Commendatio met die oorhandiging van die Van Ewijck Stigting se prestasieprys aan Wannie Carstens

  • 5

Wannie Carstens (foto: Izak de Vries)

Die Van Ewijck Stigting se prestasieprys moet gesien word teen die agtergrond van die testamentêre verpligtinge teenoor die Van Ewijck-egpaar, naamlik om inisiatiewe aan te moedig en te beloon wat die kulturele verbintenisse tussen Suid-Afrika en Nederland versterk. En natuurlik om sorgsaam om te gaan met die geld wat hiervoor aan die raad van die stigting toevertrou is. ’n Groot verskeidenheid ander toekennings, wat insluit dié aan hulpbehoewende Nederlandse bejaardes en aan studente, word ook jaarliks gemaak.

Hierdie prys is ’n beloning vir besondere prestasie op die terrein van kulturele uitwisseling in die breë tussen die twee lande.

Wannie Carstens se prestasies lê op veral twee terreine. Allereers is en was hy betrokke by belangrike ondernemings om kulturele betrekkinge te bevorder en te inisieer. Hy is in dié opsig een van diegene wat vanaf 1994 hard gewerk het om die lugleegte wat ontstaan het weens die nie-amptelike kultuurboikot tussen die twee lande weer te vul, iets wat nou grotendeels bereik is. Hy het ten tweede ook gesorg vir monumentale oorbruggende akademiese publikasies.

Een van sy inisiatiewe wat tans voortgaan om te sorg vir wedersydse bemagtiging, is die formele uitwisselingsooreenkoms wat hy help fasiliteer het tussen die Universiteit van Leiden en die SA Vereniging vir Neerlandistiek waarvolgens ’n Suid-Afrikaanse dosent jaarliks vir ’n semester lank ’n kursus in Afrikaans in Leiden aanbied.

As voorsitter van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (2011–2014) het hy verder gesorg vir samewerkingsooreenkomste tussen die Suid-Afrikaanse Akademie en die Vlaamse Koninklijke Academie voor Nederlandse Taal- en Letteren. Hy het aanvoorwerk gedoen vir ’n soortgelyke ooreenkoms met die Koninklijke Nederlandse Academie van Wetenschappen. Laasgenoemde ooreenkoms is ongelukkig nog nie afgehandel nie.

Hy het ook gesorg vir ’n samewerkingsooreenkoms met die Meertens Instituut in verband met die totstandkoming van die Virtuele Instituut vir Afrikaans.

Hy was inisieerder en stigterslid van die bekende Festival voor het Afrikaans wat vanaf 2011 met tussenposes in Nederland aangebied is en waarby hy steeds in die advieskomitee dien. Dit sluit groot insette in om befondsing te bekom waarsonder so ’n fees natuurlik nooit sou kon plaasvind nie.

Dieselfde geld die eweneens bekende Week van die Afrikaanse roman.

Hierby sou nog onder meer gevoeg kon word sy rol by die redding van Zuidafrika-huis in Amsterdam, die oprigting van die Digitale Bibliografe van die Afrikaanse Taalkunde in noue medewerking met die DNBL, die Digitale Biblioteek der Nederlandse Letteren. Hy is lid van die redaksieraad van die Internationale Vereniging voor Neerlandistiek se tydskrif Internationale Neerlandistiek asook van die tydskrif Voortgang.

Ons weet dat hy ook ’n belangrike rol agter die skerms gespeel het by heelwat ander inisiatiewe van hierdie aard, waaronder die baie onlangs ondertekende ooreenkoms tussen die Afrikaanse Taalraad en die Nederlandse Taalunie.

Hy het uiteraard ook uitgebreid as gasdosent in Nederland opgetree.

Wat publikasies betref, lig ek graag twee uit. Om mee te begin is daar die boek Teksredaksie waarby hy die medewerking gehad het van Kris van der Poel van die Universiteit van Antwerpen en wat gebaseer is op ’n model van die Nederlandse Jan Renkema (indertyd van die Universiteit van Tilburg). Van hierdie boek het daar ’n tyd gelede ’n Sesotho-uitgawe verskyn en baie onlangs ’n Zoeloe-weergawe.

’n Groot veer in sy hoed is sy en Edith Raidt se Die storie van Afrikaans uit Europa en van Afrika – Biografie van ’n taal (deel 1, 1917), waarvan die tweede deel verlede jaar verskyn het. Dit is ’n allemintige 1 800 bladsye in totaal, waarin ook die taalhistoriese verbintenis tussen Nederlands en Afrikaans ’n uitgebreide en versigtig oorwoë plek inneem.

Dit is daarom ’n groot genoeë vir die Van Ewijck Stigting om sy jongste prestasieprys aan prof Carstens te oorhandig. Ons weet boonop dat sy bydraes steeds voortgaan. Ons beste wense op die pad vorentoe.

  • 5

Kommentaar

  • Wonderlike werk deur Wannie. Het in 2018 en 2019 in Nederland gekuier en dit was vir my soos 'n kulturele pelgrimstog! Om op 27/4 daar te wees met Koningsdag en in Oranje gekleed te wees, was 'n hoogtepunt!

  • Avatar
    Johannes Comestor

    Deel 1 van Die storie van Afrikaans is in 2017 gepubliseer en die tweede deel in 2019.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top