USAN 2022 – ’n onderhoud met Marthie de Waal

  • 0

Foto van Marthie de Waal: LitNet

Die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit Stellenbosch het van 19 tot 21 Januarie 2022 ’n tweejaarlikse kongres vir nagraadse studente en jong navorsers aangebied. Die kongres is ’n geleentheid vir jong navorsers om hulle navorsing, gebaseer op hulle nagraadse studie, met akademiese eweknieë te deel. Naomi Meyer het ’n aantal bydraers genader met vrae.

Hier is Marthie de Waal se antwoorde.

Hallo! Die USAN-kongres wat by die US se Departement Afrikaans en Nederlands plaasgevind het, voel al soos maande gelede. En dit wás maande gelede. Tog is dit die moeite werd om hieroor te gesels. Veral in ’n geskiedkundige eeufeesjaar van hierdie departement. Wat kan jy onthou van die USAN-kongres – wat was jou persoonlike indrukke?

Die USAN-kongres bied vir jong navorsers die geleentheid om in ’n veilige en opbouende ruimte verslag te doen oor hul navorsingsuitsette. Dis enige navorser se droom om dít waaraan hulle jare lank gewerk het aan ’n gehoor ten toon te stel. Natuurlik is daar ’n mate van vrees (ongeag hoeveel keer jy al voor ’n gehoor moes praat), maar ook soveel opwinding en trots.

Vanjaar, 2022, was ’n gans ander soort jaar as toe die kongres vir die heel eerste keer in 2014 aangebied is. Die wêreld is nou ’n ander plek. Het die omgewing waarbinne jy navorsing doen ook jou navorsing beïnvloed? Indien wel, op watter maniere?

...........
In my navorsing fokus ek op taalverwerwing vir dowe en hardhorende aanleerders.
............

Daar is soveel faktore wat navorsing in Suid-Afrika kan beïnvloed. In my navorsing fokus ek op taalverwerwing vir dowe en hardhorende aanleerders. Aangesien die deelnemers in my studie as kwesbaar beskou word, is daar heelwat etiese kwessies wat in ag geneem moet word (en natuurlik dokumentasie en aansoeke) voor ek te werk kan gaan. Alhoewel dit nodig is, hou die POPI-wetgewing ook heelwat implikasies in vir navorsers wat deelnemers benodig vir hul studies. My meestersverhandeling (waaroor my USAN-referaat gehandel het) is voor Covid-19 afgehandel, maar my PhD-studie word definitief daardeur geraak.

Wat beteken dit vir jou om ’n jong navorser genoem te word? Wat behels dit, in ’n praktiese opsig, vir jou?

Dit beteken ek kan (hopelik) ’n verskil maak in mense se lewens. Ons het nuwe stemme in Suid-Afrika nodig wat veg vir insluiting en respek in die onderwys. Ek is baie bevoorreg om deel te wees hiervan by beide die Universiteit Stellenbosch (as navorser en student) en CPUT (as dosent).

Waaroor handel jou navorsing? Dalk kan jy in ’n paragraaf daaroor uitwei?

..........
In my navorsing bespreek ek taalverwerwing by dowe en hardhorende aanleerders. Ek fokus op die praktiese ontwerp van taakgebaseerde lesse wat ruimte laat vir die uiteenlopende behoeftes van dowe en hardhorende aanleerders van Afrikaans as doeltaal.
............

In my navorsing bespreek ek taalverwerwing by dowe en hardhorende aanleerders. Ek fokus op die praktiese ontwerp van taakgebaseerde lesse wat ruimte laat vir die uiteenlopende behoeftes van dowe en hardhorende aanleerders van Afrikaans as doeltaal. Ek bespreek ook verskeie strategieë wat die taalopvoeder en aanleerder kan inkorporeer voor, gedurende en na afloop van lesse om doeltreffende taalverwerwing te verseker. Die studie is kwalitatief van aard en maak gebruik van deelnemende aksienavorsing om die behoeftes van hierdie aanleerders te bepaal en dit op ’n praktiese en logiese wyse in lesse te integreer.

Wat het jou geïnspireer om die navorsing te doen wat jy doen? Wat was jou aanvanklike inspirasie? Hoekom doen jy wat jy doen?

Gedurende die voltooiing van my honneursgraad het ek as tutor onder Dr Elbie Adendorff by die Departement Afrikaans en Nederlands by Stellenbosch gewerk.

...........
Ek het tweedetaalverwerwing vir eerstejaars aangebied. Ek het twee dowe studente gehad en geen idee gehad hoe om effektief vir hulle Afrikaans te leer nie. Ek moes heelwat navorsing oor die onderwerp doen en het bevind dat bykans geen Suid-Afrikaanse navorsers dit al ondersoek het nie; nog minder oor Afrikaans as doeltaal. Die dowe studente het my daardie jaar baie meer geleer as wat ek ooit vir hulle kon leer.
............

Ek het tweedetaalverwerwing vir eerstejaars aangebied. Ek het twee dowe studente gehad en geen idee gehad hoe om effektief vir hulle Afrikaans te leer nie. Ek moes heelwat navorsing oor die onderwerp doen en het bevind dat bykans geen Suid-Afrikaanse navorsers dit al ondersoek het nie; nog minder oor Afrikaans as doeltaal. Die dowe studente het my daardie jaar baie meer geleer as wat ek ooit vir hulle kon leer.

As mens navorsing oor ’n sekere vakgebied doen, kan dit mens begeester. Dit kan mens ook sinies maak. Dit kan mens jou vakgebied laat problematiseer en laat ondersoek. Wat is jou ervaring, jou pad met Afrikaans en jou studies op hierdie stadium?

Definitief! Ek het meer struikelblokke gevind as oplossings.

Afrikaans is dinamies. Daar is soveel fantastiese navorsers in ons taal. Ek was baie gelukkig om in Stellenbosch by die beste dosente en navorsers te leer. Dit verander die manier waarop jy jou taal sien – en natuurlik die sosiopolitieke konteks waarbinne jy dit aanskou.

Ek dink die meeste mense (buite die akademie) dink dat studente wat tale studeer slegs letterkunde doen. Dis vanselfsprekend verkeerd, aangesien dit veel meer behels (insluitend redigering, leksikografie, sintaksis, taalverwerwing, morfonologie, ensovoorts).

Kom ons praat oor die vakgebied – en aan wie Afrikaans behoort. Wie se eiendom dit is, waar het dit begin, wie mag dit toe-eien? Was daar sulke gesprekke? Wat broei in jou kop hieromtrent?

Afrikaans is vir almal! Niemand kan ’n taal toe-eien nie, en almal kan. Ek hoop dit maak sin? As ons almal terugstaan en mense toelaat om net te wees en te praat in die taal wat hulle gelukkig maak, sal SA baie beter af wees.

As ek in ’n klas instap en Afrikaans aanbied, is my hoofdoel dat aanleerders dit nie vrees nie.

Ek het jou gevra om terug te kyk. Nou vra ek jou om vorentoe te kyk. Wat sien jy op jou toekomspad, selfs korttermyn, ten opsigte van jou navorsing in die vakgebied Afrikaans?

...........
My hart is in gestremdheidstudies. As ek vir een aanleerder of opvoeder die proses kan vergemaklik, sal my hart bly wees. My doel is om voort te gaan in taalverwerwing en gestremdheidstudies en mettertyd verskeie navorsingstukke te produseer wat aan opvoeders riglyne bied (wat ek nie noodwendig gehad het nie).
............

My hart is in gestremdheidstudies. As ek vir een aanleerder of opvoeder die proses kan vergemaklik, sal my hart bly wees. My doel is om voort te gaan in taalverwerwing en gestremdheidstudies en mettertyd verskeie navorsingstukke te produseer wat aan opvoeders riglyne bied (wat ek nie noodwendig gehad het nie). Alle aanleerders, ongeag ouderdom, ras of gestremdheid, moet in die onderwys dieselfde geleenthede gebied word– dit is hoe ons werklik ’n gelyke samelewing bou.

Hoe sien jy Afrikaans (in die algemeen) in die toekoms? Sien jy ’n toekoms vir Afrikaans en navorsing in en oor Afrikaans?

Ja! Ek dink Afrikaanse navorsing gaan veel meer traksie kry.

Lees ook:

USAN 2022 – in gesprek met Mareli Swart

USAN 2022 – ’n terugblik met Aletta Simpson

USAN 2022 – ’n onderhoud met Lobke Minter

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top