USAN 2022 – ’n onderhoud met Samantha Miller

  • 1

Foto van Samantha Miller: https://www.up.ac.za/information-science/article/1913906/ms-samantha-miller

Die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit Stellenbosch het van 19 tot 21 Januarie 2022 ’n tweejaarlikse kongres vir nagraadse studente en jong navorsers aangebied. Die kongres is ’n geleentheid vir jong navorsers om hulle navorsing, gebaseer op hulle nagraadse studie, met akademiese eweknieë te deel. Naomi Meyer het ’n aantal bydraers met vrae genader.

Hier is Samantha Miller se antwoorde.

Hallo! Die USAN-kongres wat by die US se Departement Afrikaans en Nederlands plaasgevind het, voel al soos maande gelede. En dit wás maande gelede. Tog is dit die moeite werd om hieroor te gesels. Veral in ’n geskiedkundige eeufeesjaar van hierdie departement. Wat kan jy onthou van die USAN-kongres – wat was jou persoonlike indrukke?

Ek was beïndruk met die goeie organisasie van die konferensie, die vriendelike akademici, en die hartlike manier waarop ek deur die Departement ontvang is. Die referate was interessant en van hoë gehalte.

Vanjaar, 2022, was ’n gans-ander soort jaar as toe die kongres vir die heel eerste keer in 2014 aangebied is. Die wêreld is nou ’n ander plek. Het die omgewing waarbinne jy navorsing doen, ook jou navorsing beïnvloed? Indien wel, op watter maniere?

Die feit dat ek nie net vinnig by my universiteit se biblioteek kon instap en boeke kon uitneem vir my navorsing nie was beslis ’n frustrasie. Sommige boeke was ook nie as e-boek of in digitale formaat beskikbaar nie, wat die proses bemoeilik het. Ek sou ook gewoonlik gereeld met my kollegas by die universiteit oor my navorsing gesels het en ons sou klankborde wees vir mekaar se idees. Met grendeltyd en dié dat almal tuis gewerk het, was dit dus nie moontlik nie. Alhoewel navorsing oor die algemeen in isolasie plaasvind, was dit soveel moeiliker gedurende die laaste twee jaar. Ek sou ook graag ’n internasionale boekebeurs wou bywoon, maar as gevolg van Suid-Afrika se rooi status op die tyd, was internasionale reis ook nie moontlik nie. Ek moes dus een van my primêre navorsingsmetodes aanpas.

Wat beteken dit vir jou om ’n jong navorser genoem te word? Wat behels dit, in ’n praktiese opsig, vir jou?

Ek het vir byna 11 jaar in die uitgewersbedryf gewerk voor ek weer by die akademie aangesluit het. Ek vind dit soms moeilik om in myself te glo as volwaardige akademikus of navorser. Maar ek geniet navorsing; dit daag my uit en verryk my kennisveld. Dit is ’n aangename gedagte om as ’n jong navorser beskou en erken te word. Jong navorsers is ook meer genoeë om wenke te deel, oor navorsing te praat en saam die uitdagings te ontlont … oor ’n glasie wyn, natuurlik.

Waaroor handel jou navorsing? Dalk kan jy in ’n paragraaf daaroor uitwei.

............
Ek is veral geïnteresseerd in die Afrikaanse uitgewersbedryf. Blootstelling van minderheidstale in die buiteland en die verkoop van neweregte is veral my passies.
............

Ek is veral geïnteresseerd in die Afrikaanse uitgewersbedryf. Blootstelling van minderheidstale in die buiteland en die verkoop van neweregte is veral my passies. My PhD-navorsing fokus op die bemarking van Afrikaanse literatuur buite landsgrense, en ek beproef die besigheidstrategie van samedringing en oorweeg ook die land van oorsprong se bemarkingskonsep.

Wat het jou geïnspireer om die navorsing te doen wat jy doen? Wat was jou aanvanklike inspirasie? Hoekom doen jy wat jy doen?

Omdat ek vir byna 11 jaar in die uitgewersbedryf gewerk het, het ek baie oor die praktyk geleer en tekortkominge geïdentifiseer. Terwyl ek as media- en kommunikasiebestuurder by die Afrikaanse uitgewery LAPA Uitgewers gewerk het, het ek die historieseromanskrywer Irma Joubert se boeke leer ken. So ook het ek geleer dat haar boeke in Nederlands vertaal is, en die proses van die verkoop van vertaalregte het my veral gefassineer. Ek wou meer weet oor die proses, regsaspekte en wat die spesiale resep is vir ’n Afrikaanse boek om goed te verkoop buite landsgrense. Na my M, wat juis hieroor gehandel het, het ek besluit om my nuwe navorsing toe te spits op internasionale skakeling, besigheidstrategie en die bemarking van Afrikaanse literatuur. Die Afrikaanse uitgewersbedryf is beperk tot die aantal lesers en sprekers; ek wil graag ondersoek hoe ons die Afrikaanse boekemark kan uitbrei en versterk.

...........
Ek wou meer weet oor die proses, regsaspekte en wat die spesiale resep is vir ’n Afrikaanse boek om goed te verkoop buite landsgrense. Na my M, wat juis hieroor gehandel het, het ek besluit om my nuwe navorsing toe te spits op internasionale skakeling, besigheidstrategie en die bemarking van Afrikaanse literatuur. Die Afrikaanse uitgewersbedryf is beperk tot die aantal lesers en sprekers; ek wil graag ondersoek hoe ons die Afrikaanse boekemark kan uitbrei en versterk.
..............

Wat het jy van die ander navorsers – sommige fisies teenwoordig en sommige hibried – se navorsing gedink? Was daar enige tematiese raakpunte wat jy kon raaksien?

Ek het ontsettend baie uit die referate geleer. Omdat my fokus redelik beperk is tot die besigheidsaspek van uitgewerswese, is ek blootgestel aan interessante teksanalises, nuwe teorieë en invalshoeke. Ons studievelde komplimenteer mekaar en ek kon definitief raakpunte sien, veral met vertaalstudies – waarby vertaalregte natuurlik aansluit. Die kwaliteit van skryfwerk in ’n boek bepaal ook natuurlik die verkoopswaarde van die boek in die bedryf.

As mens navorsing oor ’n sekere vakgebied doen, kan dit mens begeester. Dit kan mens ook sinies maak. Dit kan mens jou vakgebied laat problematiseer en laat ondersoek. Wat is jou ervaring: jou pad met Afrikaans en jou studies op hierdie stadium?

Ek is ’n idealis (ongelukkig), en wil altyd dink aan planne om alles beter te maak of beter te laat werk. Dit kan ook natuurlik die praktiese ondervinding in die boekbedryf wees wat maak dat ek altyd die teoretiese met die praktiese wil versoen. Maar soms raak ek sinies en wonder ek hoe ons as Suid-Afrikaners ons gebrekkige leeskultuur en soveel politiese, maatskaplike en ekonomiese uitdagings gaan oorwin. Ek wonder waar ons uitgewersbedryf gaan wees indien ons regering die opvoedkundige uitgewerswese oorneem, watter invloed sosiale en digitale ontspanningsmedia op die jonger geslag lesers het, ensovoorts. Maar … dan besef ek ook dat dit juis navorsing is wat groei en vooruitgang beteken. Navorsing kan innoverend wees, oplossings voorstel, idees beproef. En dit gee my moed – om deel te wees van die proses.

...........
[S]oms raak ek sinies en wonder ek hoe ons as Suid-Afrikaners ons gebrekkige leeskultuur en soveel politiese, maatskaplike en ekonomiese uitdagings gaan oorwin. Ek wonder waar ons uitgewersbedryf gaan wees indien ons regering die opvoedkundige uitgewerswese oorneem, watter invloed sosiale en digitale ontspanningsmedia op die jonger geslag lesers het, ensovoorts. Maar … dan besef ek ook dat dit juis navorsing is wat groei en vooruitgang beteken. Navorsing kan innoverend wees, oplossings voorstel, idees beproef. En dit gee my moed – om deel te wees van die proses.
.............

 

Op hierdie stadium het ek moed, soms het ek energie, maar my passie brand nog sterk vir my taal en boeke in my taal!

Kom ons praat oor die vakgebied – en aan wie Afrikaans behoort. Wie se eiendom dit is, waar het dit begin, wie mag dit toe-eien. Was daar sulke gesprekke? Wat broei in jou kop hieromtrent?

Ek raak nie gewoonlik betrokke by taaldebatte nie, want my ervaring is dat daardie tipe gesprekke gewoonlik polities van aard is. Maar ek glo elke persoon moet daarop geregtig wees om sy/haar eie taal te praat en daarin te skep, lief te hê en te leef. Ek voel bevoorreg om my studies in Afrikaans te kan voltooi, en solank ek my taal praat, sal sy bly lewe! Dit is net ek en ’n kollega in ons uitgewerswese-departement wat navorsing oor Afrikaanse uitgewerswese doen. Studies in die veld is redelik beperk, en is ook nie noodwendig iets wat deur die regering befonds word nie.

Ek het jou gevra om terug te kyk. Nou vra ek jou om vorentoe te kyk. Wat sien jy op jou toekomspad, selfs korttermyn, ten opsigte van jou navorsing in die vakgebied Afrikaans?

Eerstens wil ek my PhD klaarmaak. Maar omdat my navorsing sterk praktiese voorstelle en elemente het, sal ek bitter graag die inhoud wil verwerk in werkswinkels of kortkursusse om skrywers en uitgewers te help om oorsee meer blootstelling te geniet deur middel van verskeie strategieë. So voel ek ek dra by tot die akademie, die bedryf en Afrikaans.

Hoe sien jy Afrikaans (in die algemeen) in die toekoms? Sien jy ’n toekoms vir Afrikaans en Afrikaanse navorsing en navorsing in Afrikaans?

Ek moet eerlik wees en bieg dat ek wel bekommerd is oor ons taal in Suid-Afrika. Ek is ook bekommerd dat Afrikaanse skripsies of artikels moontlik minder befondsing sal ontvang, of dalk selfs nie meer gepubliseer gaan word nie. Ongeveer 80% van my studente is Afrikaanssprekend, tog moet ek lesings in slegs Engels aanbied. Ek verstaan die beginsel, maar dit is vir my sleg dat studente nie in hulle moedertaal onderrig kan word nie.

Afrikaanse mense en lesers is lojaal, ondersteun die kunste en is trots op hulle taal. As ek dink aan hoe ’n tawwe stryd Afrikaans reeds gehad het, hoe ons teen Britse mag geveg het en uiteindelik in 1925 as volwaardige amptelike taal erken is, kan ons nie die reg om ons taal te kan praat net laat gaan nie. Die taal moet wel ontwikkel en verander soos sprekers en toestande verander, maar almal moet die reg hê tot hulle taal.

Solank ons aanhou publiseer en navorsing doen in en oor Afrikaans, glo ek ander navorsers sal moontlik ook raakpunte raaksien en verdere navorsing ontwikkel of publiseer. So ook is uitgewerswese interdissiplinêr van aard, en sal daar altyd raakpunte met ander Afrikaanse departemente en studievelde wees.

Lees ook:

USAN 2022 – ’n onderhoud met Danie Stander

USAN 2022 – ’n onderhoud met Marthie de Waal

USAN 2022 – ’n onderhoud met Ancheri Götze

USAN 2022 – ’n onderhoud met Lobke Minter

USAN 2022 – ’n gesprek met Carmi Britz

USAN 2022 – ’n terugblik met Aletta Simpson

 

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top