USAN 2022 – ’n gesprek met Carmi Britz

  • 0

Die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit Stellenbosch het van 19 tot 21 Januarie 2022 ’n tweejaarlikse kongres vir nagraadse studente en jong navorsers aangebied. Die kongres is ’n geleentheid vir jong navorsers om hulle navorsing, gebaseer op hulle nagraadse studie, met akademiese eweknieë te deel. Naomi Meyer het ’n aantal bydraers genader met vrae.

Hallo! Die USAN-kongres wat by die US se Departement Afrikaans en Nederlands plaasgevind het, voel al soos maande gelede. En dit wás maande gelede. Tog is dit die moeite werd om hieroor te gesels. Veral in 'n geskiedkundige eeufeeusjaar van hierdie departement. Wat kan jy onthou van die USAN-kongres – wat was jou persoonlike indrukke?

Dit was ’n puik georganiseerde kongres. Dalene Joubert en Natasha Harmse (die organiseerders) het hard gewerk om USAN 2022 ’n sukses te maak. Daar was ’n groot verskeidenheid onderwerpe en navorsers. Dit was beslis die moeite werd om deel te neem. Ek moet ook bieg dat die US se Departement Afrikaans en Nederlands my akademiese tuiste is, so dit was nog altyd ’n gemaklike ruimte vir my gewees, maar ek dink tog daardie gees van samehorigheid was by die kongres aanwesig.

Vanjaar, 2022, was 'n gans ander soort jaar as toe die kongres vir die heel eerste keer in 2014 aangebied is. Die wêreld is nou 'n ander plek. Het die omgewing waarbinne jy navorsing doen, ook jou navorsing beïnvloed? Indien wel, op watter maniere?

Hierdie kongres was die derde USAN-kongres wat ek bygewoon het en ek sien net hoe dit groei en verbeter. Selfs met die Covid-maatreëls het dit gevoel asof ons ’n “nuwe normaal” betree. Die oorskakel na alles aanlyn het my vervreem van die akademie laat voel. Daar was nie juis tye waar jy met ander navorsers kon praat nie. Voor Covid was daar gereelde middaguurgesprekke by die departement en dit was lekker om met mense te praat oor hulle navorsing. Daardie passie vir hulle werk/navorsing is nie altyd waarneembaar aanlyn nie. Daar is nie ’n kans om informeel met die navorser te praat nie. Aanlyn is daar ook praktiese probleme, soos Eskom, of selfs die beste beskikbare internet is onvoldoende: Sodra jy in ’n video call is, haak alles – die klank is agter, of die beeld pixelate, of daardie ongemaklike stilte heers en dan begin twee mense gelyk te praat en albei stop. Gesprekke en idees vloei baie meer natuurlik in persoon.

Wat beteken dit vir jou om 'n jong navorser genoem te word? Wat behels dit, in 'n praktiese opsig, vir jou?

Die idee dat ek ’n jong navorser is en nie ’n student nie, is nog ’n vreemde konsep. Ek is nou deel van ’n groep wat gevul is met groot name en “akademiese ouers” wie se werk ek volg (as ek skertsend só na die gesoute navorsers en akademici kan verwys). Natuurlik is die vervloekte figuur van die Imposter-sindroom ’n ongenooide metgesel. Prakties beteken dit om aan te hou navorsing doen; om by kongresse te praat en artikels te skryf. Dit is pogings om daardie “navorsingsgapings” te vul.

Waaroor handel jou navorsing? Dalk kan jy in 'n paragraaf daaroor uitwei?

Vir my MA het ek gekyk na die kartering van ’n distopiese Suid-Afrika in Lien Botha se debuutroman, Wonderboom. In die gevolgtrekking van my analise het ek die roman se verskillende verhaallyne karteer. Die kaart dien ook as ’n hulpmiddel vir die analise. My referaat fokus op hierdie kaart en hoe die musiekverwysings in die roman op die kaart gesitueer word. Daar word dus nuwe insigte geopper, omdat daar op die makro- en mikrovlak na die verhaallyne gekyk word. Die protagonis is ’n violis en reis gedeeltelik saam met ’n rockgroep deur die Suid-Afrikaanse landskappe. Musiek word in die protagonis se liggaam sowel as deur die natuur beliggaam. Die musiekverwysings is data wat as vlaggies op die kaart opgeteken word. Die land se agteruitgang binne die roman, die protagonis se demensie en die klanke van die natuur en die musiek word verstrengel met die verhaallyne en ’n korrelasie word sigbaar wat andersins ongesiens sou bly. Die titel van my referaat is “’n Akoestiese, ekologiese klankbaan: Die komponering van ’n klanklandskap in Lien Botha se Wonderboom (2015)”. Kortliks: ’n mixtape vir ’n distopiese road trip deur Suid-Afrika.

Wat het jou geïnspireer om die navorsing te doen wat jy doen? Wat was jou aanvanklike inspirasie? Hoekom doen jy wat jy doen?

As deel van my MA-graad het ek vir ’n semester in Leiden Universiteit klasgeloop. Een van my modules was “De canon herlezen” en Yra van Dijk het verwys na Franco Moretti se konsep van “distant reading” en hoe hy fokus op 19de-eeuse karakters wat deur Londen en Parys stap. Hierdie leesmetode was vir my verskriklik interessant. Tesame hiermee het ek vriende gemaak met ’n argeologiestudent van Suid-Korea, Geonyoung Kim, en ons het oor ons navorsing gepraat. Sy het gefokus op ’n Nederlandse seevaarder en sy reis na Suid-Korea en ek het raakpunte gesien tussen die ontdekker en die spore wat hy gemaak het en Wonderboom se protagonis wat ook dinge agterlaat (soos ’n museumuitstalling). Dit is ook Geonyoung wat vir my die kaarte in my verhandeling opgeteken het. Met hierdie nuwe insigte het ek gefokus op die geografiese aspek van die roman, en die konsep van kartering het die hooffokus geword. Ek was ook baie gelukkig om ’n studieleier te hê (Andries Visagie) wat dadelik my vae beskrywing van ’n navorsingsonderwerp aanvaar het en my aangemoedig het, ten spyte daarvan dat my invalshoek effens ongewoon was en daar nie juis ’n model was wat ek kon volg nie.

Ek vind die karteringsmoontlikhede van romans interessant, sowel as “distant reading” wat ek as “konsekwentlees” vertaal het (dit kan dalk later anders vertaal word). Kartering maak dit moontlik om die wêreld buite die roman te ervaar. Die teks word lewend, en kan aangepas word – dit beweeg buite die bladsye.

Wat het jy van die ander navorsers – sommige fisies teenwoordig en sommige hibried – se navorsing gedink? Was daar enige tematiese raakpunte wat jy kon raaksien?

Die grootste voordeel van die kongres is die ander navorsers. Dit is ’n goeie geleentheid om te netwerk. Die deelnemers het fantastiese referate gelewer en dit was soms moeilik om te kies na wie om te luister. Daar was baie nuwe idees vir Afrikaanse taalaanleer. Daar was ook ’n paar referate wat fokus op queer-narratiewe. Die beste deel van USAN is dat daar vir almal ’n ruimte is om hulle navorsing te deel. Die kongres gee ook vir ons ’n geleentheid om idees uit te ruil en nog meer oor die navorsing te praat. Ek het positiewe terugvoer ontvang en ek waardeer die ander navorsers se insette nadat ek my referaat gelewer het.

As mens navorsing oor 'n sekere vakgebied doen, kan dit mens begeester. Dit kan mens ook sinies maak. Dit kan mens jou vakgebied laat problematiseer en laat ondersoek. Wat is jou ervaring: jou pad met Afrikaans en jou studies op hierdie stadium?

Afrikaans is deel van ’n mens, dit is ’n identiteitsmerker. Dit is soms moeilik om die vakgebied van die individu of identiteit te skei of te onderskei. Wanneer iets negatiefs oor Afrikaans gesê word, voel dit dus amper asof daar iets negatiefs oor die Afrikaanssprekende gesê word. Die misbruik van Afrikaans het ’n suur nasmaak agtergelaat by die samelewing. Dit voel ook soms asof ek myself moet verdedig hoekom ek Afrikaans as my vakgebied gekies het. Afrikaans en sy sprekers word ook gereeld in ’n negatiewe lig geplaas. Kyk byvoorbeeld na die Ryanair-fiasko waar Suid-Afrikaners ’n toets in Afrikaans moes skryf om te bevestig dat hulle wel Suid-Afrikaanse burgers is. Dit was verregaande, en baie onsensitief, en baie Suid-Afrikaners is herinner aan ’n ander tyd toe Afrikaans as ’n wapen gebruik is om ander te onderdruk. Ryanair se onkunde en spektakelagtige flater dra by tot ’n siening dat Afrikaans die vyand is. Dit vat ook net een lummel se onaanvaarbare kommentaar om ’n aanval te loods. Daar is ook doemprofete wat praat oor die einde van die taal sowel as die politici wat Afrikaans langsamerhand versmoor. Ek dink wel dat daar ’n tyd kom waar die mense betrokke in hierdie vakgebied ’n soort uitbranding ervaar aangaande die taaldebat. Persoonlik is dit soms vir my moeilik om nie emosioneel betrokke te raak by die gesprekke nie.

Kom ons praat oor die vakgebied – en aan wie Afrikaans behoort. Wie se eiendom dit is, waar dit begin het, wie dit mag toe-eien. Was daar sulke gesprekke? Wat broei in jou kop hieromtrent?

Afrikaans behoort aan enige persoon wat dit wil praat. Die taal moet nie poortwagters hê nie. Ja, daar is ook die kwessie van Standaardafrikaans teenoor die variante. Daar is baie kenners wat beter hieroor kan praat. Ek sien Afrikaans in die tweedejaarstudente vir wie ek letterkundetutoriale aanbied. Dit is hulle passie om oor ’n outeur of teks te praat. Dit is hulle waardering vir die woorde wanneer hulle die teks begryp. Dit is hulle nuuskierigheid oor woorde of beelde of literêre moontlikhede. Dit is hoe hulle hulleself uitdruk sonder om te vrees dat hulle “verkeerd praat”. Dit is hulle opgewondenheid wanneer ons praat oor hulle gunstelingskrywer of -gedig of -roman. Dit is wanneer die teks met hulle praat, want hulle kan hulleself met die spreker of situasie vereenselwig. Afrikaans is daar vir enige iemand om te omarm.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top