Elders gesien: As akademikus probeer ’n mens altyd ’n sinvolle bydrae maak

  • 0

Wannie Carstens skryf op Facebook:

Ek het vroeg verlede jaar hier op FB aangedui dat ek ’n tydelike sabbat gaan neem om aan ’n boek te werk. Dit het uiteindelik veel langer as ’n jaar geneem om by die eindproduk van die boekmaakproses te kom. Dit het uiteindelik ook ’n groot deel van my tyd na my aftrede in 2017 opgeneem.

Gister het ek my kopie van Toegepaste taalkunde in Afrikaans (reds: WAM Carstens en TJ van Dyk; JL van Schaik-Uitgewers) gekry. Die boek se "look and feel" (het iemand ’n mooi Afrikaanse weergawe hiervan?) het my stoutste verwagtinge oortref.

As akademikus probeer ’n mens altyd ’n sinvolle bydrae deur jou publikasies lewer. Dit het ek met vorige boeke probeer doen – telkens kon ’n gaping in die veld gevul word. Dit was/is goed en lekker. Maar hierdie boek het agt jaar geneem om te groei van konsep na produk. En daar was ’n groot gaping om gevul te word, want daar was nog nooit ’n boek oor toegepaste taalkunde in Afrikaans nie.

Saam met Tobie van Dyk (NWU) as mederedakteur het ek die moeisame proses bestuur – ons het die idee struktuur gegee, befondsing gesoek (en gelukkig gevind!), kundige skrywers vir hoofstukke gesoek en hulle gevind (en ELKE hoofstuk in die boek is deur kundiges geskryf – die aard van die boek het dit geverg), en ’n uitgewer gesoek en gevind (JL van Schaik, waar Mari Beukes ons uitgewer was), assistensie gesoek en gevind (DJ Cloete was ’n yster in die proses). So het ons as span, saam met ons 55 gewillige medewerkers (wat soms onder groot druk gewerk het) ’n boek van 38 hoofstukke oor 38 temas in die toegepaste taalkunde geproduseer. Ek hoop dat ELKE medewerker ook goed voel oor sy/haar bydrae tot hierdie boek.

Die boek is vernuwend in ’n belangrike ander opsig: Danksy die tegnologie van die dag is dit moontlik om slegs die hoofstukke te koop wat jy nodig het. Ons hoop natuurlik almal koop die hele boek!

Die boek sal binnekort by boekhandelaars beskikbaar wees. Of dit kan via Van Schaik se webwerf bestel word. Gaan KOOP nou asb die boek en lees dit. Mense soek mos geskenke in die Kersfeestyd ...

Laastens: my persoonlike hartlike dank aan elke medewerker aan die boek (uit Suid-Afrika, België, Nederland en Kanada) vir hulle bydraes tot die boek. Dankie ook aan Tobie van Dyk en DJ Cloete vir hulle saamwerk aan die boek. Dankie ook aan elke befondser vir hulle bydraes tot die maak van die boek: SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, die Hiemstra Trust, NWU, Die PUK-Kanselierstrust, die Fonds Neerlandistiek, en die Univ van Johannesburg. So maak ’n span wat ’n gemeenskaplike doelwit het ’n sukses van ’n projek.

En dalk gaan ek nou (weer) ’n groter aanwesigheid op FB hê ...

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top