USAN 2022 – ’n onderhoud met Marishan Hendricks

  • 0

Foto van Marishan Hendricks: verskaf

Die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit Stellenbosch het van 19 tot 21 Januarie 2022 ’n tweejaarlikse kongres vir nagraadse studente en jong navorsers aangebied. Die kongres is ’n geleentheid vir jong navorsers om hulle navorsing, gebaseer op hulle nagraadse studie, met akademiese eweknieë te deel. Naomi Meyer het ’n aantal bydraers met vrae genader.

Hier is Marischan Hendricks se antwoorde.

Hallo! Die USAN-kongres wat by die US se Departement Afrikaans en Nederlands plaasgevind het, voel al soos maande gelede. En dit wás maande gelede. Tog is dit die moeite werd om hieroor te gesels. Veral in ’n geskiedkundige eeufeesjaar van hierdie departement. Wat kan jy onthou van die USAN-kongres – wat was jou persoonlike indrukke?

Wat my altyd van die kongres sal bybly, is die ongelooflike ondersteuning en belangstelling van die jong navorsers. Die ondersteuning en belangstelling in mekaar se werk.

.........
Wat my altyd van die kongres sal bybly, is die ongelooflike ondersteuning en belangstelling van die jong navorsers. Die ondersteuning en belangstelling in mekaar se werk.
...........

Ek het dit geniet om te sien waaraan ander jong navorsers gewerk het en tans mee besig is en ook wat hulle bevindinge was. 

Vanjaar, 2022, was ’n gans-ander soort jaar as toe die kongres vir die heel eerste keer in 2014 aangebied is. Die wêreld is nou ’n ander plek. Het die omgewing waarbinne jy navorsing doen, ook jou navorsing beïnvloed? Indien wel, op watter maniere?

Die tyd waarin ek my navorsing moes doen, was in 2020. My data-insameling het tydens die nasionale inperking plaasgevind. Leer het toe aanlyn plaasgevind en my data-insameling ook. Ek is dankbaar dat ek met my navorsing kon voortgaan.

Wat beteken dit vir jou om ’n jong navorser genoem te word? Wat behels dit, in ’n praktiese opsig, vir jou?

Dit is nog nie iets waaraan ek gewoond is nie. Ek geniet dit om nuwe goed te leer.

Waaroor handel jou navorsing? Dalk kan jy in ’n paragraaf daaroor uitwei.

My navorsing handel oor die taalgesindheid van studente teenoor Afrikaans as taal en vak. Ek het ondersoek gaan instel na die taalgesindheid van Afrikaanse Taalverwerwing- (ATV-) studente teenoor Afrikaans. ATV is ’n module wat deur die US aangebied word aan niemoedertaalsprekers van Afrikaans en studente wat Afrikaans as EAT op skool geneem het. Die slotsom van my navorsing is dat studente se gesindheid ’n belangrike rol speel in suksesvolle taalverwerwing, maar emosies en motivering ook. Studente wat met positiewe emosies na lesings kom en wat die ekstra myl stap deur moeite te doen wanneer dit kom by die uitvoer van take, staan ’n groter kans op suksesvolle taalverwerwing.

...........
Die slotsom van my navorsing is dat studente se gesindheid ’n belangrike rol speel in suksesvolle taalverwerwing, maar emosies en motivering ook. Studente wat met positiewe emosies na lesings kom en wat die ekstra myl stap deur moeite te doen wanneer dit kom by die uitvoer van take, staan ’n groter kans op suksesvolle taalverwerwing.
.............

Wanneer studente se motivering laag is en hulle gesindheid teenoor die taal negatief is, is hulle kanse op sukses laer. In my navorsing impliseer die term gesindheid “bagasie”, en beteken dit dat die student reeds ’n vooropgestelde gevoel teenoor ’n bepaalde saak het. Die term houding kon nie die hele gevoel oordra nie. Ek redeneer ook in my navorsing dat die dosent of taalaanbieder ook ’n groot rol in die student se sukses het, maar dat hierdie verantwoordelikheid nie alleenlik op die dosent of taalaanbieder berus nie. 

Wat het jou geïnspireer om die navorsing te doen wat jy doen? Wat was jou aanvanklike inspirasie? Hoekom doen jy wat jy doen?

Ek sal eerder sê wie my inspireer het, was my studieleier. Ek was altyd geïnteresseerd in taalgesindheid, maar my studieleier het my gehelp om die veld taalgesindheid met taalverwerwing te skakel.

Wat het jy van die ander navorsers – sommige fisies teenwoordig en sommige hibried – se navorsing gedink? Was daar enige tematiese raakpunte wat jy kon raaksien?

Die ander navorsers by die kongres het uitstekende werk gelewer. 

As mens navorsing oor ’n sekere vakgebied doen, kan dit mens begeester. Dit kan mens ook sinies maak. Dit kan mens jou vakgebied laat problematiseer en laat ondersoek. Wat is jou ervaring: jou pad met Afrikaans en jou studies op hierdie stadium? Kom ons praat oor die vakgebied – en aan wie Afrikaans behoort. Wie se eiendom dit is, waar het dit begin, wie mag dit toe-eien. Was daar sulke gesprekke? Wat broei in jou kop hieromtrent?

...........
Afrikaans behoort aan enige persoon wat die taal magtig is. Ek dink nie Afrikaans is ’n eiendom wat aan een spesifieke groep behoort nie, en ek glo nie daar moet na Afrikaans op so ’n manier verwys word nie. Afrikaans is ’n kommunikasiemiddel, soos enige ander taal, maar ryker in sekere opsigte as gevolg van die taal se geskiedenis. 
.............

Afrikaans behoort aan enige persoon wat die taal magtig is. Ek dink nie Afrikaans is ’n eiendom wat aan een spesifieke groep behoort nie, en ek glo nie daar moet na Afrikaans op so ’n manier verwys word nie. Afrikaans is ’n kommunikasiemiddel, soos enige ander taal, maar ryker in sekere opsigte as gevolg van die taal se geskiedenis. 

Ek het jou gevra om terug te kyk. Nou vra ek jou om vorentoe te kyk. Wat sien jy op jou toekomspad, selfs korttermyn, ten opsigte van jou navorsing in die vakgebied Afrikaans?

Ek sien myself as navorser in die veld taalverwerwing. Ek sal graag my PhD daarin wil doen. Die toekoms van Afrikaans en Afrikaanse navorsing lyk blink.

Lees ook:

USAN 2022 – ’n onderhoud met Samantha Miller

USAN 2022 – ’n onderhoud met Danie Stander

USAN 2022 – ’n onderhoud met Marthie de Waal

USAN 2022 – ’n onderhoud met Ancheri Götze

USAN 2022 – ’n onderhoud met Lobke Minter

USAN 2022 – ’n gesprek met Carmi Britz

USAN 2022 – ’n terugblik met Aletta Simpson

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top