USAN 2022 – ’n terugblik met Aletta Simpson

  • 0

Die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit Stellenbosch het van 19 tot 21 Januarie 2022 ’n tweejaarlikse kongres vir nagraadse studente en jong navorsers aangebied. Die kongres is ’n geleentheid vir jong navorsers om hulle navorsing, gebaseer op hulle nagraadse studie, met akademiese eweknieë te deel. Naomi Meyer het ’n aantal bydraers genader met vrae.

Hallo! Die USAN-kongres wat by die US se Departement Afrikaans en Nederlands plaasgevind het, voel al soos maande gelede. En dit wás maande gelede. Tog is dit die moeite werd om hieroor te gesels. Veral in ’n geskiedkundige eeufeeusjaar van hierdie departement. Wat kan jy onthou van die USAN-kongres – wat was jou persoonlike indrukke?

Die kongres was uitstekend gereël. Ek het vanuit Rome ingeskakel. My referaat is via Teams uitgesaai. Al die tegnologie het saamgewerk. Daar was te alle tye iemand wat my kon assisteer om selfs vrae uit die lokaal uit te beantwoord. Ek kon ook verskeie van die referate bywoon en self ook vrae vra. Die hele ervaring was baie aangenaam.

Vanjaar, 2022, was ’n gans ander soort jaar as toe die kongres vir die heel eerste keer in 2014 aangebied is. Die wêreld is nou ’n ander plek. Het die omgewing waarbinne jy navorsing doen, ook jou navorsing beïnvloed? Indien wel, op watter maniere?

Beslis! Dit is vir my asof die wêreld tegelyk meer intiem (jy kan sommer maklik via Teams iemand se huis besoek) en meer internasionaal geraak het. Soos ek vroeër genoem het, kon ek vanuit Rome inskakel via Teams. Dit was seker vroeër ook moontlik, maar deesdae is al die lokale toegerus met die nodige tegnologie om dit ’n baie aangename ervaring te maak.

In verband met jou tweede vraag: In 2020 het ek vir my groot honneurswerkstuk navorsing gedoen oor witheid, en meer spesifiek wit broosheid, en hoe dit in Azille Coetzee se verhaal In my vel beskryf word. Toe die grendeltydperk aanbreek, het ek teruggetrek in my ouerhuis en ek onthou dat ek vir my ma gesê het dat alhoewel ek glo witheid ’n belangrike onderwerp is, die wêreld tans so oorrompel is met die nuus oor die pandemie dat alle ander onderwerpe effens sekondêr geword het. En toe kom die nuus oor George Floyd. White fragility deur Robin DiAngelo wat in 2018 gepubliseer is, word weer nommer een op die New York Times se Bestseller List van 2020. Die pandemie het ’n snaakse manier gehad om alles te verander en niks te verander nie. Die soort navorsing wat ons nodig gehad het om die wêreld ’n beter plek te maak voor die pandemie, het ons steeds nodig.

Wat beteken dit vir jou om ’n jong navorser genoem te word? Wat behels dit, in ’n praktiese opsig, vir jou?

Dit is baie lekker om ingenooi te word in die akademiese omgewing. USAN bied ’n wonderlike geleentheid om die akademiese arena te betree. Vir my is ’n “jong navorser” en ’n “navorser” iemand wat ’n onlesbare nuuskierigheid het. Solank as wat ek nuuskierig is, ag ek myself nog as ’n navorser en sal ek navorsing doen.

Waaroor handel jou navorsing? Dalk kan jy in ’n paragraaf daaroor uitwei?

EB White, die skrywer van Charlotte’s web (1952), en sy vrou, Katherine White, het in 1941 gesê: “Humor can be dissected, as a frog can, but the thing dies in the process and the innards are discouraging to any but the purely scientific mind.” Ek weet nie of ek kan beweer dat ek suiwer wetenskaplike denke het nie, maar ek is tans besig om die humorpadda te dissekteer. Ek is besig met my meesters in Afrikaans en Nederlands. My fokus is op Nederlandse letterkunde, meer spesifiek die prosa en poësie van die Irakees-Nederlandse skrywer Rodaan Al Galidi. Ek ondersoek die rol van literêre humor in postkoloniale letterkunde. In kort, ek ondersoek hoekom iets snaaks is, wat die effek daarvan (moontlik) kan wees en hoekom ’n skrywer, en juis ’n postkoloniale skrywer, literêre humor sal gebruik om ’n boodskap oor te dra. Dis ’n heerlike onderwerp wat my lei om allerlei interessante skrywers (Plato, Kant, Freud, Henri Bergson, noem maar op) se werk na te slaan asook die ware oorsprong van bekende gesegdes soos “Tragedy plus time equals comedy” op te spoor. (Terloops: Dit was Steve Allen wat dit in 1957 in ’n rubriek in ’n populêre tydskrif gesê het. Hy was die eerste aanbieder van die Amerikaanse laataand-televisieprogram The Tonight Show.)

Wat het jou geïnspireer om die navorsing te doen wat jy doen? Wat was jou aanvanklike inspirasie? Hoekom doen jy wat jy doen?

In my honneursjaar (2020) het ek by Alfred Schaffer (tans my studieleier) ’n module oor postkolonialisme geneem en ek moes tydens isolasie vir hom ’n opstel skryf. Ek het my boekrak genader en begin kyk of daar enige letterkunde is wat binne hierdie kader val. Trevor Noah se Born a crime (2016) is ’n gunsteling en tydens die grendeltydperk was dit tot my beskikking. Nog ’n bonus is dat daar ’n gratis opname op Spotify is waar jy kan luister hoe Noah sy boek lees.

Ek het in hierdie tyd van tuisbly baie stand-up comedy op Netflix gekyk. Onder meer Nanette deur Hannah Gadsby en DARK deur Daniel Sloss. Hierdie genre komediante het my laat nuut kyk na humor en waarvoor ’n mens dit kan inspan. Humor is ook ’n natuurlike invalshoek vir ’n analise van Noah se werk en ek was vinnig meegevoer deur die kundigheid waarmee hy vir die leser die konflik en tragedie van ons land se geskiedenis oordra deur middel van humor wat nie die pyn afmaak nie, maar wat eerder verweef is daarmee. Dit blyk dat humor en pyn onlosmaaklik aan mekaar verbind is, en dit bly vir my fassinerend.

Wat het jy van die ander navorsers – sommige fisies teenwoordig en sommige hibried – se navorsing gedink? Was daar enige tematiese raakpunte wat jy kon raaksien?

Die wonderlike van navorsing in en oor Afrikaans is die groot diversiteit van onderwerpe wat aangepak kan word. Daar was ’n paar navorsers wat oor sosiale media, veral Instagram, navorsing gedoen het – hoe dit ons idee van digkuns beïnvloed en hoe dit onderwysers kan help om Afrikaans vir leerders te leer. Dit het my nogal bygebly. Dit het my ook laat wonder wat sosiale media se invloed op my navorsing is.

As mens navorsing oor ’n sekere vakgebied doen, kan dit mens begeester. Dit kan mens ook sinies maak. Dit kan mens jou vakgebied laat problematiseer en laat ondersoek. Wat is jou ervaring, jou pad met Afrikaans en jou studies op hierdie stadium?

Noudat ek dikwels dink oor humor en postkolonialisme, ontsluit dit vir my ’n heel nuwe aspek van Afrikaans. Dink Evita Bezuidenhout, David Kramer en Taliep Petersen, Adam Small, Nataniël, Schalk Bezuidenhout, Casper de Vries, Loukmaan en Emo Adams, Joe Barber, Vetkoekpaleis. As ’n mens fyn lees, is daar selfs gedigte van Antjie Krog, Nathan Trantraal en Ronelda Kamfer wat tong-in-die-kies is. So kan ek nog talle meer lys. Afrikaanse mense het dikwels ’n lekker sin vir humor. Daar is steeds aspekte van die Afrikaanse taal en kultuur wat opwindend is om te ondersoek. Verder het ek so ’n tyd terug vyf maande in Rome spandeer op ’n leksikografie-uitruil waar ek onder andere ’n klas in basiese Afrikaans aangebied het vir dosente en studente van regoor die wêreld (onder meer Italië, Spanje, Indonesië en Kroasië). Hierdie studente is gekoppel aan Rome Tre Universiteit. Daar is beslis nog internasionale belangstelling in die taal.

Kom ons praat oor die vakgebied – Afrikaans: Wie se eiendom dit is, waar het dit begin, wie mag dit toe-eien? Was daar sulke gesprekke? Wat broei in jou kop hieromtrent?

In my eerste jaar het ek ’n vriend gehad wie se gedigte in Penseel (2017) gepubliseer is. Ek het half toevallig by die bekendstelling ingestrompel. Met my klasloopklere aan en my sak vol boeke onder my stoel weggesteek het ek geluister na studente wat gedigte lees oor Stellenbosch. Gedigte oor hoe dit voel om student te wees, oor ouers wat migreer, eerste soene, klimaatsverandering, noem maar op. Daardie aand kom ek by die koshuis aan en klop aan my Engelse vriendin se deur. Met geur en kleur vertel ek van die gedigte wat ek die aand gehoor het. Lomp vertaal ek die gedigte sommer so soos ek hulle lees uit my nuwe bundel uit. Ons praat tot laat in die nag oor die tendense, hoe jongmense so mooi kan skryf en hoe hulle ons ervarings so goed verwoord sonder dat hulle ons ken. Daardie aand is ’n voorbeeld van hoe daar iets spesifiek met Afrikaans gekommunikeer is. Dit het my aangeraak, dit het dit vir my vriend moontlik gemaak om uiting te gee aan sy gedagtes, en dit het my Engelse vriendin bekoor. Dit is opwindend om deel te wees van ’n vakgebied wat die potensiaal het om ander ook so deel van die taalgemeenskap te laat voel soos wat ek daardie aand gevoel het.

Ek het jou gevra om terug te kyk. Nou vra ek jou om vorentoe te kyk. Wat sien jy op jou toekomspad, selfs korttermyn, ten opsigte van jou navorsing in die vakgebied Afrikaans?

Ek gaan my studie van vanjaar voltooi en hopelik die geleentheid hê om verder te studeer. Ek is onlangs deur Yves T’Sjoen in ’n lesing wat hy by Samespraak gegee het, geïnspireer om ook populêr te skryf oor die dinge wat ek lees en die dinge wat ek ontdek. Dis ’n uitdaging wat my interesseer. Verder is die internasionale bande van Afrikaans vir my aanloklik. Ek sou graag hierdie soort verhoudings wou bou.

Hier is nog ’n moeilike volgende vraag. Hoe sien jy Afrikaans (in die algemeen) in die toekoms? Sien jy ’n toekoms vir Afrikaans en Afrikaanse navorsing en navorsing in Afrikaans?

Die toekoms van die taal lê in inklusiwiteit en in mense wat in die taal kommunikeer en skep, hoe morsig dit ook al mag wees. As ’n taalgemeenskap moet ons toelaat dat mense sonder inhibisies met die taal speel.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top