waarin akademiese onderrig kan geskied asook navorsing gedoen word, is ’n kosbare prestasie van die totale Afrikaanse gemeenskap. Maar dit lyk of Afrikaans as akademiese taal al hoe meer onder beleg is. Wat is jou reaksie hierop?

wanniecarstens300

Wannie Carstens

Ja, jy is beslis reg. Afrikaans as akademiese taal is onder druk, of mense dit nou wil weet of nie.

Laat ek dit nou gou in perspektief probeer stel: As ’n mens terugkyk op die geskiedenis van Afrikaans – soos ek nou pas gedoen het vir navorsing vir ’n boek saam met Edith Raidt oor die “storie van Afrikaans: uit Europa en van Afrika” (wat hopelik teen 2016 in twee dele sal verskyn) – sien ’n mens ’n mooi verhaal van hoe Afrikaans ontwikkel het uit ’n 17de-eeuse Hollandse dialek tot ’n volwaardige standaardtaal in die 20ste eeu. In die tyd ná die amptelike erkenning van Afrikaans in Mei 1925 tot waar ons vandag is, het Afrikaans al die funksies van ’n standaardtaal aanvaar en op hierdie wyse vir sy sprekers ’n volwaardige taal geword: as taal van die onderwys (skool, universiteit), die kerk (Bybel, godsdiensbeoefening), die hof (wette, uitsprake, verdediging), die media (radio, TV, die sosiale media van vandag; koerante, tydskrifte), ontspanning en vermaak (rolprente, musiek, feeste; sport), die ekonomie (taal van werk, taal van geld maak), politiek, parlement, ens. Dus álle funksies wat nodig is om hulle in staat te stel om met behulp van taal hulle menswees in hierdie land uit te leef. En dit is belangrik dat hierdie funksies nie net behou word nie, maar wel ook uitgebrei word.

Een van die kernfunksies is die gebruik van die eie taal in die onderwys, en in die besonder die gebruik van taal op die hoogste moontlike vlak van opleiding, naamlik universiteite. Dit is so dat Afrikaans in die vorige politieke bedeling bevoordeel was bo ander tale in hierdie land deurdat Afrikaanse mense aan verskeie universiteite hulle opleiding in Afrikaans kon kry: die Universiteit Stellenbosch (US), die Universiteit van Pretoria (UP), die ou Randse Afrikaanse Universiteit (RAU, deesdae UJ), die Universiteit van die Oranje-Vrystaat (deesdae die Universiteit van die Vrystaat (UV)) en die Potchefstroomse Universiteit vir CHO (die PUK, deesdae die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit (NWU)). Die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) was aanvanklik ook gemik op die bruin Afrikaanse sprekersgemeenskap. Ook Unisa was baie toeganklik vir Afrikaanssprekendes en honderde duisende mense het oor baie jare deur deeltydse studie in Afrikaans hier hulle opleiding gekry.

Teen 2015 het die situasie drasties verander. RAU het UJ geword en daar is min Afrikaanse studente op UJ se kampusse oor; Unisa funksioneer oorwegend in Engels; UV het parallelmedium geword en die Afrikaanse studente word minder; UP se studentesamestelling verander en Afrikaanse studente word ook minder daar; UWK is lank reeds Engels. Dit laat net die US en die NWU-PUK oor as moontlike universiteite waar Afrikaans as primêre onderrigmedium gebruik kan word. Aan die US is in November 2014 besluit om Afrikaans naas Engels op die kampus te plaas – dus ’n parallelmedium universiteit vir alle praktiese doeleindes. Dit hou in dat die universiteit nou in ’n groter mate as voorheen ook Engelse studente lok. Dit is ’n funksieverlies vir Afrikaans: van ankertaal na een van twee onderrigtale. En aan die NWU (in die besonder aan die PUK) gaan dinge tans moeilik terwyl daar gedebatteer en geposisioneer word oor ’n moontlike nuwe bestuursbedeling wat Engels op die lange duur gaan bevoordeel.

"Afrikaans as akademiese taal ... is onder druk. En dit maak my uiters bekommerd. Daar is strategieë om dit teen te werk, maar as dit geskied sonder die steun van die Afrikaanse gemeenskap wat daarop aandring omdat dit hulle grondwetlike reg is, is die beste strategieë nutteloos."

Daar is druk op die tersiêre sektor om in ’n groter mate te transformeer (onse minister van hoër onderwys sê dit ook kort-kort), wat in die praktyk maar beteken: kom ons word Engels sodat meer mense as in die verlede daar kan studeer. (Eise, versoeke en behoeftes rakende moedertaalonderrig, en veral die waarde van opleiding in die moedertaal, word in hierdie proses na die kant toe geskuif. As dit as ’n argument gestel word, is die teenargument aan regeringskant gewoonlik: ja, julle spul Afrikaanse mense wil net weer laer trek. En dan word “wit” daaraan gekoppel, asof daar net wit mense is wat Afrikaans praat.) Die toets gaan daarin lê hoe ons as Afrikaanssprekende gemeenskap hierdie proses hanteer, hoe ons hierdie veelheid van Afrikaanse mense (met 50% bruin moedertaalsprekers en 39% wit Afrikaanssprekendes) gaan verreken in ons argumente vir tersiêre onderrig.

Dus: ja, Afrikaans as akademiese taal – as taal waarin opleiding gegee word, as taal waarin akademiese produkte (artikels, boeke, verhandelinge, proefskrifte) geskryf word – is onder druk. En dit maak my uiters bekommerd. Daar is strategieë om dit teen te werk, maar as dit geskied sonder die steun van die Afrikaanse gemeenskap wat daarop aandring omdat dit hulle grondwetlike reg is, is die beste strategieë nutteloos.

Ek verstaan Afrikaans is een van minder as vyf tale wat die status as akademiese onderrigtaal in die 20ste eeu kon betree. Ander is Hebreeus, Hindi en Maleisies. In ’n artikel getitel “Speaking in tongues” wys James Geary daarop dat ongeveer 6 500 tale in die wêreld gepraat word, waarvan die helfte reeds op die randjie van uitwissing staan of daarheen op pad is. Watter invloed het die sosiopolitieke faktore op ’n minderheidstaal soos Afrikaans en hoe word dit gemonitor?

Eers net weer ’n bietjie agtergrond: Daar word eintlik gereken dat daar teen 2013 ruweg 7 105 tale in die wêreld was. (Dit is nie moontlik om ’n presiese syfer te gee nie, maar dit is die syfer waarmee aan die hand van bepaalde kriteria gewerk word.)  Die raming is ook dat ongeveer 6–12 tale per jaar uitsterf omdat die laaste sprekers van die taal gesterf het. (Trek dus reeds 20+ van die geval hier bo af.) Verder is dit beslis so dat talle van hierdie tale ook al onder druk is en dat ’n derde binne die volgende eeu kan uitsterf. ’n Kwart van die wêreld se tale word deur minder as 1 000 mense gepraat en ’n verdere geskatte 2 000 deur minder as 100 000 mense.

Gemeet teenoor Afrikaans se grootte (6,8 miljoen) is dit onwaarskynlik dat Afrikaans sommer so sal “sterf”. Daar is gewoon te veel sprekers en te veel gebruike vir die taal dat dit sal gebeur. Afrikaans is daarom nog vir baie jare heel veilig. Die tale wat gevaar loop om uit te sterf, het een faktor gemeen: min sprekers. En die sprekers neem ook algaande af en wel om ’n verskeidenheid van redes, soos die oorgaan na ’n groter taal, soos Engels, Spaans, Portugees, Hindi, Arabies of Mandaryns. Die redes hiervoor is velerlei, maar dit sluit veral in groter toegang tot ’n potensiële arbeidsmark, groter inkomste – wat weer beduidende sosiale voordele het, soos beter opleidingsgeleenthede vir hulle kinders en toegang tot beter dienste.

Dit is hier waar ook die groot gevaar vir Afrikaans (maar ook vir die sprekers van Afrikatale) lê: as die nut van Afrikaans al minder word (minder nodig vir werk, vir deelname aan die ekonomie, vir opleiding, vir kontak met die staat, ens), dan begin argumente dat ’n mens maar jou kinders eerder in (byvoorbeeld) Engels moet laat skoolgaan (omdat dit “beter vir hulle toekoms sal wees”), al hoe aanlokliker en logieser klink. Dan kom Afrikaans se funksies onder druk, en algaande begin die een funksie na die ander afskaal, en val dan later weg.

Dit is alles sosiale faktore waaraan diegene wat hulle vir ’n taal of vir tale anders as die groot tale beywer, min aan kan doen. Dit word grootliks in die hand gewerk deur politieke besluite deur regerings, soos die ANC-regering nou doen. Die Minister dreig byvoorbeeld om Akademia se lisensie as privaat universiteit terug te trek omdat Afrikaans die taal van onderrig daar gaan wees. Dit is niks anders as viktimisering en ’n misbruik van politieke magstrukture nie, as ’n manier om ’n politieke ideologie op die minderheid af te dwing.

Vir etlike dekades kon studente aan die Universiteite Stellenbosch, die Vrystaat en Pretoria, die destydse Randse Afrikaanse Universiteit, en die destydse Potchefstroomse Universiteit vir CHO volledig in Afrikaans studeer, van ’n B-graad tot by ’n PhD. En ’n kwalifikasie behaal wat op peil was met dié wat vergelykbare inrigtings elders ter wêreld toeken. Die RAU het UJ en volledig Engels geword. Kwalik meer as 1 000 studente op die Auckland Park-kampus met sy 30 000 studente is Afrikaans. Bloemfontein en Pretoria is op die snelweg na verengelsing. Vir die laaste dekade of wat was Stellenbosch en Potchefstroom die laaste twee kampusse waar Afrikaans nog ’n akademiese vastrapplek gehad het. Nou brand die gevaarligte ook vir hulle. Wat sê dit vir ons van Afrikaans se toekoms as akademiese taal?

Oor die jare is letterlik honderde duisende Afrikaanssprekende studente opgelei in hulle moedertaal en hulle kon hul opleiding in Afrikaans kry vanaf die voorskoolse tot die hoogste vlak (’n doktorsgraad). Dit kom nou voor asof hierdie opleiding nou wantrou word omdat dit nie in Engels was nie. Dit is natuurlik ’n drogargument wat nie verdere kommentaar werd is nie. Hierdie in Afrikaans opgeleide mense het hierdie land help opbou. Vandag lewer hulle steeds uitstaande bydraes tot die welsyn van die land.

"Onthou dat Afrikaanssprekendes met hulle voete stem."

Die Afrikaanse gemeenskap sal moet help om inhoud aan hierdie werklikheid te gee.Ek het hier bo reeds aangedui hoe die proses die afgelope 20 jaar by van die bogenoemde universiteite verloop het. Die gevaarligte flikker al ’n tydjie lank vir Afrikaans, in wese sedert die samesmeltingsprosesse in die vroeë 2000’s begin het. Dit was die begin van die einde vir die pad van Afrikaans by die destydse RAU en sedertdien het dit by van die ander universiteite versnel, soos aan UV, UP, Unisa, selfs US, en die druk is nou op die NWU-PUK. Ek reken die mark vir Afrikaans, bedoelende studente wat in Afrikaans wil studeer, sal nog lank daar wees en van die universiteite sal daarvoor voorsiening maak, maar dit sal al hoe meer in die konteks van ’n meertalige kampus begin geskied. Onthou dat Afrikaanssprekendes met hulle voete stem. Vandaar die toestroming na US en die NWU-PUK nadat op ander universiteite ’n minder vriendelike Afrikaanse omgewing geskep is.

Mens kan begryp dat die vyf histories Afrikaanse universiteite nie immuun sou bly teen die groot veranderinge sedert 1994 nie. Maar die land het ’n stuk of twintig universiteite, die voormalige technikons ingereken. Is dit werklik te veel gevra dat net twee van hulle instellings sal wees met Afrikaans as primêre onderrigtaal?

Die dae van ’n enkelmedium kampus vir Afrikaans kan in die volgende vyf jaar iets van die verlede wees en dit sal ’n hartseer dag vir Afrikaans wees. (Natuurlik word daar géén probleme gesien as Engels die enigste taal op ’n kampus is nie, net solank dit nie Afrikaans is nie.) Die ironie is dat van ons eie Afrikaanse mense hieraan aandadig sal wees, omdat van hulle in besluitnemingshoedanighede by van hierdie universiteite betrokke is en deel het aan die afskalingsbesluite oor Afrikaans.

“Engels is nie die saambindende faktor wat soveel politici wil voorgee nie. Dit is vir vreemdetaalsprekers van Engels ’n komplekse taal, wat tot nadeel van hulle eie tale gebruik word.”

Onthou net: ons mag nooit weer in die posisie kom dat ons Afrikaans op mense afdwing nie, maar in ’n land met soveel tale is dit tog moontlik dat daar vir besondere tale voorsiening gemaak kan word. Engels is nie die saambindende faktor wat soveel politici wil voorgee nie. Dit is vir vreemdetaalsprekers van Engels ’n komplekse taal, wat tot nadeel van hulle eie tale gebruik word.

In die Wes-Kaap is Afrikaans die huistaal van byna 60% van die inwoners. Die provinsie huisves drie universiteite: Kaapstad, Wes-Kaapland en Stellenbosch. Eersgenoemde twee is Engels. Waarom kan daar nie net een universiteit wees wie se onderrigtaal dieselfde is as die taal wat die mense in sy omgewing praat nie?

Dit is ’n baie goeie vraag! Daar is natuurlik eintlik vier universiteite in die Wes-Kaap en nie net drie nie – die Kaapse Skiereilandse Universiteit vir Tegnologie (KSUT) moet ook bygereken word. UK, UWK en ook KSUT is Engels, dit weet ons goed. Op die KSUT se Wellington-kampus word Afrikaans wel as voorkeurtaal gebruik sover my kennis strek, en dit gee hoop.

"Die US moes sy historiese nismark (van bykans ’n eeu) voortgesit het en hom meer toegespits het op die Afrikaanssprekende bruin gemeenskap van die Wes-Kaap. Die US het hierdeur die bal laat val en daar is mense wat vir my gaan kwaad wees omdat ek dit sê."

Daar behoort natuurlik ruimte te wees vir een van hierdie universiteite wat grootliks ’n tuiste kan wees vir diegene wat in Afrikaans wil studeer. In my oë behoort die US hierdie rol te vervul. Dit was tot op hede die geval dat die US oorwegend vir Afrikaanse studente voorsiening gemaak het, maar ná die taalbesluit van November 2014 is Afrikaans en Engels nou tale met gelyke status daar. Die US moes sy historiese nismark (van bykans ’n eeu) voortgesit het en hom meer toegespits het op die Afrikaanssprekende bruin gemeenskap van die Wes-Kaap. Die US het hierdeur die bal laat val en daar is mense wat vir my gaan kwaad wees omdat ek dit sê. Ek praat egter hier as Afrikaanse taalkundige en nie in enige ander hoedanigheid nie.

Maar is dit regtig die verantwoordelikheid van ’n universiteit om ’n taal te bevorder?

My teenvraag is dit: Waarom was die Afrikaanse studente tot op hede goed en geskik vir universiteitstudie en nou ewe skielik nie meer nie? Hoekom moet kampusse waarheen Afrikaanssprekende studente graag gaan, nou ook Engels word? Waarom word Engels dan bevorder en nie ook Afrikaans of Xhosa of Zulu nie?

Wat my nog steeds verstom, is die patroon dat iemand kan vra om aan die US in Engels opgelei te word (en dat die mense dan spring om dit moontlik te maak), maar dat as ’n Afrikaanssprekende sou vra om aan die UK in Afrikaans opgelei te word, die persoon beslis die deur gewys sal word. Dit lyk vir my na eenrigting politieke druk. Dalk is Flip Buys se siening hier tog waar: daar is nie ’n probleem met Afrikaans op kampusse nie, net met die mense wat die taal praat. Is dit nog terugbetaal vir die foute van die verlede?

Op Potchefstroom kom die bedreiging vir Afrikaans in ’n ander gedaante: “transformasie”. Daar word gesê die visekanselier, Dan Kgwadi, wil ’n eenvormige akademiese kultuur afdwing op al drie die NWU se kampusse, te wete Potch, Mahikeng en Vanderbijlpark. Word Afrikaans nie eintlik maar as ’n hindernis beskou wat in die pad van transformasie staan nie?

Dit kom uit gesprekke so voor. Die dilemma is dat die debat so warm geword het aan die NWU, in die besonder op Potchefstroom, dat die klimaat vir konstruktiewe en versoenende gesprekke nog nie werklik daar is nie. Dit sal eers moet gebeur dat mense mekaar genoeg vertrou om saam om ’n tafel te gaan sit en sáám ’n oplossing te probeer beding. Die mense aan die NWU en die PUK is nou erg gepolariseer. Daar sal eers na ’n middelgrond beweeg moet word alvorens ’n sinvolle gesprek kan plaasvind.

"Afrikaanssprekendes hou dus die uitkoms van die debat in hulle hande en monde vas! Wees daarom kalm en beredeneerd, en moet asseblief nie skreeu nie. Want dan word jy nie meer gehoor nie."

Die probleem is dat die debat begin het as die bespreking van ’n moontlike nuwe bestuurstruktuur (wat ek toevallig ook dink, gebaseer op my vyftien jaar se ervaring as middelvlakbestuurder, nie prakties haalbaar is nie), maar dat Afrikaans toe skielik deel van die debat geword het, waarskynlik omdat dit voorkom asof die beplande nuwe bestuursmodel Afrikaans sal benadeel. Self dink ek ook so, veral as die besluit oor ’n taalbeleid in ’n fakulteit van ’n dekaan afhang. Dit is iets wat op ’n hoër vlak beding moet word.

Die NWU se beleid van funksionele meertaligheid maak voorsiening vir vier tale en as ons dit met oordeel toepas en ook reg toepas, kan Afrikaans se posisie beveilig word en Setswana en Sesotho weer uitgebou word. Die aard en styl van die debat – met aggressie, vloektaal, dikwels rassistiese beledigings gerig aan die visekanselier – belemmer egter Afrikaans se status aan die NWU en dan begin mense in besluitnemingsposisies anders dink oor Afrikaans as wat ons sou wou hê. Afrikaanssprekendes hou dus die uitkoms van die debat in hulle hande en monde vas! Wees daarom kalm en beredeneerd, en moet asseblief nie skreeu nie. Want dan word jy nie meer gehoor nie.

Hoe kan Afrikaans ooit hoop om sy status as akademiese taal te behou wanneer ’n groot taal soos Engels langs ’n klein taal soos Afrikaans neergedwing word? Sal die grote nie uiteindelik die kleintjie verdring totdat die kleiner een mettertyd heeltemal verdwyn nie?

Ja, dit kan gebeur. Almal wat met tale werk, weet dit goed. Dit is nie iets waaroor eens gespekuleer hoef te word nie. Ons kan maar net praat oor die tyd wat dit gaan neem om te gebeur. Hierdie soort gesprekke begin selfs nou ook in Nederland plaasvind. Gelukkig word dit daar (nog!) sterk teengestaan, maar vir hoe lank nog?

Die verskil tussen dubbelmedium en parallelmedium lê eintlik maar in die tyd wat dit die groter taal gaan neem om die kleiner een te verdring. Dubbelmedium laat dit net gouer plaasvind. Kyk net na UJ om te sien hoe gou dit kan gebeur. Aan UP word die nie-Afrikaanssprekende komponent groter en dit is waarskynlik net ’n kwessie van tyd voordat UP nie meer soos in die verlede vir Afrikaans ruimte gaan skep nie. En wat van UV? By Unisa speel Afrikaans lankal nie meer ’n rol nie. En UWK is lank nie meer Afrikaans nie. Inteendeel.

Kom ek stel dit so: Afrikaans is, in wêreldverband gesien, ’n minderheidstaal en in Suid-Afrika self ten opsigte van sy aantal sprekers marginaal in vergelyking met van die ander inheemse tale soos onder andere Xhosa en Sotho. Is dit werklik op die lang duur moontlik dat ’n minderheidstaal soos Afrikaans as opvoedkundige en akademiese taal kan bly voortbestaan?

"Weer eens: as die politieke wil daar is, is enigiets moontlik. Dit is die taak van ons as Afrikaanssprekendes om te help om ’n klimaat te skep waarin hierdie wil vanselfsprekend sal wees."

Dit is teoreties beslis moontlik. As daar die politieke wil is om so iets te laat waar maak, is dit haalbaar. Ek betwyfel egter of daar tans die politieke wil en vermoë onder ons politieke leiers is – anders sou dit lankal gebeur het en ons almal in vrede saamgewoon het. Maar die praktyk van elders in die wêreld wys dat groter tale mettertyd die kleiner tale opslurp sonder dat die kleiner taal dit agterkom. Maar op ’n dag gaan ’n akademiese bestuurder eers sê dat tolking te duur is en binne enkele jare dat die klasse in Afrikaans te klein is om nog aangebied te word. My vriend Gert van der Westhuizen van UJ moes byvoorbeeld in 2012 ’n aankondiging in sy klas maak dat hy pas sy laaste Afrikaanse klas aangebied het.[1] Te skrikwekkend! Dan word alles eentalig Engels, terwyl daar sekerlik steeds polities korrekte geluide oor die belang van meertaligheid gemaak sal word.

Weer eens: as die politieke wil daar is, is enigiets moontlik. Dit is die taak van ons as Afrikaanssprekendes om te help om ’n klimaat te skep waarin hierdie wil vanselfsprekend sal wees.

Maar waarom sal studente nog spontaan in Afrikaans wil studeer as Engels soveel meer blootstelling geniet?

Gewoon die vermoë om hom/haar in die eie taal die maklikste en spontaanste uit te druk. My oudste seun studeer byvoorbeeld nou vir sy MBA hier aan die PUK. Toe ek hom vra waarom hy om praktiese redes dit nie eerder by een van die universiteite in Johannesburg doen nie (hy woon in Randburg), het hy vir my gesê hy ry eerder elke tweede Saterdag Potchefstroom toe om dit hier in Afrikaans te kan doen. En sy Engels is goed – nie so vrot soos sy pa s’n nie!

Dit is ook die geval met soveel ander jongmense wat in Afrikaans grootgeword het. Onthou ook dat Afrikaanssprekende mense oor ’n eienskap beskik waaroor Engelssprekendes nie beskik nie: ons kan twéé tale goed beheers en Engelssprekendes kan merendeels net een taal gebruik. Onthou dat ek op geen manier ’n geveg met Engels aan die gang wil sit nie – ek sê net dat Engels nie die enigste taal vir tersiêre onderrig in ’n veeltalige land soos Suid-Afrika durf wees nie. Dan is ons Grondwet ’n leuen, omdat mense daarin bepaalde regte gewaarborg word.

As sameroeper was jy baie nou betrokke by die Afrikaanse Taalberaad wat in Augustus 2004 op Stellenbosch gereël is. Hoe verskil die situasie van Afrikaans vandag teenoor 11 jaar gelede?

In 11 jaar het baie gebeur! Die belangrikste is waarskynlik dat ons ná ’n lang en dikwels moeilike onderhandelingsproses die Afrikaanse Taalraad (ATR) formeel op 24 Mei 2008 in Wellington gestig het. Daar was soveel dinge wat ons eers moes leer om met mekaar te hanteer en te vertrou. En die ATR woel sedertdien vir Afrikaans op soveel vlakke daar waar dit saak maak, op grondvlak, op die verhoudinge tussen mense.

"Dinge word saam gedoen, saam droom ons drome vir Afrikaans, saam bou ons brûe tussen Afrikaanse mense, saam werk ons vir Afrikaans waar dit saak maak – in ons skole, universiteite, howe, parlement, by die werk, koerante, feeste, letterkunde, ens."

Die ATR se grootste prestasie is die versoeningsproses wat sedert 2003 in die land onder Afrikaanssprekendes begin plaasvind het. Ons móés dit vir Afrikaans doen, omdat die kloof tussen Afrikaanssprekendes ontsettend groot was as gevolg van die apartheidstydperk. Danksy die werk van die ATR is daar vandag ’n vlak van samewerking tussen bruin en wit wat daar in die verlede nie bestaan het nie. Dinge word saam gedoen, saam droom ons drome vir Afrikaans, saam bou ons brûe tussen Afrikaanse mense, saam werk ons vir Afrikaans waar dit saak maak – in ons skole, universiteite, howe, parlement, by die werk, koerante, feeste, letterkunde, ens. As dit nie vir hierdie fase was nie, was Afrikaans nou in groter moeilikheid as wat dit tans is. Onthou: as daar gepeuter word aan Afrikaans se funksies en status, word meer as die helfte van Afrikaans se moedertaalsprekers, te wete bruin sprekers van Afrikaans, taalgewys ontmagtig. Enige politieke partye wat dit wil doen, is bloot dom.

As ek alles moes oordoen, sou ek dit beslis weer gedoen het.

Tog word Afrikaans as akademiese vak vandag met vrymoedigheid aan universiteite in Europa doseer. Op internasionale vlak groei die belangstelling in Afrikaans voortdurend. Aan universiteite in Rusland, Pole, Amerika, België, Nederland, Oostenryk word Afrikaans deesdae bestudeer. Waarom word Afrikaans nog so ver van sy eie bodem geleer, gelees en bespreek?

Daar is waarskynlik drie redes hiervoor (ek verstaan so by my vriende wat Afrikaans in die buiteland doseer): eerstens, kennis van ’n belangrike taal in die Germaanse taalfamilie (Afrikaans is die tweede jongste Germaanse taal). Tweedens, nuuskierigheid oor die taal en sy mense. En derdens, om toeristiese redes. In die verlede het personeel van buitelandse ambassades ook met basiese Afrikaans kennis gemaak, maar dit skyn deesdae nie meer die geval te wees nie.

In my tydperk as voorsitter van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns het ons begin met ’n belangrike inisiatief om diegene wat Afrikaans in die buiteland doseer en bevorder, van raad en hulp te bedien. Die Internasionale Vereniging vir Afrikaans (IVA) word nog vanjaar geloods. Hiermee bring ons die kundigheid van die akademici wat in Suid-Afrika betrokke is by die doseer van die Afrikaanse taal- en letterkunde en diegene wat dit in die buiteland doseer, by mekaar uit. Op hierdie wyse word ons “Afrikaanse sendelinge”, soos ons hulle noem, met raad en daad bygestaan.

Personeel van die PUK se vakgroep Afrikaans en Nederlands gee jaarliks klas oor die Afrikaanse taal- en letterkunde aan die Universiteit van Antwerpen. In Oktober vanjaar vind ’n groot kongres oor Afrikaans in Gent plaas en in Leiden is daar elke jaar iemand wat Afrikaanse taal- of letterkunde doseer. In Los Angeles doseer Bob Kirsner Afrikaans aan die bekende UCLA, in Amsterdam werk Ena Jansen hard om Afrikaans te verteenwoordig, in Pole is Jerzy Koch en Fanie Olivier voorlopers vir Afrikaans, in Wene doen Rina Loader haar bes om Afrikaans te bevorder. So kan ons aangaan. Dit is nou mooi stories oor Afrikaans! En die derde Festival voor het Afrikaans word vir April 2016 in Amsterdam beplan.

Die belangstelling in Afrikaans groei dus en ons benut dit ten beste.

Jy het so twee jaar gelede tydens die tweede jaarlikse Taalmuseumlesing by die Afrikaanse Taalmuseum en -monument in die Paarl die hoop uitgespreek dat meer universiteite onderrig in Afrikaans sal hê, en dat Afrikaanse ouers sonder om te twyfel hul kinders na Afrikaanse skole sal stuur. Is die teenoorgestelde nie dalk besig om te gebeur as ons kyk hoe universiteite al hoe meer verengels nie?

Ja, die tendens is daar. Ek hoor so dikwels dat jonger mense sê hulle plaas hulle kinders eerder in Engelse skole, “omdat dit beter is vir hulle toekoms”. ’n Jonger kollega het my ’n tydjie gelede kom vra of hy oor 30 jaar nog Afrikaans sal kan doseer. Daar is dus twyfel in mense se gemoed en ek het begrip daarvoor. Ouers wil die beste besluite in die belang van hulle kinders neem en jonger kollegas moet loopbaanbesluite neem.

"Wat die toekoms gaan inhou, kan ek natuurlik nie sê nie – ek hoop ek is darem nog lank hier om te sien wat met Afrikaans gebeur! – maar wat ek wel weet, is dat Afrikaanssprekendes báie kan doen om die klimaat te skep waarin daar vir Afrikaans ’n tuiste sal wees."

Wat die toekoms gaan inhou, kan ek natuurlik nie sê nie – ek hoop ek is darem nog lank hier om te sien wat met Afrikaans gebeur! – maar wat ek wel weet, is dat Afrikaanssprekendes báie kan doen om die klimaat te skep waarin daar vir Afrikaans ’n tuiste sal wees. In die boek waarvan ek hier bo gepraat het, het ek meer as 60 sulke aspekte uitgelig. (Koop dus asseblief die boek wanneerdit verskyn.) Ons moet wel ook weet: die oplossing lê op hoofsaaklik twee vlakke: (a) op die politieke vlak en (b) op die persoonlike vlak, dws in die bydraes wat Afrikaanssprekendes lewer om hierdie land te laat werk.

Jy het ook gesê ons moet aanvaar dat Afrikaans waarskynlik ’n negatiewe etiket verdien het en dat ons hard moet werk om dit reg te stel. Wat is die grootste foute wat Afrikaans in die verlede gemaak het en kan dit nog reggestel word?

Ek het eenkeer te gou gepraat en gesê dat Afrikaans foute gemaak het. ’n Klomp mense was tereg vir my kwaad. Dit moes natuurlik gewees het sprekers van Afrikaans. Ons kan hier wel sê dat Afrikaans as taal weens die optredes van sommige van sy sprekers ’n negatiewe beeld het onder sprekers van ander tale. Dit is ongelukkig waar, of ons dit nou wil weet of nie. Natuurlik was dit nie al Afrikaans se sprekers nie, maar ons het toegelaat dat sommige van die sprekers so met ander mense omgaan. Dit vorm nie ’n mooi prentjie van die wit Afrikaanse gemeenskap nie. Word gerus ook weer kwaad vir my hieroor, maar ek moet dit sê.

Ons kan naamlik nie die verlede van apartheid ontken nie. Dit is waarskynlik die grootste enkele fout waarby Afrikaanssprekendes betrokke was. Natuurlik nie vandag se jonger geslag nie, maar die geslagte van die verlede. (Onthou dat apartheid nie ’n Afrikaanse maaksel was nie, maar wel een wat die Engelse gevestig het.) Mense sal nou seker sê dit is verby en ons moet dit vergeet. Ongelukkig is dit nie so maklik nie. Ry vandag in die Kaap verby die ou Distrik Ses wat leeg daar lê, kyk na die arm woonbuurte langs ons paaie, luister na mense wat uit hulle huise gesit is in die 1960’s en dan weet jy apartheid se nagevolge sal nog lank met ons wees. Hoor hoe mense se menswaardigheid afgetakel is deur woorde en optredes, luister hoe mense ver van alles af op vlaktes neergesit is en daar ’n bestaan moes maak, hoor hoe mense verneder is omdat hulle vel nie wit was nie.

Ons kan hierdie fout regstel, maar dit gaan van wit sprekers verg om hulle gemaksones te verlaat en deel te word van die lewe van die totale Afrikaanse gemeenskap. Dit kan ons doen deur die aard en die gehalte van ons bydraes in hierdie land. Ek hoor soveel mooi stories van wit mense wat uitreik om die gehalte van hulle bruin en swart werkers se lewens te vergemaklik, soms deur eenvoudige dinge te doen, soos om skoolklere vir ’n huishulp se kind te koop, toebroodjies te maak en by skole af te lewer vir honger skoolkinders, geletterdheidklasse aan te bied, die skool- en universiteitsgeld van niewit sprekers van Afrikaans te betaal, ens. Ek is seker daar is nog baie stories daar buite waarvan ons nie weet nie. Ek het vanselfsprekend nie al die oplossings nie, maar ek help graag dink aan oplossings.

As Afrikaanse as ’n akademiese taal verlore gaan, verloor die taal een van sy hoërordefunksies. Dan is die taal op pad om, soos Breyten Breytenbach geskryf het, ’n taal te word “wat net om die braai gepraat word”. ’n Taal, dus, wat geen waarde wyer het as in private sfere nie. Stem jy saam en indien wel, hoe keer ons dit?

Soos hier bo ’n paar keer genoem is, durf Afrikaans nie één van sy swaar verworwe hoë funksies verloor nie. As net een verloor word, sit dit ’n proses aan die gang wat op lang termyn ’n domino-effek het, want dan val die een funksie na die ander. Daarom is die behoud van Afrikaans as taal van die wetenskap en as taal van hoër onderwys so belangrik. Dit is in wese die hoogste vlak van uitdrukking wat ’n taal kan bereik: dat jy jou mees gesofistikeerde dinge in die taal kan doen. Sodra ’n taal net waarde het as ’n laefunksietaal (dus net in informele kringe gepraat word), wat kan gebeur as die hoë funksies met die verloop van tyd een vir een weg weggekalwe word, is dit net ’n kwessie van tyd voordat dit net weer ’n kombuistaal is, dus net geskik vir beperkte gebruik. Ons durf nooit toelaat dat Afrikaans in hierdie posisie kom nie. Daar is te hard gewerk om Afrikaans in die loop van 90 jaar te bring te waar dit nou is.

"Dit is in wese die hoogste vlak van uitdrukking wat ’n taal kan bereik: dat jy jou mees gesofistikeerde dinge in die taal kan doen."

Om Hans du Plessis hieroor aan te haal: Die grootste vyand vir Afrikaans is sy eie sprekers. Soveel sprekers het al moed verloor met Afrikaans (deur byvoorbeeld hulle kinders na Engelse skole te stuur, of selfs deur te emigreer), maar dit is ook Afrikaans se sprekers wat sy toekoms kan verseker. En die wyse waarop ons ons in Afrikaans uitleef, bepaal of die ander inwoners van die land ons hier gaan duld. Dit is ’n erge ding om te sê, maar ons moet weet dat ons ons eie toekoms kan maak en bepaal.

Ons het so baie om trots op te wees rakende Afrikaans wat ons oor 90 jaar bereik het: ons letterkunde, ons woordeboeke, ons vaktaal, die gehalte van studente wat in Afrikaans aan ons universiteite opgelei is, ons vermoë om planne te maak as ons in ’n drukgang kom (soos privaat skole in Afrikaans of ’n privaat universiteit vir Afrikaanse studente, soos Akademia), ons verenigings wat voortreflike werk doen, ons kunstefeeste, ons mense wat op soveel vlakke die land dien. So kan ’n mens aangaan. Kom ons koester wat ons het en bou daarop voort.

’n Laaste vraag: Wat is jou boodskap aan diegene vir wie Afrikaans belangrik is en die taal as akademiese en onderrigtaal wil laat behoue bly?

Ek is dikwels in die spervuur omdat ek so hard probeer om ’n ander beeld van Afrikaans voor te hou, die beeld van redelikheid, van konstruktiewe deelname aan aktiwiteite en prosesse. Ek sal niks doen om Afrikaans te skaad nie, wees verseker daarvan. My loopbaan as akademikus, die boeke wat ek in Afrikaans geskryf het, die tyd wat ek aan Afrikaans afgestaan het ten koste van my gesin, en my kontak met die Afrikaanse werklikhede het my wel geleer dat ons ánders sal moet dink oor Afrikaans vandag as wat gedink is oor Afrikaans in die verlede. Kom laat ons mekaar se hande vat en regmaak wat verbrou is en dan bou ons hierop saam ’n nuwe toekoms vir Afrikaans. Dit moet ’n toekoms wees waarin kleur nie ’n rol speel nie.

"Kom laat ons mekaar se hande vat en regmaak wat verbrou is en dan bou ons hierop saam ’n nuwe toekoms vir Afrikaans. Dit moet ’n toekoms wees waarin kleur nie ’n rol speel nie."

[1] Van der Westhuizen, G. 2012. “Julle is die laaste groep”. Beeld, 24 Augustus 2012, bl 17.

  • 1

Kommentaar

  • Ben Raubenheimer

    Het jy ook die argumente vir die ANC-onderdrukker gestuur en vir die ANC-lite en vir die Vryheidsfront Plus en ook vir ander Afrikaner-organisasies?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top