USAN-kongres 2022 – 'n terugblik: Jerome Coetzee

  • 0

Foto van Jerome Coetzee: Verskaf

Die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit Stellenbosch het van 19 tot 21 Januarie 2022 ’n tweejaarlikse kongres vir nagraadse studente en jong navorsers aangebied. Die kongres is ’n geleentheid vir jong navorsers om hulle navorsing, gebaseer op hulle nagraadse studie, met akademiese eweknieë te deel. Naomi Meyer het ’n aantal bydraers met vrae genader.

Hier is Jerome Coetzee se antwoorde.

Hallo! Die USAN-kongres wat by die US se Departement Afrikaans en Nederlands plaasgevind het, voel al soos maande gelede. En dit wás maande gelede. Tog is dit die moeite werd om hieroor te gesels. Veral in ’n geskiedkundige eeufeesjaar van hierdie departement. Wat kan jy onthou van die USAN-kongres – wat was jou persoonlike indrukke?

Ek kan onthou dat ek baie senuweeagtig was vir die voorlegging. Ek kon nie juis baie sessies bywoon nie, want ek het ander verpligtinge gehad, maar die paar wat ek kon sien, was baie interessant gewees.

Vanjaar, 2022, was ’n gans-ander soort jaar as toe die kongres vir die heel eerste keer in 2014 aangebied is. Die wêreld is nou ’n ander plek. Het die omgewing waarbinne jy navorsing doen, ook jou navorsing beïnvloed? Indien wel, op watter maniere?

.........
My navorsing het baie verander weens die skakeling met die apokaliptiese tydperk waarin ons was/is. My navorsing het ’n gedeelte wat gaan oor dinge soos Dag Zero en Covid.
............

My navorsing het baie verander weens die skakeling met die apokaliptiese tydperk waarin ons was/is. My navorsing het ’n gedeelte wat gaan oor dinge soos Dag Zero en Covid. Dit was asof ek my navorsing leef en dus kon ek my tekste baie beter benader. Ek was weens die inperkings lanklaas in ’n biblioteek en ek moet staat maak op die aanlyn bronne, wat ongelukkig dikwels minder betroubaar is.

Wat beteken dit vir jou om ’n jong navorser genoem te word? Wat behels dit, in ’n praktiese opsig, vir jou?

Vir my is ’n jong navorser een wat nie net in ouderdom jonk is nie, maar ook met hoe jy navorsing sien. Die beskrywing “jong navorser” het dus veral te doen met die vernuwing van die navorsing en die uitbreiding daarvan. Die moeilike gedeelte van ’n jong navorser wees, is die geleenthede wat nie altyd daar is nie.

Waaroor handel jou navorsing? Dalk kan jy in ’n paragraaf daaroor uitwei.

..........
My navorsing handel oor Afrofuturisme in kontemporêre Afrikaans letterkunde. Ek gebruik spesifiek Stof (2018) deur Alettie van den Heever en Kraak en Snak (albei 2018) deur Rouxnette Meiring.
............

My navorsing handel oor Afrofuturisme in kontemporêre Afrikaans letterkunde. Ek gebruik spesifiek Stof (2018) deur Alettie van den Heever en Kraak en Snak (albei 2018) deur Rouxnette Meiring. My teoretiese fokus is spesifiek Afrofuturisme, ekokritiek, ruimte en identiteit, asook neologismes en dekolonialisering.

Wat het jou geïnspireer om die navorsing te doen wat jy doen? Wat was jou aanvanklike inspirasie? Hoekom doen jy wat jy doen?

...........
Ek wou aanvanklik iets doen oor die magiese in die letterkunde – ek is gefassineer met hoe Afrika se magiese verteenwoordig word in die letterkunde. Ek het Afrofuturisme as invalshoek gevind met die lees van magiese tekste en die fliek Black Panther. Na dit kon ek nie ophou daaroor lees nie.
..............

Ek wou aanvanklik iets doen oor die magiese in die letterkunde – ek is gefassineer met hoe Afrika se magiese verteenwoordig word in die letterkunde. Ek het Afrofuturisme as invalshoek gevind met die lees van magiese tekste en die fliek Black Panther. Na dit kon ek nie ophou daaroor lees nie. Hoe meer ek kon lees, hoe meer het ek dit geniet.

Wat het jy van die ander navorsers – sommige fisies teenwoordig en sommige hibried – se navorsing gedink? Was daar enige tematiese raakpunte wat jy kon raaksien?

Soos ek genoem het, kon ek nie juis veel sien nie, weens ander verpligtinge. Dit voel goed om deel te wees van hierdie groep opkomende navorsers.

As mens navorsing oor ’n sekere vakgebied doen, kan dit mens begeester. Dit kan mens ook sinies maak. Dit kan mens jou vakgebied laat problematiseer en laat ondersoek. Wat is jou ervaring: jou pad met Afrikaans en jou studies op hierdie stadium?

Ek het dit nog nie ondervind nie; ek geniet nog my navorsing. Ek dink ek voorkom sinisme omdat ek my onderwerp geniet en ’n goeie studieleier het. Ek weet een ding van Afrikaans: Daar is nog so baie navorsing wat kan ontgin word, veral as ons Afrofuturisme as teoretiese lens gebruik. Daar is verskeie moontlikhede.

...........
Ek weet een ding van Afrikaans: Daar is nog so baie navorsing wat kan ontgin word, veral as ons Afrofuturisme as teoretiese lens gebruik. Daar is verskeie moontlikhede.
............

Kom ons praat oor die vakgebied – en aan wie Afrikaans behoort. Wie se eiendom dit is, waar het dit begin, wie mag dit toe-eien. Was daar sulke gesprekke? Wat broei in jou kop hieromtrent?

Afrikaans is nie iets wat jy kan eien nie. Dit kan nie besit word nie, alhoewel daar variasies van Afrikaans is, en hierdie variasies moet nie misbruik of ontken word nie.

Ek het jou gevra om terug te kyk. Nou vra ek jou om vorentoe te kyk. Wat sien jy op jou toekomspad, selfs korttermyn, ten opsigte van jou navorsing in die vakgebied Afrikaans?

Ek wil meer gedigte, artikels en nuusberigte publiseer, asook deelneem aan byeenkomste oor taal. My navorsing wil ek  uitbrei na ander genres; ek fokus tans net op romans en glo dat Afrofuturisme in ander genres gebruik kan word.

Hoe sien jy Afrikaans (in die algemeen) in die toekoms? Sien jy ’n toekoms vir Afrikaans en Afrikaanse navorsing en navorsing in Afrikaans?

Ek sien ’n toekoms vir Afrikaans, maar as dit meer inklusief word, en daar meer gelyke geleenthede gestel word, as daar nie net gesprekke is nie, maar volwaardige verandering gebeur op alle vlakke, veral navorsing. Ons moet begin dink aan wie sit om die tafel en neem besluite – lyk en praat hierdie mense almal dieselfde? Ons moet verskillende stemme kan hoor oor Afrikaans, omdat Afrikaans nie net binne een grens geplaas kan word nie.

Lees ook:

Afrofuturisme in Afrikaanse letterkunde: ’n onderhoud

USAN 2022: ’n onderhoud met Kanja van der Merwe

USAN 2022 – ’n onderhoud met Marishan Hendricks

USAN 2022 – ’n onderhoud met Samantha Miller

USAN 2022 – ’n onderhoud met Danie Stander

USAN 2022 – ’n onderhoud met Marthie de Waal

USAN 2022 – ’n onderhoud met Ancheri Götze

USAN 2022 – ’n onderhoud met Lobke Minter

USAN 2022 – ’n gesprek met Carmi Britz

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top