USAN 2022 – ’n onderhoud met Lobke Minter

  • 0

Lobke Minter (foto: LinkedIn)

Die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit Stellenbosch het van 19 tot 21 Januarie 2022 ’n tweejaarlikse kongres vir nagraadse studente en jong navorsers aangebied. Die kongres is ’n geleentheid vir jong navorsers om hulle navorsing, gebaseer op hulle nagraadse studie, met akademiese eweknieë te deel. Naomi Meyer het ’n aantal bydraers met vrae genader.

Hier onder is Lobke Minter aan die woord.

Hallo! Die USAN-kongres wat by die US se Departement Afrikaans en Nederlands plaasgevind het, voel al soos maande gelede. En dit wás maande gelede. Tog is dit die moeite werd om hieroor te gesels. Veral in ’n geskiedkundige eeufeesjaar van hierdie departement. Wat kan jy onthou van die USAN-kongres – wat was jou persoonlike indrukke?

My eerste indruk was dat die USAN-kongresgemeenskap vriendelik en verwelkomend is. Ek het dadelik tuis gevoel, en beslis baie geleer oor Afrikaans, taalkunde en Afrikaanse skrywers wat ek nie regtig geken het nie.

Ek is tans besig met my PhD in Engelse letterkunde, en daarom is Afrikaans nie die fokus van my navorsing nie. Ek het egter by die USAN-kongres betrokke geraak aangesien ek by die skryfgroep vir nagraadse studente aangesluit het wat deur die departement Afrikaans en Nederlands bestuur word. Al is my studierigting in ’n ander taal, het ek die kongres baie geniet, en voel ek my verstaan van die veld is nou breër.

Vanjaar, 2022, was ’n gans ander soort jaar as toe die kongres vir die heel eerste keer in 2014 aangebied is. Die wêreld is nou ’n ander plek. Het die omgewing waarbinne jy navorsing doen, ook jou navorsing beïnvloed? Indien wel, op watter maniere?

My navorsing word beïnvloed deur huidige bekommernisse en angs, aangesien ek in postapokaliptiese wêrelde belangstel. Alhoewel elke generasie die eindtye probeer voorstel, is daar ’n besondere dringendheid in die afgelope 20 jaar se skryfwerk oor postapokaliptiese wêrelde.

.............
My navorsing word beïnvloed deur huidige bekommernisse en angs, aangesien ek in postapokaliptiese wêrelde belangstel. Alhoewel elke generasie die eindtye probeer voorstel, is daar ’n besondere dringendheid in die afgelope 20 jaar se skryfwerk oor postapokaliptiese wêrelde.
..............

Wat beteken dit vir jou om ’n jong navorser genoem te word? Wat behels dit, in ’n praktiese opsig, vir jou?

Om ’n jong navorser te wees, is vir my nie gekoppel aan my ouderdom nie (ek dink nie iemand sal my jonk noem nie). Dit is ’n erkenning van waar ek is in my akademiese reis. Dit was fantasties om hierdie geleentheid gegun te word om as ’n eerstejaar-PhD-student ’n referaat aan te bied.

Waaroor handel jou navorsing? Dalk kan jy in ’n paragraaf daaroor uitwei?

My navorsing fokus op letsels in die literatuur, spesifiek in gotiese spekulatiewe tekste waarin die einde van die wêreld voorgestel word. Ek stel belang in hoe littekens ’n nuttige manier is om met trauma en genesing om te gaan.

Wat het jou geïnspireer om die navorsing te doen wat jy doen?

In my meestersverhandeling het ek op Frankenstein gefokus, en die “creature” het ek besonders interessant gevind. Hy is uit verskeie liggaamsdele saamgestik en dit het my laat dink aan hibriditeit en die manier waarop littekens dikwels gebruik word om karakters te stereotipeer, al is die litteken self ’n fenomenale manier waarop die liggaam homself genees.

.............
In my meestersverhandeling het ek op Frankenstein gefokus, en die “creature” het ek besonders interessant gevind. Hy is uit verskeie liggaamsdele saamgestik en dit het my laat dink aan hibriditeit en die manier waarop littekens dikwels gebruik word om karakters te stereotipeer, al is die litteken self ’n fenomenale manier waarop die liggaam homself genees.
..............

Wat het jy van die ander navorsers – sommige fisies teenwoordig en sommige hibried – se navorsing gedink? Was daar enige tematiese raakpunte wat jy kon raaksien?

Weens my eie belangstelling in letterkunde het ek aanklank gevind by die referate oor literêre analise. Daar was ’n paar interessante oorvleuelings wat tematiese analise betref, maar ook ’n heel ander tipe teoretiese begronding wat na vore gekom het. In wese was dit vir my duidelik dat ek in ’n ander literêre wêreld ingestap het. Ek het dit vreeslik geniet om in daardie wêreld in te stap.

Lees ook:

USAN 2022 – ’n gesprek met Carmi Britz

USAN 2022 – ’n terugblik met Aletta Simpson

USAN 2022 – in gesprek met Mareli Swart

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top