USAN 2022 – in gesprek met Mareli Swart

  • 0

Die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit Stellenbosch het van 19 tot 21 Januarie 2022 ’n tweejaarlikse kongres vir nagraadse studente en jong navorsers aangebied. Die kongres is ’n geleentheid vir jong navorsers om hulle navorsing, gebaseer op hulle nagraadse studie, met akademiese eweknieë te deel. Naomi Meyer het ’n aantal bydraers genader met vrae.

Hallo! Die USAN-kongres wat by die US se Departement Afrikaans en Nederlands plaasgevind het, voel al soos maande gelede. En dit wás maande gelede. Tog is dit die moeite werd om hieroor te gesels. Veral in ’n geskiedkundige eeufeeusjaar van hierdie departement. Wat kan jy onthou van die USAN-kongres – wat was jou persoonlike indrukke?

USAN het my op ’n baie besige tyd in my lewe getref, ek het die oggend van my referaat my finale honneurswerkstuk finaal gaan druk in my tuisdorp, Empangeni, KwaZulu-Natal. EK moes ongelukkig selektief te werk gaan met die praatjies waarna ek wou luister, maar die ervaring was nuut en insiggewend soos wat mens luister na dié wat reeds jare in die akademie is. 

Vanjaar, 2022, was ’n gans ander soort jaar as toe die kongres vir die heel eerste keer in 2014 aangebied is. Die wêreld is nou ’n ander plek. Het die omgewing waarbinne jy navorsing doen, ook jou navorsing beïnvloed? Indien wel, op watter maniere?

Die navorsing wat ek aangebied het, was my eerste werklike navorsing. Ek kan dus nie getuig van ’n veranderende navorsingsomgewing nie.

Wat beteken dit vir jou om ’n jong navorser genoem te word? Wat behels dit, in ’n praktiese opsig, vir jou?

Die woord proe nog vreemd in my mond. Elke dag as ek in my Departement rondstap. dan kyk ek om my en dink: “Só staan ek op die skouers van reuse.” Ek dink dan ook wat ek graag wil vermag en hoe ek wil voortbou op die werk wat hulle wat voor my gekom het, nagelaat het. Dit is ’n groot verantwoordelikheid om ’n navorser genoem te word, want my benadering tot die akademie is om iets agter te laat waarna ander kan kyk om eindelik prakties in die uitgewers- of vertaalbedryf in hul praktyke toe te pas of in gedagte te hou. 

Waaroor handel jou navorsing? Dalk kan jy in ’n paragraaf daaroor uitwei?

Ek het gekyk na die vertaling van Guus Kuijer se Polleke (2003) in Afrikaans deur Martjie Bosman (in 2017 deur Protea Boekhuis uitgegee). Ek het op mesovlak gekyk na die faktore wat die seleksie en produksie van die teks bepaal het en hoe die Nederlands Letterenfonds wat die vertaling gesubsidieer het, hierdie prosesse van Protea Boekhuis beïnvloed het en hoe dit die uitgewer se norme vir uitgee en vertaal vorm en verander. 

Wat het jou geïnspireer om die navorsing te doen wat jy doen? Wat was jou aanvanklike inspirasie? Hoekom doen jy wat jy doen?

My studieleier het my in 2021 genader om saam met haar aan die projek Binnenlandse vogels, buitelandse nesten te werk en van daar het ek vrye teuels gehad om te kies wat ek wil ondersoek in terme van vertaalde Nederlandstalige literatuur in Afrikaans. Ek kon nie hierdie geleentheid laat verbygaan nie, veral nie die deure wat dit na die buiteland oopgemaak het nie, omdat die projek in samewerking met KU Leuven en die Universiteit Triëst is. Deur in my navorsing op kinderboekvertaling te fokus kon ek skryf oor een van my passies en die moontlikhede wat dit insluit om kontroversiële temas in kinderboeke meer aanvaarbaar te maak. 

Wat het jy van die ander navorsers – sommige fisies teenwoordig en sommige hibried – se navorsing gedink? Was daar enige tematiese raakpunte wat jy kon raaksien?

Soos reeds genoem, kon ek nie na baie referate luister nie, maar ek het wel na professor Ilse Feinauer s’n gesluiter waaraan ek lank herkou het, en natuurlik Paula Gentile en Marike Snyman van der Watt s’n wat direk by dieselfde projek as my navorsing aansluit. Dit is altyd goed om te sien hoe teorieë waarmee jy werk, deur ander interpreteer en toegepas word, en natuurlik die moontlikhede wat ontstaan uit die hoor van teorieë waarmee ’n mens nog nie gewerk het nie. Hierdie vroue in die navorsing is my rolmodelle; ek streef daarna om in hul voetspore te volg en eindelik die vrymoedigheid te hê om my eie spore te maak.

As mens navorsing oor ’n sekere vakgebied doen, kan dit mens begeester. Dit kan mens ook sinies maak. Dit kan mens jou vakgebied laat problematiseer en laat ondersoek. Wat is jou ervaring: jou pad met Afrikaans en jou studies op hierdie stadium?

Afrikaans is waar ek tuis voel. My Departement is my huis by die Universiteit Stellenbosch en ek het nooit getwyfel in die vak nie. Van my eerste jaar af het hulle gewys dat hulle vir jou as student omgee as jy die vrymoedigheid het om ook te wíl deel wees van die Departement en die gemeenskap wat hulle daardeur skep – dis hoekom ek steeds daar is en daar wil werk. 

Ek het aanvanklik na die vertaalkunde gekyk as ’n rigting waarin ek eerder prakties te werk sal gaan en nie verder aan studeer nie, maar dinge het verander en nou voel ek  die akademie en lewenslange leer is my voorland. 

Kom ons praat oor die vakgebied – en aan wie Afrikaans behoort, wie se eiendom dit is, waar dit begin het, wie dit mag toe-eien. Was daar sulke gesprekke? Wat broei in jou kop hieromtrent?

Ek dink ons as Afrikaanssprekendes dink te veel hieroor. As jy die taal wil gebruik, kan jy – daar is nie die spreekwoordelike hekwagters vir Afrikaans nie. Die illusie van die hekwagter bestaan al lank nie meer nie. Die taal is ’n instrument wat jy moet gebruik om te kommunikeer, uitdrukking te gee aan wie jy is, hoe jy voel. Dis dit, geen eienaarsreg nie, niks.

Ek het jou gevra om terug te kyk. Nou vra ek jou om vorentoe te kyk. Wat sien jy op jou toekomspad, selfs korttermyn, ten opsigte van jou navorsing in die vakgebied Afrikaans?

Ek hoop om verder na die Afrikaanse uitgewersbedryf te kyk en hoe ons tekste vertaal, steeds met Nederlands as brontaal van hierdie vertaalde tekste. Verder beplan ek om te kyk hoe hierdie uitgewersbedryf deur tegnologie en die jonger generasie se oë lyk, hoe dit beïnvloed wat ons op sosiale media sien, die manier waarop ons kies wat ons lees, wat ons graag in ons verskillende moedertale wil hê en natuurlik ook die druk van boeke. 

Hier is nog ’n moeilike volgende vraag: Hoe sien jy Afrikaans (in die algemeen) in die toekoms? Sien jy ’n toekoms vir Afrikaans en Afrikaanse navorsing en navorsing in Afrikaans?

Na aanleiding van die onlangse Afrikaanse Taalmonument-debakel, dink ek ons kan sien dat Afrikaans nie terugstaan nie. Ek dink ook dikwels dryf ons mense uit die arms van Afrikaans uit omdat ons so aanvallend oorkom as iemand iets sleg oor ons taal sê. Soos ek reeds gesê het, Afrikaans is ’n taal om mee te kommunikeer, en omdat dit ’n kommunikasiemiddel is, moet ons wegbeweeg van die idee dat ons taal ons kultuur is; dit is nie. Dit is juis hierom dat ek dink daar ’n toekoms in Afrikaanse navorsing en Afrikaanse onderwys is, omdat dit ’n kommunikasiemiddel is waarin baie studente en akademici op hul gemaklikste kan kommunikeer. Navorsing in die Afrikaanse vakgebied lyk goed – kyk na USAN. Nie net dit nie. Ek was onlangs by ’n simposium in Brussel waar ek kon praat oor Afrikaans en vertaling in Afrikaans; ek kon gesprekke voer met mede-akademici oor my vakgebied en my taal terwyl hulle luister en ek later weer na hulle. Vir mense in die buiteland is Afrikaans nie noodwendig so polities gelaai soos by ons nie, en by hierdie simposium kon ek dit sien, want op die ou end het my gevallestudie oor ’n Afrikaans-vertaalde teks bygedra tot ’n groter navorsingsveld en dit is wat ek sal poog om aan te hou doen.

Lees ook:

USAN 2022 – ’n gesprek met Carmi Britz

USAN 2022 – ’n terugblik met Aletta Simpson

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top